Saïd is die amptelike segsman vir die Keniaanse Obamas. Hy het gevra dat alle joernaliste eers toestemming vra voordat hulle na Nyang’oma, aan die oewer van die Victoriameer waar ongeveer dertig van die familielede woon, reis. Blykbaar wil hy ook verhoed dat inwoners van sy dorpie hulle aan buitelandse joernaliste voordoen as lede van sy familie.
Barack Obama, 46, se moeder is Amerikaans en hy is in die VSA gebore, maar hy is soos ‘n held in sy vader se geboorteplek ontvang toe hy in 2006 daar besoek afgelê het. Hy het ook sy ouma Sarah daartydens gesien. Sarah is 85 en sy praat nie ‘n enkele woord Engels nie.
Die Obamas behoort aan dieselfde etniese groep as Kibaki se opponent, Raila Odinga. Odinga se sakebande met Ramaphosa het onlangs daarvoor gesorg dat die voorgenome vredesinisiatief om etniese spanning in Kenia aan te spreek vanuit Suid-Afrika, misluk.
