Seriti-kommissie handhaaf slakkepas

Regter Seriti
Regter Seriti

Die eerste getuies sal Dinsdag geroep word om voor die Seriti-kommissie van ondersoek na die wapentransaksie in Pretoria te getuig.

Die proses wat gevolg sal word is Maandag aangedui en die lys name van die eerste week se getuies is bekendgemaak.

Die eerste getuies by die kommissie se openbare sitting is senior offisiere van die Suid-Afrikaanse vloot.

Hulle sal na verwagting verduidelik waarom nuwe wapens aangekoop moes word in die multi-miljard randse wapentransaksies in die laat 1990’s, en watter aanbevelings gedoen is.

Die getuienisleier, Matshego Ramagaga, sê die vloot en lugmag sal verduidelik hoe die wapens en toerusting gebruik is tydens plaaslike en multi-nasionale oefeninge, vredesendings, reddingswerk en patrollies.

Ontleders het die langdradige proses as ‘n vertragingstaktiek beskryf vir die ondersoek wat reeds gebuk gaan onder bedankings weens beskuldigings van partydigheid.

Maandagaand op die SABC se program, Justice Factor, het ‘n kommentator dié mening beaam en gesê sy glo nie die oormatige detail sal getuienis oplewer wat vermoedens dat korrupsie plaasgevind het, bevestig nie.