Bodem boek II, 2: Die godeskemer

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Lees eers Bodem boek II, 1.

Die aand wat ons vir ʼn laaste keer by Luigi se Le Amici bymekaar gekom het om te kyk hoe die wêreld vergaan, het Joachim Bekker vir ons vermaak met ʼn toespraak oor ʼn kondoom met swakplekke.

Daar was twaalf van ons in die klein restaurant: Ek, agt verskrikte liberale Kapenaars wat verskrik en verstom in geskokte ontkenning voor die einde van hulle lewens soos hulle dit geken het gesit en staar het, Joachim Bekker en sy nuwe skaduwee, Dennis, ʼn muis van ʼn man, in voorkoms en ook in die vinnige, senuweeagtige manier waarmee hy ʼn stel radio’s in ʼn aluminiumkoffer beheer het.

Ons het eers in die restaurant gesit. Daar was geen spyskaart nie. Ons het geëet wat Luigi voorgesit het – pasta met basiliekruidpesto, varsgebakte ciabatta met pecorino-kaas en ʼn groenslaai. Van vleis was daar nie sprake nie, maar niemand  het eers ʼn opmerking daaroor gemaak nie. Daar was goeie, donker rooiwyn en daarna drank na keuse en sigare vir Joachim, Dennis en my. (Dennis het agterdogtig gesuig-suig aan syne, asof hy onseker was oor wat die voorkant is.)

Niemand het ʼn opera en ʼn praatjie daaroor vir die aand voorberei nie en daar is bietjie gekibbel oor die fokuswerk van die aand. Joachim het Wagner se Götterdämmerung voorgestel. Joachim se persoonlike fortuin het oor die laaste nege weke soos ʼn vuurpyl opgeskiet en hy was dié aand geklee in volle operagangermondering – aandbaadjie, spierwit hemp, silwer mansjetknope, diepglansende swart, handgestikte skoene; ja, ʼn regte steenkoolkleurige kuil ook, en, van alle dinge, ʼn enkeloogglas aan ʼn koord vanuit ʼn binnesak van sy baadjie. Suid-Afrika ken nie Halloween nie, maar ek was lank genoeg in die Verenigde State en ek het vir hom volpunte gegee.

“Skemering van die gode,” het Joachim gesê en gepof-pof-pof aan sy sigaar om dit egalig aan die brand te kry. ʼn Rookverbod was duidelik onder die omstandighede nie meer van krag nie. “ʼn Aand soos hierdie kom een keer in ʼn eeu, as jy gelukkig – of ongelukkig – is. Dit vra vir Wagner. Kom ons doen dit reg.”

Daar was onmiddellike, ontstelde teenkanting. Duidelik was daar min  begeerte aan liberale kant om die Einde te begelei met die sombere heldhaftigheid van Wagner se verloregaande Teutone. Dit was Joachim, ek en Dennis teen die res (en Dennis kon nie sy Götterdammerung van sy Gods must be crazy onderskei nie.) In sekere kringe het demokrasie nog iets beteken en Wagner sou moes wag. Puccini in enige van sy opusse is oorweeg en te lig bevind. Hierdie was kennelik nie die geleentheid vir verismostroperigheid nie. Die aand het uitgeroep vir sterk, kordaat, emosioneel oordadige romantisisme en uiteindelik kon ons almal saamstem dat dit slegs deur Giuseppi Verdi beantwoord kon word.

“Dan moet dit La Forza wees,” het Joachim gebrom, nog duidelik ontevrede oor die koue skouer wat Wagner gekry het.

So is hy dan La Forza del Destino gegun, en ek dink hy was tevrede dat die titel, Die Mag van die Noodlot, darem die oomblik sou onderstreep. Die oomblik wat die spesifieke opname gekies is, het hy eers weer gefrons.

“Is julle ernstig?” het hy gevra. “Muti? Hoe brutaal is sy hantering van die leitmotif nie wanneer Leonora sterf. Dan eerder Serafin.

Koor van verontwaardiging. Tullio Serafin! Werkesel in diens van sy sangers.

“Maar darem subtiel!”

Natuurlik sing Callas in die Serafin-opname saam met die majestueuse Carlo Tagliabue.

Die libs wou nie skiet gee nie en Joachim was toenemend verontwaardig.

“Domingo is die grootste van die Drie Tenore, maar hoe groot is die Drie Tenore? En Zancanaro? Hy is ʼn sakkie vol sangfoefies, dis al.”

Maar Riccardo Muti was die aangewese dirigent. Joachim het ooglopend gesit en pruil, al peuterende op sy iPod Quantum, bene voor hom uitgestrek by die ronde tafeltjie wat ek, hy, Dennis en die radio’s in die aluminiumtas gedeel het. Dennis, wat die verskeie radio’s deur oorfone gemonitor het, het gereeld ʼn bygewerkte nuusitem aan Joachim gefluister en dié het die nuus met ʼn kopknik en ʼn frons verwerk.

Waar hy vir Dennis gekry, was nie duidelik nie, maar die middeljarige elektroniese tegnikus het kommunikasietegnologie goed verstaan en het in daardie tas ʼn verskeidenheid toestelle versamel om die metropolisie, die weermag en Executive Protection Systems se bulletins mee af te luister.

Luigi het die opname op ʼn geheuestokkie gevind en die klankstelsel aangeskakel. Die ouverture van Die Mag van die Noodlot is die bekendste deel van die opera, en met reg ook. Dit begin met ʼn gejaagde tema, note wat so galop soos die hartklop van ʼn uitasem mens  en dan dwarrel dit weg in ʼn melodieuse sug. Muti se dirigentestok bied dit egter bruusk aan, vol musikale saaklikheid, asof vir die klankbaan van robotte in ʼn mars.

Joachim het skaars tot na die ouverture gehou voor hy eensklaps op sy voete gekom het, sy balieglas Cognac gevat het, sy sigaar tussen sy tande vasgebyt het en na buite is waar ek, Dennis en die tas kort daarna by hom aangesluit het. Die restaurant het ʼn ronde stoep gehad met ʼn uitsig teen die hange van die bergvoet af oor die stad.

Kaap Mandela, soos dit nou bekend gestaan het, was vreemd op die oog, donker, met min elektrisiteit wat net ʼn paar straatligte laat brand en alle geboue sonder beligting gelaat het. Pantserkarre kruip in behoedsame tweetalle kruis-en-dwars deur die middestad se strate en tas in donker hoekies met skerp kolligte.

Aan die Oostekant, van Hani- (De Waal)- rylaan se kant af, was die protesrumoer ʼn druising, ʼn mensgemaakte see van dreigende stemme gepunktueer deur vermanings oor megafone. Tussendeur is daar die geklop van rookgranate en geweervuur.

Die stryd vir Kaap Mandela het nou al weke lank geduur. Die stadsregering het hulle spaarvarkie beroof en driekwart van hulle begroting oorgemaak aan EPS, ʼn sekerheidsmaatskappy, wat inderwaarheid deur niemand as enige iets anders as ʼn privaatweermag beskou word nie. Die Amerikaanse eienaar daarvan, Derek Regent, ʼn geheimsinnige, berugte figuur, het ʼn aksieplan vir die stad, bekend as Die Regent-plan, opgetrek.

Daarvolgens is sleutelinstellings soos die hawe, die lughawe en Koeberg-kragsentrale beveilig. Toegangsbeheer is ingestel en die ingangsroetes tot die stad verseël. Voorstede is in sones verdeel en beheer, onder andere met ʼn aandklokreël. ʼn EPS-direkteur, Ferdinand Lemat, is as “koördineerder” aangestel om die stad saam met die burgermeester en Wes-Kaapse premier te administreer.

Vir ʼn paar maande nadat die Chaos in die Noorde, Ooste en sentrale dele van die land ontvlam het, het dit gelyk of Kaap Mandela die goue sleutel tot oorlewing gevind het. Die hewige onluste aan die ooste van die stad is aan perke gelê en die Kaapse vlakte afgekordon.

Die stad is van bates gestroop en internasionaal van die hand gesit vir Egoldex, die goudgesteunde vermenigvuldingsmunt wat in wese die nuwe internasionale reserwegeldeenheid geword het en vanuit Reikjavik, Ysland beheer word. Dit is gebruik om EPS mee te vergoed.

Vir ʼn vreemde, idilliese tydperk was Kaap Mandela gevul met ʼn frenetiese opgewondenheid en ʼn selfvoldane vertroue.

Die onrus het egter soos ʼn ontembare plaag gegroei en die omtrekke van die weerstand gaandeweg saamgepers. Die opstandelinge het met nuwe taktieke geëksperimenteer en hulle het uiteindelik ʼn intimiderende wenstrategie ontwerp: Hulle het eenvoudig nie weggegaan nie. Aanvanklik het hulle vanuit die Gugulethu-Langa-Nyanga-Khyalitsha-Kruispad-kompleks tot by die weerstandspunt op die N2 gestroom vir ʼn hewige konfrontasie met die oorblywende weermagelemente, die Metropolisie en EPS-afdelings. Ná die dag se slag sou hulle onttrek, hulleself weer opsweep, die stang vasbyt en tot die stryd terugkeer. Hulle is telkens teruggedryf met al hoe hewiger teenmaatreëls, totdat hulle eendag eenvoudig  nie teruggetrek het nie.

Hulle is met stringe busse, taxi’s en vragmotors aangery tot ʼn paar kilometer van die stad af. Die geveg is aangeknoop, maar die voertuie het onttrek en die groot skare net daar gelos. Die oproeriges is verhoed om te retireer deur gewapende faksies aan hulle rugkant. Hulle getalle is voortdurend aangevul deur ʼn vloed van gewillige en onwillige swart inwoners wat van die dorpsgebiede aangejaag is.

Die beskermingsmagte is genoop om hulle afdelings uit die omliggende voorstede te onttrek om die vloed te probeer vertraag. Dié desperate reëling was net tydelik doeltreffend en die walle wat die magte gegooi het, is stelselmatig uitgekalwe en hulle is teruggestoot, meters op ʼn slag, soms meer, en elke sentimeter wat hulle prysgegee het, is onomkeerbaar opgevul deur ʼn gety van swart, tierende lywe.

Drie weke tevore is die bevel gegee en EPS het die magte onttrek en om die middestad gekonsolideer en die N1 sover as Durbanville oopgehou. Die roete by Constantianek is toegestop, maar die Suidelike voorstede is weerloos gelaat en die swart gety het van Mowbray tot Plumstead deurgespoel en ombeweeg tot by die versperrings oos van die Middestad op Chris Hani-rylaan.

EPS het Chapman’s Piek-rylaan beveilig en Houtbaai afgesonder.

Die swart gety was nou net buite die stad en het elke potensiële bres onder druk geplaas.

In die middestad het die besef uiteindelik ingesak: Dis net ʼn vraagstuk van tyd.

Buite Le Amici sit ons onder ʼn sambreel. Die ligte bries waai koel druppelmuggies teen ons vas. In die halflig gloei die punt van Joachim se sigaar helder oranje. Hy neurie onderlangs en ek herken dit as Siegfried se Dodemars uit Götterdämmerung, nie ʼn maklike deuntjie om te fluit of te neurie nie. Hans-Joachim Marseilles Bekker is nog glad nie tevrede met die aand se operakeuse nie.

Agter ons kom die ander een-een en in paartjies uitgedrentel en hulle sluit by ons aan. In die restaurant, vanuit die musiekstelsel, word minnaars uitmekaar gedryf deur ʼn noodlottige ongeluk.

“Noodlot,” sê Joachim onderlangs en dis asof hy die woord in sy mond omdraai om die geur daarvan te bestudeer. “Destino. Schicksal. Noodlot.

Van die Ooste af is daar nou knalle en ontploffings.

“Die Yankee Juveniles,” sê Dennis. Sy oë is toegeknyp in konsentrasie en sy vingerpunte hou ʼn oorfoontjie in die regteroor. “By Woodstock. EPS klink in ʼn paniek.”

“A,” sê Joachim, “daardie instelling, so ryk aan tradisie, so deurdronge met kultuur, die Kaapse kleurlingbende, maak ʼn verskyning. Nooit betyds nie en nooit te laat nie.”

“Kom kyk, liewe mense,” sê hy dan hardop, joviaal. “Hier is iets wat julle nie weer sal sien nie.”

Hy wuif vir die ander om sitplekke in te neem en beduie met sy hand oor die stad.

“Kom kyk hoe sterf ʼn stad.”

Hy beduie na die baai waar ʼn dosyn skepe ʼn behoedsame afstand van die dokke af lê met ligte aan.

“Daar, net daar het drie skepies aangekom. Drommedaris, Reijger en De Goede Hoop.

Ja, hoe mooi was dit nie? Hoe mooi. En hoe anders moes dit nie gewees het nie!”

“Die Mag van die Noodlot,” sê iemand in ʼn sagte oumanstem. “Ons is magteloos daarteen.”

Operaliefhebbers, net soos diktators, is meesters van simboliek.

“Götterdämmerung,” sê Joachim Bekker.

(Lees vervolgens Bodem boek II, 3.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.