‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter
Lees eers die volledige Bodem I.
Nou goed, kom ons kry die gereelde vrae agter die rug.
Ek het hierdie afgelope paar maande soveel keer met die pers gepraat, soveel onderhoude gevoer, selfs lesings gegee en ʼn paar praatjies by ons nuwe skole. Daar is vrae wat ek altyd gevra word, so gereeld, ek voel asof ek ʼn afdeling in my CV moet hê vir wat die rekenaargeslag “FAQ’s” genoem het – as ek ʼn CV gehad het.
Vraag Een is maklik. Nee, wat ek hier onder gaan vertel, gaan nie oor my nie. Dit gaan oor hóm, daardie flambojante, verbete, verrassende persoon wat dwarsoor die land – en ʼn groot deel van die wêreld – as die Maarskalk bekendstaan. Op ʼn punt van orde hier – hý het nie dié gekies of dit aanvanklik gebruik nie, nie as rang, bynaam of naam nie. Dit was ʼn mediaskepping. Julle weet mos hoe werk dit – ʼn verslaggewer gebruik dit eenkeer uit inspirasie of blote geluk, en in hierdie geval was dit nie ʼn verslaggewer nie, maar ʼn verslaggeefster. (“Dank Vader,” kan ek hom hoor sê. “Ons kan die ou geslagsname afstof en weer gebruik. Sekretaresse, bibliotekaresse, voorsitster, verslaggeefster. Nou dat Politieke Korrektheid ʼn politieke ongeval geword het.”)
Natuurlik het sy dit ironies bedoel, selfs sarkasties en spottend. Die Maarskalk. Dit het vinnig algemene gebruik geword, maar sy vyande het opgehou spot daaroor en sy bondgenote het hom dit met opregtheid genoem. Naderhand het hy dit self begin gebruik, so in die derde persoon na homself verwys: “Die Maarskalk moet nog dink daaroor. Die Maarskalk reken dit sal werk. Die Maarskalk moet na die mense luister.”
Hy het wél vir homself die rang van kommandant toegeken: “Hoekom kommandant, Jood?” het hy vir my verduidelik. “Want dis nommerpas. Kaptein is meer heldhaftig, dink jy nie, maar te junior. Brigadier kon gewerk het, maar Generaal is te verhewe. En Kommandant is so vreeslik, onmiskenbaar, ongeërg Afrikaans. As die Engelse ‘commandant’ gebruik, is dit omtrent altyd in ʼn vaste verbinding: Camp commandant, en daarmee bedoel hulle omtrent sonder uitsondering ʼn Nazi-konsentrasiekampbevelvoerder. So in Engels is ‘kommandant’ ʼn tikkie onheilspellend. En dit is ook goed so, reken jy nie?”
Later het ek hom, van Aand Een af, nooit as enige iets anders as “Kommandant” aangespreek nie. Ek het hom wel voorheen sosiaal geken en hom op sy voornaam genoem. Joachim. Hans-Joachim Marseilles Bekker. Ek weet daar is van julle militêrhistoriese feiteversamelaars, veral dié wat lugoorloggeskiedenis bestudeer, wat nou frons en aandag gee. So, wat is die verband tussen Joachim Bekker en die Luftwaffe-legende wie se name hy het? Was sy pa ʼn Suid-Afrikaanse vlieënier wat deur Marseilles in Noord-Afrika afgeskiet is? Of is hy, soos daar al wild bespiegel is, die seun van ʼn kameraad van dié uitspattige ‘Expert?’” (En asseblief, as jy die woord lees, spreek dit tog nie in Engels uit nie; nie “êk-spirt” nie, maar soos in Duits, “Ek-spert” om te rym met “hek” en “stert.” Die Maarskalk sou daarop aangedring het.) Wel, kom ek vertel julle die volle waarheid:… ek weet nie. Julle kan maar bespiegel. Dit staan julle vry. Dit sal die mite laat groei, iets wat die Maarskalk sou aangemoedig het. Ek is die een wat die feite ongeskonde wil bewaar.
Dit is ook so dat ek en hy ʼn voornaam deel – soort van. Ek is Joachem en hy is Joachim.
“Joune is die Jiddiesje spelling,” het hy my geterg die eerste aand wat ons ontmoet het. Daarna het hy my “Jood” en net “Jood” genoem, behalwe wanneer hy my voor ander mense op my rang (wat hyself aan my toegeken het) sou aanspreek.
Ons het drie jaar voor Aand Een ontmoet, in ʼn restaurant in Tamboerskloof tydens ʼn maandelikse byeenkoms van die Kaapse Operaluisteraarsklub. Voorname was nie al wat ons gedeel het nie. Joachim het sy voorliefde vir opera by sy ma, ʼn ietwat bekende colaratura-sopraan van die pre-Mimi Coertze-era, verkry. My verskoning het te doen met ʼn meisie wat kunssinnige pretensies gehad het. Sy is lankal heen – waarskynlik heeltemal so, vir al wat ek weet – maar die operaliefde het gebly.
Ek glo eerlikwaar nie ek sou weer ʼn byeenkoms van KOLK (soos hy, en toe natuurlik ek ook, die klub deurgaans tot die tandknersende frustrasie van die Engelssprekendes en ʼn paar van die ander genoem het) bygewoon het as dit nie vir hom was nie. Ek het ʼn renons in aanstellerigheid en snobisme, en glo my, as jy aanstellerige snobs gesoek het, was die Kaapse operakringe die plek vir jou. Gou het ek geleer dat niemand ʼn snob se eiewaardering so kan prik soos Joachim Bekker nie.
O, dis nie dat hy nie self kon “snobeer” soos hy dit genoem het nie. Hy het die rites en spraak van die algemene snob so goed geken, dat hy dit moeiteloos kon naboots. Dit was egter juis dít: ʼn Nabootsing. ʼn Vertoning. Omdat hy ʼn mislukte TV- en filmakteur was, vergeet mense watter uitmuntende toneelspeler hy werklik was. Voorts was daar nooit by hom enige aansitterigheid of klatergoue aanwendsels as dit oor die dinge waaroor hy werklik hartstogtelik was, gegaan het nie. Opera was een van dié klein versameling sake.
Hy het ʼn ensiklopediese kennis daaroor gehad en het dit verbind met die ywer van ʼn seloot en die gewilligheid om selfs die onbenulligste minutiae eindeloos te betwis. Dink ek nou daaraan, dan besef ek dat hierdie toegespitsheid op die fynste besonderheid die eienskap is wat briljante bevelvoerders van die bloot bekwame onderskei.
Ek onthou dat ʼn musiekdosent eendag by KOLK ʼn opname van Maria Callas wat “Il dolce suono,” die waansinstoneel uit Donizetti se “Lucia di Lammermoor” gespeel het en dit as haar 1953-opname beskryf het.
“1953!” het hy losgebreek. “1953 sʼn is dit nie. Dis haar 1959-opname.”
Dit het ʼn gezoem in die snobbyekorf veroorsaak. Hierdie was nie ʼn blote terloopse operaluisteraar wat dit aangebied het nie. ʼn Dosent! Met 40 jaar se ondervinding aan die universiteit! Wat as jongman ʼn onderhoud met Maria Callas, met La Divina self, vir die BBC se tydskrif gevoer het.
“’59,” het hy volgehou.
Daar was by die res konsensus dat hy verkeerd moes wees, en al was hy reg, kan ons dit nie maar daar los en ter wille van decorum net aangaan nie?
Maar nee. Die saak moes nagevors word. Hoekom? Want dit is opera en as dit by opera kom, is reg, reg, en verkeerd, verkeerd.
Natuurlik was hy reg. Hulle moes geweet het.
My eerste aand was die soort sosiale foltering wat massamoord sou regverdig. Ek het, pas nadat ek uit die VSA in die Kaap opgedaag het, op hulle webblad afgekom en kennis geneem van hulle byeenkomste waarheen Jan en Alleman uitgenooi is. Ek het eers agterna uitgevind dat die etiket eintlik vereis dat ek deur ʼn erkende lid vergesel sou wees. Dié was ek nie en ek het met my bruingebrande gesig en ruwe hande tussen al die sawwe wit velle uitgestaan in die klein Italiaanse restaurant met die kersligte op geruite tafeldoeke en Teatro alla Scala-plakkate teen die muur.
Na die gebruiklike flou openingsgrappies en aankondigings, het die klub se voorsitter, ʼn Soutie met pienk tandvleis en ʼn skerp adamsappel in ʼn reiernek se oog van agter sy skilferbespikkelde brillense op my geval en is ek gevra om myself voor te stel.
Duidelik was die blote verskaffing van my naam nie genoeg nie. Waar kom ek vandaan? Wel, oorspronklik Odendaalsrus. Stilte. Mens sou sweer ek het ʼn wind tydens stilgebed gelos. Nering? Stoeiafrigter. Die stilswyende afgryse sou straks nie so erg gewees het as hulle my betrap het dat ek omgang met Tutu se troetelskilpad gehad het nie. Voeg ek boonop lamlendig by dat ek vir die Westelike Provinsie Rugbyunie werk. Joggie. Van Odendaalsrus. Wat voetbalspelers leer stoei. Weet ek wat gebeur by ʼn operaklub? Hoe verlig was ek nie dat ek geswyg het oor my deeltydse werk as visnettrekker by Smitswinkelbaai en my vorige loopbaan as deelnemer aan Wisselgevegskuns. Die gedagte aan ʼn hokvegter sou vir hulle te veel gewees het.
Toe praat hy van die deur af: “Wonderlik! Uiteindelik iemand met ʼn regte werk onder ons.”
Hy het teen die deur se kosyn geleun, smeulende sigaar en kristalglas brandewyn in dieselfde hand. Dit was sy posisie: Die oop deur, in reën of koue, sodat hy darem kan voorgee dat hy hom aan die drakoniese rookreëls steur.
Mediumlengte, mediumliggaamsbou, grys borselkop, presies gekapte potloodsnorretjie, luiwakker blou oë. En ʼn verstand so rats soos ʼn klipspringer, so skerp soos ʼn skoenmaker se els, so vol fasette soos ʼn kroondiamant. Hy was die enigste wat ʼn pak klere aangehad het, ʼn gekreukelde donkerbloue met effens uitgerafelde baadjiemoupunte en ʼn broek met nou pype.
Terwyl hulle nog in verbystering is oor die Goudveldse stoeier in hulle midde, steek hy ʼn impromptu lesing af oor stoeiers, van die antieke Grieke deur tot by DH Lawrence se “Women in Love”, volledig met ʼn aanbod om Alan Bates en Oliver Reed se naaktoneel uit die rolprentweergawe vir hulle te demonstreer. Stoei het nog nooit so glansryk geklink nie; edeler as hartsjirurgie, manhaftiger as stiergevegte.
Dít was natuurlik sy gawe, sover meeste mense hom opgesom het: Sy vermoë om te praat, met ʼn manlike beslistheid as hy feite verskaf en ʼn melodieuse vloed van woorde, frases, aanhalings en sameflansings wanneer hy probeer oortuig.
Met my eer herwin, en indien nie, my ego darem salfgesmeer, het ek tog gebly en nie lank na pouse nie, het ek teen die ander kosyn geleun, bier in die hand – en een van sy cubanos.
So, julle wil weet: Wat was die aard van die vriendskap tussen ons?
Ons was goeie vriende, ja, maar hoofsaaklik omdat ek nog altyd ʼn waardering gehad het vir iemand by wie ek iets kan leer, en Hans-Joachim Marseilles Bekker was ʼn uitmuntende mentor. Tog het ons mekaar selde buite die KOLK-verband gesien. Ek het hom sonder om te skroom nageboots en daaropvolgende vergaderings in ʼn verslete pak klere bygewoon, sy sigare by die deur gerook en met groot drif enige iemand wat ʼn skewe woord oor Maria Callas geopper het, beveg. Callas was toe effens passé en ons het bloedige gevegte met die ander gehad. Hy het my ook geleer dat die ware vreugde eers kom wanneer die ander die toneel ontruim, want dan sluit die Italianer sy deure en dan kuier ons en Luigi Vaccaro behoorlik rondom vino en groot Italiaanse opera.
Opera. Wyn. Brandewyn. Sigare. Goed, so julle wil weet.
Daar is baie gewag gemaak van die Maarskalk se drankgewoontes. Kom ons kry dit uit die pad uit. Nee, hy was nooit ʼn alkoholis nie, nie eers ʼn strawwe drinker nie. Maar ja, drank was by geleentheid sy nemesis en dan het hy doelgerig en hard gedrink en niemand moes dit waag om tussen hom en die bottel te kom nie. Brandewyn, skoon. “Soos hy van sy ma af gekom het,” het hy dit gestel. Moontlik wás daar tye wat hy roekeloos gedrink het toe ons dit die minste nodig gehad het. Ons het dit vir hom gegun.
Nee, sy sigare was nie ʼn Churchill-Patton-tipe aanwendsel nie. Hy het nooit een uit gewoonte vasgebyt nie. Hy was eerder ʼn geleentheidsroker. Wanneer hy opera geluister het. Wanneer hy ʼn volgende skuif bepeins het. Ja, dit is so, een van ons tameletjies was om vir hom sigare te midde van die Chaos op te spoor. Ons het dit ook graag gedoen. Roberta was veral goed daarmee.
Goed, ek het die naam genoem, so kom ons praat oor die Maarskalk en vroue. Hy kan vir niemand as ʼn voorbeeld dien nie en het dit geweet en ek dink hy sou dit anders wou hê. Genieë moet ook swakhede hê. Sy swakheid was nie soseer dat hy van vroue gehou het nie, maar dat hy vir so baie van hulle onweerstaanbaar was. Ek het nie ʼn verklaring daarvoor nie. Dis net hoe dit was. Ek het die verskynsel genoeg gesien. Selfs die mees gereserveerde vrou kon binne minute na sy hom ontmoet het, vermurwe tot ʼn soort kerswas naby ʼn baie warm vuur. Ek dink nie hy wou hulle ooit misbruik nie, maar hy het. Hy wou hulle nooit in die steek laat nie, maar dít het hy ook. Meeste van hulle het vriende met hom gebly, vol hoop vir ʼn tweede kans. Hulle het selfs mekaar aanvaar, ʼn soort van ʼn ons-het-Joachim-Bekker-oorleef-klub. Hy was wat, vier keer, vyf keer getroud?
“Ek was net nooit ʼn suksesvolle eggenoot nie,” het hy eenkeer vir my verduidelik. “Ek wou dit wees, meer graag as enige iets anders. Maar ek was nooit nie. Dis nie hulle skuld nie. Hulle het nie, nie een van hulle nie, verstaan dat daar vir my iets wag om te doen nie. Net Roberta. En Roberta…”
Die res van sy gesprek was oor ʼn onderwerp waaroor hy gereeld en diep gewonder het.
Vra nou oor die Maarskalk en sy bewustheid van sy plek in geskiedenis.
“Dit is so, Jood,” het hy gesê. “Soms word ʼn man gemaak vir sy tyd, vir ʼn geleentheid, ʼn gebeurtenis. Sy hele lewe sal hy niks suksesvols doen nie, tot dié tyd opdaag en dan is dit skielik of hy vir die eerste keer in die wêreld inpas. Keisers, konings, ridders, kardinale het deur die millennia dit aangevoel. Maar veral generaals.”
Soos Patton wat sy lewe sou slyt as kolonel in ʼn vredestydweermag totdat die Tweede Wêreldoorlog hom as die VSA se mees effektiewe soldaat uitgesonder het. Of sy voorganger, William Tecumseh Sherman, wat ʼn vredestydmislukking was as bankier en prokureur totdat die Amerikaanse Burgeroorlog uitgebreek en hom deel van die geskiedenis gemaak het; of sý groot vriend, Ulysses S. Grant wat tooms en saals vir sy broer se leerlooiery verkoop het nadat sy gesin amper ʼn hongerdood gesterf het; voordat hy Lincoln se generaal geword het en die legendariese Robert E. Lee tot ʼn stilstand baklei het.
Maar nie net generaals ervaar hierdie verheffing op die kruin van ʼn aardkorsgolf onder hulle nie. Oskar Schindler was verstommend suksesvol, nie net as sakeman nie, maar ook as redder van Jode in Pole – maar dít net vir die paar jaar van die oorlog.
Ons eie Piet Retief was so skouspelagtig mislukkend in alles wat hy aangepak het, dat hy eintlik nie ʼn ander keuse gehad het as om te trek nie. Hy het herhaaldelik bankrot gespeel, al sy geld verkwis, en nie net syne nie. Toe skryf hy sy beroemde manifes en sterf ʼn marteldood wat die beslag van die Boerevolk gevorm het.
Gewone manne is vir gewone tye; helde vir buitengewone eras. En wanneer buitengewone tye gewone eras baar, vervaag die helde uit ons oog totdat net die afdrukke van hulle legendes en mites oorbly. Ons leef nie in gewone tye nie, nóg nie, maar as dit uiteindelik aanbreek, laat niemand die Maarskalk se naam vergeet nie.
Ja, volgens alle maatstawwe was hy ten beste soort van suksesvol, somtyds, maar meestal was hy ʼn volslae mislukking. Hy het nooit sy dramakursus op universiteit voltooi nie, het by die destydse SAW se staandemag aangesluit, maar het net gevorder tot stafsersant in die spysenierskorps, het daarna sy merk in die TV-en-filmwêreld as akteur probeer maak, maar die hoogtepunt daarin was ʼn reeks advertensies vir motorsmeermiddels, het daarna gewerk as bibliotekaris, museumkurator, toerleier, gastehuisbestuurder, en was nooit vaardig in een van sy werke nie.
Toe ek hom ontmoet het, was hy werkloos, om die waarheid te sê, onderhou deur ʼn karige toelaag van een van sy eks-vroue. Hy was ʼn lid van die MOTH-klub in Milnerton en daar het hy die bestuur omgepraat dat hulle hom toegelaat het om ʼn ou pantserkar vir hulle te restoureer, of laat restoureer. Hy het die pantserkar verwyder, die geld wat hulle ingesamel het, getrek en verder het daar niks van die projek gekom nie. Uiteindelik het hulle alle geduld met hom verloor en ʼn hofgeding teen hom aanhangig gemaak. Dit het hom min getraak; ek was verbaas oor hoe min. Nou verstaan ek. Hy het geglo, so vas geglo dat dit meer ʼn wete as geloof was, dat hy nie bestem was om aan die pen te ry weens die iesegrimmigheid van ʼn paar afgeleefde soldate nie. Hy was uitverkies en geroep vir iets oneindig groter in omvang en belang as dit.
Geglo. Geweet.
En toe kom die Chaos.
(Lees vervolgens Bodem boek II, 2.)

Wie weet – wie die skrywer hier van praat?
As iemand nie Gustav se werk lees nie mis hy/sy uit op n unieke belewenis .
Wat n interessante inval .
Betzie stem saam – baie interessante inval maar verseker nie sonder voorafbedagte rade nie. Gustav is n skrywer wat met enige ou se kop kan smokkel!
Ek dink hy stel ‘n nuwe karakter voor, Riempies.
Willem jy mag reg wees – want hierdie Gustav is vol onvoorspelbare verrassings – dit is juis hierdie onvoorspelbaarheid wat sy verhaal so boeiend maak – ek dink
weer dat hy iemand – wat ek dadelik met sy vertelling geassosieer het se agtergrond gee, maar hoekom? Dit kan n ou net raai en met Gustav se raak raai van ons reaksies – sal mens nooit verseker weet nie. 😉
“Cometh the hour, cometh the man” lui die Ingilse spreekwoord. Welkom terug Gustav. Jou uur het ook aangebreek en die imprimatur is afgekondig. Doet zo voort.