Ondersoekbeampte na lugambulans-ongeluk skielik afgedank

Die Suid-Afrikaanse hoofondersoekbeampte van die vliegongeluk van die lugambulans van E-Med Rescue 24 op 16 Augustus by Kaapstad, is in die pad gesteek, het die Republikein berig.

Die Namibiese direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke het ’n e-pos van die Suid-Afrikaanse burgerlugvaart-kantoor ontvang dat die hoofondersoekbeampte, mnr. Jan du Plessis, nie meer daar werk nie. Die e-pos het geen redes of verdere inligting oor Du Plessis verskaf nie. Dit het bloot aangedui dat mnr. Ahmed Motala die nuwe hoofondersoekbeampte na die ongeluk is. Motala het juis saam met Du Plessis die ongeluk ondersoek.

Geen bevestiging kon van die Suid-Afrikaanse owerheid gekry word dat Du Plessis afgedank is nie.

Motala het teen druktyd nog nie op vrae per e-pos van Republikein geantwoord nie en Du Plessis se selfoon was afgeskakel. Die Suid-Afrikaanse ondersoekspan sou volgens die Namibiese direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke Dinsdag in Windhoek aangekom het om onderhoude met belanghebbendes van die ongeluk te voer. Die Suid-Afrikaanse ondersoekspan het egter sy besoek op kort kennisgewing gekanselleer en dit na volgende week uitgestel.

Afsprake met belanghebbendes was reeds vir Dinsdag gemaak, maar dit moes uitgestel word.

Die voorlopige ongelukverslag is ook nog nie deur die Suid-Afrikaanse owerheid aan die Namibiese direktoraat beskikbaar gestel nie.

Volgens standaard prosedure moet die verslag vroeër, maar nie later nie as 30 dae ná die ongeluk, uitgereik word.

In lugvaartkringe word bespiegel dat ’n nuwe hoofondersoekbeampte vele implikasies vir die ondersoek sal meebring en Du Plessis word as ’n deskundige op dié gebied beskryf.

Die Cessna 441 Conquest-lugambulans het op Sondag 16 Augustus om 02:00 van Eros-lughawe vertrek en ’n pasiënt, mnr. Gabriel (Gawie) le Roux (80) en sy dogter, me. Charmaine Koortzen (49) om 04:00 op Oranjemund vir ’n noodlvug na Kaapstad opgelaai.

Die ambulansvliegtuig het midde ongure weer en chaos in die lugruim bo Kaapstad teen ’n heuwel in die Contermanskloof op die wynplaas Maastricht naby Durbanville vasgevlieg, neergestort en in vlamme uitgebars. Daar was geen oorlewendes nie. Die Namibiese bemanning het bestaan uit die hoofvlieënier, mnr. Steven Naudé (53), medevlieënier, me. Amore Espag (23) en paramedikus, mnr. Alfred John Ward (23).

’n Gesamentlike roudiens is verlede week vir die slagoffers in Windhoek gehou. Gedenkstene sal by die ongelukstoneel op Maastricht ter ere van die slagoffers opgerig word.

Burgerlugvaartowerheid weier toegang tot ambulansvlug-opnames

Die Bestuurshoof van die Prosperity Groep en van E-Med Rescue 24 Namibië, Bertus Struwig sê hulle sal voortgaan met hulle stryd om toegang te kry tot die vlugopnames van die ambulansvlug wat verlede naweek verongeluk het.

Die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid het toegang tot die opnames geweier.

Van die laaste gesprekke tussen lughawebeheer en die vlieëniers van die Namibiese lugambulans is verlede Sondagoggend opgeneem voordat die vliegtuig met vyf mense aan boord naby Kaapstad neergestort het.

Al vyf is in die ongeluk dood.

Die Namibiese reddingsdiens het intussen ‘n regspan aangestel om hulle te help om te bepaal wat presies daardie oggend gebeur het.

Die vlugambulansdiens ER24 het vroeër in ‘n verklaring gesê: “Daar word verstaan van die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika dat alle vliegtuie wat die Kaapstadse Internasionale Lughawe in die tyd genader het, in ‘n lugtou geplaas is weens ‘n tegniese fout met hul radars.

“Die E-med Rescue24 se vliegtuig was ook in die lugtou op dié tydstip. Ons het kontak verloor met die vliegtuig ongeveer sewe myl buite die lughawe,” het die verklaring gelui.

Burgerlugvaartowerheid het verklaar dat hulle hul volle samewerking met die ondersoek sal gee.

Intussen het polisie die man uitgeken wat dood is nadat sy ligte vliegtuig in die agterplaas van ‘n huis op Brits in Noordwes neergestort het.

Hy was die 45-jarige Andre Denoon. Die Brits Vliegklub sê die ongeluk het gister plaasgevind.

‘n Woordvoerder, Loanne Louw, sê die vliegtuig het oënskynlik na opstyging neergestort. Denoon word oorleef deur sy vrou Tanya en twee dogters.

Die oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie.

Russe tel hele Donderdag aktiewe missiel-radar op

Die Maleisiese vliegtuig is glo afgeskiet oor die Oekraïne met ‘n Oekraïense Buk-missielstelsel wat operasioneel in die gebied was, het die Russiese ministerie van verdediging gesê, nadat Kiëf beweer het daar was nie sulke stelsels ontplooi nie.

Die missielstelsel is binne die gebied ontplooi waar dit die vliegtuig kon afgeskiet het, het die departement in ‘n verklaring gesê. Uitstraling van die stelsel se radar is deur die Russiese weermag opgetel.

“Russiese toerusting het die hele duur van 17 Julie die aktiwiteit van ‘n Kupolradar opgetel, ontplooi as deel van ‘n Buk-M1-stelsel naby Styla [‘n dorpie sowat 30 km suid van Donetsk],” het die ministerie in ‘n verklaring gesê.

Die ministerie het gesê die radar kan gebruik word om opspoorinligting aan ‘n ander stelsel te stuur in die gebied, wat missiele binne reikafstand van die vlugroete kon geplaas het.

Vroeër het Kiëf beweer dat hulle nie ‘n missiel op die verbygaande burgerlike vliegtuig kon afvuur nie, want hulle het geen Buk-missielstelsel wat ontplooi is in die streek nie.

Terselfdertyd het die Oekraïners bevestig dat die separatiste oor geen Buk-stelsels beskik nie, volgens ‘n amptelike verklaring van die land se prokureur-generaal.

Na afloop van die Russiese ministerie se vrystelling van inligting, het Bogdan Senyk, ‘n woordvoerder vir die Oekraïense ministerie van verdediging skielik Kiëf se posisie verander, en gesê “anti-vliegtuig missiele is nie gedurende die anti-terreur operasie ontplooi nie… hulle is alles in plek.

“Die tragedie van ‘n Maleisiese vliegtuig wat in die ooste van die Oekraïne neergestort het, moet deeglik en objektief ondersoek word, het die Russiese president Poetin gesê in ‘n verklaring.

Hy het gesê die tragedie beklemtoon die dringende behoefte vir ‘n vreedsame oplossing van die gewapende konflik in die Oekraïne.

Poetin se verklaring het gekom nadat hy aan die Nederlandse premier Mark Rutte meegevoel oor die dood van sy mede-burgers in die ramp uitgespreek het.

Die meerderheid van die passasiers van die noodlottig vlug was uit Nederland.

Dit is steeds nie duidelik hoekom die vlug deur Oekraïense grondpersoneel oor die oorlogsgeteisterde gebied gestuur is nie.