Oscar onderhandel skikking met vermoorde se ouers

Reeva Steenkamp
Reeva Steenkamp

Oscar Pistorius, die paralimpiese atleet wat van moord aangekla word,  se prokureurs onderhandel met Reeva Steenkamp se ouers in ’n poging om ’n skikking buite die hof te bereik.

Pistorius se prokureurs het Steenkamp se ouers genader, berig The Times. Die prokureurs vir albei partye wou nie kommentaar lewer oor die bedrag wat onderhandel word nie.

Die Steenkamps het R3 miljoen siviele eis vir die verlies van inkomste teen Pistorius gebring.

Steenkamp en haar halfbroer, Adam, het hul ouers finansiël ondersteun en ook die huur betaal vir hul huis in Port Elizabeth.

Adv. Dup de Bruyn SC, die Steenkamps se regsverteenwoordiger, en Kenny Oldwage, Pistorius se prokureur, het bevestig dat hulle in gesprek is

Reeva is op Valentynsdag vanjaar in Pistorius se huis in die ooste van Pretoria doodgeskiet. Die atleet staan tereg op aanklag van moord met voorbedagte rade en die oortreding van die Wet op Vuurwapenbeheer.

Die saak is Maandag uitgestel tot die verhoor op 3 Maart 2014 begin.

 

SAOG prys Mugabe se oorwinning

sadcmalawiAmerika sal sanksies teen Zimbabwe ophef indien die nuutverkose president, Robert Mugabe, politieke hervormings implementeer. Die naweek het leiers by die SAOG-beraad in Malawi ‘n beroep op die internasionale gemeenskap gedoen om sanksies teen Zimbabwe op te hef.

Die 15 lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap het vir “die opheffing van alle vorme van sanksies tot dusver opgelê teen Zimbabwe” gevra. Dit sluit sanksies in teen die veteraan-president en die maatskappye en individue op die swartlys.

“Ek glo dat Zimbabwe beter verdien, dat Zimbabwiërs genoeg gely het,” het die voorsitter, president Joyce Banda van Malawi gesê.

Die SAOG het ook “die hou van vrye en vreedsame” verkiesings geprys en Mugabe en sy Zanu-PF party gelukgewens met hul oorweldigende oorwinning van 31 Julie.

‘n Verdere bewys van vertroue in Mugabe, was sy aanwysing as die adjunk-voorsitter van die groep en die besluit dat Zimbabwe die volgende SAOG-spitsberaad sal aanbied in Julie volgende jaar.

Terwyl SAOG-leiers hul tevredenheid met Mugabe se oorwinning by die stembus te kenne gegee het, het Die Withuis egter verklaar dat hulle sekere voorbehoude koester oor die uitslag.

President Ian Khama van Botswana wat voorheen die verkiesingsuitslag gekritiseer het, het na ‘n ontmoeting met Mugabe verklaar dat hy hom sal neerlê by die SAOG se verklaring oor Zimbabwe.

Die VSA het in Maart 2003 sanksies ingestel teen Mugabe en diegene wat bande met hom het.

Mugabe sal Donderdag ingehuldig word vir sy sewende termyn van vyf jaar.

Bestialiteit: Vrou kry korrektiewe toesig

Jana Smit
Jana Smit

‘n Vrou van Pretoria-Oos-vrou wat skuldig gepleit het dat sy seks met honde gehad het, sal die volgende jaar bestee onder korrektiewe toesig – wat 192 ure se skoonmaak van stadsinstansies sal insluit – en sy sal ‘n reeks rehabilitasieprogramme bywoon.

Jana Smit, 32, is Vrydag gevonnis in die Pretoria-streekhof. Sy het aan die hof gesê dat sy vroeër seks met honde gehad het om haar destydse minnaar Morné Fourie, 38 tevrede te stel.

Landdros Adriaan Bekker het haar gevonnis tot korrektiewe toesig vir die vier aanklagte van bestialiteit en tot twee jaar gevangenisstraf opgeskort vir vyf jaar vir die verkryging van ‘n kind om pornografie te produseer, mits sy voortgegaan met terapie.

Haar naam sal ook geplaas word op die nasionale register vir seksuele oortreders.

Vroeër hierdie maand, het Smit in haar pleitverduideliking gesê dat Fourie, ‘n IT-spesialis van Garsfontein, haar geleidelik geïndoktrineer het tydens hul twee jaar lange verhouding deur middel van e-posse, foto’s en seksuele voorstelle.

Die hof het gehoor dat hy haar finansieel ondersteun het en sy sou enigiets vir hom gedoen het.

In ‘n beëdigde verklaring gelees deur haar prokureur, Carmelitha Smit-Brand, aan die hof, het Smit gesê dat een van Fourie se versoeke was dat sy ‘n sewe-jaar-oue kind, bekend aan haar, verfilm terwyl die kind bad.

Smit, wat in ‘n spesiale skool was asook ‘n slagoffer van molestering, kon haarself nie daartoe bring om ‘n video te maak nie.

Sy het aangedui dat sy besef het dat haar optrede verkeerd was en dat sy gestraf sou word as hulle gevang word.

Die staat het nie ​​korrektiewe toesig teengestaan nie. – IOL

Vragskip breek in twee in Richardsbaai

Die Smart
Die Smart

‘n Vragskip het Maandag by die Richardsbaai-hawe gestrand nadat dit enjinprobleme ondervind het, het die hawebestuur gesê.

Kapt. Rufus Lekala, hawemeester van die Transnet- Nasionale Hawe-owerheid (TNPA), het in ‘n verklaring gesê die Smart, wat ‘n vrag van 147 650 ton se steenkool vervoer, het om 14:10 Maandagmiddag buite die ingang van die hawe gestrand.
Hy het gesê die skip het omstreeks 10:10 klaar gelaai by die Richardsbaai-steenkoolterminaal en het die terminaal kort voor 13:30 verlaat.
Luidens die verklaring het die skip enjinprobleme ondervind toe dit die hawe verlaat het.
Lekala het gesê die skip, wat onder ’n Panamese vlag vaar, het in twee gebreek en is gedeeltelik onder water.
Altesaam 23 bemanningslede is per helikopter opgepik.
Die TNPA het gesê hy monitor die ekologiese impak wat die skip kan hê. Weens swak weerstoestande is die ingang en uitgang tot die hawe tot verdere kennisgewing opgeskort. – Sapa

Moslembroederskap-leier in aanhouding

Mohamed Badie
Mohamed Badie

Die geestelike leier van die Moslem Broederskap in Egipte, Mohamed Badie, is Dinsdagoggend in die Nasr City in die noordooste van Kaïro in hegtenis geneem.

Badie (70) was die hoogste bevelvoerder van die organisasie wat deur die owerhede gesoek is. Hy sal op 25 Augustus verskyn saam met twee ander ampsdraers

Badie se seun is verlede week doodgeskiet toe die weermag op twee proteskampe van die Broederskap toegeslaan het.

Badie se inhegtenisneming volg te midde van nog lede van die Broederskap wat regdeur die land aangekeer word. Foto’s van sy inhegtenisname is op die interim-regering se Facebookbladsy geplaas.

Intussen is berigte ontvang dat die interim regering nuwe aanklagte van die aanhitsing van geweld aanhangig gemaak het teen die ontsetelde president Mohammed Morsi. Morsi se plek van aanhouding is steeds onbekend.

Die aanklagte hou verband met die dood van talle mense gedurende protesoptrede by die presidensiële paleis verlede Desember.

Dieselfde regter wat nuwe aanklagte teen Morsi bekendgemaak het, het ook verklaar dat die voormalige president Hosni Moebarak nie vir korrupsie aangehou kan word nie. – RSG

Boot met 100 asielsoekers na Australië sink

asielsoekers‘n Boot met sowat 100 asielsoekers het langs die kus van die afgeleë Kerseiland gesink en Australiese owerhede moes inderhaas die passasiers uit die water red.

Die boot het Dinsdag sowat 220 km noord van Kerseiland, een van Australië se ses immigrasie-aanhoudingsentrums, gesink.
Die Australiese maritieme owerheid het gesê sowat 105 mense was aan boord.
Die veiligheidsowerheid het Dinsdagoggend ‘n noodoproep ontvang. ‘n Skip van die Australiese vloot is na die toneel gestuur.
Kerseiland is sowat 500 km suid van Djakarta, Indonesië, geleë. Dit is ‘n gewilde bestemming vir asielsoekers wat bote by Indonesiese hawens oorlaai en mense betaal om hulle na Australië te neem. – AP

Seriti-kommissie handhaaf slakkepas

Regter Seriti
Regter Seriti

Die eerste getuies sal Dinsdag geroep word om voor die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapentransaksie in Pretoria te getuig.

Die proses wat gevolg sal word is Maandag aangedui en die lys name van die eerste week se getuies is bekendgemaak.

Die eerste getuies by die kommissie se openbare sitting is senior offisiere van die Suid-Afrikaanse vloot.

Hulle sal na verwagting verduidelik waarom nuwe wapens aangekoop moes word in die multi-miljard randse wapentransaksies in die laat 1990’s, en watter aanbevelings gedoen is.

Die getuienisleier, Matshego Ramagaga, sê die vloot en lugmag sal verduidelik hoe die wapens en toerusting gebruik is tydens plaaslike en multi-nasionale oefeninge, vredesendings, reddingswerk en patrollies.

Ontleders het die langdradige proses as ‘n vertragingstaktiek beskryf vir die ondersoek wat reeds gebuk gaan onder bedankings weens beskuldigings van partydigheid.

Maandagaand op die SABC se program, Justice Factor, het ‘n kommentator dié mening beaam en gesê sy glo nie die oormatige detail sal getuienis oplewer wat vermoedens dat korrupsie plaasgevind het, bevestig nie.

DA-hoofsweep loop na ANC oor

Derek Flemming
Derek Flemming

Die Demokratiese Alliansie het die nuus verwelkom dat sy voormalige hoofsweep in die Tshwane Metroraad, Derrick Flemming, na die ANC oorgeloop het.

Flemming was ‘n lid van die ANC voordat hy by die DA aangesluit het. Flemming het gister aangekondig dat hy uit die DA bedank en weer by die regerende party aangesluit het.

Die DA streekleier, Solly Msimanga, sê Flemming het sy ontevredenheid met die DA se beleid bekend gemaak voordat hy hom opnuut by die ANC aangesluit het.

Msimanga het die DA se goeie wense aan Flemming oorgedra.

Flemming sê die ANC is steeds die enigste party wat maatskaplike, ekonomiese en politieke verandering in die land kan bewerkstellig. – RSG

Die Afrikaner as postpostmoderne vreemdeling

roodt_dan_wikideur Dan Roodt

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

Ná Albert Brenner se uiters interessante kommentaar oor die Afrikaner se identifikasie met rugby, dag ek ek sal so ‘n stukkie teorie (denk?) pleeg oor wie en wat die Afrikaner in 2013 nou eintlik is.

Nie lank gelede nie, het ek ‘n insgelyks fassinerende paar eposse met ‘n klassiek opgeleide musikus/pianis uitgeruil, waarin hy vir my gesê het:

“Soos ek dit sien is daar interessante verskynsels in die kunsmusiek van plaaslike komponiste, soos die ruimtegevoel, naatlose struktuurbeheer, onnaspeurbare ritmiese vitaliteit en ‘n universele lirisme in Arnold van Wyk se musiek, struktuurvaartbelyning en psigologiese skakels met kernelemente in die Europese erfenis in Hubert du Plessis se werke, ‘n “kop-omkeer” Afrika-vernuwing in Stefans Grové se styl, skakel met abstrak ekspressionistiese kunsrigtings by Dirk de Klerk, ‘n Namib-tydloosheid gepaardgaande met post-modernistiese perspektiewe in Etienne van Rensburg se musiek, konseptuele vernuwings in Jeanne Zaidel-Rudolph se styl – alles dinge wat wesenlik verband hou met die feit dat Afrikanerkultuur essensieel ‘n Nuwe Wereld-verskynsel is. Maar ek dink minderwaardigheidsgevoelens of ‘n gebrek aan juiste waardebepaling veroorsaak dat hierdie genre eerder uitsterf en ‘n populistiese potjiekoskultuur oorneem waar niemand juis geaffronteer word nie en ook waar intellektuele vernuwing nie entlik belangrik is nie.”

Dis ‘n mondvol, maar die “money quote” soos die Amerikaners sê, is sy gevolgtrekking: “dat Afrikanerkultuur essensieel ‘n Nuwe Wêreld-verskynsel is”. Dvorak het mos ‘n Nuwe Wêreld-simfonie gekomponeer, waarin hy die vitaliteit en aardsheid, maar ook die moderne van Amerika, wou vasvang. Blykbaar het Neil Armstrong ‘n opname van hierdie simfonie tydens die Apollo 11-sending saam maan toe geneem waar hy in 1969 daardie eerste beroemde tree op ons naaste hemelliggraam gegee het.

Anders as die stereotipe voorstellings van die Afrikaner as argaïese, landelike wese, ‘n soort “Ampie” uit die wêreld van Jochem van Bruggen, was die Afrikaner tot op hede die belangrikste draer van die modernisme en selfs die postmodernisme in Suid-Afrika.Tydens die dertigerjare van die vorige eeu het Afrikanerargitekte reise na Skandinawië onderneem in hul versugting na moderne argitektuur en ontwerp. Vele van die destyds ultramoderne geboue wat hulle in Pretoria en Johannesburg ontwerp het, is vandag besig om in puin en ruïne te verval.

Net vanoggend luister ek na my seun wat op pad skool toe vir sy suster differensiële wiskundige vergelykings met die grootste gemak en half aan die slaap – sit-lêend agter in die motor – uitlê. Benewens Afrikaans, Calvinisme en Europese argitektuur en filosofie, is wiskunde omtrent so eie aan die Afrikaner soos boerewors en koeksisters. Ondanks alle pogings van die ANC-bewind en sy kommissarisse soos me. Barbara Creecy om ons skole te vernietig, lééf daardie kennis en insig – tesame met en in Standaardafrikaans – hardnekkig voort.

Die linkse staatsgreep van 1994 het ons meteens vanuit modernisme en postmodernisme teruggeruk in ‘n barbaarse, primitiewe wêreld in. Dis ‘n sfeer van rituele, offerandes en buitenissige geweld: die mag van verskrikking (Julia Kristeva). Vir die Afrikaner het dit in alle opsigte ‘n rampspoedige breuk met sy voorafgaande geskiedenis meegebring, maar ook: toenemende blootstelling aan die paradys van wreedheid (Stephen Smith, Stephen Ellis), ontheemding en vervreemding.

Polities, ekonomies en tegnologies, het die Afrikaner – miskien meer as enige ander Westerse volk – ineens afskeid geneem van die moderne, maar ook die postmoderne. Trouens, die Duitse filosoof Jürgen Habermas het eens in sy kritiek van postmodernisme daarna as “die afskeid van die moderne” verwys. As uitgeworpene, sowel uit “die Weste” – daardie verkrummelende begrip – as uit die neoprimitiewe “uitgebreide stam van Suid-Afrikaners”, bevind die Afrikaner hom reeds as ‘n soort pionier op die rand van die beskawing en van rasionaliteit.

Die Afrikaner word aan ‘n intense proses van vervreemding onderwerp, in elke moontlike sin van die woord: verlies aan ‘n identiteit, ‘n heimat, ‘n self, selfs sy burgerskap en sy grond. Geen Afrikaanse naam mag in die neoprimitiewe Suid-Afrika oorbly nie. Om Afrikaner te wees, is daarom, in die eerste plaas en bowenal, om vreemdeling te wees: l’étranger. Met al die eggo’s van Albert Camus se beroemde novelle oor ‘n Fransman in Noord-Afrika, op die vooraand van die sogenaamde dekolonisering.

Buitestaanderskap (Camus, Lovecraft, Wilson). Om vreemdeling te word en as vreemd gesien te word, is die nuwe inhoud van Afrikanerskap. Die absurditeit – absurde mure, herinner ek my iewers ‘n frase uit Camus – van wette wat die Afrikaner tegelyk wil “ontras”, soos dit genoem word, maar tegelyk teen hom as blanke diskrimineer en ‘n soort geweldshorison definieer waarteen sy nuwe nuwe/ou status van slagoffer afspeel. Soos Retief en sy manne moet ons afgeslag word.

Teenoor die neoprimitiewe totale aanslag op sy wese en alles wat Afrikaans is, ken die Afrikaner net een reaksie: hy vlug. Om van die verskrikking af weg te vlug. Hy vlug in sy diaspora in. Of agter mure. Hy skuil agter sy Afrikaans, agter sy taalgrens van waar hy die verval met gelatenheid betrag. Hy ervaar sy vervreemding, sy vreemdeling-wording, om in sy eie land as vreemdeling en buitelander gesien te word, met angs, met onverskilligheid, met fatalisme, maar ook: woede. Ten minste sommige, ‘n minderheid.

Die Bantoe-imperialistiese ANC-bewind het daardie kennisgewing vervolmaak wat vroeër jare in die Engelse stad Durban vertoon is: “Woonstel te huur: Dutchmen en Indiërs hoef nie aansoek te doen nie.” Vandag is dit veral as Indo-Europeër (Dumézil), as Kaukasiër, wat ons nie meer in Suid-Afrika welkom is nie.

Noem die Afrikaner se nuwe peregrinasie – sy eksistensiële dwaal (ook die titel van ‘n novelle deur die skrywer Chris Barnard!), sy reise na nêrens, na die verre, uitgestrekte Oos-Rand wat Australië is of die aardbewings van Nieu-Seeland, die koue van Kanada, die klam, mistige wêreld van Engeland, ‘n verkenning van vreemdeling-wees. Die peregrinasie van die ewige peregrinus, die Afrikaner. Die Vlieënde Hollander (groete vir Wagner) wat nóg in Europa tuis is, nóg in Afrika. Daardie tussenwêreld wat Van Wyk Louw o so lowend beskryf het en in die beton van die Paarlse Taalmonument vasgegiet is, het nou die Afrikaner se nuwe hel geword.

Xenofobie. Moontlik die enigste Griekse woord wat aan die barbaroi van die nuwe Suid-Afrika bekend is en waarmee die doodmaak van vreemdelinge benoem word. Ook die daaglikse moorde op Afrikanermans, -vroue en -kinders.

Transformasie is die waansin van die dag, la folie du jour (Blanchot). Die paradoks is egter (en Afrikanerskap is ook, bowenal en by uitstek: paradoks) dat die Afrikaner bo die moderne en die postmoderne uitstyg, jenseits der Moderne, au-delà, anderkant, en hom in ‘n nuwe wêreld bevind waarvan die mees radikale postmoderne denkers maar net kon droom en dalk heenwys. Die lang naels van Gilles Deleuze, omring deur draagbare klankopnemers, wat waansin en skisofrenie as die Nuwe Jerusalem poneer. Die risoom, die Pink Panther wat die wêreld ligroos oorstroom, onbeduidende breuke agterlaat.

Ligroos soos bloed? Vanuit die bloedige orgie wat Suid-Afrika vandag is, vanuit die totalitêre totemstaat van multikulturele samesyn, sluip die Afrikaner op sy tone die toekoms in. Ontwortel, binnekort grondloos en sonder wortels, risomeer hy (as dit ‘n werkwoord kan wees) na nuwe werklikhede. Die risoom. Die uiterste revolusionêre begrip. Om in enige rigting te kan groei. Soos die internet. Virtuele bande tussen ontwortelde individue, ontheemdes, vervreemdes. Aussiekaner, Eurokaner, Englikaner. Een en almal Afrikaners.

Die grense van bloed is belangriker as geografiese grense (Alain de Benoist).

En in ons groei oor die aardbol heen en na mekaar toe, is daar iets van die laertrek van ouds te bespeur. Nou nie meer die geslote kring van waens nie, maar die oop teks, die losse alliansie en verstrengel raak in mekaar. Die “drade” en weefsel van virtuele gesprekke.

Vir ons lyk die wêreld oud en ons is nuut.

Só moes Prometheus gevoel het toe hy ‘n hele goddelike orde uitgedaag het.

[followbutton username=’danroodt’ count=’true’ lang=’en’ theme=’light’]

Hou van Dan Roodt se Facebookblad

 

Afrikanerbond doen voorlegging oor 1913-wet

landactDie parlement se Ad Hoc komitee oor die herstel van grondregte en die gevolge van die 1913 Wet op Naturellegrond voer vandag samesprekings met verskillende belangegroepe oor die vordering wat tot dusver gemaak is.

Die herverdeling van grond, die voorgestelde heropening van grondeise en kommer oor voortslepende onsekerheid oor grondonteiening, is van die kwessies wat bespreek sal word.

Die voorsitter van die Ad Hoc komitee, Jerry Thibedi sê terugvoering oor die vorige werksessie wat in Junie gehou is, sal ook gegee word.

Die Afrikanerbond, wat nie by die vorige sessie teenwoordig was nie, sal vandag ‘n voorlegging doen oor die nalatenskap van die 1913-wet.

Die ministeries van Openbare Werke en van Landelike Ontwikkeling en Grondsake sal ook terugvoering gee oor die voorgestelde Onteieningswet en die konsep-wysigingswetsontwerp oor die herstel van grondregte. – RSG