“Geen onderhandelinge is verder nodig nie; dit gaan nou om prosedure, hulle het oor alles saamgestem … dis nou net prosedure wat die Zimbabwiërs self moet oplos,” het Pahad gesê.
Hy het bygevoeg dat president Thabo Mbeki sou aanhou om tussen die partye te bemiddel om die oorblywende kwessies op te los.
Pahad was besig om verslaggewers in te lig oor ʼn verslag wat Mbeki aan leiers van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) op die kantlyn van die Afrika Unie-spitsberaad in Addis Abeba, Ethiopië, verlede week oorhandig het.
Mbeki het gesê dat president Robert Mugabe se Zanu-PF en faksies van die opposisieparty, die Beweging vir Demokratiese Verandering (BDV), onderhandelings oor alle belangrike vraagstukke rondom die politieke situasie in die land voltooi het.
SAOG het gister Mbeki se bemiddelingspogings aangeprys.
“Die beraad het die SAOG-fasiliteerder, president Thabo Mbeki, gelukgewens en bedank vir die rol wat hy gespeel het om dié uitkoms te bewerkstellig en het president Mbeki versoek om voort te gaan met sy rol as fasiliteerder oor Zimbawe, ten einde die Zimbabwiese partye te help om die oorblywende “prosedurekwessie” oor die aanneem van die ooreengekome konsepgrondwet te voltooi,” lui die verklaring.
