Burgerlugvaartowerheid weier toegang tot ambulansvlug-opnames

Die Bestuurshoof van die Prosperity Groep en van E-Med Rescue 24 Namibië, Bertus Struwig sê hulle sal voortgaan met hulle stryd om toegang te kry tot die vlugopnames van die ambulansvlug wat verlede naweek verongeluk het.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid het toegang tot die opnames geweier.

Van die laaste gesprekke tussen lughawebeheer en die vlieëniers van die Namibiese lugambulans is verlede Sondagoggend opgeneem voordat die vliegtuig met vyf mense aan boord naby Kaapstad neergestort het.

Al vyf is in die ongeluk dood.

Die Namibiese reddingsdiens het intussen ‘n regspan aangestel om hulle te help om te bepaal wat presies daardie oggend gebeur het.

Die vlugambulansdiens ER24 het vroeër in ‘n verklaring gesê: “Daar word verstaan van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika dat alle vliegtuie wat die Kaapstadse Internasionale Lughawe in die tyd genader het, in ‘n lugtou geplaas is weens ‘n tegniese fout met hul radars.

“Die E-med Rescue24 se vliegtuig was ook in die lugtou op dié tydstip. Ons het kontak verloor met die vliegtuig ongeveer sewe myl buite die lughawe,” het die verklaring gelui.

Burgerlugvaartowerheid het verklaar dat hulle hul volle samewerking met die ondersoek sal gee.

Intussen het polisie die man uitgeken wat dood is nadat sy ligte vliegtuig in die agterplaas van ‘n huis op Brits in Noordwes neergestort het.

Hy was die 45-jarige Andre Denoon. Die Brits Vliegklub sê die ongeluk het gister plaasgevind.

‘n Woordvoerder, Loanne Louw, sê die vliegtuig het oënskynlik na opstyging neergestort. Denoon word oorleef deur sy vrou Tanya en twee dogters.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie.

Vlieëniers kla oor vlaag laseraanvalle

groenlaserDuisende vliegtuie by Brittanje se besigste lughawens is in gevaar want vlieëniers word verblind deur laserpenaanvallers.

Hierdie lasers kan ‘n passasierstraler uit die lug haal.

Brittanje se grootste vlieëniersunie is so bekommerd oor ‘n onlangse vlaag voorvalle, dat hulle ‘n noodbulletin aan lede uitgereik het wat hulle adviseer oor hoe om blindheid te verhoed asook verlies van beheer oor hul vliegtuie.

Balpa, die British Airline Pilots’ Association wil nou die wet verander sodat enigeen wat betrap word in die besit van sekere lasers sonder ‘n “wettige rede” tronk toe gestuur word.

Die meeste van die aanvalle is op groot kommersiële vliegtuie, maar selfs militêre vliegtuie word geteiken.

Polisiehelikopters wat misdadigers oor digbevolkte gebiede jaag, word ook gereeld getref.

In die meeste gevalle is dit jeugdiges, maar vlieëniers en sekuriteitsdeskundiges is bekommerd dat terroriste dit ook kan gebruik.

Die voorvalle is almal vervat in amptelike verslae aangemeld by die Burgerlike Lugvaartowerheid.

Vliegtuie word getref soveel soos vyf keer per dag deur hoëintensiteit laserpenne wat aanlyn vir so min as R150 gekoop kan word. Meer kragtige laserpenne kan oor langer afstande trefseker wees.

Hulle word gewoonlik gebruik as hulpmiddels deur onderwysers en dosente, maar kleinhandelaars verkoop ook die meer kragtige toestelle aan sterrekundiges en konstruksiewerkers.

British Airways vlieg met stokou onderdele

kululaVerskeie vliegtuie van Comair het die naweek vanuit Durban en Kaapstad na Johannesburg gevlieg om onderdele te vervang.

Dit volg op berigte dat elf van die lugredery se vliegtuie wat deur British Airways besit word, met onderdele vlieg wat al ‘n jaar gelede vervang moes word.

Die Burgerlike Lugvaartowerheid het Vrydag beveel dat Comair se vliegtuie nie die laaiblad mag verlaat voordat die onderdele vervang is nie.

Comair sê veiligheid is belangrik op al die lugredery se vliegtuie.

Passasiers is na vlugte van Kulula oorgeplaas. – RSG