Ommekeer deur SAUK: 7 uit 8 joernaliste heraangestel

Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het aangekondig dat hy sewe uit die agt afgedankte joernaliste gaan heraanstel. Die joernaliste is oorspronklik afgedank omdat hulle intern beswaar gemaak het teen die verbod op beriggewing oor onluste en openbare geweld in Suid-Afrika.

Die amptelike woordvoerder van die SAUK, Kaiser Kganyago, het gistermiddag ‘n verklaring uitgereik waarin dit gestel word:

“Die Suid-Afrikaanse Uitsaarkorporasie (SAUK) se bestuur het sy regspan opdrag gegee om nie voort te gaan met regstappe nie en dat die SAUK die sewe afgedankte nuuswerknemers in hul poste sal herbevestig… Die SAUK bly daartoe verbind om sy openbarediensmandaat uit te voer.”

Die SAUK het drie Afrikaanse joernaliste by RSG, Foeta Krige, Suna Venter en Jacques Steenkamp, asook ‘n Indiër van die sakenuusafdeling, Krivani Pillay, summier afgedank soos voorheen berig is. Die rede vir die afdanking wat deur die SAUK aangevoer is, is die “verbreking van hul dienskontrakte”, maar die Arbeidshof het Dinsdag bevind dat dié rede ongeldig is en beveel dat hulle heraangestel word.

Tot dusver het die SAUK egter gedreig dat hy teen die Arbeidshofbeslissing gaan appelleer, maar kragtens die jongste verklaring het hy van dié besluit afgesien.

Gister het die drie Afrikaanse joernaliste in die voorportaal van die SAUK gewag om vir diens aan te meld, maar is nie in die gebou toegelaat nie (foto hier bo).

Die ommekeer van die SAUK volg nadat die joernaliste se regspan gedreig het om ‘n dringende hofbevel aan te vra dat dié liggaam die Arbeidshof se bevel van Dinsdag moet nakom.

Die agste afgedankte joernalis, Vuyo Mvoko, wat blykbaar op ‘n vryskutbasis aangestel is, se dienskontrak is nie deur die SAUK heringestel nie.

Ondersoekbeampte na lugambulans-ongeluk skielik afgedank

Die Suid-Afrikaanse hoofondersoekbeampte van die vliegongeluk van die lugambulans van E-Med Rescue 24 op 16 Augustus by Kaapstad, is in die pad gesteek, het die Republikein berig.

Die Namibiese direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke het ’n e-pos van die Suid-Afrikaanse burgerlugvaart-kantoor ontvang dat die hoofondersoekbeampte, mnr. Jan du Plessis, nie meer daar werk nie. Die e-pos het geen redes of verdere inligting oor Du Plessis verskaf nie. Dit het bloot aangedui dat mnr. Ahmed Motala die nuwe hoofondersoekbeampte na die ongeluk is. Motala het juis saam met Du Plessis die ongeluk ondersoek.

Geen bevestiging kon van die Suid-Afrikaanse owerheid gekry word dat Du Plessis afgedank is nie.

Motala het teen druktyd nog nie op vrae per e-pos van Republikein geantwoord nie en Du Plessis se selfoon was afgeskakel. Die Suid-Afrikaanse ondersoekspan sou volgens die Namibiese direktoraat van vliegtuigongeluk-ondersoeke Dinsdag in Windhoek aangekom het om onderhoude met belanghebbendes van die ongeluk te voer. Die Suid-Afrikaanse ondersoekspan het egter sy besoek op kort kennisgewing gekanselleer en dit na volgende week uitgestel.

Afsprake met belanghebbendes was reeds vir Dinsdag gemaak, maar dit moes uitgestel word.

Die voorlopige ongelukverslag is ook nog nie deur die Suid-Afrikaanse owerheid aan die Namibiese direktoraat beskikbaar gestel nie.

Volgens standaard prosedure moet die verslag vroeër, maar nie later nie as 30 dae ná die ongeluk, uitgereik word.

In lugvaartkringe word bespiegel dat ’n nuwe hoofondersoekbeampte vele implikasies vir die ondersoek sal meebring en Du Plessis word as ’n deskundige op dié gebied beskryf.

Die Cessna 441 Conquest-lugambulans het op Sondag 16 Augustus om 02:00 van Eros-lughawe vertrek en ’n pasiënt, mnr. Gabriel (Gawie) le Roux (80) en sy dogter, me. Charmaine Koortzen (49) om 04:00 op Oranjemund vir ’n noodlvug na Kaapstad opgelaai.

Die ambulansvliegtuig het midde ongure weer en chaos in die lugruim bo Kaapstad teen ’n heuwel in die Contermanskloof op die wynplaas Maastricht naby Durbanville vasgevlieg, neergestort en in vlamme uitgebars. Daar was geen oorlewendes nie. Die Namibiese bemanning het bestaan uit die hoofvlieënier, mnr. Steven Naudé (53), medevlieënier, me. Amore Espag (23) en paramedikus, mnr. Alfred John Ward (23).

’n Gesamentlike roudiens is verlede week vir die slagoffers in Windhoek gehou. Gedenkstene sal by die ongelukstoneel op Maastricht ter ere van die slagoffers opgerig word.