Boks is die sportwêreld se skuldige plesiertjie, ‘n polities bedenklike anachronisme waarin gebreide, doelgerigte mans die teer uit mekaar slaan in ‘n wêreld waar blote verwysing na ‘n persoon se velkleur sy wêreld in duie kan laat stort en die spreker as’t ware vir ‘n steniging kan voorberei. Die waarheid is dat boks beide deelnemer en toeskouer op ‘n oervlak raak en diep instinkte aktiveer. Dit is so moeilik om te verduidelik hoekom ‘n skynbaar opgevoede mens ‘n vreugde daarin vind, net so moeilik om die aantrekkingskrag daarvan om ‘n staalhoek deur ‘n kabeljou se lip te kap en die vis met ‘n tou uit die water tot op die strand te sleep te beskryf.
Die een prikkel wat ons wél kan verduidelik is dat boks oor stories gaan, verhale van heldedade, swakhede, oorwinning en nederlaag. Vir die boksaanhanger is daar ‘n weelderige heldesaal van vegters en gevegte: Rocky Marciano teen Jersey Joe Walcott, van Duran teen Leonard, Ali teen Frazier, Hagler teen Hearns. In ‘n tyd waar ‘n swaard, ‘n spies of ‘n skild nie vir die gladiator beskore is nie, is toue, ‘n vierkantige kryt en twee verbete vegters die stoffasie waarvan legendes gemaak word. Elke vegter en elke geveg het sy eie storie, meeste van hulle onopvallend, selfs vervelig en alledaags. Maar soms word twee boksers se loopbane vir ‘n driekwartier teen mekaar vasgeslinger en word daar iets glorieryk uit gebore. Gisteroggend, SA tyd, is ‘n inskrywing in die bloemlesing van helde geskryf toe twee vegters van gemengde Latynse agtergrond teenoor mekaar agter hulle vuiste ingeklim het.
Albei boksers het reeds hulle verse in die groot drama van boks geskryf. Die weltergewigkampioen was Miguel Cotto van Puerto Rico. Hy is dik van skedel, swaar in die skouer, gefokus en ernstig en ‘n nasionale held. Die uitdager is ‘n opgeruimde bossiekop van die Filippyne, met ‘n muilbandbaardjie soos Roberto Duran s’n en ‘n veglus wat aan dié legende, die geroemde “hande van klip” herinner. Mannie Pacquiao het ‘n ongekende opmars deur gewigsklasse gemaak, ‘n oorheersing van vlieggewig tot superliggewig.
Die eerste ses rondtes van die geveg is vir die boksaanhanger wat Maria Callas se 1953 Lucia di Lammermoor in La Scala vir operacognoscenti is. Cotto het die eerste rondte doelgerig en doeltreffend begin deur ‘n onweerstaanbare aanval, reg in die kanaal tussen Pacquiao se handskoene deur. Die Filippyn het sy ratsheid gebruik om ernstige strukturele skade vry te spring. Cotto self was ligter op sy tone en vinnig genoeg oor die kryt dat dit gelyk het asof sy groter krag die magsbalans na hom toe sal laat kantel. Maar in die derde rondte het Pacquiao, in die gevaarakker teenaan Cotto, met die skielikheid van ‘n slagyster toegeslaan. ‘n Warrel van haakhoue uit onmoontlike rigtings het lyf toe en kop toe geknal en ‘n meesterlike kortlinker het Cotto van sy voete af geslaan.
Cotto, in trurat maar met sy gevaarlike grofgeskut in posisie, het die rondte oorleef. Daarna was dit ‘n weerligreën van houe, teenhoue, van taktiese voetwerk en aanvalle. Verdediging is deur albei boksers ingeboet vir die kans om ‘n voltreffer te land. Die skrif was nog nie teen die muur vir Cotto nie, maar die pen is in die inkkannetjie gedoop toe dit duidelik word dat Pacquiao nie net in staat is om in ‘n uitgerekte kortafstandsloegfees teen Cotto te bly staan nie, maar dat hy skokkend genoeg daarop gedy het. Van die agste rondte het Cotto, sy gesig wat teen die tyd gelyk het soos ‘n knoffelpolonie wat uit ‘n baie hoë gebou geval het, verrassend genoeg verdedigend begin boks, deur agter sy piklinker terug te val, duidelik bedag op oorlewing eerder as oorwinning.
Pacquiao het hom meedoënloos van hot tot haar agtervolg en, wanneer hy die toegangsroetes kon afsny, Cotto met blitsende vuiste gekasty. In die laaste rondte het hy Cotto finaal vasgekeer en bestook totdat die skeidsregter homself tussenbeide gewerp het om die verslane kampioen verdere vernieling te spaar.
Manny Pacquiao is een van twee boksers wat ‘n sinvolle aanspraak op die mees gesogte titel in boks – beste vegter, pond-vir-pond – het. Die ander is Floyd Mayweather, junior. In hedendaagse boks is hierdie die droomgeveg, ‘n Hector-vs-Achilles-stryd waarna elke bokskyker uitsien.
Barbaars, ja, miskien, maar só ‘n vertoning herinner ‘n mens net weer aan die glorie wat in die eenvoudige kryt gevind kan word.

Die president van die ANC-jeugliga, Julius Malema, sê die organisasie gaan hom daarvoor beywer dat die omstrede 800m-atleet Caster Semenya steeds as “‘n meisie kan hardloop”.
Gister het ek geskryf dat as daar een span is wat die Cheetahs se nommer het, dan is dit die Haaie. Daar het gister niks op King’s Park gebeur om my van mening te laat verander nie. Oorweeg die volgende: Dis tien minute na rustyd. Die Haaie loop voor met 18 punte teen drie. Hulle het reeds twee van hulle handelsmerkende karwatsdrieë gedruk, die eerste ‘n knikskoppie deur Stefan Terblanche in die doelgebied toegeval en die tweede ‘n netjies vervaardigde een met al die styl en presiesheid van die tipiese Haaie-teenaanval wat deur Ruan Pienaar gefinaliseer is.
Die WP het gister ‘n voorsprong van een punt probeer verdedig en daarom met twee punte verloor. Dit is die droewige waarheid waaroor die Kapenaars vandag moet probeer kom. Met twaalf minute in die wedstryd voor, en loshande met een punt voor, met die Blou Bulle op kraal in hulle eie kwartgebied, het die WP opgehou om harde punte te probeer maak en het eerder die sagte opsies gekies.
Geykte uitdrukkings vloei hierdie hele week uit die Kaap uit. Dis asof hulle ‘n trommel vol stempels het, elkeen met ‘n cliché op, en wanneer die halfeindrondtetyd in die Curriebekerseisoen is, trek hulle dit nader.
Waar was hierdie Leeus die hele jaar? Gister op Ellispark, teen die WP, was hulle die ene koning van die bosveld. Bygesê, by tye het hulle minder vuilbaard as ratel, en durf mens dit sê, Springbok, gelyk. Dit was juis die ratel in hulle wat hulle na ‘n skynbaar fatale verrinnewering laat terugkom het. Dit was, van alle mense, die wêreld se langste senter en deeltydse lynstaanspringer, Andries Bekker, wat hulle eers diep gekwes het. Net ná ‘n minuut se speeltyd het hy homself, bal onder die arm, in oopveld gevind en het hy die afstand doellyn toe met kameelperdtreë weggehark voordat hy platgetrek is, maar nie voordat hy die bal uitgewip het na Juan de Jongh vir ‘n skokdrie heel aan die begin van die wedstryd nie.
Die Haaie het gister op Kingspark in hulle wedstryd teen die Leeus baie aan hulle geliefde Indiese Oseaan herinner: Nie so woes, so groot of so koel nie, maar so vasberade soos branders om hulleself stukkend te loop teen rotse. Uiteindelik het hulle gewen met ‘n volle verdoelskop se punte tussen hulle en die Leeus.
Kyk, ons almal hou daarvan om te sien hoe ‘n kloekmoedige kleintjie vir ‘n selfvoldane grote ore aansit. Dis ‘n soort stapelvoedsel, nie net vir sportaanhangers nie, maar vir fliekgangers en ander romantici die wêreld vol. Sonder die kleintjie-sit-die-grote-koud ideaal, sou daar immers nie ‘n Rocky gewees het nie. Helaas, vandag gaan daar nie ‘n gelukkige einde aan die kleintjie se dag op Loftus wees nie. Die vernaamste rede is juis dat hierdie nie ‘n oorgeruste grote gaan wees wat die veld teen hulle neem nie.