Bodem boek II, 2: Die godeskemer

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem boek II, 1.

Die aand wat ons vir ʼn laaste keer by Luigi se Le Amici bymekaar gekom het om te kyk hoe die wêreld vergaan, het Joachim Bekker vir ons vermaak met ʼn toespraak oor ʼn kondoom met swakplekke.

Daar was twaalf van ons in die klein restaurant: Ek, agt verskrikte liberale Kapenaars wat verskrik en verstom in geskokte ontkenning voor die einde van hulle lewens soos hulle dit geken het gesit en staar het, Joachim Bekker en sy nuwe skaduwee, Dennis, ʼn muis van ʼn man, in voorkoms en ook in die vinnige, senuweeagtige manier waarmee hy ʼn stel radio’s in ʼn aluminiumkoffer beheer het.

Ons het eers in die restaurant gesit. Daar was geen spyskaart nie. Ons het geëet wat Luigi voorgesit het – pasta met basiliekruidpesto, varsgebakte ciabatta met pecorino-kaas en ʼn groenslaai. Van vleis was daar nie sprake nie, maar niemand  het eers ʼn opmerking daaroor gemaak nie. Daar was goeie, donker rooiwyn en daarna drank na keuse en sigare vir Joachim, Dennis en my. (Dennis het agterdogtig gesuig-suig aan syne, asof hy onseker was oor wat die voorkant is.)

Niemand het ʼn opera en ʼn praatjie daaroor vir die aand voorberei nie en daar is bietjie gekibbel oor die fokuswerk van die aand. Joachim het Wagner se Götterdämmerung voorgestel. Joachim se persoonlike fortuin het oor die laaste nege weke soos ʼn vuurpyl opgeskiet en hy was dié aand geklee in volle operagangermondering – aandbaadjie, spierwit hemp, silwer mansjetknope, diepglansende swart, handgestikte skoene; ja, ʼn regte steenkoolkleurige kuil ook, en, van alle dinge, ʼn enkeloogglas aan ʼn koord vanuit ʼn binnesak van sy baadjie. Suid-Afrika ken nie Halloween nie, maar ek was lank genoeg in die Verenigde State en ek het vir hom volpunte gegee.

“Skemering van die gode,” het Joachim gesê en gepof-pof-pof aan sy sigaar om dit egalig aan die brand te kry. ʼn Rookverbod was duidelik onder die omstandighede nie meer van krag nie. “ʼn Aand soos hierdie kom een keer in ʼn eeu, as jy gelukkig – of ongelukkig – is. Dit vra vir Wagner. Kom ons doen dit reg.”

Daar was onmiddellike, ontstelde teenkanting. Duidelik was daar min  begeerte aan liberale kant om die Einde te begelei met die sombere heldhaftigheid van Wagner se verloregaande Teutone. Dit was Joachim, ek en Dennis teen die res (en Dennis kon nie sy Götterdammerung van sy Gods must be crazy onderskei nie.) In sekere kringe het demokrasie nog iets beteken en Wagner sou moes wag. Puccini in enige van sy opusse is oorweeg en te lig bevind. Hierdie was kennelik nie die geleentheid vir verismostroperigheid nie. Die aand het uitgeroep vir sterk, kordaat, emosioneel oordadige romantisisme en uiteindelik kon ons almal saamstem dat dit slegs deur Giuseppi Verdi beantwoord kon word.

“Dan moet dit La Forza wees,” het Joachim gebrom, nog duidelik ontevrede oor die koue skouer wat Wagner gekry het.

So is hy dan La Forza del Destino gegun, en ek dink hy was tevrede dat die titel, Die Mag van die Noodlot, darem die oomblik sou onderstreep. Die oomblik wat die spesifieke opname gekies is, het hy eers weer gefrons.

“Is julle ernstig?” het hy gevra. “Muti? Hoe brutaal is sy hantering van die leitmotif nie wanneer Leonora sterf. Dan eerder Serafin.

Koor van verontwaardiging. Tullio Serafin! Werkesel in diens van sy sangers.

“Maar darem subtiel!”

Natuurlik sing Callas in die Serafin-opname saam met die majestueuse Carlo Tagliabue.

Die libs wou nie skiet gee nie en Joachim was toenemend verontwaardig.

“Domingo is die grootste van die Drie Tenore, maar hoe groot is die Drie Tenore? En Zancanaro? Hy is ʼn sakkie vol sangfoefies, dis al.”

Maar Riccardo Muti was die aangewese dirigent. Joachim het ooglopend gesit en pruil, al peuterende op sy iPod Quantum, bene voor hom uitgestrek by die ronde tafeltjie wat ek, hy, Dennis en die radio’s in die aluminiumtas gedeel het. Dennis, wat die verskeie radio’s deur oorfone gemonitor het, het gereeld ʼn bygewerkte nuusitem aan Joachim gefluister en dié het die nuus met ʼn kopknik en ʼn frons verwerk.

Waar hy vir Dennis gekry, was nie duidelik nie, maar die middeljarige elektroniese tegnikus het kommunikasietegnologie goed verstaan en het in daardie tas ʼn verskeidenheid toestelle versamel om die metropolisie, die weermag en Executive Protection Systems se bulletins mee af te luister.

Luigi het die opname op ʼn geheuestokkie gevind en die klankstelsel aangeskakel. Die ouverture van Die Mag van die Noodlot is die bekendste deel van die opera, en met reg ook. Dit begin met ʼn gejaagde tema, note wat so galop soos die hartklop van ʼn uitasem mens  en dan dwarrel dit weg in ʼn melodieuse sug. Muti se dirigentestok bied dit egter bruusk aan, vol musikale saaklikheid, asof vir die klankbaan van robotte in ʼn mars.

Joachim het skaars tot na die ouverture gehou voor hy eensklaps op sy voete gekom het, sy balieglas Cognac gevat het, sy sigaar tussen sy tande vasgebyt het en na buite is waar ek, Dennis en die tas kort daarna by hom aangesluit het. Die restaurant het ʼn ronde stoep gehad met ʼn uitsig teen die hange van die bergvoet af oor die stad.

Kaap Mandela, soos dit nou bekend gestaan het, was vreemd op die oog, donker, met min elektrisiteit wat net ʼn paar straatligte laat brand en alle geboue sonder beligting gelaat het. Pantserkarre kruip in behoedsame tweetalle kruis-en-dwars deur die middestad se strate en tas in donker hoekies met skerp kolligte.

Aan die Oostekant, van Hani- (De Waal)- rylaan se kant af, was die protesrumoer ʼn druising, ʼn mensgemaakte see van dreigende stemme gepunktueer deur vermanings oor megafone. Tussendeur is daar die geklop van rookgranate en geweervuur.

Die stryd vir Kaap Mandela het nou al weke lank geduur. Die stadsregering het hulle spaarvarkie beroof en driekwart van hulle begroting oorgemaak aan EPS, ʼn sekerheidsmaatskappy, wat inderwaarheid deur niemand as enige iets anders as ʼn privaatweermag beskou word nie. Die Amerikaanse eienaar daarvan, Derek Regent, ʼn geheimsinnige, berugte figuur, het ʼn aksieplan vir die stad, bekend as Die Regent-plan, opgetrek.

Daarvolgens is sleutelinstellings soos die hawe, die lughawe en Koeberg-kragsentrale beveilig. Toegangsbeheer is ingestel en die ingangsroetes tot die stad verseël. Voorstede is in sones verdeel en beheer, onder andere met ʼn aandklokreël. ʼn EPS-direkteur, Ferdinand Lemat, is as “koördineerder” aangestel om die stad saam met die burgermeester en Wes-Kaapse premier te administreer.

Vir ʼn paar maande nadat die Chaos in die Noorde, Ooste en sentrale dele van die land ontvlam het, het dit gelyk of Kaap Mandela die goue sleutel tot oorlewing gevind het. Die hewige onluste aan die ooste van die stad is aan perke gelê en die Kaapse vlakte afgekordon.

Die stad is van bates gestroop en internasionaal van die hand gesit vir Egoldex, die goudgesteunde vermenigvuldingsmunt wat in wese die nuwe internasionale reserwegeldeenheid geword het en vanuit Reikjavik, Ysland beheer word. Dit is gebruik om EPS mee te vergoed.

Vir ʼn vreemde, idilliese tydperk was Kaap Mandela gevul met ʼn frenetiese opgewondenheid en ʼn selfvoldane vertroue.

Die onrus het egter soos ʼn ontembare plaag gegroei en die omtrekke van die weerstand gaandeweg saamgepers. Die opstandelinge het met nuwe taktieke geëksperimenteer en hulle het uiteindelik ʼn intimiderende wenstrategie ontwerp: Hulle het eenvoudig nie weggegaan nie. Aanvanklik het hulle vanuit die Gugulethu-Langa-Nyanga-Khyalitsha-Kruispad-kompleks tot by die weerstandspunt op die N2 gestroom vir ʼn hewige konfrontasie met die oorblywende weermagelemente, die Metropolisie en EPS-afdelings. Ná die dag se slag sou hulle onttrek, hulleself weer opsweep, die stang vasbyt en tot die stryd terugkeer. Hulle is telkens teruggedryf met al hoe hewiger teenmaatreëls, totdat hulle eendag eenvoudig  nie teruggetrek het nie.

Hulle is met stringe busse, taxi’s en vragmotors aangery tot ʼn paar kilometer van die stad af. Die geveg is aangeknoop, maar die voertuie het onttrek en die groot skare net daar gelos. Die oproeriges is verhoed om te retireer deur gewapende faksies aan hulle rugkant. Hulle getalle is voortdurend aangevul deur ʼn vloed van gewillige en onwillige swart inwoners wat van die dorpsgebiede aangejaag is.

Die beskermingsmagte is genoop om hulle afdelings uit die omliggende voorstede te onttrek om die vloed te probeer vertraag. Dié desperate reëling was net tydelik doeltreffend en die walle wat die magte gegooi het, is stelselmatig uitgekalwe en hulle is teruggestoot, meters op ʼn slag, soms meer, en elke sentimeter wat hulle prysgegee het, is onomkeerbaar opgevul deur ʼn gety van swart, tierende lywe.

Drie weke tevore is die bevel gegee en EPS het die magte onttrek en om die middestad gekonsolideer en die N1 sover as Durbanville oopgehou. Die roete by Constantianek is toegestop, maar die Suidelike voorstede is weerloos gelaat en die swart gety het van Mowbray tot Plumstead deurgespoel en ombeweeg tot by die versperrings oos van die Middestad op Chris Hani-rylaan.

EPS het Chapman’s Piek-rylaan beveilig en Houtbaai afgesonder.

Die swart gety was nou net buite die stad en het elke potensiële bres onder druk geplaas.

In die middestad het die besef uiteindelik ingesak: Dis net ʼn vraagstuk van tyd.

Buite Le Amici sit ons onder ʼn sambreel. Die ligte bries waai koel druppelmuggies teen ons vas. In die halflig gloei die punt van Joachim se sigaar helder oranje. Hy neurie onderlangs en ek herken dit as Siegfried se Dodemars uit Götterdämmerung, nie ʼn maklike deuntjie om te fluit of te neurie nie. Hans-Joachim Marseilles Bekker is nog glad nie tevrede met die aand se operakeuse nie.

Agter ons kom die ander een-een en in paartjies uitgedrentel en hulle sluit by ons aan. In die restaurant, vanuit die musiekstelsel, word minnaars uitmekaar gedryf deur ʼn noodlottige ongeluk.

“Noodlot,” sê Joachim onderlangs en dis asof hy die woord in sy mond omdraai om die geur daarvan te bestudeer. “Destino. Schicksal. Noodlot.

Van die Ooste af is daar nou knalle en ontploffings.

“Die Yankee Juveniles,” sê Dennis. Sy oë is toegeknyp in konsentrasie en sy vingerpunte hou ʼn oorfoontjie in die regteroor. “By Woodstock. EPS klink in ʼn paniek.”

“A,” sê Joachim, “daardie instelling, so ryk aan tradisie, so deurdronge met kultuur, die Kaapse kleurlingbende, maak ʼn verskyning. Nooit betyds nie en nooit te laat nie.”

“Kom kyk, liewe mense,” sê hy dan hardop, joviaal. “Hier is iets wat julle nie weer sal sien nie.”

Hy wuif vir die ander om sitplekke in te neem en beduie met sy hand oor die stad.

“Kom kyk hoe sterf ʼn stad.”

Hy beduie na die baai waar ʼn dosyn skepe ʼn behoedsame afstand van die dokke af lê met ligte aan.

“Daar, net daar het drie skepies aangekom. Drommedaris, Reijger en De Goede Hoop.

Ja, hoe mooi was dit nie? Hoe mooi. En hoe anders moes dit nie gewees het nie!”

“Die Mag van die Noodlot,” sê iemand in ʼn sagte oumanstem. “Ons is magteloos daarteen.”

Operaliefhebbers, net soos diktators, is meesters van simboliek.

“Götterdämmerung,” sê Joachim Bekker.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 3.)

Bodem boek II, 1: Die roeping

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers die volledige Bodem I.

Nou goed, kom ons kry die gereelde vrae agter die rug.

Ek het hierdie afgelope paar maande soveel keer met die pers gepraat, soveel onderhoude gevoer, selfs lesings gegee en ʼn paar praatjies by ons nuwe skole. Daar is vrae wat ek altyd gevra word, so gereeld, ek voel asof ek ʼn afdeling in my CV moet hê vir wat die rekenaargeslag “FAQ’s” genoem het – as ek ʼn CV gehad het.

Vraag Een is maklik. Nee, wat ek hier onder gaan vertel, gaan nie oor my  nie. Dit gaan oor hóm, daardie flambojante, verbete, verrassende persoon wat dwarsoor die land – en ʼn groot deel van die wêreld – as die Maarskalk bekendstaan. Op ʼn punt van orde hier – hý het nie dié gekies of dit aanvanklik gebruik nie, nie as rang, bynaam of naam nie. Dit was ʼn mediaskepping. Julle weet mos hoe werk dit – ʼn verslaggewer gebruik dit eenkeer uit inspirasie of blote geluk, en in  hierdie geval was dit nie ʼn verslaggewer nie, maar ʼn verslaggeefster. (“Dank Vader,” kan ek hom hoor sê. “Ons kan die ou geslagsname afstof en weer gebruik. Sekretaresse, bibliotekaresse, voorsitster, verslaggeefster. Nou dat Politieke Korrektheid ʼn politieke ongeval geword het.”)

Natuurlik het sy dit ironies bedoel, selfs sarkasties en spottend. Die Maarskalk. Dit het vinnig algemene gebruik geword, maar sy vyande het opgehou spot daaroor en sy bondgenote het hom dit met opregtheid genoem. Naderhand het hy dit self begin gebruik, so in die derde persoon na homself verwys: “Die Maarskalk moet nog dink daaroor. Die Maarskalk reken dit sal werk. Die Maarskalk moet na die mense luister.”

Hy het wél vir homself die rang van kommandant toegeken: “Hoekom kommandant, Jood?” het hy vir my verduidelik. “Want dis nommerpas. Kaptein is meer heldhaftig, dink jy nie, maar te junior. Brigadier kon gewerk het, maar Generaal is te verhewe. En Kommandant is so vreeslik, onmiskenbaar, ongeërg Afrikaans. As die Engelse ‘commandant’ gebruik, is dit omtrent altyd in ʼn vaste verbinding: Camp commandant, en daarmee bedoel hulle omtrent sonder uitsondering ʼn Nazi-konsentrasiekampbevelvoerder. So in Engels is ‘kommandant’ ʼn tikkie onheilspellend. En dit is ook goed so, reken jy nie?”

Later het ek hom, van Aand Een af, nooit as enige iets anders as “Kommandant” aangespreek nie. Ek het hom wel voorheen sosiaal geken en hom op sy voornaam genoem. Joachim. Hans-Joachim Marseilles Bekker. Ek weet daar is van julle militêrhistoriese feiteversamelaars, veral dié wat lugoorloggeskiedenis bestudeer, wat nou frons en aandag gee. So, wat is die verband tussen Joachim Bekker en die Luftwaffe-legende wie se name hy het? Was sy pa ʼn Suid-Afrikaanse vlieënier wat deur Marseilles in Noord-Afrika afgeskiet is? Of is hy, soos daar al wild bespiegel is, die seun van ʼn kameraad van dié uitspattige ‘Expert?’” (En asseblief, as jy die woord lees, spreek dit tog nie in Engels uit nie; nie “êk-spirt” nie, maar soos in Duits, “Ek-spert” om te rym met “hek” en “stert.” Die Maarskalk sou daarop aangedring het.) Wel, kom ek vertel julle die volle waarheid:… ek weet nie. Julle kan maar  bespiegel. Dit staan julle vry. Dit sal die mite laat groei, iets wat die Maarskalk sou aangemoedig het. Ek is die een wat die feite ongeskonde wil bewaar.

Dit is ook so dat ek en hy ʼn voornaam deel – soort van. Ek is Joachem en hy is Joachim.

“Joune is die Jiddiesje spelling,” het hy my geterg die eerste aand wat ons ontmoet het. Daarna het hy my “Jood” en net “Jood” genoem, behalwe wanneer hy my voor ander mense op my rang (wat hyself aan my toegeken het) sou aanspreek.

Ons het drie jaar voor Aand Een ontmoet, in ʼn restaurant in Tamboerskloof tydens ʼn maandelikse byeenkoms van die Kaapse Operaluisteraarsklub. Voorname was nie al wat ons gedeel het nie. Joachim het sy voorliefde vir opera by sy ma, ʼn ietwat bekende colaratura-sopraan van die pre-Mimi Coertze-era, verkry. My verskoning het te doen met ʼn meisie wat kunssinnige pretensies gehad het. Sy is lankal heen – waarskynlik heeltemal so, vir al wat ek weet – maar die operaliefde het gebly.

Ek glo eerlikwaar nie ek sou weer ʼn byeenkoms van KOLK (soos hy, en toe natuurlik ek ook, die klub deurgaans tot die tandknersende frustrasie van die Engelssprekendes en  ʼn paar van die ander genoem het) bygewoon het as dit nie vir hom was nie. Ek het ʼn renons in aanstellerigheid en snobisme, en glo my, as jy aanstellerige snobs gesoek het, was die Kaapse operakringe die plek vir jou. Gou het ek geleer dat niemand ʼn snob se eiewaardering so kan prik soos Joachim Bekker nie.

O, dis nie dat hy nie self kon “snobeer” soos hy dit genoem het nie. Hy het die rites en spraak van die algemene snob so goed geken, dat hy dit moeiteloos kon naboots. Dit was egter juis dít: ʼn Nabootsing. ʼn Vertoning. Omdat hy ʼn mislukte TV- en filmakteur was, vergeet mense watter uitmuntende toneelspeler hy werklik was. Voorts was daar nooit by hom enige aansitterigheid of klatergoue aanwendsels as dit oor die dinge waaroor hy werklik hartstogtelik was, gegaan het nie. Opera was een van dié klein versameling sake.

Hy het ʼn ensiklopediese kennis daaroor gehad en het dit verbind met die ywer van ʼn seloot en die gewilligheid om selfs die onbenulligste minutiae eindeloos te betwis. Dink ek nou daaraan, dan besef ek dat hierdie toegespitsheid op die fynste besonderheid die eienskap is wat briljante bevelvoerders van die bloot bekwame onderskei.

Ek onthou dat ʼn musiekdosent eendag by KOLK ʼn opname van Maria Callas wat “Il dolce suono,” die waansinstoneel uit Donizetti se “Lucia di Lammermoor” gespeel het en dit as haar 1953-opname beskryf het.

“1953!” het hy losgebreek. “1953 sʼn is dit nie. Dis haar 1959-opname.”

Dit het ʼn gezoem in die snobbyekorf veroorsaak. Hierdie was nie ʼn blote terloopse operaluisteraar wat dit aangebied het nie. ʼn Dosent! Met 40 jaar se ondervinding aan die universiteit! Wat as jongman ʼn onderhoud met Maria Callas, met La Divina self, vir die BBC se tydskrif gevoer het.

“’59,” het hy volgehou.

Daar was by die res konsensus dat hy verkeerd moes wees, en al was hy reg, kan ons dit nie maar daar los en ter wille van decorum net aangaan nie?

Maar nee. Die saak moes nagevors word. Hoekom? Want dit is opera en as dit by opera kom, is reg, reg, en verkeerd, verkeerd.

Natuurlik was hy reg. Hulle moes geweet het.

My eerste aand was die soort sosiale foltering wat massamoord sou regverdig. Ek het, pas nadat ek uit die VSA in die Kaap opgedaag het, op hulle webblad afgekom en kennis geneem van hulle byeenkomste waarheen Jan en Alleman uitgenooi is. Ek het eers agterna uitgevind dat die etiket eintlik vereis dat ek deur ʼn erkende lid vergesel sou wees. Dié was ek nie en ek het met my bruingebrande gesig en ruwe hande tussen al die sawwe wit velle uitgestaan in die klein Italiaanse restaurant met die kersligte op geruite tafeldoeke en Teatro alla Scala-plakkate teen die muur.

Na die gebruiklike flou openingsgrappies en aankondigings, het die klub se voorsitter, ʼn Soutie met pienk tandvleis en ʼn skerp adamsappel in ʼn reiernek se oog van agter sy skilferbespikkelde brillense op my geval en is ek gevra om myself voor te stel.

Duidelik was die blote verskaffing van my naam nie genoeg nie. Waar kom ek vandaan? Wel, oorspronklik Odendaalsrus. Stilte. Mens sou sweer ek het ʼn wind tydens stilgebed gelos. Nering? Stoeiafrigter. Die stilswyende afgryse sou straks nie so erg gewees het as hulle my betrap het dat ek omgang met Tutu se troetelskilpad gehad het nie. Voeg ek boonop lamlendig by dat ek vir die Westelike Provinsie Rugbyunie werk. Joggie. Van Odendaalsrus. Wat voetbalspelers leer stoei. Weet ek wat gebeur by ʼn operaklub? Hoe verlig was ek nie dat ek geswyg het oor my deeltydse werk as visnettrekker by Smitswinkelbaai en my vorige loopbaan as deelnemer aan Wisselgevegskuns. Die gedagte aan ʼn hokvegter sou vir hulle te veel gewees het.

Toe praat hy van die deur af: “Wonderlik! Uiteindelik iemand met ʼn regte werk onder ons.”

Hy het teen die deur se kosyn geleun, smeulende sigaar en kristalglas brandewyn in dieselfde hand. Dit was sy posisie: Die oop deur, in reën of koue,  sodat hy darem kan voorgee dat hy hom aan die drakoniese rookreëls steur.

Mediumlengte, mediumliggaamsbou, grys borselkop, presies gekapte potloodsnorretjie, luiwakker blou oë. En ʼn verstand so rats soos ʼn klipspringer, so skerp soos ʼn skoenmaker se els, so vol fasette soos ʼn kroondiamant. Hy was die enigste wat ʼn pak klere aangehad het, ʼn gekreukelde donkerbloue met effens uitgerafelde baadjiemoupunte en ʼn broek met nou pype.

Terwyl hulle nog in verbystering is oor die Goudveldse stoeier in hulle midde, steek hy ʼn impromptu lesing af oor stoeiers, van die antieke Grieke deur tot by DH Lawrence se “Women in Love”, volledig met ʼn aanbod om Alan Bates en Oliver Reed se naaktoneel uit die rolprentweergawe vir hulle te demonstreer. Stoei het nog nooit so glansryk geklink nie; edeler as hartsjirurgie, manhaftiger as stiergevegte.

Dít was natuurlik sy gawe, sover meeste mense hom opgesom het: Sy vermoë om te praat, met ʼn manlike beslistheid as hy feite verskaf en ʼn melodieuse vloed van woorde, frases, aanhalings en sameflansings wanneer hy probeer oortuig.

Met my eer herwin, en indien nie, my ego darem salfgesmeer, het ek tog gebly en nie lank na pouse nie, het ek teen die ander kosyn geleun, bier in die hand – en een van sy cubanos.

So, julle wil weet: Wat was die aard van die vriendskap tussen ons?

Ons was goeie vriende, ja, maar hoofsaaklik omdat ek nog altyd ʼn waardering gehad het vir iemand by wie ek  iets kan leer, en Hans-Joachim Marseilles Bekker was ʼn uitmuntende mentor. Tog het ons mekaar selde buite die KOLK-verband gesien. Ek het hom sonder om te skroom nageboots en daaropvolgende vergaderings in ʼn verslete  pak klere bygewoon, sy sigare by die deur gerook en met groot drif enige iemand wat ʼn skewe woord oor Maria Callas geopper het, beveg. Callas was toe effens passé en ons het bloedige gevegte met die ander gehad. Hy het my ook geleer dat die ware vreugde eers kom wanneer die ander die toneel ontruim, want dan sluit die Italianer sy deure en dan kuier ons en Luigi Vaccaro behoorlik rondom vino en groot Italiaanse opera.

Opera. Wyn. Brandewyn. Sigare. Goed, so julle wil weet.

Daar is baie gewag gemaak van die Maarskalk se drankgewoontes. Kom ons kry dit uit die pad uit. Nee, hy was nooit ʼn alkoholis nie, nie eers ʼn strawwe drinker nie. Maar ja, drank was by geleentheid sy nemesis en dan het hy doelgerig en hard gedrink en niemand moes dit waag om tussen hom en die bottel te kom nie. Brandewyn, skoon. “Soos hy van sy ma af gekom het,” het hy dit gestel. Moontlik wás daar tye wat hy roekeloos gedrink het toe ons dit die minste nodig gehad het. Ons het dit vir hom gegun.

Nee, sy sigare was nie ʼn Churchill-Patton-tipe aanwendsel nie. Hy het nooit een uit gewoonte vasgebyt nie. Hy was eerder ʼn geleentheidsroker. Wanneer hy opera geluister het. Wanneer hy ʼn volgende skuif bepeins het. Ja, dit is so, een van ons tameletjies was om vir hom sigare te midde van die Chaos op te spoor. Ons het dit ook graag gedoen. Roberta was veral goed daarmee.

Goed, ek het die naam genoem, so kom ons praat oor die Maarskalk en vroue. Hy kan vir niemand as ʼn voorbeeld dien nie en het dit geweet en ek dink hy sou dit anders wou hê. Genieë moet ook swakhede hê. Sy swakheid was nie soseer dat hy van vroue gehou het nie, maar dat hy vir so baie van hulle onweerstaanbaar was. Ek het nie ʼn verklaring daarvoor nie. Dis net hoe dit was. Ek het die verskynsel genoeg gesien. Selfs die mees gereserveerde vrou kon binne minute na sy hom ontmoet het, vermurwe tot ʼn soort kerswas naby ʼn baie warm vuur. Ek dink nie hy wou hulle ooit misbruik nie, maar hy het. Hy wou hulle nooit in die steek laat nie, maar dít het hy ook. Meeste van hulle het vriende met hom gebly, vol hoop vir ʼn tweede kans. Hulle het selfs mekaar aanvaar, ʼn soort van ʼn ons-het-Joachim-Bekker-oorleef-klub. Hy was wat, vier keer, vyf keer getroud?

“Ek was net nooit ʼn suksesvolle eggenoot nie,” het hy eenkeer vir my verduidelik. “Ek wou dit wees, meer graag as enige iets anders. Maar ek was nooit nie. Dis nie hulle skuld nie. Hulle het nie, nie een van hulle nie, verstaan dat daar vir my iets wag om te doen nie. Net Roberta. En Roberta…”

Die res van sy gesprek was oor ʼn onderwerp waaroor hy gereeld en diep gewonder het.

Vra nou oor die Maarskalk en sy bewustheid van sy plek in geskiedenis.

“Dit is so, Jood,” het hy gesê. “Soms word ʼn man gemaak vir sy tyd, vir ʼn geleentheid, ʼn gebeurtenis. Sy hele lewe sal hy niks suksesvols doen nie, tot dié tyd opdaag en dan is dit skielik of hy vir die eerste keer in die wêreld inpas. Keisers, konings, ridders, kardinale het deur die millennia dit aangevoel. Maar veral generaals.”

Soos Patton wat sy lewe sou slyt as kolonel in ʼn vredestydweermag totdat die Tweede Wêreldoorlog hom as die VSA se mees effektiewe soldaat uitgesonder het. Of sy voorganger, William Tecumseh Sherman, wat ʼn vredestydmislukking was as bankier en prokureur totdat die Amerikaanse Burgeroorlog uitgebreek en hom deel van die geskiedenis gemaak het; of sý groot vriend, Ulysses S. Grant wat tooms en saals vir sy broer se leerlooiery verkoop het nadat sy gesin amper ʼn hongerdood gesterf het; voordat hy Lincoln se generaal geword het en die legendariese Robert E. Lee tot ʼn stilstand baklei het.

Maar nie net generaals ervaar hierdie verheffing op die kruin van ʼn aardkorsgolf onder hulle nie. Oskar Schindler was verstommend suksesvol, nie net as sakeman nie, maar ook as redder van Jode in Pole – maar dít net vir die paar jaar van die oorlog.

Ons eie Piet Retief was so skouspelagtig mislukkend in alles wat hy aangepak het, dat hy eintlik nie ʼn ander keuse gehad het as om te trek nie. Hy het herhaaldelik bankrot gespeel, al sy geld verkwis, en nie net syne nie. Toe skryf hy sy beroemde manifes en sterf ʼn marteldood wat die beslag van die Boerevolk gevorm het.

Gewone manne is vir gewone tye; helde vir buitengewone eras. En wanneer buitengewone tye gewone eras baar, vervaag die helde uit ons oog totdat net die afdrukke van hulle legendes en mites oorbly. Ons leef nie in gewone tye nie, nóg nie, maar as dit uiteindelik aanbreek, laat niemand die Maarskalk se naam vergeet nie.

Ja, volgens alle maatstawwe was hy ten beste soort van suksesvol, somtyds, maar meestal was hy ʼn volslae mislukking. Hy het nooit sy dramakursus op universiteit voltooi nie, het by die destydse SAW se staandemag aangesluit, maar het net gevorder tot stafsersant in die spysenierskorps, het daarna sy merk in die TV-en-filmwêreld as akteur probeer maak, maar die hoogtepunt daarin was ʼn reeks advertensies vir motorsmeermiddels, het daarna gewerk as bibliotekaris, museumkurator, toerleier, gastehuisbestuurder, en was nooit vaardig in een van sy werke nie.

Toe ek hom ontmoet het, was hy werkloos, om die waarheid te sê, onderhou deur ʼn karige toelaag van een van sy eks-vroue. Hy was ʼn lid van die MOTH-klub in Milnerton en daar het hy die bestuur omgepraat dat hulle hom toegelaat het om ʼn ou pantserkar vir hulle te restoureer, of laat restoureer. Hy het die pantserkar verwyder, die geld wat hulle ingesamel het, getrek en verder het daar niks van die projek gekom nie. Uiteindelik het hulle alle geduld met hom verloor en ʼn hofgeding teen hom aanhangig gemaak. Dit het hom min getraak; ek was verbaas oor hoe min. Nou verstaan ek. Hy het geglo, so vas geglo dat dit meer ʼn wete as geloof was, dat hy nie bestem was om aan die pen te ry weens die iesegrimmigheid van ʼn paar afgeleefde soldate nie. Hy was uitverkies en geroep vir iets oneindig groter in omvang en belang as dit.

Geglo. Geweet.

En toe kom die Chaos.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 2.)

Transformasie sal Afrikaans red sê prof

Andries Visagie, middel
Andries Visagie, middel

Afrikaans word uitgesluit uit die samelewing, sê Andries Visagie, dosent aan die Universiteit van Pretoria, maar transformasie sal die taal red.

Prof. Visagie het sy pleidooi nietemin in Engels geskryf.

Volgens die 2011-sensus het die aantal moedertaalsprekers van Afrikaans met 800.000 individue toegeneem sedert die vorige sensus.

Afrikaans floreer as die derde grootste moedertaal in Suid-Afrika en as ‘n gewilde taal van kommunikasie in Namibië.

Die lojaliteit van Afrikaanse lesers wat boeke in hul moedertaal verkies is dikwels ‘n bron van jaloesie vir uitgewers wat fokus op publikasies in ander tale, skryf Visagie.

Visagie bemerk ‘n “interne verdeeldheid binne die Afrikaanssprekende gemeenskap” tesame met ‘n “skynbaar nimmereindigende neiging onder sake- en openbare instellings om sektore waar Afrikaans vrylik gepraat word”, te beperk.

Die vraag is of Afrikaans sal in staat wees om hierdie uitdagings te oorkom en om te floreer as ‘n moedertaal, vra hy.

Meer as 50 persent van Afrikaans se eerstetaalsprekers is bruin, maar voel gemarginaliseer deur die gebruik van ‘n Kaapse dialek van Afrikaans wat steeds “onvoldoende” in die standaard-variëteit van die taal gereflekteer word, volgens Visagie.

Hy is egter bemoedig deur Nathan Trantraal en Ronelda Kamfer wat die legitimiteit van Standaardafrikaans bevraagteken.

Visagie beveel aan dat die besluitnemers by die Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie Vir Wetenskap en Kuns hul reëls hersien en verkieslik nie “agter geslote deure” nie.

Visagie bepleit “noodsaaklike uitgebreide mediadeelname” asook ‘n proses gelei deur “dapper besluite van die belanghebbendes wat op die kommissie dien”.

Volgens Visagie beweeg baie gekleurde sprekers van Afrikaans na Engels as die taal van hul keuse, want hulle voel te ver verwyder van standaard-Afrikaans as ‘n variant van wit sprekers.

Hy meen dat “versoening binne die Afrikaanse taalgemeenskap steeds onafgehandel is weens die rasseverdeling wat samehorigheid onder die meer as 6 miljoen moedertaalsprkers ondermyn”.

Engels geniet steeds massiewe staatsondersteuning ten koste van Afrikaans, sê hy.

Universiteite wat histories Afrikaans as ‘n medium van onderrig aanbied, verkeer onder baie druk van Engels, die lieflingstaal van die huidige regering, kla Visagie.

Hy betreur die sluiting van Afrikaanse taaldepartemente by sommige tersiëre instellings, maar plaas sy hoop daarop dat die staat sal swig voor die sukses wat moedertaalonderrig kan verseker.

 

Die ebonisering van Kaaps

kaapsdeur Leon Lemmer

Wat opval in die nuwe Suid-Afrika is die ruime mate waarin Amerikaanse politiek plaaslik weerspieël word. Mense soos Desmond Tutu en Jonathan Jansen is tot in hulle kern vergiftig met amerikanismes. Hierdie toepassing van Amerikaanse politieke retoriek geskied sonder inagname van twee wesenlike verskille. Eerstens is swartes ‘n etniese minderheid en blankes die etniese meerderheid in die VSA, terwyl die omgekeerde situasie in Suid-Afrika aangetref word. Tweedens word swart politieke retoriek in Amerika deur verwyte oor slawerny oorheers, terwyl swartes in Suid-Afrika glad nie hierdie ideologiese knopkierie teen blankes kan gebruik nie. In soverre daar plaaslik slawerny was, het die inheemse Khoi-San en die inheemse swartes dit vrygespring. Die slawe is ingevoer en is dus uitheems. Plaaslik is dit net bruines wat op vergesogte wyse griewe oor die slawerny van lank gelede vertroetel.

In soverre bruines van sowel die Khoi-San as die slawe afstam, is hulle ‘n mengsel van inheems- en uitheemsheid. ‘n Mens kan dus sê dat daar etniese hibriditeit by die bruines is. Maar bruines se hibriditeit is nie net etnies of liggaamlik nie. Kulturele hibriditeit, bv wat taal betref, word by sommige bruines aangetref. Taalkundig kan die huidige plaaslike retoriek, bv oor die mengeltaal Kaaps, verstaan word na analogie van wat in Amerika plaasvind. Die propagering en bevordering van Kaaps deur bv die Afrikaanse Taalraad, by name deur Wannie Carstens en veral Michael le Cordeur, geskied na die voorbeeld van Ebonics in Amerika. Hierdie virus het nou ook die Vriende van Afrikaans aangetas, soos ek hieronder aantoon.

Die benaming “Ebonics” is ‘n samevoeging van die woorde “ebony” (swart, na aanleiding van tropiese swarthout) en “phonetics” (bloot in die sin van spraak; dus nie die taalkundige dissipline in sy geheel nie). Die woord is in 1973 deur Robert Williams geskep, wat in 1975 ‘n boek met hierdie titel gepubliseer het. Ebonics is ‘n sinoniem vir African American Vernacular English, oftewel Black English. Dit is na bewering ‘n mengsel van veral Standard American English en die tale van Wes-Afrika, vanwaar die slawe destyds na Amerika vervoer is. Op grond hiervan word daarop aanspraak gemaak dat Ebonics ‘n kreoolse taal is. Die meeste taalkundiges ontken egter die aanwesigheid van noemenswaardige kreoolsheid, omdat so min woorde van Afrika-oorsprong in Ebonics gevind kan word. Die soort Engels wat swartes op die Karibiese eilande praat, word soms by Ebonics ingesluit.

Omdat Ebonics sy oorsprong in slawerny het, gaan dit veral om die taal wat swartes in die suidelike Amerikaanse state gepraat het. Oor die 19de eeu, bv tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865), kan veralgemend gesê word dat die noordelike state nywerheidsgebied en die suidelike state landbougebied was. Die oorgrote meerderheid slawe het in die suidelike state as arbeiders gewerk. Ebonics het glo ontstaan toe die slawe hulle verstaanbaar teenoor die slawe-eienaars wou of moes maak. ‘n Variëteit van Engels wat bv woordeskat, sinsbou en uitspraak betref, het op hierdie manier gestalte gekry. Soms word Ebonics ‘n dialek, sosiolek of etnolek van Engels genoem.

Ebonics het ingevolge slawerny en kolonialisme sterk politieke konnotasies. Hierby word die “euwel” van rasse-segregasie gevoeg: die swartes se Engels is anders omdat hulle apart van die blankes moes leef. Aanvanklik is die kenmerkende Engels van swartes as sub- of tweedeklas-Engels beskou, dus as taal wat nie dieselfde aansien as Standard American English gehad het nie. Hierdie onderskeid was klas- (sommige praat selfs van “kaste-“) en etnies of rasgebaseer. Sedert die suksesvolle burgerregtebeweging in die jare sestig val die klem op gelyke menseregte en het Black English aan status gewen. Kultuur- (insluitende taal-) verskille word as verrykend in ‘n samelewing voorgestel. Multikulturaliteit word as ‘n bate voorgehou.

Die Engels van swartes het sy eintlike hupstoot in 1996 gekry toe die skoolraad van Oakland, Kalifornië, Ebonics as ‘n skoolonderrigtaal goedgekeur het. Dit is as ‘n moeder-, huis- of omgangstaal erken waarin skoolonderrig in die aanvangsjare aangebied kon word. Op hierdie manier sou begrip by die leerders bevorder word en sou daar nie by hulle ‘n gevoel van minderwaardigheid gewek word nie. Ingevolge menseregte is aangevoer dat die skool by die kind moet aanpas en nie andersom nie. Die kulturele erfenis van alle leerlinge moet erken word. Diversiteit het toenemend ‘n wagwoord geword. Die historiese dominansie/”onderdrukking” deur die wit meerderheid, dikwels “rassisme” genoem, is opgehef en die swart minderheid se eiesoortige kultuur is erken.

Sedert die jare sestig is die bevoordeling van Amerikaanse swartes (en in ‘n mindere mate ander nie-wittes) in mooi-klinkende woorde gehul, wat ook by ons oorbekend geword het, bv regstellende aksie, politieke korrektheid en bemagtiging. Ebonics is deur Claude Brown “spoken soul” genoem. John Russell Rickford en sy broer, Russell John, het in 2000 ‘n boek met hierdie titel oor Ebonics gepubliseer. Aan Amerikaanse universiteite word Black Studies toenemend as byvak, hoofvak en selfs as nagraadse dissipline tot by die doktorsgraad aangebied. Ook hier het Ebonics ‘n tuiste gevind.

Maar nie almal, selfs nie alle swartes, is met Ebonics gediend nie. Die skool en universiteit is nie daar om bloot ‘n bevestigende erfenisrol te speel nie. Onderrig is immers ook, seker veral, daar om enersyds as ‘n korrektief te dien vir wat die leerling of student verkeerd beet het en andersyds om inligting waarvan hy nog nie kennis dra nie en vaardighede wat hy nog nie het nie, tuis te bring. As ek nie kan swem nie, moet ek leer hoe om te swem. As ek nie Standard American English magtig is nie, moet ek dit aanleer om optimaal in die Amerikaanse samelewing te funksioneer. Dit baat weinig om agter menseregte, kulturele erfenis en goedvoel oor my Ebonics te skuil as my moedertaal ‘n las pleks van ‘n bate, dus teenproduktief, in die praktyk blyk te wees. Ebonics breek juis die veelgeroemde inklusiwiteit af en moedig verdeeldheid aan. Daarom word Ebonics meesal slegs in die aanvangskooljare benut en wel as ‘n middel om Standard American English baas te raak.

Van die ander probleme met Ebonics is dat dit eintlik ‘n gesproke eerder as ‘n geskrewe taal is. Soos dit hom in die praktyk voordoen, is dit nie gestandaardiseer nie. Daar kan kwalik van “ebonically correct” gepraat word. Die skepping van handboeke in Ebonics is dus problematies. Van die teenargumente, wat uit die geledere van militante aktiviste opklink, is dat Standard American English ook nie bestaan nie; dus dat dit ‘n mite is. Daar is ook die verskynsel dat sommige swartes, soms in die naam van Ebonics, uit hulle pad gaan om met Engels te mors; om wittes met besoedelde taalgebruik uit te tart.

Voordat wat hierbo oor Standard American English en Ebonics geskryf is sinvol op onderskeidelik Afrikaans en Kaaps toegepas kan word, is dit nodig om met aanhalings uit HAT duidelikheid oor vier terme of verskynsels te verkry.

  • Kreools: “Mengeltaal ontstaan tussen ‘n Europese taal en ‘n taal in ‘n ander wêrelddeel … in breër opvatting, enige taal wat die vermenging van meer as een taal is.” Aangesien geen taal op absolute suiwerheid aanspraak kan maak nie, behoort geringe vermenging nie kreolisering genoem te word nie, want dan sou alle tale kreools wees. Hierdie vermenging moet substansiële afmetings aanneem voordat ‘n taal kreools genoem word. Ebonics is in die swartbewussynbeweging kreools genoem. Afrikaans is weens die sug na politieke korrektheid en “regstelling” al kreools genoem. In nie een van hierdie twee gevalle is die etiket egter regverdigbaar nie.
  • Mengeltaal: “Taal wat ontstaan het uit die vermenging van verskillende tale, soms tale van heeltemal verskillende herkoms.” Bv Fanagalô: “Mengeltaal, grammaties basies Engels en Afrikaans, maar met ‘n hoofsaaklik Nguni- [Xhosa-, Zoeloe-] woordeskat, wat as omgangstaal op die myne en in stedelike gebiede gebruik word.” Kaaps neig om eerder ‘n mengeltaal, bestaande uit Afrikaans en Engels, as bloot ‘n variëteit van Afrikaans te wees; maw die besmetting met Engels neem ernstige afmetings aan.
  • Pidgin: “Baie vereenvoudigde taalvorm met oa woorde uit twee of meer tale, gebruik tussen taalgemeenskappe wat mekaar se tale nie verstaan nie.” Elementêre Fanagalô kan goedskiks pidgin genoem word en Ebonics was dit (ten minste) aanvanklik ook.
  • Sleng/slang: “Opsetlik gemeensame, ondeftige, ietwat platte (stands- of beroeps-) taal; groep(s)taal,” bv van studente. Sowel Ebonics as Kaaps is, soms weens politiek-gedrewe moedswilligheid/uittarting, nie van sleng vry te pleit nie.

Wat ek interessant vind, is dat die dubbel-nie, wat so kenmerkend van Afrikaans is, eintlik ook in Ebonics aangetref word, bv “You ain’t no never say that” en “I didn’t go nowhere.” Verder word ‘n woord soos “gangsta” in sowel Ebonics as Kaaps aangetref.

Wat in die nuwe Suid-Afrika baie duidelik geword het, is dat Ebonics as voorbeeld dien vir diegene wat aan Kaaps status wil gee. Ebonics se oorsprong word na slawerny teruggevoer. Op ‘n soortgelyke manier word die oorsprong van Afrikaans (eerder as Kaaps) met die kombuistaalhipotese teruggevoer na die skewe pogings wat slawe aangewend het om Nederlands met slawe-eienaars en ander wittes te praat. Omdat die ontstaan van Afrikaans op hierdie manier aan die slawe toegeskryf word, maak sommige hedendaagse bruines aanspraak op eienaarskap van Afrikaans. Vandaar RSG se Magdaleen Kruger se versugting dat sy Afrikaans aan die bruines wil “teruggee”. Die standaardiserings- en ander ontwikkelingswerk wat feitlik deurgaans deur slegs blankes tot voordeel van Afrikaans gedoen is, word daarmee (minagtend) onder die mat gevee.

Deesdae word graag beweer dat etniese en kulturele verskeidenheid in ‘n bevolking verrykend is. Al die probleme wat dit veroorsaak, word gerieflikheidshalwe misgekyk. Sodanige verskeidenheid verongeluk bv nasiebou en dikwels ook vreedsame naasbestaan. In die naam van multikulturaliteit word allerhande afwykings van die norm geloof. Byvoorbeeld, oor taalvariëteite word beweer dat sodanige verskeidenheid die taal verryk. Dus, Kaaps verryk Afrikaans. Wat doelbewus misgekyk word, is dat die toenemende Engels-besoedeling van Kaaps daarvan veel eerder ‘n mengeltaal as ‘n variasie van Afrikaans maak.

Op sy beurt beteken dit dat Kaaps nie die voortbestaan van Afrikaans help verseker nie. Presies die teenoorgestelde is waar. As die meeste sprekers van Afrikaans bruin is en as baie van hulle Kaaps praat en selfs skryf (of dit bo Standaardafrikaans verkies) en Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans gereken word, is die toenemende verswelging van Afrikaans deur Engels ons voorland. Die uiteinde kan wees dat Afrikaans as ‘n taal wat onderskeibaar van Engels is, verdwyn. Die voorstanders van Kaaps, soos Michael le Cordeur, is met ‘n gevaarlike spel ten koste van Afrikaans besig. Hierdie politiek-gedrewe veldtog kan inderdaad noodlottige gevolge vir Afrikaans inhou. Veral verloopte Afrikaners, wat hulle oënskynlik met die heil van Afrikaans besig hou (“voltyds” in die geval van Wannie Carstens), moet hiervan kennis neem.

Wat Le Cordeur in sy hoedanigheid as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad doen, is om te pleit dat Kaaps, soos Ebonics, as ‘n skoolonderrigtaal erken word, al is Kaaps, soos Ebonics, ongestandaardiseer. Maar Le Cordeur se standpunt is meer radikaal. Volgens hom moet Kaaps nie, soos Ebonics, bloot as hulpmiddel vir die aanleer van die standaardtaal gebruik word nie. Kaaps word deur Le Cordeur as net so goed (indien nie beter nie) as Standaardafrikaans beskou. Die wenslikheid van onderrig in Kaaps word oor die boeg gegooi van die voordele wat onderrig in hulle moedertaal vir leerders inhou. Le Cordeur gee onderrig in Standaardafrikaans openlik die skuld vir die akademiese nie-prestasie van bruines (Praag 7 Julie). Hy kom egter nie met dieselfde verwyt teen Engels nie.

Omdat Kaaps sekerlik nie sy sprekers se aanvaarding en optimale funksionering in die breë samelewing sal verseker nie, huldig Le Cordeur klaarblyklik die standpunt dat dit met Engels bewerkstellig moet word. Plaaslik sal Kaaps dus nie as voedingsbron vir Standaardafrikaans dien nie, maar eerder vir Engels. In die mate wat Kaaps toenemend eerder ‘n mengeltaal as ‘n variëteit van Afrikaans word, funksioneer dit al hoe meer as ‘n trapklip na Engels. Hierdie strategie word gevolg omdat Standaardafrikaans as ‘n witmenstaal geëtiketteer en daarom om politieke redes verwerp (indien nie verafsku nie) word. In sy voorwoord tot Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (2012), skryf Le Cordeur dat “die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem [ge]smoor” moet word (p 10).

Weens hierdie politieke druk wat op Standaardafrikaans uitgeoefen word, is ‘n tweeledige reaksie by verloopte Afrikaners waarneembaar. Enersyds word die werklike bestaan van Standaardafrikaans ontken. Gerda Odendaal (Praag 2 deser) verwys na hierdie moontlikheid. Andersyds ontgin Odendaal ‘n alternatief, naamlik die herstandaardisering van Afrikaans, wat (soos ek op 2 deser aangedui het) ‘n verbruining en ontwitting van Afrikaans tot gevolg sal hê. Hierdie herstandaardisering sal in die naam van inklusiwiteit gedoen word, maar sal sekerlik daarin slaag om van die lojaalste en suiwerste sprekers van Afrikaans te vervreem.

Die Afrikaanse Taalraad het pas ondersteuning vir sy brouwerk van die Vriende van Afrikaans (VVA), wat in Stellenbosch gesetel is, ontvang. Amanda de Stadler is die uitvoerende hoof van die VVA. Sy is die eggenote van die Afrikaanse taalkundige Leon de Stadler, wat dit onnodig vind om Russel Botman se verengelsingsbeleid aan die Universiteit Stelenbosch teen te staan. Op ‘n loslitmanier veroorloof hy homself ook heelwat onnodige Engelse woorde in sy geradbraakte Afrikaans (Praag 7 Nov).

‘n Berig in Die Burger (8 deser, p 11) het vandeesweek as aanleiding vir my skrywe gedien. Op 6 deser is die elfde gedenklesing ter ere van die gerekende Afrikaanse taalkundige Johan Combrink onder die vaandel van die VVA, wat sy 20ste bestaansjaar vier, gehou. Die tema van die byeenkoms was: “Afrikaans se ander baadjie”. Dit herinner aan die Afrikaanse Taalmonument se versoek dat ons anders na Afrikaans moet kyk, wat op groter “inklusiwiteit” neerkom, en waaraan uitdrukking gegee word met bewerings van gekreoliseerde Afrikaans.

Ek het onlangs op Praag (2 deser) aangetoon hoe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad sorgvuldig vier sprekers uitgesoek het om volgens politiek-korrekte voorkeur by ‘n byeenkoms oor Afrikaans te praat. Die VVA het op ‘n soortgelyke manier te werk gegaan en drie sprekers (blykbaar een wit, twee bruin; een vrou, twee mans) genooi om “oor die waarde van Kaaps-Afrikaans teenoor Standaardafrikaans in hul daaglikse lewe … [te] praat … Twee redaksielede van Die Son, Christa Prinsloo en Eldridge Jason, en ‘n vryskutskrywer van dié koerant, Willem Fransman jr, het gepraat oor hoe soms neergekyk word op mense wat Kaaps-Afrikaans praat.”

Jason het gesê: “As jong laaitie het ek kennis gemaak met die hoorbare en geskrewe vorm van Kaaps. Ek het besef daar is niks onwettigs aan die manier hoe ek Afrikaans praat nie … Afrikaans is ‘n taal van ‘n verskeidenheid kleure en geure. En Afrikaaps, soos baie mense na dié variëteit verwys, speel ‘n belangrike rol in die inkleur van die taal.” Alles wat wettig is, is natuurlik nie noodwendig gewens nie. By inkleur kan ‘n mens tussen ligte of donker kleure kies. Die ligte kleure kan meer bevorderlik vir die eerbare voortbestaan van Afrikaans wees. Wit vanielje kan taalkundig ‘n geseënde plaasvervanger vir al die kleure en geure van Desmond Tutu se reënboog wees.

Jason is die outeur van die boek Gerook (2013), wat oor dwelmverslawing handel. Op LitNet (15 Okt) is ‘n onderhoud met Jason gevoer. Daar lyk dit asof hy tot Standaardafrikaans in staat is. Sy kort VVA-toespraak is ook op LitNet (11 deser) gepubliseer. Die teks kan maklik op ‘n enkele A4-bladsy uitgedruk word. Daarin benut hy opsetlik “ons Kaapse way van Afrikaans praat.” Hy gebruik die volgende woorde: “variant”, “change”, “eyeblind”, “sad”, “somehow” en “stupidgeit”, asook die frase “way van living”. Hy kon gerus die eerbare weg gevolg en liewer die moeite gedoen het om die Afrikaans vir daardie woorde in ‘n woordeboek na te slaan.

Fransman het in sy VVA-toespraak verwys na die taal waarop hy verlief geraak het en wat net in die “townships” gepraat is. Op hierdie Kaaps-eksklusiewe manier voel hy blykbaar geen aangetrokkenheid tot Standaardafrikaans nie, terwyl blankes telkens tot inklusiwiteit vermaan word. “Ek het in boeke gelees oor ‘n taal wat ons nie in die klaskamer praat nie. Dit is die ander baadjie van Afrikaans wat ek wil aantrek. Dis hoe ek wil skryf … Kaaps en in geen ander taal.”

Maar Fransman se toespraak (LitNet 11 deser) bestaan, afgesien van aanhalings uit Kaapse teks, uit goeie Standaardafrikaans. Sowel hy as Jason kan Standaardafrikaans skryf, maar albei verkies Kaaps. Waarom sou hulle anders handel as mense soos die De Stadlers hulle in hierdie kwaad sterk? Elders op die internet het Fransman met die gebalanseerde uitspraak gekom dat Afrikaans aan sowel die wittes as die bruines behoort, dus dat dit bog is om (soos Magdaleen Kruger) te beweer dat Afrikaans aan die bruines teruggegee moet word.

Die berig in Die Burger is deur Raymond Willemse, waarskynlik ‘n bruin joernalis, geskryf. Geen melding word gemaak van wat Christa Prinsloo, waarskynlik die enigste wit spreker, te sê gehad het nie. Jason en Fransman se toesprake is, met ‘n foto van elk, op LitNet gepubliseer, maar nie Prinsloo se foto nie. Die Burger het net ‘n foto van Jason gepubliseer. Dit toon hoe wittes deesdae deur bruines, dikwels met die hartlike samewerking van wittes, gemarginaliseer word, selfs wanneer dit om ‘n kern-Afrikanersaak soos Afrikaans gaan. Wittes het die neo-gemarginaliseerdes geword.

Hieruit volg nie dat Prinsloo, die inhoudsredakteur van Son, ‘n geskikte persoon is om die koers vir Afrikaans aan te dui nie. Let op hoe word in Son gevra vir inligting wat na Prinsloo gestuur kan word: “Ken jy iemand wat against all odds bo uitgekom het? Weet jy van mense wat goeie werk doen om die gemeenskap te uplift?” (11 deser, p 9).

In dieselfde uitgawe van Son skryf Jason oor bruin kinders se “struggle” om toelating tot die Laerskool Hermanus te kry. Sy teks is onder die opskrif, “Skool se hoof die problem,” gepubliseer. Ander opskrifte in dieselfde koerant is: “Cops se attitude is sondebok,” “Bloues slaan weer op verskeie druggies toe,” “Jong man sterf toe hy girl red,” “Lolly-saak moet wag oor lawyer,” “Raadswerkers kla oor raise van R9,” “Fight ná cops wardens skud,” “Gratis krag het locals bly,” “Couple leef in vrees oor cop,” “Pa kry life ná hy sy eie 3 kids rape,” “Toekoms verander: van druggie na ‘social worker,'” “Talle issues kan sorg dat vroue struggle,” “Lamar belowe fans hy gaan weer kom,” “RiRi en Drake dalk hot nuwe paartjie,” “Soul-sanger lewer ‘n Madiba-tribute,” “Fikru is ook nou easy”. Dit lyk asof die nuwe baadjie vir Afrikaans deur die VVA in ‘n taalriool gesoek is. Die baadjie blyk veel eerder ‘n luier te wees.

Maar dit het by hierdie VVA-byeenkoms blykbaar van kwaad tot erger gegaan. Basil Kivedo was in die jare sewentig ‘n dosent in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Daarna het hy ‘n opgeleide MK-soldaat geword. Na ons “bevryding” is Kivedo as die DA-burgemeester van die munisipaliteit Breederivier (Worcester) herontplooi. Dit is ‘n instansie wat deesdae Engelse advertensies in ‘n Afrikaanse koerant plaas. Die bruin Kivedo het as ‘n nie-taalkundige huldigingswoorde oor JohanCombrink gespreek en hom geprys vir “sy bydrae en sy rol” om Afrikaans te bevorder: “Dit is ‘n eer om deel te wees van die gebeurtenis.” Die vraag is of Combrink, wat ‘n stoere ondersteuner as ordentlike Afrikaans was, geëerd met hierdie byeenkoms sou gevoel het. Ek dink nie Combrink sou die handevat-opsie met ‘n oud-ANC-terroris en met die bedenklike Son-Afrikaans gekies het nie. Standaardafrikaans was vir hom erns.

Nog was dit nie die einde nie. Die Burger-berig sluit soos volg af: Amanda de Stadler “het ná die geleentheid gesê Afrikaans het ‘n ander baadjie aangetrek en dit het gewerk.” Dus, Afrikaans kan maar ver-Son? Myns insiens was dit heeltemal onvanpas om drie sprekers by die koerant Son te gaan soek as die doel was om Afrikaans te bevorder. Daardie uitlatings kon wel ‘n positiewe doel gedien het as die idee was om kennis te neem van wat vermy moet word; dus as dit ‘n verkenningstog was om die euwel van mengeltaal beter te leer ken. De Stadler se slotopmerking toon dat sy bereid is om net so ver soos Wannie Carstens en Michael le Cordeur agteroor te buig ten koste van eerbare Afrikaans.

Om Son-Afrikaans as rigsnoer vir algemeen beskaafde oftewel Standaardafrikaans te gebruik, is net so onvanpas soos om Nelson Mandela tot beskermheilige van ‘n anti-terreurveldtog te verklaar. Wanneer vriende vir Afrikaans gesoek word, is dit wenslik om volgens ‘n kwantitatiewe maatstaf voor die voet soveel moontlik mense bymekaar te maak? Of moet ons eerder kwalitatiewe norme toepas en volstaan met ‘n gideonsbende, in die wete dat ‘n mens aan jou vriende geken word?

Pleks van al hierdie politiek-korrekte geheul met bv Kaaps sou die eerlike erkenning dat blankes en veral Afrikaners, waarvan Johan Combrink een was, uitsonderlik in Suid-Afrika gepresteer het, veel meer gepas gewees het. Standaardafrikaans is een van die Afrikaner se grootse prestasies. Pleks van destruktief met so ‘n waardevolle erfenisproduk om te gaan, behoort ons Standaardafrikaans liewer met oorgawe en kompromisloos te koester.

Bodem 31: Die gesant (inleiding)

vlamtoring2‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem 30 en alle vorige episodes.

Daar, net onder die verchroomde buffer, dieper in onder die wye voertuig, die Nissan Patrol, is beskutting, is veiligheid. Sal die kar se bakwerk, die bagasie daarin en die onderstel die ellende wat binne oomblikke uit die helikopter uit die hoogte na onder gaan snel, kan keer? Hy weet nie. Hy weet net dat hy nog besig was om gewoond te raak aan ʼn oggend wat hy nooit gedink het sou aanbreek ná ʼn oneindige nag van nimmereindigende verskrikking nie, toe verskyn die twee vliegtuie soos moderne drake in die lug, met lemme wat die lug kloof en die ou bekende stottergeraas maak.

Hoekom presies die helikopters so ʼn vreesaanjaende bedreiging is, weet hy nie, maar rondom hom is paniek en die mens wat versink is in ʼn groep wat skrik, het ʼn onwrikbare, instinktiewe vertroue in die meerdere kennis van die mense om hom: Hulle weet iets wat hy  nie weet nie, en dit maak hulle bang. Die lewe het – weereens, weereens – tot ʼn einde gekom en alle oorlewing is gesetel op die nat gras onder die Patrol.

Lees die res van Bodem 31 met ‘n wagwoord. Maar kyk eers na die boodskap wat hier volg:

Geagte leser,

Ons het besluit om van hier af aan Gustav Venter se spannende nuwe distopiese vervolgverhaal, Bodem, betalend te maak en die res van vandag se episode, asook verdere episodes, sal slegs met ‘n wagwoord toeganklik wees.

Daar is drie opsies:

  1. R60 (eboek) – u ontvang die wagwoord om aan te hou lees en by voltooiing van die verhaal, ontvang u ‘n eboek van die volledige roman van ongeveer 100 000 woorde om op u mobiele toestel of rekenaar te kan lees en herlees;
  2. R155 (gedrukte boek) + R25 (posgeld) = R180 – u ontvang die wagwoord en by voltooiing van die verhaal, ontvang u ‘n gedrukte boek in die pos;
  3. BBP-lede van PRAAG wat R200 per maand of meer per debietorder bydra, ontvang die wagwoord gratis, asook ‘n gratis eboek ter waarde van R60 by voltooiing van die verhaal.

Lees nou, betaal later!

Al wat u hoef te doen, is om vir ons ‘n epos na lidmaatskap@praag.org te stuur met die opsie wat u verkies, waarna ons vir u die wagwoord sal aanstuur. Die wagwoord sal vir die duur van Bodem aanlyn dieselfde bly, dus sal u steeds met geringe moeite elke oggend die verhaal kan volg deur eenvoudig die wagwoord in te sleutel.

Waarom het ons tot dié stap oorgegaan?

U sou, liewe leser, waarskynlik saamstem dat Gustav Venter ‘n vonds vir Afrikaans is! ‘n Bekwame skrywer, joernalis en redakteur wat in sy eensaamheid op ‘n plaas in die Oos-Vrystaat tussen die berge naby Clarens woon.

Sedert die 1960s was daar nog nooit weer fiksieskrywers in Afrikaans wat voltyds hul brood met die pen kon verdien nie. Ons wil aan Gustav daardie geleentheid bied, maar sodoende ook ‘n nuwe tydvak in Afrikaans inlui: ‘n nuwe Goue Tyd soos laas in die sestigerjare toe Afrikaanse verhale – ook fotoverhale! – gebloei het en met geesdrif deur die hele volk gelees is.

Gustav verseker ons dat hy die pas sal kan volhou om elke twee of drie maande ‘n nuwe boek te voltooi, met aanlynepisodes wat elke dag verskyn. Nie net is sy werk prikkelend nie, maar ook omstrede, selfs onverskrokke. Een van sy idees is om die lewe in ‘n toekomstige Afrikanervolkstaat in ‘n roman iewers ná Bodem te beskryf! Hy vermaak ons, maar sit ons ook aan die dink oor moeilike kwessies en keuses oor ons toekoms in dié “wye en droewe land” (Van Wyk Louw).

Laat Gustav vir ons ‘n nuwe toekoms in sy fiksie oopskryf! Stuur vir ons daardie epos na lidmaatskap@praag.org waarin u die eboek of gedrukteboekopsie kies of as BBP-lid u gratis wagwoord aanvra.

Indien u op ‘n mobiele toestel verkeer waarvandaan u nie ‘n epos kan stuur nie, kan u dr. Dan Roodt direk op Facebook of Twitter kontak: facebook.com/danroodt of twitter.com/danroodt.