Keniaanse onlusmakers
Nairobi – ʼn Skare het ʼn kerk waarin honderde mense skuiling gesoek het teen verkiesingsgeweld afgebrand en 50 mense gedood – waaronder vele kinders – soos wat vier dae se onluste en etniese geweld die aard van Keniaanse “demokrasie” na vore gebring het.
President Mwai Kibaki is Sondag ingesweer ná ʼn verkiesing wat deur sy teenstanders as ʼn bedrogspul beskou word. Die nuwe president het gesê politieke partye behoort onmiddellik te ontmoet en het ʼn openbare oproep op kalmte gedoen. Die geweld het ten minste 270 mense gedood in dié land wat as Oos-Afrika se mees stabiele en welvarende demokrasie beskou word. Die opposisiekandidaat, Raila Odinga, het reeds gesê hy sal nie die vergadering bywoon nie.
“As hy aankondig dat hy nie verkies is nie, sal ek met hom praat,” het Odinga gesê. Hy het die regering daarvan beskuldig dat hy die geweld aanstig en gesê Kibaki se bewind is “direk skuldig aan volksmoord”.
Die voorsitter van die verkiesingskommissie het Dinsdag gesê dat hy onder geweldige druk van albei kante was om die uitslag gou bekend te maak.
Geweld het regdeur Kenia losgebars, van die plakkerskampe van Nairobi tot vakansiedorpe aan die kus waar swerende stamgevoelens ontbloot is. Kibaki se Kikoejoes, die grootste etniese groep in Kenia, word daarvan beskuldig dat hulle hul oorheersing van die politiek en sakewêreld ten nadele van ander gebruik.
Odinga is van die Luo-stam, ʼn kleiner maar steeds vername stam. In die slums, wat dikwels volgens stamme verdeel is, het vegtende groepe mekaar met pangas en stokke aangeval en polisie het traangas en lewendige ammunisie gebruik om hulle daarvan te weerhou om die middestad op horings te neem.
Die kerkbrand in Eldoret, ongeveer 300 kilometer van die hoofstad, het ten minste 50 mense gedood, volgens ʼn Rooikruisvrywilliger wat die lyke getel en die gewondes bygestaan het. Maar sy het gevra dat haar naam – wat haar stam sou aandui – nie gepubliseer word nie, aangesien bendes selfs die stamverband van hulpwerkers kontroleer.
Anne Njoki, ʼn 28-jarige Kikoejoe, het gesê dat sy uit haar huis in die slums gevlug het toe sy sien hoe Kikoejoes aangevul word en hul huise geplunder word. Sy kampeer nou naby ʼn militêre basis saam met haar suster, 3-jaaroue nefie en 7-jarige niggie.
“Hulle het ons beddens, komberse en selfs ons lepels gevat,” sê sy van die plunderaars. Die kinders het dae lank nog nie geëet nie.
Die Europese Unie en die Verenigde State het geweier om Kibaki geluk te wens en die EU, asook vier senior Keniaanse verkiesingsbeamptes het om ʼn onafhanklike ondersoek gevra.
In Brittanje het die eerste minister, Gordon Brown, Kibaki en Odinga gevra om samesprekings te voer. “Die geweld moet aan sy einde kom,” het hy Dinsdag in Londen verklaar.
Ook Dinsdag het Odinga volgehou dat hy sal voortgaan met planne om 1 miljoen mense in ʼn betoging in die hoofstad Donderdag teen Kibaki te lei. In vroeë verkiesingsuitslae en in meningsopnames het Ondinga voorgeloop teenoor Kibaki.
Die regering het die betoging verbied, maar Odinga het gesê: “Dit maak nie saak wat hulle sê nie.”
Die voorsitter van die verkiesingskommissie, Samuel Kivuitu sê hy is deur sowel die opposisieparty as deur Kibaki se Party vir Nasionale Eenheid gedruk om die verkiesingsuitslag bekend te maak.
“Ek is deur sowel die PNU as die ODM-Kenia (ʼn onbelangrike opposisieparty) onder druk geplaas om die uitslag onmiddellik bekend te maak,” het Kivuitu gesê terwyl Westerse ambassadeurs “wou gehad het dat ek die aankondiging van die uitslag vertraag, selfs vir ʼn week lank”, om die kommissie in staat te stel om die onreëlmatighede te ondersoek.
Kivuitu het aan verslaggewers gesê dat hy dit selfs oorweeg het om te bedank, maar het aangebly omdat mense sou dink ek is bang vir dit wat besig is om te gebeur”, volgens kommentaar wat deur die private TV-kanaal KTN uitgesaai is.
Die grootskaalse geweld en toenemende internasionale druk kon Kibaki oorreed om ʼn kompromie met die opposisie aan te gaan. Onluste het ook hoogty gevier in opposisievestings in westelike Kenia, die toerismeafhanklike kusgebed en die Rift-vallei.
In Nairobi se Mathare-slumgebied, het Odinga-ondersteuners ʼn minibus aan die brand gesteek en Kikoejoepassasiers aangeval, het ooggetuies Dinsdag gesê.
Die bus het 14 mense aan boord gehad, maar hulle het slegs Kijoejoes aangeval,” het ʼn ooggetuie, Boniface Mwangi, gesê. Vyf is met pangas deur die bende aangeval en ander beroof, het hy gesê.
signup bonusДанильченко Юрий Харьков