Veiligheidsraad aanvaar resolusie oor Sirië se chemiese wapens

chemwapensDie Veiligheidsraad van die Verenigde Nasies het eenparig ‘n resolusie aanvaar dat Sirië se chemiese wapens onder internasionale beheer geplaas moet word met die doel om dit te verifieer en te vernietig.

Dit is die eerste keer in die konflik van langer as twee jaar dat die raad konsensus kon bereik oor enige saak wat met die konflik-geteisterde land te doen het.

Die resolusie kom ‘n paar weke nadat Amerika en Rusland ‘n kompromie bereik het oor die vernietiging van die Sirese arsenaal.

Die organisasie vir die verbod op chemiese wapens in Den Haag sal die oorhandiging van die wapens hanteer. Die sekretaris-generaal van die VN, Ban Ki-Moon het die resolusie verwelkom, maar sê die gruwel wat deur konvensionele wapens in Sirië veroorsaak word, duur steeds voort.

Hy sê daar word daaraan gewerk om die strydende partye in November vir vredesamesprekings in Geneve byeen te bring. – RSG