Moordsaak teen ANC-kandidaat uitgestel

Die saak teen die ANC-wykskandidaat wat teregstaan op die moorde op DA-raadslid Johannes Baaitjies van die Kgatelopele Munisipaliteit en sy kollega, is Maandag in die Postmasburg landdroshof tot 22 September uitgestel.

Die Valke se Philani Nkwalase, sê Zoniselo Magawu sal dan in die Daniëlskuil-landdroshof amptelik om borgtog aansoek doen.

Baaitjies en sy sakevennoot, Shuping Nosi, is sowat twee weke gelede op die hoofpad tussen Postmasburg en Daniëlskuil in die Noordkaap aangeval.

Baaitjies is op die toneel dood, terwyl Nosi verlede Dinsdag in ‘n Kimberley-hospitaal beswyk het.

Magawu bly in aanhouding.

Volgens die Mercury-koerant, was die totale aantal politieke sluipmoorde net in KwaZulu-Natal voor die munisipale verkiesing in Augustus reeds 12, met vier in Pietermaritzburg, twee in Newcastle en die res uit ander dele van die provinsie.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sê 18 gevalle van polities-verwante moorde is aangemeld tussen 1 Februarie en 5 Augustus 2016.

Die oortreding wat die meeste aangemeld is, is intimidasie, maar het slegs gelei tot 29 formele klagtes. ‘n Yslike 110 gevalle van opsetlike saakbeskadiging aangemeld.

Onder die slagoffers van politieke geweld was Thembi Mbongo, 35, ‘n kandidaat vir Wyk 6, buite Osizweni naby Newcastle. Sy is voor haar man en kinders doodgeskiet op 2 Julie.

Haar moordenaars het aan die deur van haar huis geklop en gevra om met haar te praat. Hulle verkeer steeds op vrye voet.

Politieke moorde is nie nuut in Suid-Afrika nie, maar met die aandag wat iemand soos Janusz Walus geniet, bly die openbare mening onder die indruk dat dit seldsaam is en slegs deur wittes gepleeg word wat gekant is teen die nuwe swart regering.

Walus het Chris Hani, terroris en Kommunisteleier om die lewe gebring, maar ten spyte daarvan dat Walus parool moet ontvang, weier die ANC om hom tegemoet te kom.

In KwaZulu-Natal alleen is daar reeds 450 politieke moorde aangeteken tussen 1994 en 2013. Minder as een uit tien van hierdie moordondersoeke het gelei tot suksesvolle veroordelings.

Die polisie het 56 gebiede in Limpopo, 40 in KwaZulu-Natal, 36 in Gauteng, 30 in Noordwes, 25 in die Wes-Kaap, 23 in die Oos-Kaap, 12 in Mpumalanga, sewe in die Noord-Kaap en drie in die Vrystaat geïdentifiseer waar sulke politieke moorde voorkom.

Groot mediabelangstelling in eiendomsmagnaat se moordsaak

Die uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty, Jason Rohde, sou nog ‘n nag agter tralies deurbring nadat hy in die Stellenbosch-landdroshof verskyn het op ‘n aanklag van moord op sy vrou Susan asook regsverydeling.

Rohde is drie dae gelede by sy huis in Bryanston, Johannesburg in hegtenis geneem.

Daar is tans groot mediabelangstelling in die ryk Engelsman, pa van die drie dogters, se hofverskynings. Rohde is sowat R30 miljoen sterk, en sal nie sukkel om borg te betaal nie.

Jason beweer dat Susan haar eie lewe geneem het in ‘n hotelbadkamer op die Spier-landgoed buite Stellenbosch omdat sy ‘n “selfmoordrisiko” was, maar ‘n nadoodse ondersoek het bevind dat sy vermoor is.

Maar Susan het glo van haar man se buite-egtelike verhouding te wete gekom.

Volgens Rohde se regsverteenwoordiger, Pete Mihalik, is die nodige wetlike prosedure nie gevolg om Rohde te arresteer nie. Hy is glo sonder ‘n lasbrief in hegtenis geneem en “dit het sy lewe geruïneer”.

Wanneer die saak hervat, sal die Staat na verwagting die ondersoekbeampte roep om te getuig.

ANC-kandidaat staan tereg op 2 aanklagte van moord

‘n ANC-kandidaat sal Maandag op twee aanklagte van moord in die hof verskyn.

Zoniselo Magawu (foto bo) is vir die moord op ‘n DA-raadslid van die Kgatelopele-munisipaliteit in Daniëlskuil gearresteer.

Dit is volgens die Valke se Hangwani Malaudzi en volg nadat Johannes Baaitjies se sakevennoot, Shuping Nosi, Dinsdagaand in ‘n Kimberley-hospitaal aan sy skietwonde beswyk het.

Hy is verlede Donderdag gewond in die aanval wat ook tot Baaitjies se dood gelei het.

Magawu het reeds op ‘n aanklag van moord en poging tot moord in die hof verskyn. Malaudzi sê die aanklag van poging tot moord het nou na moord verander na die dood van die tweede slagoffer.

Intussen het die DA-woordvoerder in die Noord-Kaap, Clivé Burger, bevestig dat die party se leier, Mmusi Maimane, die begrafnis van Baaitjies Saterdagoggend sal bywoon.

“Johannes Baaitjies word om 08:00 Saterdagoggend in Daniëlskuil uit die AGS Kerk in Kuilsville begrawe. Mmusi Maimane gaan die begrafnis bywoon. Hy vlieg reeds Vrydag Kimberley toe. Vredesaktiviste en personeellede sal ook die begrafnis bywoon. Ons verwag ‘n klomp mense,” sê Burger.

Twee jong Franse op Madagaskar vermoor

Dit is die tweede moordaanslag op wit Franse besoekers sedert die begin van die jaar in Madagaskar.

Die vorige moord was in die middel van Februarie, toe ‘n voormalige Franse matroos, Sylvain Thorin en sy vrou, Marinette, doodgeskiet is deur gewapende inbrekers met Kalashnikovs en pangas.

Sedert Januarie 2015, het tien Franse reeds gewelddadig gesterf op die eiland en in die meeste gevalle is nog geen vordering gemaak in die moordondersoeke nie.

In die jongste gru-voorval is twee jong Franse vrywilligers (22 en 25 onderskeidelik) dood aangetref Sondag op ‘n strand langs die noordooskus van Madasgascar waarskynlik doodgeslaan, het die owerhede gesê.

Die plaaslike burgemeester Bessaou Ismak Ado Crophe het op die eiland Sainte Marie aan AFP gesê beide liggame het tekens van koptrauma getoon, en wetstoepassers vermoed moord.

“Hulle was die aand by ‘n klub en is op die strand daar naby dood aangetref,” het hy gesê.

“Ek het gesien hoe die liggame lyk. Albei het beserings aan die kop gehad.”

Die slagoffers, ‘n jong man en ‘n vrou, was vrywilligers by Cetamada (foto bo), ‘n plaaslike nie-winsgewende omgewingsorganisasie wat poog om die oseaan se soogdiere te beskerm.

Die vrywilligers is meestal gegoede wit Franse jeugdiges.

‘n Ondersoek is van stapel gestuur.

Die Franse ambassadeur op die Indiese Oseaan-eiland asook die konsul sal Maandag besoek bring aan die eiland.

In 2012, is ‘n Franse egpaar dood op ‘n strand in die suide gevind, vermoor deur plaaslike inwoners.

‘n Jaar later, is twee Europeërs aangeval en lewendig verbrand deur ‘n skare op die Noordwes-eiland Nosy Be, nadat hulle verantwoordelik gehou is vir die dood van ‘n kind wat verdrink het.

Ma van drie op plaas doodgesteek

‘n Vrou en moeder van drie jong dogters is Woensdagmiddag op ‘n plaas naby Hartbeespoort in Noordwes vermoor.

Sy is vermoedelik oorval kort voordat sy haar kinders by die skool sou gaan haal het.

Verskeie steekwonde is aan haar lyk opgemerk waar sy buite die huis gevind is.

Die polisie het glo die toneel vir leidrade gefynkam tot in die vroeë-oggendure, het Netwerk24 berig.

Die vrou was ‘n weduwee. Haar naam is nog nie bekend gemaak nie. Sy het na die afsterwe van haar man twee jaar gelede, alleen met haar dogters in hul huurhuis op die plaas in die Rietfontein-omgewing gewoon.

Hul huis was afgeleë, weg van ander wonings op die plaas.

Die drie kinders is glo tans in veilige sorg van vriende.

NYT loods histeriese aanval teen Trump

Vyftig sogenaamde Republikeinse veiligheidskenners, insluitende ‘n voormalige direkteur van die Amerikaanse intelligensiediens (CIA), het Maandag die party se presidentskandidaat, Donald Trump, uitgekryt as ongekwalifiseerd om die land te lei en gesê hy sal die “mees roekelose president in Amerika se geskiedenis” wees.

Die verklaring is die jongste verwerping van Trump se kandidatuur deur veteraan Republikeinse veiligheidspesialiste en word deur die felheid van die taalgebruik gekenmerk.

“Mnr. Trump skiet te kort aan karakter, waardes en ondervinding om president te wees. Hy verswak Amerika se morele gesag om die leier van die vrye wêreld te wees. Hy beskik nie oor basiese kennis en geloof in die Amerikaanse grondwet, Amerikaanse wetgewing en Amerikaanse instansies, insluitende geloofsvryheid, mediavryheid en ’n onafhanklike regbank nie,” lui die verklaring.

Volgens die verklaring sal nie een van die vyftig ondertekenaars vir Trump stem nie.

“Uit ’n buitelandse beleidperspektief, is Donald Trump nie bevoeg om president of opperbevelvoerder te wees nie.

Ons is inderdaad daarvan oortuig dat hy ’n gevaarlike president sal wees wat die land se nasionale veiligheid en welstand in gevaar sal stel,” lui die verklaring wat eerste in die New York Times gepubliseer is.

Trump het die koerant voorheen daarvan beskuldig dat hulle partydig is en nie belangstel daar in om objektief te wees nie. Hy het ook gesê hy vrees dat die verkiesing in November ‘n gekonkel gaan wees.

Intussen het Julian Assange op die Nederlandse televisieprogram Nieuwsuur gesuggereer dat Seth Rich (foto bo), ‘n Demokratiese medewerker die bron vir die Wikileaks-eposkraak was en nie die Russe nie.

Die Clinton-veldtogvoerders het Rusland die skuld gegee vir die vrystelling van gekraakte eposse wat aantoon hoe Clinton die Demokratiese verteenwoordigers manipuleer.

Rich is vermoor.

Tweede ANC-kandidaat doodgeskiet op Mandeladag

‘n Tweede ANC-lid van KwaZulu-Natal en kandidaat-raadslid is gister doodgeskiet op pad na ‘n Mandeladagviering, het die Valke gesê.

Kapt Simphiwe Mhlongo het aan News24 gesê dat 41-jarige Khanyisile Sibisi is Maandagmiddag geskiet terwyl sy op pad was om goedere skenk aan ‘n viering van Mandeladag in Ladysmith.

“Daar is op haar voertuig losgebrand en sy is beseer. Sy is na die hospitaal geneem waar sy dood verklaar is.”

Mhlongo het gesê hy ‘n beroep op die betrokke party om na vore te kom met inligting.

“Ons kan nie ‘n situasie hê waar mense word vermoor word soos hierdie nie, in hierdie geval twee mense op een dag. Ons doen ‘n beroep op getuies en die politieke party om na vore te kom met inligting om ons ondersoek te help. Ons veroordeel die moord.”

Sibisi is die tweede ANC-kandidaatraadslid wat doodgemaak is Maandag.

Bongani Skhosana, ook ‘n kandidaat ANC-raadslid in KZN, is doodgeskiet in sy motor voor sy kinders, terwyl hy hulle Maandagoggend skool toe wou neem.

Die ANC se provinsiale sekretaris Super Zuma het voorheen ‘n beroep op wetstoepassingsagentskappe gedoen om hul sigbaarheid in bekende knelpunte te verhoog en om voor die 3 Augustus verkiesings sekuriteit op te skerp.

“Ons is bekommerd dat ons nader aan die plaaslike regeringsverkiesings, ons wykskandidate verloor.”

‘Nog geen arrestasies’ in moorde op Kayla Meyer (9) en haar gesin

Die moorde op die jong Afrikanerdogter Kayla Meyer (9) en haar ma Marietjie (45) wat in Maart 2016 op ‘n kleinhoewe buite Randfontein doodgemaak is, is nog nie opgelos nie. Marietjie se vriend, Kennith McCormick (42) is insgelyks tydens die aanval op die gesin om die lewe gebring.

“Die saak word steeds deur die provinsiale ondersoekspan hanteer en daar is tot op hede geen arrestasies nie,” het kaptein Appel Ernst, woordvoerder van die Randfonteinse polisiestasie gister per e-pos teenoor PRAAG bevestig nadat ons navraag gedoen het.

Ons het in Maart oor die reaksies op sosiale media berig ná die moorde onder die opskrif:

‘Dis kruipende volksmoord’: kommentaar oor uitwissing van Randfontein-gesin

 

Dood van treindrywer skok familie

Die familie van die 73-jarige man wat vermoor is in sy huis in Bloemfontein Maandagoggend, is diep geskok oor sy dood.
 
Die liggaam van Hendrik Knoetze is deur ‘n buurman ontdek in sy Pellissier-huis teen omstreeks 08:00 Maandag.

Knoetze, ‘n voormalige treindrywer, was vasgebind met sigbare kopwonde. Hy is na bewering doodgeslaan.

‘n Polisiewoordvoerder, Chaka Marope sê paramedici vermoed dat Knoetze sowat drie tot vier dae gelede vermoor is.

Intussen het die neef van Knoetze, Glanville Oliver, sê die familie het aanvanklik gedink Knoetze is aan natuurlike oorsake dood.

“Toe ons by die huis kom het ons gesien dat hy inderdaad vermoor is. Ek bedoel, hy was ‘n pensioenaris. Almal wat tot dusver gebel om te hoor of hy vermoor is het my gevra, hoekom hy? Hy was ‘n baie goeie mens, hy sou nie eens ‘n vlieg seermaak nie,” sê Oliver.

Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die moord nie.

Dit is nie bekend hoe nou betrokke Knoetze by die geding was wat Transnet-pensioenarisse in die vorm van ʼn klasaksie-eis teen Transnet en die regering aanhangig gemaak het nie.

In die saak eis sowat 70 000 pensioenarisse van alle rasse bykans R80 miljard van Transnet. Dit is die grootste siviele eis in die land se regsgeskiedenis.

Meeste van die eisers is deur baie jare van groot lyding. Baie van hulle het verarm en is in die grootste ellende dood.

“Transnet het tot dusver desperaat probeer om deur tegniese punte die saak te vertraag. Die gevolg daarvan was dat baie pensioenarisse met die verloop van tyd gesterf het. Baie weens swaarkry, ʼn gebrek aan geld en gepaardgaande mediese sorg.

“Dit kan daarom nie weggeredeneer word dat Transnet ʼn roekelose en hartelose instansie is wat die bloed van baie van hierdie mense aan sy hande het nie,” het hul regsverteenwoordiger adv. Alberts vroeër vanjaar gesê.

Swartmaggroep aanvaar verantwoordelikheid vir Dallas-skietery

‘n Supermark in die middestad van Dallas moes gesluit word na chaos uitgebreek het toe swart sluipskutters van ‘n swartmaggroep losgebrand het op polisielede in Texas tydens ‘n BlackLivesMatter-betoging.

Ten minste vyf polisiebeamptes is doodgeskiet en ‘n hele aantal gewond deur geweerskote in die sentrum van Dallas Donderdagaand.

Beeldmateriaal van ten minste een grumoord op ‘n polisieman is op kamera vasgevang (foto hierbo).

Volgens berigte is ten minste sewe beamptes gewond in die skietery wat net na 9 in die aand plaasgevind het.

Honderde swartes het in die parkeerterrein van ‘n 7-Eleven ingestroom omdat ‘n massiewe polisieteenwoordigheid die skare weg van die chaotiese toneel van die aanval gelei het.

Nuusspanne naby die 7-Eleven het gesien hoe swartes die beamptes wat die gebou probeer beskerm het, tart.

Baie van hulle was dronk en ‘n paar het by die supermark ingebreek en die plek begin plunder.

‘n Swartmaggroep Black Power Political Organisation het intussen verantwoordelikheid vir die moord van vyf polisiebeamptes aanvaar.

Vyf beamptes is doodgeskiet deur ten minste twee sluipskutters wat beamptes vermoedelik vanuit ‘n multi-verdieping parkeerterrein geteiken het.

Dit kom in die week van openbare verontwaardiging oor die dood van twee swart mans wat na bewering deur polisiebeamptes doodgeskiet is. Albei die swartes was gewapen, iets wat vermoedelik tot hul dood gelei het.

Die dood van die twee het tot hernude rassespanning gelei nadat beeldmateriaal op sosiale media versprei is met heftige anti-wit kommentaar.

Die boodskap – gepos in die nasleep van die skietery – is ‘n oproep aan swartes oral om die wapen wêreldwyd teen wittes op te neem teen “onderdrukking”. Dit lui:

‪#‎BlackPower‬! ‪#‎BlackKnights‬! Sniper Assassins Take Down Five Police Officers! And More Will Be Assassinated In The Coming Days! Do You Like The Work Of Our Assassins? Get Your Own Sniper Rifle And Join Our Thousands Of Sniper Assassins Worldwide In The Fight Against Oppression!”

Die Facebookblad van die Black Power Political Organisation is sedertdien afgehaal. Dit is nog nie bekend of dit verwyder is deur Facebook of die groep self nie.

Dae gelede het die groep ‘n onheilspellende boodskap gelaat wat ‘wraak’ sweer vir die noodlottige skietery van Alton Sterling.

Mangaung is die hoofstad van seksuele misdrywe

Mangaung is die hoofstad van seksuele misdrywe in Suid-Afrika, het skokkende syfers getoon.

Die misdaadstatestiek van nege groot stede in die land is vervat in die verslag, State of Urban Safety in South Africa, wat aan die begin van die maand vrygestel is.

Dit wys dat die aantal seksuele misdryf-sake in Mangaung landwyd die hoogste is en dat die koers waarteen dit die afgelope dekade gestyg het, hoër is as die gemiddelde nasionale koers.

Inbrake by huise landwyd het ook skerp toegeneem, maar Mangaung het steeds die hoogste inbraaksyfers.

Die verslag het ‘n analise van misdaad en geweld, asook die impak daarvan gedoen, wat insluit die vrees wat dit by inwoners inboesem.

Die hoogste aantal moorde is in Kaapstad aangeteken en, volgens statistiek, staan slagoffers van misdaad in Johannesburg ‘n groter kans om geroof of gekaap te word.

Behalwe vir veediefstal is die grootste persentasie misdaad in stedelike gebiede aangemeld.

Vermeende moordenaar van Grootbrak-egpaar dalk landuit

Die polisie het ‘n swartman, die vermeende meesterbrein agter die wrede moorde op Tewie en Eurika Human verlede maand in hul Grootbrakrivier-huis geïdentifiseer.

Dit kom na die inhegtenisneming van ‘n 26-jarige van Wolwedans, wat Donderdag in die plaaslike landdroshof verskyn het.

Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder het gesê Thamsamqa Howard Sishuba word verbind met die moord deur forensiese getuienis wat tydens die aanvanklike ondersoek op die toneel ingesamel het.

“Die egpaar is [dood] in hul woning in Sandheuwelstraat, Groot Brak Rivier, op 18 Junie gevind toe ‘n buurman die liggaam van die [vrou] deur die venster gesien het,” het die woordvoerder gesê.

“Die plaaslike polisie het by aankoms, ook die liggaam van die man in die motorhuis ontdek nadat die deure afgebreek moes word om toegang te verkry tot beide die huis en die motorhuis.”

Eurika, 62, is doodgesteek. Sy het beswyk weens ​​vier steekwonde aan die nek en bors.

Die verdagte het dalk reeds uit die land gevlug.

Tewie, 72, is ook erg beseer met ‘n panga, met frakture aan sy bolyf en kop.

Sishuba het Donderdag in die Mosselbaai-landdroshof in verband met die dubbele moord verskyn.

Die saak is uitgestel tot Vrydag vir regsverteenwoordiging.

Beroemde Jan Hettema naby Pretoria vermoor

Die beroemde Springbokfietsryer en tydrenjaer Jan Hettema is gisteroggend te Boschkop net oos van Pretoria vermoor. ‘n Bende rowers het ingebreek en die 83-jarige Hettema doodgeskiet, terwyl hulle sy vrou ook aangeval en beseer het.

Sy dogter Helena Hettema is insgelyks ‘n bekende Afrikaanse sangeres. Hettema is oorspronklik in Nederland in Leeuwarden gebore. Gister is daar ook vanuit die Nederlandse parlement navraag oor Hettema se moord gedoen.

Volgens Netcare 911 was Hettema reeds dood toe hul ambulans op die toneel aankom. ‘n Woordvoerder, Athlenda Mathe, sê: “Toe ons op die toneel aankom, het ons gevind dat die bejaarde man reeds gesterf het, as gevolg van die skietwond wat hy opgedoen het. Ons het hom op die toneel dood verklaar, waarna sy liggaam aan die Bosckop-polisie oorhandig is.”

Volgens berigte het Hettema en sy vrou Elsa hulle in die slaapkamer probeer toesluit nadat hy buite opgemerk het dat gewapende swartes met klapmusse op die perseel was. Die deur is egter afgebreek, waarna die boosdoeners Hettema na die kombuis geneem en in die gesig geskiet het.

Hettema het vyf keer die Suid-Afrikaanse tydrenkampioenskap gewen. Hy het ook namens Suid-Afrika as fietsryer aan die Olimpiese Spele in 1956 in Australië deelgeneem.

 

 

 

Topdiplomaat in Namibië aangeval, sakeman vermoor

‘n Topdiplomaat is Woensdagaand in Swakopmund, Namibië aangeval en vir dood agtergelaat. In ‘n ander voorval is ‘n bekende sakeman doodgeskiet.

Merete Dyrud sou waarskynlik nie die aanval oorleef het as ‘n vryskutjoernalis, Linette Smit Russell, haar nie oor die beseerde vrou se welstand bekommer het nie.

Dyrud is tweede in bevel in die Norweegse ambassade, en is tans werksaam in Kaïro, Egipte. Sy was met vakansie in Namibië.

Volgens omstanders is ‘n Franse vrou die vorige week op dieselfde plek en op dieselfde manier aangeval.

‘n Bus vol toeriste het ook stilgehou waar die beseerde diplomaat gelê het, omring deur nuuskieriges.

Dyrud (52) is verlede Woensdagaand naby die Tug-restaurant aangeval toe sy en ‘n vriend na ‘n ander restaurant, Tiger Reef, gestap het.

Volgens die polisie is sy deur ‘n onbekende persoon met ‘n onbekende voorwerp oor die kop geslaan. Haar beursie met N$3 000 en buitelandse geld is gesteel.

Dyrud kon eers in die hospitaal se intensiewesorgeenheid weer tot verhaal kom en het uitgesien daarna om weg te kom uit Namibië.

Blykbaar is die vrou ‘n swaar voorwerp oor die kop geslaan en beroof. Toe Smit Russell op haar afgekom het, kon sy niks onthou nie en het nie geweet waar sy is nie.

Daar was ‘n yslike besering aan die agterkant van haar skedel en bloed het langs haar slape afgeloop, het Smit Russell gesê. Sy was heeltemal verward en erg verswak en het nie verstaan wat aangaan of waar Namibië is nie.

Sy kon slegs haar naam onthou en dat sy van Noorweë kom. Sy het haar naam herhaaldelik gespel.

Die paramedici wou haar egter nie na die hospitaal neem sonder bewys van identiteit en betaling nie. Sy is deur die joernalis op Facebook opgespoor. Dit is nie bekend wat van haar metgesel vir die aand geword het nie.

Haar regering het onmiddellik in­gestaan om vir haar mediese onkostes te betaal nadat hulle van die aanval te hore gekom het, en haar hotel het haar dokumente aan die joernalis besorg.

Intussen is drie swart mans wat in verband met die onlangse moord op ‘n wit sakeman van Walvisbaai in hegtenis geneem is, se sake in die landdroshof bymekaar gevoeg.

Walvisbaaiers het handtekeninge op ‘n versoekskrif ingesamel om druk op die howe uit te oefen sodat borgtog nie toegestaan word aan die vermeende moordenaars nie.

Die twee mans is onder ­­swaar polisiebewaking na die stampvol hofsaal begelei waar hulle voor landdros Liwayo Sindano verskyn het.

David Shekudja en David Tashiya staan op klagte van moord, huisbraak met die doel om te roof, gewapende roof en poging tot moord tereg.

Nadat dié klagte deur die landdros aan hulle in die hof voorgelees is, het Shekudja­ gesê hy sal om regshulp aansoek doen terwyl Tashiya gesê het hy sal homself tydens die verhoor verteenwoordig.

Hoewel borgtog nie aan die twee mans toegestaan is nie, het Sindano hulle nogtans ingelig dat ‘n formele aansoek om borgtog by die hof ingedien mag word.

Sindano het die twee beskuldigdes se saak met dié van nog ‘n beskuldigde, Panduleni Gotlieb, bymekaargevoeg.

Gotlieb het sy eerste verskyning op klagte van moord, huisbraak met die doel om te roof en poging tot moord in die landdroshof gemaak.

Die klagte teen die beskuldigdes hou verband met ‘n aanval op 17 Junie wat op Walvisbaai plaas­gevind het.

Tydens die voorval het die drie beskuldigdes en nog drie vermeende rowers glo by die oor­ledene, Hans-Jörg Möller, se huis in­gebreek. Möller is in die maag geskiet en sy vrou, Carol-Ann, ernstig aangerand.

Hans-Jörg Möller is ‘n dag ná die voorval in ‘n hospitaal op Swakopmund oorlede.

Gotlieb is Vrydagaand in ‘n minibus-taxi op pad na die Noorde tussen Ondangwa­ en Omuthiya vasgetrek.

Shekudja en Tashiya is in Windhoek deur die polisie in hegtenis geneem en het Maandagmiddag in ’n ­uitkenningsparade op Walvisbaai verskyn.

Carol-Ann was ook by die hofverskyning. Haar oë is nog blou van die beserings wat sy tydens die aanranding op haar opgedoen het.

Die drie beskuldigdes se saak is tot 2 Augustus uitgestel sodat die polisie se ondersoek voltooi kan word.