Vertrapping van Afrikaans

Deel op

Die afgelope week het die vertrapping van Afrikaans verdere momentum gekry toe Michael le Cordeur, die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), standpunt teen Standaardafrikaans ingeneem het. Hy gee Standaardafrikaans die skuld vir die swak leesprestasie van bruin skoliere. “Taal is kritiek [hy bedoel: van deurslaggewende belang] vir basiese opvoeding. Hulle word benadeel as hulle nie getoets word in die taal [Kaaps] waarin hulle aanbid, sing en emosioneel leef nie.” Dit is om etniese en politieke redes dat Le Cordeur emosionele snare soos benadeling en aanbidding aanroer. Hy verduidelik nie waarom bruin skoolkinders naas swak leesprestasie ook in bv wiskunde swak vaar nie. Le Cordeur maak van Standaardafrikaans ‘n slaansak.

“Volgens Le Cordeur moet kinders op skool toegelaat word om hulself uit te druk in die taal wat hulle praat.” Maar is skoolonderrig nie juis daar om, onder andere, reg te stel wat kinders verkeerd doen nie? As Le Cordeur, ‘n opvoedkundige, konsekwent wil wees, moet hy ook pleit dat skoliere voort moet kan gaan met die geradbraakte Engels wat hulle praat. Klaarblyklik heg die huidige voorsitter van die ATR meer waarde aan korrekte Engels as korrekte (dus Standaard-) Afrikaans. “Hy het gesê Kaaps moet erkenning kry as ‘n variëteit van Afrikaans. Volgens hom moet daar meer debatte gevoer word om dié taal te bevorder” (Die Burger, 4 deser, p 8).

Kaaps is ‘n mengeltaal bestaande uit Afrikaanse, Engelse en eiesoortige woorde, uitdrukkings en sinskonstruksies. Kaaps kan nie sonder kennis van sowel Afrikaans as Engels verstaan word nie. In hierdie sin is Kaaps ‘n variëteit van sowel Afrikaans as Engels. Die bestaan van hierdie mengeltaal word nie ontken nie. Wat wel bevraagteken moet word, is die wysheid van Le Cordeur se oproep dat Kaaps as ‘n taal uit eie reg erken moet word, bv as ‘n twaalfde amptelike taal. Hy verlang egter nie net erkenning vir die bestaan van hierdie taalverskynsel nie, maar ook dat hierdie mengeltaal bevorder moet word.

Moet daar nie veel eerder energie aan die bevordering van Standaardafrikaans bestee word nie? Taalstandaardisering word dwarsoor die wêreld as wenslik beskou. Dit druis in teen Le Cordeur se sentimentele pleidooi vir ‘n nistaal soos Kaaps. Die kern van my beswaar is dat die koestering van Kaaps die oordondering van alle variëteite van Afrikaans deur Engels bevorder. Daar is geen moontlikheid dat Kaaps die voortbestaan van respektabele (of soos ons voorheen toegelaat is om te sê: algemeen-beskaafde) Afrikaans kan bevorder nie. Die bestaan van talle variëteite van Afrikaans kan maar erken en as spreektale geduld en selfs aanvaar word. Maar slegs in die vorm van die grootste moontlike eenheid is ‘n taal kragtig en het dit op die langtermyn ‘n toekoms. In die konteks van Afrikaans is Standaardafrikaans daardie verlangde eenheid.

Standaardafrikaans moet daarom as sowel spreek- as skryftaal bevorder word. Dit is voor die hand liggend dat dit is wat die ATR, insluitende sy voorsitter, behoort te doen. Die probleem is dat ‘n tradisie in die ATR geskep is waarvolgens dit eerder ‘n versoeningsraad, dus ‘n politieke liggaam, en ‘n meertaligheidsraad, as ‘n taalraad ten bate van Afrikaans is. Dit is die nalatenskap van die vorige ATR-voorsitter, Wannie Carstens (Praag 17 Maart). Deur te pleit vir die bevordering van ‘n mengeltaal ten koste van ‘n blink toekoms vir respektabele (dus Standaard-) Afrikaans, bevestig Le Cordeur dat die ATR nie daarop ingestel is om ‘n doeltreffende Afrikaanse Taalraad te wees nie.

As die ATR hom vorentoe wil laat geld as ‘n pleitsbesorger vir Afrikaans sal die meerderheid raadslede die moed van hulle oortuiging moet hê om ondubbelsinnig kant teen Kaaps en vir Standaardafrikaans te kies. Eers dan sal die ATR kan begin om leiding teen die huidige mode van taalverbastering (die gebruik van onnodige Engelse woorde in Afrikaanse spreek- en skryftaal) te gee. Die talle Afrikaanse en Afrikaner-organisasies wat tot dusver die ATR gesteun het, behoort in hierdie verband druk uit te oefen en, indien nodig, hulle steun te onttrek en dan die ATR met ‘n doeltreffende liggaam te vervang.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.