Die moord op Piet Retief

Piet Retief se dood
Deel op

Piet Retief se doodDis onduidelik waarom presies Piet Retief se geselskap op 6 Februarie 1838 weer na Dingane is. Toe die trekkers gereed staan om te vertrek, kom ‘n boodskapper van Dingane by Retief met die versoek dat die trekkers nog eenmaal na hom moet kom om te groet.

‘n Oomblik het die Boere geaarsel, maar Retief het hulle gerusgestel. Die hele geselskap, ook die bruin mans, is almal die stad in, vir die eerste keer ongewapend. Dingane het aan die bo-ent van die oop plein gesit tussen die witskild- en swartskild-regimente. Die Zoeloe-regimente laat die Boere deur en die opening sluit weer agter hulle. William Wood tolk wat Dingaan sê. Die koning van die Zoeloes wil hê dat hulle die land in besit moet neem. Hy wens hulle ‘n voorspoedige reis toe, en vra dat hulle gaan sit en as afskeid saam bier drink.

‘n Paar vroue bring melk en bier, en dan hurk die Boere voor Retief en Dingane neer om nog een maal die Zoeloes te sien dans. Kort tevore het Dingane ‘n boodskap na Owen gestuur om hom mee te deel dat hy die Boere, wat weglopers van hul koning is, nou gaan doodmaak. Die sendeling hoef nie bang te wees nie, want hulle is koning George se kinders!

Al nader aan die Boere dans die duisende krygsmanne, dan terug, dan weer nader totdat Retief en sy makkers ongemaklik begin voel. Dingane sing saam, maar skreeu opeens: “Bulalani abatagathi!” (“Maak dood die towenaars!”).

In wanhoop veg die paar wit en bruin mense teen die oormag van vyande. ‘n Paar ruk hul herneutermesse uit. Gou is die weerstand gebreek en word die ongelukkiges na Hlomo Amabuthu (Aasvoëlkop) buite die stad gesleep.

Owen deel mee hoe elke Boer deur nege of tien Zoeloes omring was, en Zoeloegetuies het later vertel dat Retief gedwing is om te kyk hoe sy seuntjie en sy vriende eers doodgemaak word voordat ‘n knopkierie ook sy skedel verbrysel het. Daarna is die regimente terug in die stad om die sege oor die Amaburu met bier en dans te vier.

So kom ‘n einde aan die lewe van een van die mees tragiese figure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Aan die een kant staan sy intelligensie, ondernemingsgees, goedhartigheid en sy gawes as leier, aan die ander kant ‘n blinde geloof in sy medemens en sy oormatige selfvertroue. Sy betekenis lê meer in sy martelaarskap as vryheidsheld as in wat hy werklik tot stand gebring het.

Daar is geen bewyse dat vyandiggesinde Engelse Dingane opgestook het nie. Tog het die vraag of hy aangespoor is deur die invloed van die sendeling kaptein Allen Gardiner bitter twiste ontketen. Gardiner en sy vriende wás gekant teen ‘n Voortrekker-nedersetting, en het dit aan Dingane gesê. Hy kon ook aflei dat die magtige Engelse koning nie wraak sou neem as die Boere uitgewis word nie. Daarby het Gardiner nagelaat om die moontlikheid van verraad met nadruk onder die Boere se aandag te bring.

Waarom het Dingane so verradelik opgetree? Ten eerste was hy bang vir nuwe gedugte bure, die mense wat besig was om Natal binne te dring nog voordat die onderhandelinge oor die grond nog afgehandel was. Hy was bewus dat hulle die magtige Matebele verslaan het en daarna ook Sekonyela. Ten tweede: hy het geweet dat die trekkers nie hulp uit die Kolonie sou kon verwag nie. Nietemin, bang vir hul nuwe wapens, het hy besluit tot ‘n verrassingsaanval om die indringers ‘n beslissende slag toe te dien.

10 online casinosДанильченко Юрий прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.