Twee plaasaanvalle in Noordwes

wolmaranstadDie polisie op Wolmaranstad in Noordwes ondersoek twee plaasaanvalle in die omgewing.

‘n Vyftigjarige op die plaas Doringhoek is na bewering deur vier verdagtes in sy huis aangeval.

Daar word beweer dat hulle hom daarna geboei en met kookwater gebrand het.

Die verdagtes het daarna na bewering 20 diamante van sowat R600 000 gesteel, sowel as twee rewolwers en ‘n bakkie wat later op ‘n ander plaas gekry is.

In nog ‘n aanval op die plaas Klipdrif het drie verdagtes ‘n 83-jarige vrou en vier van haar werkers aangeval.

Sy het wonde aan haar liggaam en gesig opgedoen. Die verdagtes het met die slagoffer weggery, maar haar later ‘n ent van haar huis af afgelaai. – RSG

Amcu-staking skop af

amcu2Die staking deur die mynwerkers vakbond, AMCU by Anglo American Platinum se myn op Rustenburg in Noordwes, het begin.

Die vakbond staak oor die beplande aflegging van meer as drieduisend werkers by die Amplats-myn.

Dit volg nadat onderhandelinge oor die afleggings tussen Amplats en die vakbonde by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie vroeër vanjaar deur die mat geval het.

Verteenwoordigers van AMCU, die polisie en munisipale amptenare het gistermiddag oor die staking vergader.

‘n Polisiewoordvoerder, Thulani Ngubane, sê hulle sal seker maak dat diegene wat aan die staking deelneem, hulle demokratiese reg uitoefen en die wet respekteer. – RSG