Groot mediabelangstelling in eiendomsmagnaat se moordsaak

Die uitvoerende hoof van Sotheby’s International Realty, Jason Rohde, sou nog ‘n nag agter tralies deurbring nadat hy in die Stellenbosch-landdroshof verskyn het op ‘n aanklag van moord op sy vrou Susan asook regsverydeling.

Rohde is drie dae gelede by sy huis in Bryanston, Johannesburg in hegtenis geneem.

Daar is tans groot mediabelangstelling in die ryk Engelsman, pa van die drie dogters, se hofverskynings. Rohde is sowat R30 miljoen sterk, en sal nie sukkel om borg te betaal nie.

Jason beweer dat Susan haar eie lewe geneem het in ‘n hotelbadkamer op die Spier-landgoed buite Stellenbosch omdat sy ‘n “selfmoordrisiko” was, maar ‘n nadoodse ondersoek het bevind dat sy vermoor is.

Maar Susan het glo van haar man se buite-egtelike verhouding te wete gekom.

Volgens Rohde se regsverteenwoordiger, Pete Mihalik, is die nodige wetlike prosedure nie gevolg om Rohde te arresteer nie. Hy is glo sonder ‘n lasbrief in hegtenis geneem en “dit het sy lewe geruïneer”.

Wanneer die saak hervat, sal die Staat na verwagting die ondersoekbeampte roep om te getuig.

Geel diamant haal rekordprys

grafvivid‘n Geel diamant van 100 karaat is vir meer as R160 miljoen op ‘n juweliersveiling in Genève verkoop. Daar is net enkele mense in die wêreld wat soveel vir so ‘n diamant kan betaal.

Die wêreldbekende afslaers, Sotheby’s, sê die sogenaamde Graff Vivid geel diamant is deur ‘n privaatkoper aangeskaf, wat een van 30 mense was wat gebie het.

Volgens die afslaers is dit ‘n wêreldrekordprys vir ‘n juweliersveiling.

Een teleurstelling van die veiling egter was dat die 31,34 karaat “Victory Diamond,” genoem ter ere van die geallieerde oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog, nie verkoop het nie. Dit het ‘n geskatte waarde van ongeveer R50 miljoen.

Na die veiling, het die afslaer verduidelik dat die koper, ‘n vrou wat heel voor in die kamer gesit het, die item terug na die veilingvloer gestuur het. Hy het bygevoeg dat so iets wel soms gebeur, maar byna nooit met so ‘n hoë-profiel stuk nie.

“Die uiteindelike koper van die geel diamant was verward dink ek, met haar berekeninge in [Switserse] frank en dollars, en het ‘n paar minute later teruggekom en gevra om dit weer op aanbod te laat plaas.”

Hy het bygevoeg dat hy “baie dankbaar” voel dat dit uiteindelik verkoop het, maar die koper was glo selfs gelukkiger daaroor.