Hoe om Afrikaans te knou

Deel op
Waarom veg dosente van Afrikaans nie in die voorste linie wanneer Afrikaans as universitêre onderrigtaal afgeskaal (bv aan die US) of selfs afgeskaf (bv aan die UWK) word nie? Hierdie vraag hinder my al lank. Aan die Universiteit Stellenbosch (US) is hierdie taak (die taalstryd of -debat) jare lank oorgelaat aan bv ‘n historikus, Hermann Giliomee, en ‘n afgetrede dosent van Afrikaans, Lina Spies. Nie ‘n enkele dosent in die departement Afrikaans, wat ‘n groter belang by hierdie saak behoort te hê, het in hierdie stryd prominent na vore getree nie.

Dink hieraan: In daardie departement was daar eens letterkundiges soos WEG Louw, DJ Opperman en WJ du P Erlank (Eitemal), asook taalkundiges soos Willem Kempen, Meyer de Villiers en later Johan Combrink. Nie een van hulle het toegelaat dat daar met Afrikaans gemors word nie. Wat doen van die huidige Afrikaans-dosente? Hulle gaan ewe kollegiaal na die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) en neem sonder wroeging deel aan ‘n simposium oor Afrikaans met die naam Roots. Geeneen vra hierdie tersaaklike vraag nie: Waarom ‘n Engelse naam vir ‘n byeenkoms oor Afrikaans? Ander meer fundamentele vrae is ook nie daar gevra nie: Waarom is toegelaat dat die UWK ‘n eentalige Engelse universiteit geword het? Wie is die hoofskuldige(s)? Is hy/hulle behoorlik aan die kaak gestel en gediskrediteer? Word daar daadwerklike pogings aangewend om die UWK weer ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit te maak? Hoekom nie? Ensovoorts.

Onlangs is ‘n weergawe gepubliseer van ‘n onderhoud wat Murray la Vita met Leon de Stadler gevoer het (Die Burger, 26 Okt, p 17). Dit kan as ‘n gevallestudie dien van hoe iemand, wat ‘n hoogleraar in die departement Afrikaans aan die US was, in ‘n ander pos (direkteur van die Taalsentrum) op die kampus ontplooi is en hy hom dan nie net goedsmoeds amptelik aan die taalstryd onttrek nie, maar in werklikheid ‘n pleitsbesorger vir die rektor, Russel Botman, se meertaligheidsbeleid word. Van die eentalige Afrikaanse US van weleer, via Chris Brink se tweetalige US, is daar “gevorder” tot by Russel Botman se meertalige US. De Stadler noem dat hy “taal wil bedryf in ‘n meertalige konteks”. Daarom word “ook die Afrikatale” deur die Taalsentrum bevorder.

Tien jaar gelede het De Stadler in die departement Afrikaans ‘n sentrum vir Afrikaanse gebruikskunde begin. In Brink se termyn as rektor het dit, onafhanklik van die departement Afrikaans, die Taalsentrum van die US geword, met De Stadler as die direkteur. Voortaan het dit vir De Stadler nie meer spesifiek om Afrikaans gegaan nie, maar om taal as sodanig. “Die hele idee was om ‘n diens te lewer, wat nié rêrig betrokke sal raak by die taaldebat nie.” Die klemverskuiwing was ook nie soseer (of net) van Afrikaans na ook ander tale nie, maar na mense. “Taalbeplanning gaan nie oor tale nie, taalbeplanning gaan oor mense.” Die geldigheid van die eerste deel van hierdie stelling kan bevraagteken word. Die tweede deel plaas De Stadler op die glybaan van ideologie.

Ons weet nou wat De Stadler en die Taalsentrum nie doen nie, naamlik dat daar nie besorgdheid uitgespreek word oor die toekoms van Afrikaans aan die US nie. Wat doen die Taalsentrum dan wél? Die uitgangspunt is die volgende besef: “Ons kinders en ons studente skryf al hoe slégter.” Daarom is daar ‘n skryflaboratorium waar studente leer hoe om beter te skryf. Daar word gepoog om studente meer vaardig in die gebruik van sowel Afrikaans as Engels te maak. “Werkswinkels” word aangebied. Dalene Müller noem in Skryf Afrikaans van A tot Z dat ‘n werkswinkel ‘n plek is waar bv masjiene herstel word. Waarna De Stadler verwys, is werksessies, werkseminare of (verkieslik) slypskole.

De Stadler beweer: “Ek leer mense om taal te waardeer.” Taal is ‘n ding “wat vir jóú as mens die wêreld oopbreek.” Dit gaan vir hom en die Taalsentrum oor “taalbeheersing en taalvaardigheid”. Hy betuig sy liefde vir taal. La Vita verwys na die geesdrif waarmee De Stadler oor taal praat. Maar dan sê De Stadler: “Ek het niks geld gehad nie”, pleks van: “Ek het geen geld gehad nie”.

In die onderhoud is daar egter groter taalvergrype as die genoemde twee swak gekose Afrikaanse woorde, “werkswinkel” en “niks”. Die eintlike vertroebeling van die toekoms van Afrikaans steek telkens sy kop uit wanneer De Stadler sy Afrikaans met onnodige Engelse woorde besoedel. La Vita skryf: “Hy wend taal aan op ‘n grensoorskrydende manier.” Dit beteken blykbaar (of onder andere) dat die grens tussen Afrikaans en Engels afgebreek word. Twee keer verwys De Stadler na sy werk of taak as sy “job”. As ‘n student meer oor taal verstaan, is dit vir De Stadler “great”. Hy bedoel nie ‘n soort vrug as hy van ‘n “peer” praat nie, want sy verwysing is na ‘n eweknie of portuur. Daar is ‘n ding oor taal wat De Stadler laat “tick” (dus aan die gang hou, laat funksioneer). By ‘n ander geleentheid was hy “ge-tickle” (maw sy belangstelling is geprikkel). En hy is ‘n “biker” (‘n motorfietsryer).

As dit vir De Stadler as taalkundige gaan om mense se taalvermoë te verbeter, sluit dit tog sekerlik in dat hy ‘n taal, bv Afrikaans, op so ‘n wyse benut dat vir verstaan, vir kommunikasie, nie kennis van ‘n ander taal, bv Engels, veronderstel word nie. Dit is onwaarskynlik dat wanneer De Stadler Engels benut, hy dit met Afrikaanse woorde besoedel. Waarom hierdie verskil in benadering van, of agting vir, hierdie twee tale? As taalkundige behoort De Stadler diep bewus te wees van die gevare vir ‘n landstaal wanneer dit op ‘n kampus teen ‘n wêreldtaal om oorlewing meeding; des te meer as die universiteitsowerheid hoogs onsimpatiek teenoor die nie-wêreldtaal is. As van huis uit Afrikaans, as taalkundige en as hoof van ‘n taalsentrum behoort De Stadler ‘n agbare voorbeeld in Standaardafrikaans te stel.

Volgens De Stadler is dit normaal om meertalig te wees. Botman sal hiervan hou, want hy distansieer hom deurlopend van die abnormale of siek US van weleer. De Stadler: “Daar is meer mense in die wêreld wat meertalig is as wat daar mense is wat net een taal praat.” Ek bevraagteken die waarheid van hierdie stelling. Ek sou eerder die teenoorgestelde beweer, dus dat ‘n minderheid van die wêreldbevolking meer as een taal in ‘n beduidende mate magtig is. Maar gestel De Stadler het reg. Waarom is daar dan so baie studente wat beweer dat ‘n universiteit wat Afrikaans as onderrigtaal het, ontoeganklik is? Waarom word sulke studente nie verplig om te vorder op die pad van taalnormaliteit nie? Waarom het die US weens diesulkes sy tradisionele taalbeleid verander/getransformeer?

De Stadler: “As jy op Stellenbosch kom, gaan dit natuurlik oor Afrikaans.” Werklik? Is dit nie ‘n argaïese stelling nie? Hendrik Verwoerd “was die eerste student in Suid-Afrika wat sy studies, van sy voorgraadse eksamens tot sy doktorale proefskrif, in Afrikaans geskryf het” (Hermann Giliomee, Die Laaste Afrikanerleiers, p 27-28). In hoeverre is dit vandag nog in daardie eens natuurlike Afrikaanse omgewing moontlik? Is die US, soos dit hoort, akademies en taalgewys openlik trots op daardie prestasies van Verwoerd, of word dit om politieke redes doodgeswyg?

Die kern van die saak is dat Afrikaanse en veral Afrikaans-geleerdes hulleself nie moet veroorloof om loslit met hulle moedertaal om te gaan nie. Hulle moet taalgewys ‘n eerbare voorbeeld stel en bereid wees om aktief vir Afrikaans teen die magte van die bose in die bres te tree. Jaap Steyn stel dit treffend: In laaste instansie gaan dit om taalgetrouheid. Hieraan is daar aan die US, wat Afrikaans betref, ‘n skreiende tekort.

лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.