
Die eerste getuies sal Dinsdag geroep word om voor die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapentransaksie in Pretoria te getuig.
Die proses wat gevolg sal word is Maandag aangedui en die lys name van die eerste week se getuies is bekendgemaak.
Die eerste getuies by die kommissie se openbare sitting is senior offisiere van die Suid-Afrikaanse vloot.
Hulle sal na verwagting verduidelik waarom nuwe wapens aangekoop moes word in die multi-miljard randse wapentransaksies in die laat 1990’s, en watter aanbevelings gedoen is.
Die getuienisleier, Matshego Ramagaga, sê die vloot en lugmag sal verduidelik hoe die wapens en toerusting gebruik is tydens plaaslike en multi-nasionale oefeninge, vredesendings, reddingswerk en patrollies.
Ontleders het die langdradige proses as ‘n vertragingstaktiek beskryf vir die ondersoek wat reeds gebuk gaan onder bedankings weens beskuldigings van partydigheid.
Maandagaand op die SABC se program, Justice Factor, het ‘n kommentator dié mening beaam en gesê sy glo nie die oormatige detail sal getuienis oplewer wat vermoedens dat korrupsie plaasgevind het, bevestig nie.

Natuurlik gaan hulle hierdie uitrek. Die uitkoms van hierdie komissie moet weereens onbeslis wees. Daar is te veel van die kaders wat met eier op hulle gesigte kan sit. Hulle probeer nou al meer as 10 jaar om hierdie te verdoesel.
Seriti is nie opgewasse vir die werk nie. Hy is n Zuma ondersteuner en is al klaar betaal om Zuma en andere onskuldig te vind. Belaglik.
Dit gaan baie lank neem om die finale verslag onder oë te kry. Wag seker dat baie van die getuies al dood is soos Joe Modise. Daardie verslag gaan so gesensor word dat bitter min van die werklikheid bekend gemaak gaan word. Daar was te veel hoë hande in die “till”. Hier gaan hulle mekaar beskerm en ek is seker daar is al klaar vir die ondersoekspan gesê wat geopenbaar gemaak kan word en wat nie.
Soos ek gese het hulle gaan baie lank sorg vir n woekerwins inkomste – terwyl hulle wag vir die CIA om die verslag vir hulle te skryf.