‘Kakkerlakke’ versoen

Die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, Julius Malema, het die Speaker van die Nasionale Vergadering, Baleka Mbete, se verskoning aanvaar, nadat sy hom oor die naweek op ‘n ANC-saamtrek in Noordwes ‘n kakkerlak genoem het.

Mbete het die opmerking in Mahikeng gemaak in haar hoedanigheid as die voorsitter van die ANC, het RSG berig.

Dit volg na verlede week se wanordelike Staatsrede waartydens lede van die EFF met geweld deur veiligheidspersoneel uit die parlement verwyder is.

Malema het op sy beurt die DA-leier, Helen Zille, om verskoning gevra omdat hy haar in 2010 ‘n kakkerlak genoem het.

HSM dink landsbestuur is ‘n swart Idols-kompetisie

Die parlementêre sirkus waar die media sowel as lede klaarblyklik meen dit gaan om ‘n klugtige swart Idols-kompetisie eerder as landsbestuur, duur voort.

Hoofstroommedia berig oudergewoonte oor verskillende politieke persoonlikhede wat mekaar slegsê asof dit van enige wesentlike belang vir die produktiewe minderheid sou wees.

Opposisie-parlementslede het intussen tydens die debat oor die staatsrede hul ontevredenheid uitgespreek oor die weglating van sommige sleutelgebeure uit die notules van verlede week.

Hulle kla dat geen melding gemaak word van die blokkering van selfoonseine wat plaasgevind het nie. Dit is nie seker wat die meeste opposisiepartye kan kommunikeer of twiet wat aan die ANC se meerderheid sal verander nie.

Die uitsmyting van die EFF-lede sowel as die DA wat agterna uit die Nasionale Vergadering gestorm het om verrigtinge verder te ontwrig, is nie onder die besprekingspunte nie.

Soos verwag, het EFF-leier, Julius Malema sy toespraak weer begin met ‘n verwysing na Nkandla.

EFF loods grondgrypprogram in Gauteng

Die party van Julius Malema, die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) gaan begin om “leë grond” in Gauteng te beset. Hierdie besluit is gister by die party se provinsiale kongres geneem.

“Bo-aan ons prioriteitslys is grondbesettingsprogramme, wat beteken dat vervreemde gemeenskappe besit van leë grond sal neem as ‘n manier hom hulself te bemagtig,” het die EFF se provinsiale woordvoerder, Ntobeng Ntobeng, in ‘n verklaring gesê.

Die party beskik nie oor ‘n provinsiale dagbestuur nie, maar verkies die militêre term, “provinsiale bevelspan”, volgens nuusagentskappe. Die “bevelspan het Saterdag sy eerste vergadering gehou. Dit volg op die party se nasionale kongres of “volkskongres” wat in Desember in Bloemfontein gehou is.

Die nasionale konferensie het die party se boonste ses leiers verkies, asook ‘n verdere 35 lede van die “sentrale bevelspan”. Een van die besluite wat by die party se nasionale konferensie aangeneem is, is dat “onbesette grond regoor die land… ingeneem moet word”. Volgens die party se kommissie vir grondhervorming moet diegene wat grondeise teen boere en ander eienaars instel ook die geëiste grond “beset”.

Die EFF is besig om landwyd te organiseer, maar ook in Gauteng. “Die oorblywende 20 persent van EFF-takke, wat gegrond is op 508 kiesafdelings in Gauteng, moet teen 31 Maart 2015 geloods word.”

Die party is ook besig om bevelstrukture op kampusse op te rig. “Studentebevelspanne sal teen die einde van Junie ten volle operasioneel wees,” verklaar Ntobeng.

Vrystaat maak reg vir moontlike grondbesettings

Vrystaat Landbou het gesê die polisie in die provinsie het die versekering gegee dat hy gereed is om enige onwettige grondbesettings of die betreding van plase te hanteer.

Die voorsitter van VL se wet-en-ordekomitee, Tommie Esterhuyse, sê VL en die polisiebestuur het op ’n gesamentlike vergadering dreigemente van grondbesetting bespreek wat op die onlangse kongres van Julius Malema se Ekonomiese Vryheidsvegters in Bloemfontein gemaak is.

Esterhuyse sê VL en die polisie het hulle op dié hoëvlakvergadering albei weer tot landelike veiligheid en gereelde skakeling en nouer samewerking verbind.

Die polisie het kommer uitgespreek oor onwettige buitlanders wat deur boere in diens geneem word en boere gevra om dit ter wille van veiligheid te staak.

VL doen ook ’n beroep op boere om goeie verhoudings met polisiebeamptes te bou en om by plaaslike veiligheidstrukture in te skakel.

Bron: Bloemfontein Courant

Zuma gekrenk deur Nkandla-aanvalle

President Jacob Zuma het tydens ‘n informele middagetesessie met die media oor Nkandla gesê: “Dis die staat se plig om sy president en adjunkpresident te beskerm.”

Die president is onder druk om uit sy eie sak vir die opknappings by sy privaatwoning te betaal nadat die Openbare Beskermer bevind het dat hy en sy familie onregmatig daardeur bevoordeel is

Hy het gesê die spesiale ondersoekeenheid (SOE) het aangedui wie verantwoordelikheid moet aanvaar vir die aanbouings, maar die media ignoreer dit.

Hy het aan Media24 gesê dit lyk asof die media meen Nkandla is nie veronderstel om ’n president op te lewer nie, terwyl George voordeel getrek het uit die feit dat PW Botha in die Wildernes gewoon het.

Zuma het gesê die lughawe op George is nie weens ekonomiese oorwegings opgerig nie, maar omdat die voormalige staatshoof daar gewoon het.

Zuma het tydens die netwerksessie gesê hy word vervolg weens sensasiesoekery en die opposisiepartye gebruik Nkandla om die ANC by te kom.

Die Demokratiese Alliansie het vroeër ‘n beroep op President Zuma gedoen om die aanbod deur ‘n KwaZulu-Natalse sakeman om namens hom vir Nkandla te betaal, van die hand te wys.

Philani Mavundla het glo reeds fondse insamel om ‘n gedeelte van die geld wat aan die president se privaatwoning op Nkandla bestee is, terug te betaal.

Die DA sê hulle “verwerp” die derde party wat vir die skuld kan kan instaan.

Luidens berigte sal die president vandeesweek weier om verdere vrae in die Parlement te beantwoord oor die kwessie.

Volgens ‘n naweekkoerant het die ANC bevestig dat Zuma regstreekse vrae sal vermy as gevolg van sommige parlementslede wat dit as ‘n verskoning gebruik om chaos te saai.

Die leier van die EFF, Julius Malema en ander EFF-lede is in Augustus gevra om die Nasionale Vergadering te verlaat nadat hulle die president getart het en die parlementêre kodes oortree het.

Die ANC het bewerings ontken dat hy Zuma probeer beskerm en sê die artikel is misleidend.

Die woordvoerder van die party, Zizi Kodwa het egter gesê hulle kan nie toelaat dat die president na die parlement gaan nie, wat aldus hom, in ‘n sirkus ontaard het.

President Jacob Zuma het intussen die totstandkoming van ‘n presidensiële kommunikasie- en media-werkgroep aangekondig om skakeling tussen die regering en die media te bevorder.

Die president het by die 37ste herdenking van “Swart Woensdag” in Pretoria gepraat.

Verskeie koerante wat terreur teen Afrikaners ondersteun het, is op 19 Oktober 1977 verbied en buitelandse agente, waaronder joernaliste is op dié dag in hegtenis geneem.

Zuma sê dit is deel van die regering se pogings om te verseker dat vryheid van spraak voorrang in die land geniet.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum het die besluit verwelkom

Die voorsitter van die forum, Mpumi Mkhabela sê dit sal ‘n platform aan die media gee om sy kommer uit te druk oor sekere kwessies, soos die Wet op Beskerming van Inligting.

Tugkomitee hoor getuienis oor EFF-chaos

Die vyf lede wat wou ingryp om die chaos wat EFF-lede in die parlement veroorsaak het, is geroep om voor ‘n parlementêre Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte te getuig.

Die komitee sal vandag tugstappe voortsit teen 20 EFF-parlementslede. Dit sluit Julius Malema in.

Ses getuies altesaam is geroep om Maandag voor die komitee te verskyn.

Dit sluit die minister van Telekommunikasie, Siyabonga Cwele, die minister van Staatsveiligheid, David Mahlobo, die ANC se adjunk-hoofsweep, Doris Dlakude en die hoofsweep van die DA, John Steenhuisen.

Vyf van die ses wat geroep is om te getuig, het glo gepoog om die chaos wat deur die EFF in die parlement in Augustus veroorsaak is, te ontlont.

Die opposisiepartye in die komitee eis dat die betrokke getuies verduidelik waarom hulle ingegryp het.

Malema ontken dat hy Namibiese byeenkoms sou bywoon

Die leier van die Economic Freedom Fighters (EFF) in Suid-Afrika, mnr. Julius Malema, het ontken dat hy die bekendstelling van die Namibian Economic Freedom Fighters (NEFF) se verkiesingsmanifes die afgelope naweek sou bywoon.

Die bekendstelling het Saterdag by die UN Plaza in Windhoek, Katutura plaasgevind en is deur drie lede van die EFF bygewoon, het die Republikein berig.

Net oor ’n honderd mense, van wie die meeste kinders was, het die bekendstelling van die manifes bygewoon wat aan Namibië se ontslape helde opgedra is.

“Nee, ek het nog nooit gesê dat ek dit gaan bywoon nie. Ek het geen benul waarvan hulle praat nie,” het Malema per telefoon aanRepublikein gesê.

Die nasionale koördineerder van die NEFF, mnr. Iipumbu Kalimbo, meen egter Malema is met ’n politieke speletjie besig.

“Die NEFF het nog nooit vir die mense gelieg dat hy (Malema) sou kom nie, ek weet nie eens of dit nou ter sprake behoort te wees nie. Soos jy kon sien, was drie lede van EFF se sentrale komitee afgevaardig. Dat Malema sou kom, was nie ’n leuen nie,” het Kalimbo gesê.

Wat volgens hom wel belangrik is, is dat ‘n NEFF-regering godsdiens in skole sal terugbring. Die NEFF beoog ook om die maandelikse maatskaplike pensioen van N$600 na N$1 500, die kindertoelaag van N$250 na N$500 en die oorlogsveterane se toelaag van N$2 200 na N$4 400 te verhoog.

Een van die EFF-afgevaardiges en lid van die Suid Afrikaanse parlement, me. Magdalene Moonsamy, het die NEFF gewaarsku om nooit in die voetspore te volg van diegene wat vir die massas jok nie. Sy het na die handvol mense verwys wat vir die bekendstelling opgedaag het en gesê dit word van die NEFF verwag om elke stem in die land vir dié party te wen.

“Dit is nie hoe EFF van Suid-Afrika lyk nie. Ons is groot en ons verwag van julle om elke Namibiër se hart te oortuig om vir julle te stem,” het sy gesê.

Ondersoek na EFF-wangedrag gaan voort

Die Parlement se Komitee oor Bevoegdhede en Voorregte sal vandag voortgaan met sy ondersoek na die wangedrag van 20 Parlementslede van die Ekonomiese Vryheidsvegters.

Die LP’s sal nie teenwoordig wees nie, nadat hulle Dinsdag uitgestap het, het RSG berig.

Die EFF-leier, Julius Malema, het die geloofwaardigheid van die komitee bevraagteken en gevra het dat alle aanklagte teen hulle laat vaar word.

Sy verklaring volg nadat 19 van die LP’s die aanklagte teen hulle aanvaar het. Een van die parlementslede,

Magdalene Munsamy, het verskoning gemaak dat sy nie die verrigtinge kan bywoon nie.

Weens die afwesigheid van die LP’s van die EFF, het die voorsitter van die komitee, Lemias Mashile, ‘n pleit van onskuldig namens hulle aangeteken.

Die komitee het ook die video-materiaal van die verrigtinge in die Nasionale Vergadering op 21 Augustus besigtig, wat deel van die getuienis sal vorm.

Die komitee sal vandag begin om getuienis te lei.

Malema se korrupsie-verhoor gaan voort

Julius Malema, die EFF-leier se verhoor oor bewerings van bedrog, korrupsie en geldwassery word Dinsdag in die Hooggeregshof te Polokwane voortgesit.

Die polisie is in die stad asook in die Seshego-lokasie, Malema se eertydse tuiste, ontplooi.

EFF-lede en ondersteuners drom sedert Maandag naby die hof saam. Lede van die provinsiale wetgewer en parlement het ‘n nagwaak vir Malema naby die hof gereël.

Regter Ephraim Makgoba het die verdediging se versoek om die aanklagte te laat terugtrek, in November verlede jaar van die hand gewys.

Die staat voer aan dat Malema sowat R4 miljoen uit korrupte sakebedrywighede verdien het.

Die woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NGV), Nathi Mncube sê Malema, asook sy twee medebeskuldigdes en van hul maatskappye staar 54 aanklagte in die gesig.

Drie paaie naby die hof is sedert Maandagaand gedeeltelik vir verkeer gesluit.

Intussen het die Wes-Kaapse Hooggeregshof die Ekonomiese Vryheidsvegters se aansoek om ‘n dringende interdik teen dissiplinêre stappe teen 20 van sy parlementêre lede van die hand gewys.

Die verhore sou vanoggend begin het.

Die saak spruit voort uit die voorval toe lede van die EFF President Jacob Zuma se antwoorde oor Nkandla in die nasionale vergadering ontwrig het tydens vraetyd.

Kort voordat regter Vincent Saldanha sy bevel uitgereik het, is hy deur ‘n parlementêre regsverteenwoordiger in kennis gestel dat die verhore met ‘n week uitgestel is.

Die regsverteenwoordiger van die lede, Luvuyo Godla sê daar is steeds ‘n kans dat hulle verdere aansoeke kan bring.

Gay, Afrikaans, marxisties en EFF-studenteleier by Tuks

“Woensdag het ‘n groep wit mansstudente my ‘n rasseverraaier en ‘n moffie genoem,” sê Jaco Oelofse. “Nie baie oorspronklike nie, maar hulle het probeer.”

Oelofse is gay, wit, marxistiese en Afrikaans, asook die studenteleier van die Ekonomiese Vryheidsvegters op die kampus van die Universiteit van Pretoria. Hy beskou Julius Malema as ‘n “uitstekende leier” en sê:

“Die media slaag daarin om ‘n sterk swart stem te demoniseer. Ek dink dat hy ‘n uitstekende leier is en presies die soort leier wat die land nodig het, en meen dat hy ‘n “goeie spreker is

“Hy ken politiek, is ‘n uitmuntende orator en wat ek van hom hou, is dat hy verstaan dat die waarheid radikaal is, hy praat die waarheid.”

Tot dusver het die 23-jarige Oelofse nog nie sy leier ontmoet nie, maar wil baie graag.

Jaco Oelofse, leier van die EFF se gevegseenheid by Tuks
Jaco Oelofse, leier van die EFF se gevegseenheid by Tuks

Wat die grondkwessie betref, voel hy dat alle grond aan die “regmatige eienaars” terugbesorg moet word aangesien dit “met geweld gesteel is. Daar moet geen vergoeding (vir boere) wees nie, dit moet net aan die regmatige eienaars teruggegee word.”

“Maar,” sê die filosofiestudent aan Tuks wat onder invloed van marxistiese denkers gekom het, “dit beteken nie dat blankes nie ook deel van die land kan wees nie, maar voordat ons kan praat van die land met blankes deel, kom ons fokus liewers daarop om blankes te kry om die grond te deel.”

Volgens Oelofse mag blankes ook deel wees van Suid-Afrika.

Sedert Oktober 2013 is hy lid van die Ekonomiese Vryheidsvegters en ‘n lid van die “studentegevegseenheid” aan die UP.

Benewens filosofie, studeer Oelofse ook staatsleer. Hy meen “daar is geen ander keuse as nasionalisering nie”.

Hoe het dit gebeur dat hy die marxisme omhels het? In die onlangse verlede is Tukkies gesuiwer van nie-marxistiese akademici deur veldtogte teen hulle te voer, onder meer deur dr. Piet Croucamp van die Universiteit van Johannesburg wat ‘n dosent in die filosofiedepartement laat vervolg het weens kritiek wat sy op feminisme en marxisme uitgespreek het.

Oelofse het toenemend in sy studies die radikale menings van sy dosente, wat deesdae meesal van Wits, Kaapstad, Natal en ander radikale Engelse kampusse afkomstig is, omhels. “Soos wat ek in my studies gevorder het, het my belangstelling in radikale teorie toegeneem,” sê hy. “Ek vereenselwig my met ‘n radikale party wat die belang van die lydendes, die armes en die stemloses op die hart dra. As ‘n gay persoon glo ek ook dat die EFF die regte party is, aangesien hulle by verre die mees progressiewe beleid oor geslagtelikheid en seksualiteit het. Die EFF veg vir gelyke behandeling vir almal, ons kan nie groepe aan die rand van die samelewing uitsluit nie.” Volgens hom is daar, afgesien van die EFF, geen ander studentevereniging wat blanke oorheersing, die patriargie, seksisme en homofobie met soveel “radikale ambisie” beveg nie.

Hy het ook “die patriargale, heteroseksuele kulture by koshuise, wat mense met ander seksuele voorkeure uitsluit”, gekritiseer.

Jaco besef dit is idealisties om diskriminasie heeltemal uit te skakel.

“Op universiteit kan ons ten minste die ruggraat van rassisme breek.”

Tydens die studenteverkiesing verlede Woensdag op 3 September, het Afriforum Jeug egter 50% van die stemme verkry. Die stemverdeling lyk soos volg:

AfriForum Jeug het 6 uit die 12 setels verkry, insluitend twee setels op die uitvoerende bestuur van die studenteraad.

Die uitslag van die verkiesing is soos volg:
• AfriForum Jeug: – 50% (6 setels)
• Radical Youth Coalition – 8.3% (1 setel)
• South African Student Congress (SASCO) – 8,3% (1 setel)
• Democratic Alliance Student Organisation (DASO) – 8.3% (1 setel)
• Onafhanklike kandidate – 25,1% (3 setels)

Die EFF Tuks-gevegseenheid het egter die adjunkpresidentskap van die studenteraad ingepalm. Oeloefse meen dit is “goed vir ‘n organisasie wat maar sedert Februarie op die kampus aktief is”.

Nogtans voel hy teleurgesteld met die uitslae, aangesien hy nie Afriforum se verkryging van die transformasieportefeulje kan aanvaar nie.

Hy meen dat die EFF oor die algemeen goed op die kampus aanvaar word en studente nader hulle gedurig om aan te sluit.

“Ons het ‘n radikale vonk in Tuks-studentepolitiek veroorsaak.”

Madonsela weier om bron vir uitgelekte brief bekend te maak

Zizi Kodwa, ANC-woordvoerder, het gesê die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela “speel slagoffer”, nadat die soveelste brief oor Nkandla “uitgelek” het en Madonsela weier om die bron te onthul.

Kodwa sê bykans al die Openbare Beskermer se ondersoeke het voortydig uitgelek en nie eenkeer het sy verantwoordelikheid daarvoor aanvaar nie.

Die ANC het die OB skerp gekritiseer en haar van partydigheid beskuldig nadat ‘n brief weer aan die media gelek is vir die soveelste hoofstuk van die Nkandla-sage.

Die OB wat ‘n veldtog voer om van Zuma ontslae te raak, word deur Julius Malema en die EFF gesteun.
Elke brief van die OB word klokslag aan die media “gelek” om aan Madonsela die geleentheid te gee om haar veldtog deur die media te voer.

“Sy het die brief laat uitlek en moet verantwoordelikheid aanvaar. Dis nie die eerste keer dat sy inligting laat uitlek nie,” het Kodwa gesê.

Madonsela het na bewering aan Zuma geskryf dat hy haar aanbevelings betwyfel dat hy van die geld behoort terug te betaal wat aan sy privaatwoning op Nlkandla bestee is.

Die ANC het in ‘n verklaring gesê dis verregaande om te sê dat die vertroulike brief deur ‘n ANC-lid uitgelek is. Die party eis dat Madonsela haar bron bekend maak.

Oupa Segalwe, woordvoerder van die OB, het in reaksie gesê Madonsela weier om die bron te gee. Sy het gesê sy is vertroulik vertel wie dit is en dus “gaan sy dit vertroulik hou”.

Die ANC het sy kommer uitgespreek oor hoe Madonsela die OB-kantoor bestuur.

Die ANC het gesê hy vermoed die OB hanteer Nkandla as ‘n “persoonlike saak buite haar grondwetlike mandaat” en die party het haar neutraliteit in twyfel getrek.

Sy het bewerings ontken dat ‘n veldtog in die media voer en gesê sy “is vertroulik ingelig ‘n senior ANC-lid het die vertroulike brief aan die media uitgelap”.

‘OB se beheptheid met Nkandla is persoonlik’

Die ANC het die openbare beskermer (OB) Thuli Madonsela se beheptheid met Nkandla veroordeel en gesê sy hanteer dit asof dit ’n persoonlike kwessie is.

Madonsela en Julius Malema van die EFF span tans saam om die Nkandla-molshoop ‘n berg te maak.

Zizi Kodwa, nasionale woordvoerder van die ANC, het Sondag gesê hulle vermoed Madonsela hanteer Zuma se Nkandla-antwoord as ’n “persoonlike saak buite haar grondwetlike mandaat”.

“Haar ongehoorde gedrag ontlok vrae oor haar neutraliteit asook oor haar geloofwaardigheid en die doel van haar verslag,” het Kodwa gesê.

Madonsela het in die brief onder meer gesê Zuma “ondermyn” die Grondwet deur die minister van polisie opdrag te gee om haar bevindings te evalueer, maar het vreemd genoeg geen kritiek gehad vir Malema se aapstreke in die parlement nie.

Malema het Zuma verlede week doodgeskree toe hy vrae oor Nkandla wou antwoord. Die presidensie het die antwoorde later per epos uitgestuur. Ten spyte van Zuma se samewerking sê die OB hy “ignoreer” haar verslag.

Zuma het vroeër gesê die minister van polisie moet besluit of hy wel ’n deel moet terugbetaal, asook hoeveel.

Madonsela eis nou Zuma moet binne twee weke redes aan die parlement verskaf hoekom hy nie so ’n terugbetaling moet doen nie.

Stone Sizani, ANC-hoofsweep, het gesê die OB probeer aan die parlement voorskryf wat om te doen, in plaas daarvan om die instelling se gesag te aanvaar.

Sizani het gesê die OB-verslag het reeds in die parlement gedien en ’n ad hoc-komitee gaan dit oorweeg en voorstelle doen. Hy sê haar jongste veldtog, die brief, is onverklaarbaar. “Dit skep ’n gevaarlike presedent dat haar kantoor verhewe is bo die parlement.

“Die ironie is dat die OB se brief aan die president ernstige beskuldigings insluit oor sy beweerde ondermyning van demokratiese instellings, maar sy kies self die pad van ondermyning van die wetgewende gesag, die parlement, en sy grondwetlike prosesse.”

Mbuyiseni Ndlozi, EFF-woordvoerder, het gesê die OB se brief regverdig die standpunt wat die EFF verlede week in die parlement ingeneem het oor Nkandla.

Pres. Jacob Zuma is tans in Rusland tot Woensdag. Daar was onlangs bespiegelings oor Zuma se gesondheid.

Zuma sal pres. Wladimir Poetin vir bilaterale gesprekke ontmoet, het die departement van internasionale betrekkinge en samewerking bevestig.

Rapport, Sunday Times kies Malema

Rapport sowel as die Sunday Times het dié week Julius Malema en die EFF se delegitimering van die parlementêre stelsel in Suid-Afrika verwelkom.

Dit is natuurlik geen toeval dat albei koerante skielik presies dieselfde gedagtes oor Malema se ontwrigting koester nie.

Iewers vanuit die bose skaduagtige buiterbeheerkamer van Suid-Afrika, waar veral buitelandse belangegroepe heers, moes ‘n opdrag gekom het om dit aan lesers te verkoop dat die rewolusie ‘n uitstekende idee is.

Sonder ironie skryf Rapport se politieke apparatsjiek Pieter du Toit: “[Malema] se biersaal-politiek die afgelope week was moontlik die begin van die einde van ons kwasi-Westminster-styl van parlement hou. En dit is dalk goed so.”

Werklik? Het die Grondwetters en Wigte-en-teenwigte-toneelgeselskappie tou opgegooi dat hulle skielik anargie innooi? “Biersaalpolitiek” is ‘n vriendelike term vir kras geweld en die laagste polarisering tussen swart en wit. Dis moeilik omkeerbaar.

“Malema se voorkeur is biersaal-politiek. Nie mooi nie, maar kom ons kyk wat hy regkry.” Is dit Rapport se onbesonne argeloosheid of begryp die handlangers wat van hulle verwag word?

Daar is sommige mense wat hoop dat as daar ‘n vlaag van swart-teen-wit geweld kom, sal wittes mobiliseer omdat die lae intensiteit van geweld op die oomblik teen die wit demografie werk. Dis veral mense wat geen benul het van hoe om propaganda te bestuur nie.

Om die wit demografie tot nul te kry was immers nog altyd Rapport se langtermyndoelwit sedert 1994. Dat hulle genoop voel om wittes met groter ywer as tans te demoniseer as verhoogde rassekonflik aanbreek, beteken dat iemand in ‘n rookgevulde kamer besluit het dit is tyd om heeltemal van Afrikaners ontslae te raak.

Dit lyk asof die veelvolkige werklikheid te naby aan die reënboogdroom gesny het, want daar is ‘n koors vaardig onder Boerehaters om Zuma uit te skop.

Dis alles goed en wel, maar om Zuma met Malema te vervang is kwalik ‘n beter opsie. Die nuwe plan is kennelik om grondgryp te versnel met ons eie Mugabe-in-rooi. Zuma is te traag met sy etniese reinigingsplan, lyk dit.

Die Sunday Times is nog meer beslis:

In an interview published yesterday, Malema vented bitterly, […] telling the Sunday Times that Zuma did not have what it takes to be president and that the prospect of his serving a term was “scary and traumatic”.

And yet there is truth in what Malema now says. It is exactly what many South Africans feared to be the case when former president Thabo Mbeki was vanquished at Polokwane – that Zuma as a compromise candidate would not be good for the country.

Unfortunately, it is too late to turn back the clock. But what can certainly be avoided is to continue with a compromised candidate who has done little to move South Africa forward.

This country can ill afford another term of Zuma.

As Suid-Afrika nie vir Zuma kan bekostig nie, gaan Malema onbetaalbaar duur wees.

Namibië se ekonomiese vryheidsvegters kry bestand

Namibië se Verkiesingskommissie het die registrasie van die Namibiese Ekonomiese Vryheidsvegters as ‘n politieke party goedgekeur.

Julius Malema se EFF het dus ‘n amptelike susterparty in Namibië. Die Namibië Ekonomiese Vryheidsvegters (NEFF) is ‘n “radikale linkse”, anti-kapitalistiese en anti-imperialistiese beweging, het die sakeman en politikus Epafras Mukwiilongo vroeër gesê.

Mukwiilongo, “bevelvoerder” van die NEFF het gesê die nuwe party sal meeding in die nasionale verkiesings in Desember.

Namibië se Mukwiilongo was voorheen ‘n lid van beide die regerende Swapo en die opposisie Congress of Democrats.

Hy en sy adjunk, voormalige opposisie-jeugleier Kalimbo Iipumbu, het reeds gesprekke met Malema gevoer.

Die twee mans dra ook rooi uitrustings en rooi barette soortgelyk aan dié van die EFF, maar met ‘n NEFF-logo.

Mukwiilongo het gesê die skepping van die NEFF is die “geboorte van ‘n reus” wat veg vir ekonomiese vryheid en het die Swapo-regering van “kapitalistiese belange” ten koste van sy burgers beskuldig.

“Ons regering is besig om deur die bemagtiging van die Chinese en Indiërs plaaslike sakelui te vernietig,” het Mukwiilongo vroeër aan AFP gesê.

“Ons is ‘n baie ryk land wat kan sorg vir homself as die regering industrialisering en die verwerking van ons minerale in Namibië verseker,” het Mukwiilongo gesê.

Mukwiilongo gesê sy party sal ook homoseksualiteit teiken met befondsing uit Uganda.

“Vandag manipuleer/beïnvloed die imperialiste ons nasie deur homoseksuele praktyke,” het Mukwiilongo gesê.

“Die NEFF is verbind tot die vereniging van alle Namibiërs om hierdie bose praktyk uit te roei.”

Die M&G het intussen berig dat net ‘n handjievol regeringsamptenare van Swapo wat saamwerk met onder meer Kanadese maatskappye uit die olievonds aan die kus baat.