Vragskip breek in twee in Richardsbaai

Die Smart
Die Smart

‘n Vragskip het Maandag by die Richardsbaai-hawe gestrand nadat dit enjinprobleme ondervind het, het die hawebestuur gesê.

Kapt. Rufus Lekala, hawemeester van die Transnet- Nasionale Hawe-owerheid (TNPA), het in ‘n verklaring gesê die Smart, wat ‘n vrag van 147 650 ton se steenkool vervoer, het om 14:10 Maandagmiddag buite die ingang van die hawe gestrand.
Hy het gesê die skip het omstreeks 10:10 klaar gelaai by die Richardsbaai-steenkoolterminaal en het die terminaal kort voor 13:30 verlaat.
Luidens die verklaring het die skip enjinprobleme ondervind toe dit die hawe verlaat het.
Lekala het gesê die skip, wat onder ’n Panamese vlag vaar, het in twee gebreek en is gedeeltelik onder water.
Altesaam 23 bemanningslede is per helikopter opgepik.
Die TNPA het gesê hy monitor die ekologiese impak wat die skip kan hê. Weens swak weerstoestande is die ingang en uitgang tot die hawe tot verdere kennisgewing opgeskort. – Sapa