Volgens Du Plessis was daar “een lasterlike sin” in die brief. Hy het gesê die koerant het die sin later teruggetrek en het ʼn verskoning in Oktober van daardie jaar gepubliseer.
Zuma het ʼn R50 000 skikkingsaanbod Woensdag aanvaar van Rapport se eienaars, Media 24, asook Du Plessis en Chris Karsten nadat ʼn eis in 2006 teen hulle ingestel is, volgens Zuma se segsvrou, Liesl Gottert.
“Elke mens het die reg op waardigheid en niemand behoort met kwaadwillige laster weg te kom nie. Soos ek van meet af aan gesê het, spruit my eise vir laster en injuria uit die beginsel van billike en eerlike beriggewing,” het Zuma gesê nadat die skikking bereik is.
In 2006 het Zuma lastereise ter waarde van R63 miljoen teen die media ingestel. Hy is besig om media-eienaars, uitgewers, redakteurs, verslaggewers, spotprenttekenaars en koerante te dagvaar.
Een van die eise teen ʼn koerant behels “onbillike uitleg”.
Die uitsaaier 94.7 Hoëveld Stereo word gedagvaar vir R7 miljoen vir die uitsaai van ʼn liedjie genaamd “My name is Zuma” wat kommentaar op die Zuma-verkragtingsverhoor bevat het.
Sy grootste eis teen ʼn publikasie bedra R20 miljoen teen The Star. Die eis bestaan uit vier verskillende eise van R5 miljoen elk, waarvan drie teen die spotprenttekenaar Zapiro. Die vierde was vir ʼn artikel wat vergesel was van ʼn gemanipuleerde foto van Zuma.
Die Sunday Times, die Citizen, Sunday Sun, Sunday Independent en Sunday World word almal gedagvaar.
Byna al die items waaroor Zuma gevoel het dat hy belaster is was meningstukke of spotprente.
