Bodem boek II, 3: Die vaarwel

Deel op

bodemII‘n vervolgverhaal deur Gustav Venter

Bodem I is reeds volledig.

Lees eers Bodem boek II, 2.

Die nag was soos ʼn digte, swart gordyn wat die geluide van geweld en verwoesting gedemp het, soos die geluide van ʼn skreeustryery in ʼn ander kamer.

Die res van die geselskap het op die stoep op regop krulmetaalstoele by ronde pyp-en-glastafeltjies onder restaurantsambrele kom sit. Meneer en Mevrou Lafferty het aan die linkerkant gesit, hy oud en wit van vloeiende hare, sy tengerig en diep beplooi, hulle hande op sy skoot ineen, vingers deurvleg. Middeljarige Terrence in ontwerperswindbreker en duuretiketjeans het sy stoel tot agter sy Gerhardus sʼn geskuif en sy arms beskermend om die bewende en sporadies snikkende jongman gesit en in ʼn lae stem gerusstellings geneurie wat hyself nie geglo het nie. Micki Nielson, klein en kurweryk met die diepdimpelgrinnik en die groot donker oë in die vierkantige gesiggie wat by oogbank en kakebeen gerond is, het op ʼn tafel gesit met haar voetjies in satynaanglippertjies op die rugleuning van ʼn stoel en met haar arms omhelsend om haar knieë. Nog paartjies, enkele vriende, ʼn besprenkeling enkelinge.

Eintlik moes ons lankal daar weg gewees het, en ons het dit besef, maar was onwillig om van mekaar af weg te gaan. Terwyl ons daar bymekaar was, kon ons onsself toewikkel in die oorblyfsels van ons leefstyl, in die omarming van ʼn beskawing van sekerheid, orde en mooi dinge. Ons het geweet dit is ons laaste aan bymekaar, die finale byeenkoms van KOLK, en ons almal het vermoed dat daar vir elkeen van ons ʼn koue, harde, verwarrende plek wag waar ons sou terugdink aan ons eet en luister en redekawel en die herinnering sou te swaar wees om te dra.

Ons was stil, soos ʼn minnaar wat langs sy geliefde se bed waak en stilbly terwyl hy luister vir die ontsnapping van daardie laaste, laaste asem.

Hans-Joachim Marseilles Bekker het kop na onder gestaar na die digitale musiekstokkie in sy hand en die gloed van die klein skermpie het ʼn dowwe wasblou glans teen sy gesig gekaats. Meteens het hy net gemompel, “Muti!”, opgestaan en in die restaurant ingegaan. Die Verdi het midde-akkoord stil geword en na ʼn stilte pols die ouverture weer deur die nag.

Joachim het teruggekeer en die vraag wat niemand hardop gevra het nie geantwoord:

“Julle wou Muti luister, nou luister ons Muti.”

“Maar ons het al…” het Sheila Baxter begin.

“Muti!” het Joachim gesê. “Luister.”

Sheila het in haar skraal, streng self teruggetrek. Sy was nie ʼn Joachim-aanhanger nie, hoewel daar ʼn tyd was, voor ek KOLK begin bywoon het, wat die onderhandelinge tussen hulle reeds ver gevorder was in die rigting van ʼn verhouding. Het sy uiteindelik vasgeskop of het Joachim haar nooit die kans gegee om dit te doen nie? Ek weet nie, maar sy was daarna uit verstek teen hom en enige van sy idees gekeer.

Die ouverture kom uitasem tot ʼn einde, maar begin weer. Dié keer is dit egter anders. Dit is nie so opdringerig as voorheen nie, die buitelyne daarvan nie so skerp getrek nie, minder saaklik asof dit ʼn emosie eerder as ʼn stel feite beskryf.

“Tullio Serafin,” het Joachim sag gesê.

Die laaste note het weggedryf soos as op die wind en toe begin die ouverture weer.

Die musiek is dié keer vol flits en kleur, ʼn storm van musikale emosie, ʼn volkleur interpretasie van innerlike stormweer.

“Georg Solti,” het Joachim sag gesê.

Terwyl dit opgewerk het na ʼn ontstelde einde, het hy opgemerk: “Muti? Muti was ʼn musikale swendelaar. Hy het altyd aan homself gedink as die nuwe Toscanini. Maar hoekom dan na hom luister? Hoekom die nabootsing verdra as die oorspronklike tot ons beskikking is?”

Die ouverture het nogmaals begin, nou duidelik in ʼn ouer opname, maar die musiek was asof sonder vernis, presies en duidelik, uitgemeet en helder sodat elke ingewikkelde weefsel daarvan gehoor en geplaas kon word in ʼn aangrypende geheel.

“Ons kan KOLK nie toemaak met Muti nie,” het Joachim gesê.

Hy het by sy glas gaan sit, ʼn sigaar uit sy sak gekry, tussen voortande vasgebyt en in groot konsentrasie met ʼn silwer aansteker brandgemaak.

Die ouverture het weer begin en na ʼn bietjie oorweging het ek besef dit is die Serafin-weergawe. Dié keer het die musiek nie aan die einde van die ouverture opgehou nie en die opera het voortgegaan. Serafin. Ek het gegrinnik. Joachim het sy sin, nie sy volle sin nie, maar wel sy sin gekry. Sy weergawe. Boonop met Maria Callas as Leonora. (Ek het meer as een keer in die veld daaraan gedink, aan hoe hy dit bewimpel het om die musiek van sy keuse op ʼn aand met soveel simboliese gewig te speel. Die goeie bevelvoerder vind altyd ʼn manier om sy wil af te dwing – en dit beskryf baie van die Maarskalk.)

“Mag van die Noodlot,” het hy gesê toe die eerste staalblou sigaarrook om hom gewalm het. “Wat was dit met Verdi en die noodlot? Hy was skoon behep daarmee. Vir Verdi was die orkes nie meer net daar om te begelei nie; dit het ʼn karakter in die opera geword, die alwetende verteller te midde van die aksie.

“Luister maar net hoe die dalende akkoorde die leuen van Violetta uitklee wanneer sy sing, ‘Sempre Libera’ – altyd vry.

“‘Maar jy is nie vry nie,’ sê die orkes. ‘Madama Valery, jy is ʼn slaaf van jou herkoms, van jou eie geaardheid, van mense se verwagtinge van jou. Altyd vry? Nee, my skat. Altyd onder die juk, eerder.’

“Of Radames, selfs wanneer hy in sy verheerlikte oomblik Aida se glans beskryf – hemelse Aida! – vertel die orkes iets anders, van toekomstige en uiteindelike ellende.

“En hoekom glo ons die orkes en nie vir Violetta of Radames nie? Want die orkes is vir Verdi die woordvoerder van die noodlot en by Verdi het die noodlot die laaste sê en al wat hy vir ons as mense kan aanbeveel is om daarby te berus, meer nog, om die noodlot te respekteer.

“En nie net hy nie. Dit is die kollektiewe tema van die ganse romantiese beweging. Jy hoor dit in die golwe van Mendelsohn se Hebrides Ouverture, in Smetana se Moldau, in Beethoven, ja Beethoven, se Vyfde Simfonie. Tatata-DAM!

“Ek is so vererg as mense daarna verwys as die ‘Oorwinningsimfonie.’ Dis nooit hoe hy dit beskryf of bedoel nie. Die idee dat dit Oorwinning as tema het, kom uit die Tweede Wêreldoorlog toe die eerste akkoorde gebruik deur die BBC gebruik is vir die kenwysie van hulle oorlognuusprogramme. Drie kort akkoorde en een lange. Tatata-DAM! Kort-kort-kort-LANK. Die morsekode vir ‘V.’ V for Victory. Maar Beethoven het gesê dit beskryf die onafwendbaarheid van die noodlot. Tatata-DAM! Noodlotsimfonie.

“Dis wat hulle almal vir ons sê. Jy kan nie van die noodlot ontsnap of dit ontglip nie. As dit eers geaktiveer is, sal die noodlot sy weg met elkeen van ons hê, net so seker as wat die prys wat die ouman se vloek gehef het, deur Rigoletto betaal sou word, hoe hard hy ook al gepoog het om dit te flous.

Vb20140226
Lees Bodem I in die formaat van u keuse deur hier te klik!

“Maar hoekom die noodlot? Hoekom het dit die hooftema van die romantiek geword?

“Luister as hulle die Noodlot beskryf? Wat hoor jy? Lofprysing! Dis die liturgie van humanisme. Die Kerk se houvas is gebreek, maar dit het die Europeër onrustig gelos. Niks het hom so onseker gemaak as die gedagte dat alles wat hy bymekaar gemaak en gebou het, vernietig sou word deur sy eie arrogansie nie. Toe God in sy gemeenskaplike denke gefigureer het, was dit maklik. Hoe kan jy jouself aanmatig teenoor die Almagtige? Jy hou jouself in die regte perspektief deur Hom te loof. Beethoven sê dit in die Negende Simfonie met Schiller se woorde: ‘Bokant die sterre, móét ʼn God wees!”

“En wanneer God uit die filosofie van die tyd gerangeer word, nou ja, dan bring jy jou lof aan die Noodlot; dán kan jy jouself nie aanmatig nie. Dán vrywaar jy jouself teen hubris en hoogmoed en kan die goue nuwe tye aanhou. En nie net dit nie. Nou kan jy berusting kry as die vloede van geskiedenis oor jou spoel.

“Wat kon ék doen? Dit was die Noodlot. Rewolusie? In die hande van die Noodlot. Napoleon se eiewaansinnige verowerings? Voorheen, sê maar in die tyd van Bach en Händel, sou hulle gesê het, die verwoester is ʼn instrument in die hand van God. Nou is hy die werktuig van die Noodlot. Kom ons aanvaar dit. Kom  ons aanvaar niemand kan die Noodlot keer nie, nie eers die gode nie, en daarom aanvaar ons die Götterdämmerung.

“Ek dink baie aan Hitler en ek weet ons is polities-korrek verbied om aan Hitler te dink, maar ek dink aan hom en sy verknogtheid aan Wagner. En ek sien hoe hy een nag na ʼn vertoning van Siegfried ʼn epifanie op ʼn koppie in Berlyn beleef en homself toewy aan ʼn ideaal, hoe verwerplik ons ook al gekondisioneer is om nou daaraan te dink. En ek dink aan hoe hy homself voorberei om in ʼn immolasie te vergaan, om weg te brand, as sy uitvoering van die ideaal te kort sou skiet, deur vlamme verteer sou word soos Wagner se gode in Valhalla in sy ‘Götterdämmerung’. Hoekom anders het Hitler beveel dat hy verbrand moes word na sy dood. In sy oë was hy ʼn god en ʼn god wat misluk moet weggebrand word sodat hulle nie net nie kan besmet nie, maar ook nie besmet kan word nie.”

Daar was woordeloosheid op die restaurantstoepie terwyl hy asem geskep het, ʼn slukkie Cognac gedrink en aan sy sigaar getrek het, voordat hy hervat het:

“So kom ons om, so kom ons om. God het besluit. Die Noodlot het besluit. Maar wat as die Kerk verkeerd was, en Verdi gedwaal het? Wat as ondergang nie deur God of die Noodlot bepaal is nie? “Wat as ondergang maar net die gevolg van menslike onnoselheid, nasionale hardkoppigheid, gemeenskaplike hoogmoed is?

“Ek kyk deur geskiedenis en ek sien nie ʼn onontsnapbare Noodlot nie, maar patrone. Dís wat ek sien. Patrone. Siklusse.

“Dit is eintlik so eenvoudig om vrede te bewerkstellig en vrede te bewaar. Sit ʼn grens tussen verskillende volke, rasse, nasies. Laat elkeen homself regeer. Laat die skrander volk vooruitgaan en laat die stompsinnige sy voorkeur om sy land en homself te vernietig toe. Wil jy weet waarmee word vrede tot stand gebring? Met doringdraad.

“En hoe hou jy die vrede in stand? Regeer die mense goed. Dis net asof die mense dit besef net na ʼn oorlog. Na ʼn oorlog sorg die regering goed vir die volk, of, nog beter, gee die volk genoeg ruimte om vooruit te gaan. Maar dit bly nooit so nie.

“Dis soos ʼn kondoom met ʼn swakplek. As jy hom eers opblaas, lyk hy goed en vrolik en nuttig. Maar blaas meer, en dikwels sien jy hoe ʼn kol waar die latex swak is, uitswel, soos ʼn gewas op ʼn koei se uier, en dis net daar wat dit bars.

“Net daar herhaal die persoon homself. Die druk in die kondoom vind altyd die swakplek. Dis wat met regerings gebeur en, of dit nou sosialisme of kapitalisme is, dit lyk vir my die patroon sal homself altyd herhaal. Die regeerders vorm ʼn elite en die belange van hierdie elite word gedien eerder as die beswil van die volk. Die volk word weersinnig en dan afgunstig en die druk neem toe en neem toe totdat daar ʼn uitbarsting is. Daar is anargie en geweld, bloedverlies en saakvernietiging, omverwerping en wraak.

“Vegetius se stelling is ‘Si vis pacem, para bellum.’ As jy vrede soek, berei voor vir oorlog. Maar dit lyk vir my dat oorlog nodig is vir vrede. As die druk tussen lande opbou, moet dit afgetap word deur oorlog. As die druk ín ʼn land opbou, is burgeroorlog nodig.

“In hierdie pragtige, vervloekte land van ons het die druk ook te veel geword. Dit sou altyd te veel geword het, sedert die kranksinnige idee van die Britte in 1902 om Witman, Indiër, Kleurling en Swartman in een kamp te sit, met doringdraad óm hulle eerder as tússen hulle. Uiteindelik was die kondoom te vol swakplekke, die elite te gulsig en te onbeholpe. Maar al was hierdie die beste kondoom wat geld kon koop, het dit uiteindelik tog gebars. Die lugdruk wat daarin opgebou het, was net te hewig. Dis soos die koolsuurgas wat opgewek word as jy koeksoda en asyn bymekaar voeg. Dit bou op en op en op en moet iewers op ʼn bars, ʼn uitploffing uitloop.

“Die Kerk sou sê God het dit so beskik. Verdi sou dit aan die Noodlot toegeskryf het.

“Dis nie God nie. Dis nie Noodlot nie. Dis menslike patroon.”

Musiek te midde van die stilte. La Forza del Destino. Ons in ons borrel van mooi aan die einde van beskawing.

Dennis het skielik die oorfone uit sy ore getrek en omgekyk na Joachim.

“Sê maar,” het Joachim Bekker gesê. “Ons almal mag hoor.”

“Hulle onttrek. EPS onttrek van Woodstock en van Chris Hani.”

“Wat beteken dit?” wou Gerhardussie skril weet.

“Dit beteken dis verby,” het Joachim gesê, met ʼn duidelike stem, ongetwyfeld omdat hy geweet het dit sou gebeur. “Hulle gaan nou die stad oorstroom. Net te veel klinknaels het in die boot se romp losgespring. Daar is net te veel lekplekke. Hulle kom.

“Dit is tyd om te gaan, liewe vriende. Tyd om arrivederci te sê. Vaarwel. Ons moet vaarwel sê, want ons sal nooit weer almal saam wees nie.”

Mense het na mekaar gekyk, naderhand opgespring en mekaar begin omhels, onderlangs getroos, grappies in die skaduwee van onheil gemaak.

Die meeste van die mense daar het vroeër al besluit om die Schlettwein-opsie te gebruik, ontwerp deur ʼn amptenaar van EPS. Hulle het hulle weg gebaan na Chapman’s Piek en met die pas langs verby Llundudno tot by Houtbaai waar hulle in ʼn vlugtelingkamp versamel is. Wat van hulle daar geword het, weet ek nog nie. Hoeveel in die slagting omgekom het toe die flottielje rowers van die see af gekom het nadat EPS en die VN onttrek het, kan ek nie sê nie. Ons het baie lank daarna, lank soos gemeet in gebeure eerder as tyd, vir Gerhardussie raakgeloop, of wat van hom oorgebly het in die dop van ʼn man wat lusteloos met ons gepraat het, en hy het ons vertel wat met Terrence gebeur het.

Meneer en mevrou Lafferty het ʼn ander plan gehad. Hulle het hulle aftrede deurgebring met die teling en vertoning van hulle Glen of Ismaal-terriërs, ʼn ras wat deur uitwissing bedreig is. Hulle kon nie hulle dosyn honde Houtbaai toe vat nie en kon hulle nie los om in die Chaos te vergaan nie. Sover ons verstaan, het hulle die honde, elkeen van hulle, daardie nag met gemaalde slaappille in ingelegde sardiens uitgesit. Daarna het Ouman Lafferty vir sy eggenoot van sestig jaar ʼn oordosis van dieselfde slaappille met haar Milo ingegee en toe hy seker was sy haal nie meer asem nie, het hy homself met sy ou Webley in die slape geskiet. Daarna het die Chaos gekom.

Maar niks hiervan het ons geweet toe ons mekaar op die stoep by Le Amici gegroet het nie.

Dennis het op ʼn teken van Joachim die radio’s in die tas weggepak en die deksel toegeklap.

Joachim het agter my kom staan, sy hand op my skouer gesit en sag gesê: “As jy wil leef, kom nóú saam met my!”

(Lees vervolgense Bodem boek II, 4.)

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.