Niemand sal stry dat Heinrich Brüssow se besering vir die res van die jaar vir die Cheetahs slegte nuus is nie. Meer as net ‘n silwer randjie wink egter vir die Blikore.
Nie alleen het die Cheetahs soos gebruiklik baie diepte aan losvoorspelers nie, maar ‘n paar ander faktore speel saam dat die Cheetahs die situasie kan benut.
Jare gelede moes die Vrystaatse rugbyspan noodgedwonge teen die WP improviseer. Destyds, met geld skraps, is net die vyftien spelers met die trein Nuweland toe. Reserwes was onnodig, want beseerde spelers kon in elk geval nie gedurende die werdstryd vervang word nie. Soos dit met jong manne gaan, is op die trein marankas gemaak, en een van die voorspelers maak sy knie seer.
Toe die span die Saterdag voor die wedstryd by Nuwelandstasie afklim, kan dié speler se been glad nie buig nie. Maar hy moes noodgedwonge speel, en word aangesê om maar daar agter by die heelagter rond te hang. Dalk hardloop ‘n WP-aanvaller darem in hom vas.
Met die destydse broeke wat tot by die knieë gekom het, was dit glo ‘n komieklike affêre om die speler met sy stywe been heen en weer oor die veld te sien piekel. Die Vrystaat kry, soos verwag kon word, die kous oor die kop.
Met die afstap wil een van die manne op die Suid-pawiljoen rasesir by die Blikoorkaptein weet: “Hei kêppie, waar kry djulle daai voelbek met die houtbaan?”
Brüssow se besering vereis gelukkig vir die Cheetahs darem nie soveel improvisasie nie.
Die belangrikste geleentheid die komende naweek is die loslootjie, wat Hendro Scholtz kans gee om van sy harsingskudding te herstel. Die tweede is veelsydigheid in die Cheetahspan wat op ‘n moontlike swaar, en selfs nat Nuweland baie voordelig kan inwerk.
Die veelsydigheid van agterspelers soos Tewis de Bruyn, Meyer Bosman, Hennie Danniller en Riaan Viljoen maak dit moontlik om ‘n bykomende voorspeler ten koste van ‘n agterspeler op die plaasvervangerbank te hê.
Met ‘n bykomende voorspeler kan die Cheetahs besin oor die moontlikheid om die melkbaardslot Jan Breedt vir twintig minute of selfs langer op agsteman in te span, met David de Villiers op slot om te help keer dat die Stormers se hemelbesems nie op Nuweland vroeg ‘n monopolie in die lynstane kry nie. Baie mense meen Breedt is eintlik ‘n beter losvoorspeler as slot, en hy het ook al ruim ervaring hiervan.
Scholtz is nie verniet as jong breker dikwels die Josh Kronfeld van Suid-Afrikaanse rugby genoem en met die Springboktrui beloon nie. Hy is ook die Cheetah met die beste massa tot krag-verhouding in die span. Beserings het waarskynlik sy pad met duwweltjies besaai. Met die nuwe daglig-reël by duikslae, kan Scholtz as baljagter sy stempel afdruk, en twintig rtot dertig minute lank die Stormers met pletterlopies en duikslae baie besig hou.
Die versoeking is groot om te versoek dat Coenie Oosthuizen in die begin 15-tal moet opdraf, om saam met Juan Smth, Jan Breedt, Waltie Vermeulen en WP Nel die Stormers verder met stormlope te teister.
Afhangende van hoe Scholtz se fiksheid na sy besering hou, kan Frans Oosthuizen, Kabamba Floors of Ashley Johnson opgestuur word, met Breed wat na slot terugskuif.
Agterlangs beteken plaasvervangings om die plaasvervangers ook speelkans te gee, dikwels meer ontwrigting as wat vars bene nuwe plofkrag gee. Dit lyk dan ook dikwels skielik of die Cheetahs die heel week aanslane geoefen het. Dit neem ook dikwels ‘n ruk om aan onplesierige speeltoestande op Nuweland gewoond te raak, en om agterlangs te torring waar iemand eers moet aanpas by lugskoppe se manewales in die Kaapse Dokter, kan riskant wees. Om dus met minder plaasvervangers agterlangs te kom, kan die plofkrag voorlangs langer gerek word. Beland die kalf met beserings agterlangs in die put, is Kabamba Floors ‘n heel bedrewe vleuel, met Lionel Mapoe wat indien nodig, op senter kan gaan uithelp. Om hieroor te tob is egter om Kamsbaai se bobbejane agter die berg te gaan haal.
Die Cheetahs self kan egter alles weer ongedaan maak deur besit met mamparraskoppe vir die Stormers persent te gee. Joe Pietersen en Gio Applon baljaar eenvoudig met stroomop-aanvalle wanneer hulle sulke pasellabesit kry. Veral Gio, held van Herrie se Baai (Hawston) is nou weer besig om sy glibberige beste vorm te herwin. Dis moeiliker om hom op die aanval vas te trek as vir die blou skerpioene om ‘n perlemoenstroper se turf te laat sit. Die doel van hierdie mamparraskoppe, wat nou al ongeveer ‘n dekade lank gereeld onder die Cheetahs se eie pale afgerond word, is steeds nie duidelik nie.
Wat skoppe pale toe betref, het Naas Olivier, Meyer Bosman en Tewis de Bruyn ruim ervaring van die mikke anderkant die Wyngordyn op te soek.
Die tuiswedstryd teen die Highlanders, wat gespeel is voor die Cheetahs se opstaan-wekker afgegaan het, gaan nog lank by die hartlandspan spook. ‘n Week later se oorwinning oor die Hurricanes verdiep gewoon die raaisel hoekom die Cheetahs briljante vertonings met opvolgende babelaasroes moet verwoes.
Wat die Stormers betref – niemand weet ook wat om vooraf te verwag nie. Rassie het sy onderneming om plaaslike talent te soek waarvan daar emmers vol is, aanvanklik gruwelik verwaarloos en eenvoudig met die tjekboek op ander bonde se sterre jag gemaak. Tog word die indruk geskep dat van die plaaslike talent nou wel meer dikwels die geleentheid gebied word, met Applon wat meer speelkans kry. Juan de Jongh is nog ‘n plaaslike diamant wat opgediep is, met Dewaldt Duvenhage en JC Kritzenger onder die opwindende plaaslike talent wat die geleentheid kry om tot hul potensiaal te ontwikkel. Skielik, selfs met aankopies soos Joe Pietersen, Jaque Fourie, Brian Habana en Duanne Vermeulen, lyk die WP glad nie meer so erg na ‘n gekoopte span nie.
En vaar nou skynbaar beter.
Die Cheetahs en die Stormers gaan ewe graag die punte vir ‘n oorwinning wil opraap, aangesien nog ‘n paar punte in die sakkie met die komende ekskursies na Doer Onder goud werd sal wees. Die Cheetahs sal laf wees om die Stormers te onderskat, en die Stormers sal waarskynlik nie toelaat dat selfvertroue hulle voor hul tuisskare laat skandes maak nie.
Na alles gesê is, kan dit vir die Cheetahs rampspoedig wees as die Pro weer as skeidsregter of assistent-skeidsregter sy opwagting op Nuweland maak. Tot dusver het die Cheetahs skynbaar nog net een keer nie die korste lootjie getrek wanneer die Pro in die omgewing is nie, en dit was onlangs teen die Haaie toe Suzie ingegryp en die Cheetahs in die middel van die wedstryd van Jonathan Kaplan se stiefregterskap verlos het.

Rugby is ‘n dramatiese spel wat homself leen tot wonderlike vergelykings, maar die standaardrugbykommentator se kokertjie metafore is maar skraal. Een waarvoor daar ‘n besondere verknogtheid bestaan, van Kobus Wiese tot Warren Brosnihan, is om dit met boks te vergelyk vroeg in die wedstryd. Dan is daar te vertelle dat die spanne “nog versigtig is,” en “mekaar nog voel-voel”.
Gister het ek geskryf dat as daar een span is wat die Cheetahs se nommer het, dan is dit die Haaie. Daar het gister niks op King’s Park gebeur om my van mening te laat verander nie. Oorweeg die volgende: Dis tien minute na rustyd. Die Haaie loop voor met 18 punte teen drie. Hulle het reeds twee van hulle handelsmerkende karwatsdrieë gedruk, die eerste ‘n knikskoppie deur Stefan Terblanche in die doelgebied toegeval en die tweede ‘n netjies vervaardigde een met al die styl en presiesheid van die tipiese Haaie-teenaanval wat deur Ruan Pienaar gefinaliseer is.
Die Vrystaat het ‘n ongekompliseerde rugbyfilosofie: Om ‘n wedstryd te wen, moet jy sorg dat jy meer punte as hulle het. Alte dikwels hierdie jaar het hulle teenstaanders meer punte as die Cheetahs gekry. Die Vrystaters hardloop en dryf en val aan en maak dit maklik lyk om punte te kry. Maar hulle laat te dikwels toe dat ander spanne ‘n groter puntetotaal as hulle bereik.
Omdat die Blou Bulle so ‘n stoere bydrae tot die Springbok-lotgevalle maak, het hulle seisoen die patroon van die afgelope paar jaar herhaal: Terwyl die hardebaarde met toetsspanne wedywer, word hulle plekke volgestaan deur belowende maar nat-agter-die-ore penkoppe. Hulle werk is om huis en haard te verdedig totdat die gesoutes terug is van hulle internasionale pligte. As die Blou Bulle binne trefafstand op die punteleer is, is die plan dat die toetsspelers ‘n plek in die halfeindrondtes sal konsolideer en as hulle eers daar is, wel, geen ander provinsiale span verstaan so goed soos die Blou Bulle hoe om trofees te wen nie.
Soms, as deel van hulle lewensvaardigheidsopleiding, kry klein jagluiperdjies ‘n lewendige bokkie van hulle ma om mee te speel. Hulle sal die bokkie ‘n skynontsnapping toelaat en dan kyk hulle hoe veel van ‘n voorsprong hulle die diertjie kan toelaat voordat hulle dit agterna sit. Maar soms werk hulle berekeninge verkeerd uit, en die bokkie bou ‘n té groot voorsprong op en dan is die katjie hulle ete kwyt én hulle moet aan Ma gaan verduidelik.