Die VF Plus Kovsies het dit duidelik gemaak dat gedwonge integrasie slegs kosmeties van aard is en dat dít die klem op ras en rassisme plaas. Die UB het dit nou aan die studente bewys deurdat hulle omkoopgeld beskikbaar stel om te probeer om lewe in ‘n lyk te blaas. Dit gaan ook nie slaag nie en plaas die klem net nog verder op ras.
Dit is ʼn tragedie dat studente nou omgekoop moet word om te integreer. Volgens berekeninge, blyk dit dat die UV ‘n verlies van bykans R 1,25 miljoen gaan ly as gevolg van die koshuis-integrasiebeleid wat bepaal dat die nie-geïntegreerde beddens moet leegstaan. Die besluit wat deur die UBD gemaak is om 50% afslag op koshuisgelde aan geïntegreerdes toe te staan, blyk om slegs ‘n poging te wees om vir hierdie finansiële verlies te kompenseer.
VF Plus Kovsies het voorts gesê dat “die besorgdheid van die UB, naamlik dat wit studente nie hul aanbod van akkommodasie in swart koshuise aanvaar nie, vanself spreek aangesien die UB nie hierdie studente genoegsaam voorberei het op die omstandighede waarin hulle hulself sal bevind nie. Die rede waarom wit studente nou uit tradisioneel swart koshuise trek, is omdat hulle onderdruk en geviktimiseer word en nie eens toegelaat word om hul eie taal met mekaar te praat nie.”
Een van Frederick Fourie se drakoniese maatreëls is dat Afrikanerstudente in geëintegreerde koshuise nie hul eie taal met mekaar mag praat nie omdat dit aanstoot aan die swart studente sou gee.
Volgens Wouter Wessels “moet blanke dames in tradisioneel swart dameskoshuise vir ure voor ‘n lappop mediteer, omdat hulle nie instaat is om liedjies in Afrika-tale saam te sing nie. Hierdie probleme het ontstaan as gevolg van die feit dat die integrasiebeleid ingestel is, sonder volledige konsultasie en genoegsame voorbereiding. Die studente en ook die koshuise is nie op hierdie proses voorberei nie. Voornemende eerstejaarstudente was nie bewus van die feit dat hy/sy in ‘n tradisioneel anders-rassige koshuis geplaas is, alvorens hy/sy vir verblyf aangemeld het nie. Dus is dit nie slegs die wit student se skuld (soos wat die UB dit wil laat blyk nie) dat hy/sy nie in ‘n geïntegreerde koshuis aanpas nie. In sommige tradisioneel wit koshuise is daar swart studente geplaas wat glad nie Afrikaans of Engels magtig is nie en dit maak hierdie studente se verblyf onaangenaam. Dit is ‘n verdere bewys dat die hele beleid nie deursigtig geïmplementeer is nie.”
Wessels het dit verder betreur dat “studenteleiers nou opgesaal word om hierdie proses te laat werk en om die emosionele probleme van eerstejaars te hanteer, terwyl die UB nie op voetsoolvlak belas word nie. Die VF Plus Kovsies daag die UB uit om die koshuise te gaan besoek en sodoende die werklikheid saam met die studente te beleef.
Die rede vir wanaanpassing is nie op ras gebasseer nie, maar eerder op kultuur en taal. Die VF Plus Kovsies, Studenteraad en studente het uit die staanspoor dit duidelik gestel dat kultuur- en taalverskille baie probleme tot gevolg mag hê en dat dit met erns aangespreek en hanteer moet word. Die UB het egter nie genoegsaam gehoor gegee aan hierdie kommer en voorstelle nie.”
