“… die minister van mineraal en energie… [moet] ʼn veelpartytaakspan aanwys om in die nasionale belang ʼn aksieplan uit te werk om die elekrisiteitskrisis in Suid-Afrika op te los,” het hy gesê.
Hy het voortgegaan deur te sê dat sy party ernstig bekommerd is oor Eskom se vermoë om krag tydens die wintermaande te verskaf.
“Eskom word ten volle deur die staat befonds, en die ministers van mineraal- en energiesake, openbare ondernemings en uiteindelik die kabinet behoort vir hierdie ramp verantwoordelik gehou te word,” het die DA se woordvoerder oor mineraal- en energiesake, Hendrik Schmidt, verklaar.
Die DA gaan so gou moontlik vir ʼn parlementêre debat oor die aangeleentheid vra.
“Dit is duidelik dat die oplossing van dié probleem van dringende nasionale belang is. Die onlangse reeks kragonderbrekings, wat eufemisties ‘beurtkrag’ genoem word, is besig om onhoudbaar vir gewone Suid-Afrikaners te raak wat die ergste moet deurloop onder lukrake, arbitrêre en langdurige kragonderbrekings,” het hy gesê.
Daar is vele probleme met die proses om elekrisiteitsverbruik te verminder.
“Eskom se onderneming om ʼn rooster vir beurtkrag regdeur die land beskikbaar te stel, werk nie. Boonop… word sekere gebiede se krag sonder kennisgewing afgesny en die kragvoorsiening aan ander gebiede word tot drie keer binne ʼn 24-uurperiode gestaak. Die situasie het ernstige finansiële implikasies vir sowel groot as klein maatskappye; enige poging om vooruit te beplan word deur ongeskeduleerde kragonderbrekings ongedaan gemaak.”
Schmidt sê dat die onlangse ongeskeduleerde afskakelings by ʼn aantal kragstasies insgelyks kommerwekkend is.
“Óf sulke afskakelings illustreer ʼn gebrek aan beplanning by die onderhoud van die onderhawige kragstasies, óf dit suggereer probleme met die gehalte van die instandhouding wat uitgevoer is,” het hy gesê.
