praag.co.za

Tag: hibriditeit

  • Hibridisering van Afrikaans

    In die akademie het dit my opgeval dat dosenteverenigings geneig was om amptelik meer linksgesind as die deursnee-dosent te wees. Skrywersverenigings ly blykbaar aan ‘n soortgelyke tekortkoming. Dit is waarom die leiding van PEN Afrikaans aan iemand soos Sonja Loots toevertrou is. Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe dat iemand wat die spot met die Afrikaanse Taalmonument dryf (Praag 31 Augustus) tot so ‘n amp verkies kon word. Tans is Kerneels Breytenbach, gebore en getoë in die Naspersstal, die voorsitter.

    Breytenbach het op LitNet (4 deser) aangekondig dat Danie Marais as die bestuurder van PEN Afrikaans aangestel is. Sy pos word deur Dagbreektrust befonds. Hierdie trust is destyds deur Afrikaners soos Hans Strijdom en Hendrik Verwoerd gestig om die belange van Afrikaans in die mediawêreld te bevorder. Sedertdien het dié trust egter ontaard en word die ANC-geïnspireerde inklusiwiteitsmanie openlik aangehang (Praag 25 Julie). As omroeper by Smile-radio pas hierdie pos Marais soos ‘n handskoen. Ek het reeds oor Marais se oorverligte reaksie op Dookoom se Larney-liedjie geskryf (Praag 9 deser). Breytenbach loof Marais vir sy “onverskrokke nuk om nuwe maniere van dinge doen te besproef.”

    Hierna word Marais aan die woord gestel, maar dit is nie duidelik tot waar Marais se teks strek en waar Breytenbach oorneem nie. Die ATKV en Media24 word genoem as instansies wat Afrikaans op dieselfde manier as PEN Afrikaans bevorder. Maar soos verwag kon word, word die heil van Afrikaans, ooreenkomstig die siekte van ons tyd, uitsluitlik op ‘n polities korrekte manier gepromoveer. “PEN Afrikaans staan in diens van almal wat skryf in Afrikaans.” Daarna word dié stelling egter gekwalifiseer. Wat met “Afrikaans” bedoel word, bv die aard of gehalte daarvan, word ook nie gespesifiseer nie.

    Oor die politiek-geïnspireerde muilband waarkragtens PEN Afrikaans funksioneer, is daar egter geen onduidelikheid nie. “Ons wil egter graag saamwerk met enige groep of instansie wat ‘n belang in die voortbestaan, bevordering en gebruik van Afrikaans as geskrewe taal het, mits daardie groep of instansie ook inklusiwiteit en nie-rassigheid as beginsels ondersteun. Ek sien dit dus as een van die primêre doelwitte van die bestuur om te werk daaraan dat wit, bruin en swart Afrikaanse skrywers ewe tuis voel by PEN Afrikaans.”

    Opsommend kan seker gesê word dat wanneer Afrikaans as medium vir die verspreiding van behoudende, konserwatiewe of regse (politieke) inligting gebruik word, dit op geen steun van PEN Afrikaans kan reken nie; maak nie saak as dit suiwer, ordentlike Standaardafrikaans is soos oorvloediglik op bv die Praag-webwerf aangetref word nie. Daarenteen kan skrywers, soos Nathan Trantraal en Ronelda S Kamfer, wat onder die dekmantel van “Afrikaans” moedswillig en met oorgawe sub-demoties met ons moedertaal mors en dit tot ‘n mengeltaal transformeer om etniese en politieke redes reken op die ongekwalifiseerde steun van PEN Afrikaans. Die eksplisiete identiteitsloosheid van PEN Afrikaans word soos volg verwoord: “Om Afrikaans te bevorder, soos ons dit wil doen, is nie ‘n vasklou aan enige lewensbeskouing of verlede nie.”

    Die aanstelling van Marais as bestuurder van PEN Afrikaans is deur Die Burger (6 deser, p 18) aan die groot klok gehang deur ‘n onderhoud te publiseer wat Willem de Vries met Marais gevoer het. Marais begin deur te beweer dit is “baie belangrik dat daar weer ‘n organisasie is wat in die eerste plek belangstel in die bevordering van Afrikaans.” Dit is, soos ek hierbo aangetoon het, ‘n leuen. Vir PEN Afrikaans gaan dit “in die eerste plek” om ‘n politieke oriëntasie wat met dié van die ANC versoenbaar is.

    “By PEN Afrikaans hoef ons net te wonder of ‘n bepaalde projek of besluit tot die voordeel van Afrikaanse skrywers en lesers strek.” Wat op Praag se Afrikaanse webwerf gepubliseer word, is ongetwyfeld “tot die voordeel van Afrikaanse … lesers.” Sou hierdie Praag-skrywers dus op PEN Afrikaans se steun kon reken? Volgens PEN Afrikaans se uitgangspunt sal dit nie gedoen word nie. Marais stel dit baie duidelik: “In beginsel is PEN Afrikaans bereid om met enigiemand saam te werk wat graag Afrikaans of Afrikaanse skryfwerk bevorder of finansier, mits daardie organisasie erns het met nierassigheid en inklusiwiteit.” PEN Afrikaans se Afrikaansbevordering is dus ononderhandelbaar onderhewig aan sy linkse politieke inslag.

    Afrikaans is volgens Marais deur apartheid geïsoleer, terwyl PEN Afrikaans se affiliasie met die internasionale PEN “daardie hele wye internasionale skrywerswêreld oopmaak … Ek dink dis baie belangrik om die groter gesprek te soek en terselfdertyd die rol van Afrikaans binne ‘n meertalige omgewing te bekyk.” Die identiteitsloosheidstrewe, waarna ek hierbo verwys het, vergemaklik hierdie soort wêreldburgerskap. Daardie gemoeidheid met meertaligheid verwater natuurlik die Afrikaansfokus. Om Trantraal en Kamfer se morsige mengeltaal, wat kosbare troetelkleinode vir PEN Afrikaans is, te verstaan, is kennis van Afrikaans glad nie voldoende nie. Meertaligheid, veral kennis van Afrikaans en Engels, maar ook van Kaaps, is noodsaaklik.

    In die derde paragraaf hierbo is beweer: “PEN Afrikaans staan in diens van almal wat skryf in Afrikaans.” Maar die meerderheid Afrikaansskrywers was en is blank. Hoe kan dinge geplooi word sodat die heil van Afrikaans nie langer aan blankes toevertrou word nie; sodat wittes ook hier die miskendes en uitgeworpenes word? Marais verander doodeenvoudig sy deuntjie van skrywers na sprekers. “‘n Afrikaanse skrywersvereniging wat ‘n taal wil bevorder waar die meerderheid van die sprekers nie wit is nie, moet eenvoudig in gedagte hou hy het ‘n mandaat om Afrikaans in ál sy variante te bevorder, om hibriditeit [oftewel verbastering] dus te steun. Dit gaan daaroor om sekere ruimtes te probeer terugkry* of opnuut te skep waarbinne mense met Afrikaans kan doen wat hulle wil.”

    [*Byvoorbeeld dat Afrikaans, volgens Magdaleen Kruger van RSG, aan die bruines teruggegee moet word, want die wittes het glo Afrikaans van hulle (die Khoi en die slawe) gesteel (Praag 10 Februarie 2013).]

    Marais: “Mense met Afrikaans kan doen wat hulle wil.” ‘n Duideliker lisensie vir taalchaos kan nie aan dese en gene gegee word nie: Mors soveel soos julle wil met Afrikaans. Julle sal in elk geval altyd kan reken op die oorverligte steun van PEN Afrikaans. Moenie julle steur aan wat die eertydse volksvaders, met die grys skoene, as Standaardafrikaans voorgeskryf het nie. Kom ons sleep Afrikaans verder deur die modder. Besoedel Afrikaans met Engelse woorde, maar as jy Engels praat of skryf, maak dit ‘n saak van eer om dit korrek te probeer doen. Marais: “Dat mense goed met Afrikaans doen waarvan ander Afrikaanssprekers niks hou nie, is vir my juis ‘n teken van vitaliteit.” Vir my, daarenteen, is dit heiligskennis, want Afrikaans is die medium waarin uitdrukking aan die diepste wese (of siel) van die Afrikaner gegee word.

    Wat kon Die Burger nog doen om ‘n mengeltaal soos Kaaps bo Standaardafrikaans te bevorder? Deur die volgende dag ‘n onderhoud van Murray la Vita met Nathan Trantraal te publiseer (7 deser, p 15). Trantraal het die ATKV-poësieprys vir sy bundel Chokers en Survivors ontvang. (Let daarop dat die kortste van die drie woorde in die titel darem Afrikaans is.) Antjie Krog het vanselfsprekend hoë lof vir die gedigte gehad. La Vita verwys na “‘n briljante kortverhaal” van Trantraal wat as grondteks vir ‘n drama, Delilah, gebruik is en op 13 deser op kykNET uitgesaai word. Trantraal se wye belesenheid en perfeksionisme word beklemtoon. Daar is egter geen aanduiding dat Trantraal al ooit iets in bv ‘n Afrikaanse woordeboek of die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls nageslaan het nie, wat ten minste in hierdie opsig van sy beweerde perfeksionisme ‘n klug maak.

    Pleks van verdere aandag aan Trantraal se mengeltaal te gee, volstaan ek met ‘n enkele aanhaling om aan Praaglesers ‘n aanduiding te gee van die soort taal waarom dit hier gaan. Trantraal sê die volgende oor hom en sy broer: “Ek en André het ‘n baie close [hegte] verhouding, so [dus] dit help as iemand ouer as jou [jy] is wie [wat] klein bietjie vroeër as jou [jy] alles discover [ontdek] totdat jy by daai punt kom dat jy self nuwe goed uit [op] jou eie discover [ontdek].” Diegene wat behoefte aan nog hiervan het, kan Trantraal se rubriek in Rapport lees. Dáár is sy tekste ‘n nog erger vorm van koeterwaals (dus brabbel-, krom- of wartaal).

    ‘Die polities korrekte stert swaai die Afrikaanshond’

    Die voorafgaande opmerkings oor Marais en Trantraal dui op ‘n kanker wat reeds wyd versprei het. Die stryd word teen Standaardafrikaans (en by implikasie teen Afrikaners) en ten gunste van die herstandaardisering, inklusiefmaking, hibridisering, kreolisering en verkaapsing/verbruining van Afrikaans gevoer. Hierdie refrein kom voor by die Afrikaanse Taalraad (ATR), Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, die ATKV, RSG en daar is ook groot simpatie hiermee in Naspers-geledere, waarvan die rioolkoerant Son die toonbeeld is. Mense soos Wannie Carstens en Michael le Cordeur gee die toon aan in hierdie openlike onderbeklemtoning (selfs minagting) van Standaardafrikaans. Die noodsaaklikheid van ordentlike, suiwer Afrikaans as die enigste sinvolle skans teen verengelsing word nooit deur hierdie elemente gepropageer nie. Onlangs het Gerda Odendaal, wat ‘n voorstander van die herstandaardisering van Afrikaans is (Praag 2 Februarie; ook 22 Junie), by die werksaamhede van die ATR betrokke geraak. Sy verpersoonlik eintlik die ATR se skewe benadering van Afrikaans. Die polities korrekte stert swaai die Afrikaanshond.

    Verloopte Afrikaners en ANC-kornuite in bv die ATR kan gerus by DF Malan gaan kersopsteek oor wat Afrikaans is. “Die taal is die omhulsel wat alles wat tot ‘n volk behoort, saambind en tot één maak. Dit is die skil om die vrug, die vel om die liggaam, die bas om die boom, dit is nie net daar om saam te bind en in te sluit nie, maar ook om af te sluit teen dit wat buite is en tegelyk om alle gesonde groei en uitbreiding moontlik te maak” (Lindie Koorts, DF Malan en die opkoms van Afrikaner-nasionalisme, Kaapstad: Tafelberg, 2014; Amazon Kindle 1586). “Vir Malan was nasionalisme ‘n lewende, groeiende organisme, met taal as die gom” (1590). “Malan se oortuiging [was] dat die sleutel tot sy volk se oorlewing in sy taal lê” (1098).

    Wanneer die ANC en ander linkse elemente gevra word om plaasmoorde te veroordeel, is die geykte reaksie dat alle moorde veroordeel word. Wanneer die ATR en instansies met ‘n soortgelyke polities korrekte of self ANC-gesindheid gevra word om Standaardafrikaans te bevorder, is die geykte reaksie dat al die variëteite van Afrikaans bevorder word. Carstens het as voorsitter van die ATR openlik erken dat dit vir hom primêr om versoening gaan.* Hierdie politieke agenda is deur sy opvolger, Le Cordeur, voortgesit, maar met ‘n duidelike voorkeur vir bruin etnisiteit en die mengeltaal Kaaps. Hy hou van “byderwetse” Afrikaans (Netwerk24, 29 Oktober). Polities korrek is Dan Kgwadi Le Cordeur se jongste held. Le Cordeur glo Kgwadi gaan tot groot seën vir Afrikaans en die Noordwes-universiteit wees (Netwerk24, 3 en 11 deser).

    [*Carstens sing steeds hierdie deuntjie. Hy kan nie besluit of politiek of Afrikaans voorkeur moet geniet nie. Wat beskou Carstens as die grootste vyand van Afrikaans? “Ons eie Afrikaanse mense wat begin moed verloor oor Afrikaans en begin oorgaan na Engels.” Maar hy ruk nie Le Cordeur en sy meelopers in die ATR in die bek oor hulle propagering van die mengeltaal Kaaps nie. Dink Carstens dat Steve Hofmeyr Afrikaans bevorder? Sy antwoord is eerder polities korrek as pro-Afrikaans: Hofmeyr “versinnebeeld ongelukkig daardie element wat ons nie meer met Afrikaans geassosieer durf hê nie” (Die Burger, By&Naweek, 15 deser, p 11).]

    Le Cordeur sien darem in dat Kgwadi se ideaal dat die swart kind van Ikageng dieselfde geleenthede as die wit kind van Gimmies moet kry nie iets oorspronkliks is wat deur Kgwadi uitgedink is nie. Dit is bloot ‘n variasie op Russel Botman se tema: die bruin dogter van die plaaswerker moet dieselfde geleenthede as die wit seun van die plaaseienaar kry (Praag 20 Julie). Die vordering wat daar is, word nie deur Le Cordeur genoem nie: Botman se dogma is sowel ras- as geslagsgedrewe, terwyl Kgwadi darem seksisme vermy.

    Genadiglik het Le Cordeur se ampstermyn as ATR-voorsitter pas tot ‘n einde gekom. Van die nuwe voorsitster kan ‘n verbetering, maar kwalik kitswonderwerke, verwag word. ‘n Radikale heröriëntasie en hersamestelling van die ATR (raadslede en personeel) is noodsaaklik. Anders as wat sy naam aandui, was die ATR nog nooit ‘n egte Afrikaanse taalraad nie. Helena Liebenberg se Taaloord is oneindig meer Afrikaansgetrou. Die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, as hy sy oogmerk gestand wil doen, lei skade omdat hy toelaat dat hy as ‘n medewerker van die ATR gelys word.

    Wat tereg van die nuwe ATR-voorsitster, Anne-Marie Beukes, verwag kan word, is dat sy die Afrikaanse taal (en nie politieke korrektheid nie) vooropstel en veral Standaardafrikaans, wat die beste in die Afrikaansvariëteite verteenwoordig, kompromieloos bevorder. Daar is egter geen rede vir optimisme nie. Beukes wil nie ‘n taalbul wees nie (‘n duidelike teken van halfhartigheid) en eerder versoening bevorder. Afrikaans se voetspoor moet glo vergroot word. Pleks van die heil van ordentlike Afrikaans na te streef, bly groter inklusiwiteit die ATR-ideaal (Netwerk24, 12 deser), insluitende koeterwaals. Red nou ‘n taal met ‘n instansie soos die ATR en ‘n voorsitster soos Beukes. Hoe is dit moontlik dat Karel Prinsloo, ‘n ATR-direksielid en die skoonseun van Piet Meyer (eens die hoof van die Afrikaner Broederbond en die SAUK), hom die miskenning van Standaardafrikaans kan laat welgeval?

    Onderliggend aan veral Le Cordeur se destruktiewe benadering van Standaardafrikaans is Nico Koopman se propagering van hibriditeit as die alles-saligmakende transformasiemiddel. Google gerus: nico koopman hibriditeit. Koopman praat selfs van ‘n pedagogie van hibriditeit. Hy stal onbeskaamd sy akademiese vlakheid uit. Vermenging/verbastering van kultuur en etnisiteit word deur hom aangeprys; ook taalverbastering. Koopman spreek hom ondubbelsinnig teen Standaardafrikaans uit. Om van pluraliteit, verskeidenheid, verskeurdheid, diversiteit ontslae te raak, word hibriditeit verheerlik as die wonderkuur om inklusiwiteit, eenvormigheid, gelykmaking, integrasie, assimilasie, kohesie daar te stel. Afrikaners word verwater tot Afrikaanses en verder tot Suid-Afrikaners, Afrikane en wêreldburgers; ‘n resep vir identiteitsloosheid.* Op ‘n soortgelyke manier word die NG Kerk meer inklusief gewens deur samesmelting met die Verenigende Gereformeerde Kerk,** asook verbondenheid met die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en die Wêreldraad van Kerke.

    [*Net soos van die erkenning van plaasmoorde en Standaardafrikaans weggeskram word deur ander variëteite te berde te bring, word deesdae graag beklemtoon dat elke mens ‘n verskeidenheid identiteite (of rolle) het. Multi-identiteit en multi-kulturaliteit word aan die orde gestel ten einde veral Afrikanerskap en Standaardafrikaans te verwater. Uit eie keuse is veral ontwikkelde bruines by uitstek identiteitsloos, gevolglik wil hulle deesdae, anders as voorheen, eerder swart as wit wees (dus nie die voor die hand liggende bruin wees nie) en eerder Engels- as Afrikaanssprekend wees. Bruines se identiteitsloosheid strek tot by hulle voorgeslagte deurdat hulle soms op inheemsheid en ander kere op uitheemsheid aanspraak maak. As die nasate van die Khoi-San beweer hulle dat hulle altyd hier gewees het. As die nageslag van die “benadeelde” ingevoerde slawe maak hulle deesdae op bevoordeling aanspraak. Maar dit is juis die medewerking van bruines wat die ATR noodsaaklik ag, gevolglik word enige moontlike pro-Standaardafrikaans- en pro-Afrikaner-aksie by voorbaat in die kiem gesaboteer.]

    [**Die VGK eis dat samesmelting met die NGK op sy voorwaardes geskied, wat op liefdelose wyse ononderhandelaar is, bv die ongekwalifiseerde aanvaarding van die Belhar-belydenis. Die vereniging van die NGK en die VGK sal die gatslag vir Afrikaans as kerktaal wees, maar geen kerkampsdraer noem dit openlik as ‘n ernstige beswaar teen kerkeenheid nie. Die verengelste verre verlede van die NGK word blykbaar nie as ‘n euwel beskou nie en mag maar terugkeer. Net so eienaardig is dat die NGK nie eerder met die Gereformeerde Kerk en die Hervormde Kerk saamsmelt nie. Dit sou, wat Afrikaans betref, werklike kerklike eenheid wees. Sodanige amalgamasie behoort veel makliker as met die VGK moontlik te wees, terwyl dit finansieel en taalgewys en vir Afrikanerskap nie naasteby so rampspoedig sal wees nie.]

    Die onderliggende toonbeeld van Koopman se hibriditeitsleer is bruin etnisiteit, met homself as die voortreflikste voorbeeld. Al word wittes as deurgaans sleg voorgestel, is die getal prominente nie-wit ANC-kornuite wat met hibridiese gevolge met wittes getrou het opvallend. Waar kom Koopman se hibriditeitsleer vandaan? Soos die meeste ANC-retoriek kom dit van Amerika. In Amerikaanse staatslaerskole is daar elke week ‘n verpligte les oor diversiteit, wat gelyk- of eendersmaking as ideaal het. Sentraal-uitgedinkte propaganda, afkomstig van wit liberaliste, word vir iedere kind ingegee. Byvoorbeeld: “Mama is chocolate … Daddy is vanilla … Me (sic) is better … It is a new color. It is a new flavor. For love. Sometimes blackness seems too black for me, and whiteness is too sickly* pale; and I wish every one were golden. Remember: long ago before people moved and migrated, and mixed and matched … there was one people: one color, one race” (Jared Taylor, Face to face with race, Oakton: New Century Foundation, 2014; Amazon Kindle 1138).

    [* Daar sal nie gesê word swartes of goues/bruines is “sickly” nie, maar wittes mag maar op hierdie manier te na gekom word.]

    In ‘n neutedop: hierdie hibriditeitsleer kan as die kern van Koopman se teologie (wat nie van ANC-politiek te skei is nie) beskou word. Dit is ook waarom Koopman so entoesiasties is oor die diversiteitsweek wat Russel Botman aan die Universiteit Stellenbosch ingestel het. Aan Koopman word deesdae die hoofskap toevertrou van wat ‘n skrale twee dekades gelede die Kweekskool van die NGK was. Die Basters van Rehoboth se benadering van identiteit is stukke beter as dié van Koopman. Hulle is trots daarop om Basters/basters en Afrikaans te wees, streef na staatkundige onafhanklikheid en probeer nie om skyn-Owambo’s te wees nie.

    Daar kan geen twyfel meer bestaan oor die afgrond waarnatoe hibridiese taal, oftewel koeterwaals, met die komplimente van die betrokke instansies tans op pad is en watter moeite hierdie elemente doen om eerbare Afrikaans se ondergang te bewerkstellig nie.

    Ek hoop om volgende keer in besonderhede oor Jared Taylor se bogenoemde nuwe boek te skryf.

  • Die ebonisering van Kaaps

    Die ebonisering van Kaaps

    kaapsdeur Leon Lemmer

    Wat opval in die nuwe Suid-Afrika is die ruime mate waarin Amerikaanse politiek plaaslik weerspieël word. Mense soos Desmond Tutu en Jonathan Jansen is tot in hulle kern vergiftig met amerikanismes. Hierdie toepassing van Amerikaanse politieke retoriek geskied sonder inagname van twee wesenlike verskille. Eerstens is swartes ‘n etniese minderheid en blankes die etniese meerderheid in die VSA, terwyl die omgekeerde situasie in Suid-Afrika aangetref word. Tweedens word swart politieke retoriek in Amerika deur verwyte oor slawerny oorheers, terwyl swartes in Suid-Afrika glad nie hierdie ideologiese knopkierie teen blankes kan gebruik nie. In soverre daar plaaslik slawerny was, het die inheemse Khoi-San en die inheemse swartes dit vrygespring. Die slawe is ingevoer en is dus uitheems. Plaaslik is dit net bruines wat op vergesogte wyse griewe oor die slawerny van lank gelede vertroetel.

    In soverre bruines van sowel die Khoi-San as die slawe afstam, is hulle ‘n mengsel van inheems- en uitheemsheid. ‘n Mens kan dus sê dat daar etniese hibriditeit by die bruines is. Maar bruines se hibriditeit is nie net etnies of liggaamlik nie. Kulturele hibriditeit, bv wat taal betref, word by sommige bruines aangetref. Taalkundig kan die huidige plaaslike retoriek, bv oor die mengeltaal Kaaps, verstaan word na analogie van wat in Amerika plaasvind. Die propagering en bevordering van Kaaps deur bv die Afrikaanse Taalraad, by name deur Wannie Carstens en veral Michael le Cordeur, geskied na die voorbeeld van Ebonics in Amerika. Hierdie virus het nou ook die Vriende van Afrikaans aangetas, soos ek hieronder aantoon.

    Die benaming “Ebonics” is ‘n samevoeging van die woorde “ebony” (swart, na aanleiding van tropiese swarthout) en “phonetics” (bloot in die sin van spraak; dus nie die taalkundige dissipline in sy geheel nie). Die woord is in 1973 deur Robert Williams geskep, wat in 1975 ‘n boek met hierdie titel gepubliseer het. Ebonics is ‘n sinoniem vir African American Vernacular English, oftewel Black English. Dit is na bewering ‘n mengsel van veral Standard American English en die tale van Wes-Afrika, vanwaar die slawe destyds na Amerika vervoer is. Op grond hiervan word daarop aanspraak gemaak dat Ebonics ‘n kreoolse taal is. Die meeste taalkundiges ontken egter die aanwesigheid van noemenswaardige kreoolsheid, omdat so min woorde van Afrika-oorsprong in Ebonics gevind kan word. Die soort Engels wat swartes op die Karibiese eilande praat, word soms by Ebonics ingesluit.

    Omdat Ebonics sy oorsprong in slawerny het, gaan dit veral om die taal wat swartes in die suidelike Amerikaanse state gepraat het. Oor die 19de eeu, bv tydens die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865), kan veralgemend gesê word dat die noordelike state nywerheidsgebied en die suidelike state landbougebied was. Die oorgrote meerderheid slawe het in die suidelike state as arbeiders gewerk. Ebonics het glo ontstaan toe die slawe hulle verstaanbaar teenoor die slawe-eienaars wou of moes maak. ‘n Variëteit van Engels wat bv woordeskat, sinsbou en uitspraak betref, het op hierdie manier gestalte gekry. Soms word Ebonics ‘n dialek, sosiolek of etnolek van Engels genoem.

    Ebonics het ingevolge slawerny en kolonialisme sterk politieke konnotasies. Hierby word die “euwel” van rasse-segregasie gevoeg: die swartes se Engels is anders omdat hulle apart van die blankes moes leef. Aanvanklik is die kenmerkende Engels van swartes as sub- of tweedeklas-Engels beskou, dus as taal wat nie dieselfde aansien as Standard American English gehad het nie. Hierdie onderskeid was klas- (sommige praat selfs van “kaste-“) en etnies of rasgebaseer. Sedert die suksesvolle burgerregtebeweging in die jare sestig val die klem op gelyke menseregte en het Black English aan status gewen. Kultuur- (insluitende taal-) verskille word as verrykend in ‘n samelewing voorgestel. Multikulturaliteit word as ‘n bate voorgehou.

    Die Engels van swartes het sy eintlike hupstoot in 1996 gekry toe die skoolraad van Oakland, Kalifornië, Ebonics as ‘n skoolonderrigtaal goedgekeur het. Dit is as ‘n moeder-, huis- of omgangstaal erken waarin skoolonderrig in die aanvangsjare aangebied kon word. Op hierdie manier sou begrip by die leerders bevorder word en sou daar nie by hulle ‘n gevoel van minderwaardigheid gewek word nie. Ingevolge menseregte is aangevoer dat die skool by die kind moet aanpas en nie andersom nie. Die kulturele erfenis van alle leerlinge moet erken word. Diversiteit het toenemend ‘n wagwoord geword. Die historiese dominansie/”onderdrukking” deur die wit meerderheid, dikwels “rassisme” genoem, is opgehef en die swart minderheid se eiesoortige kultuur is erken.

    Sedert die jare sestig is die bevoordeling van Amerikaanse swartes (en in ‘n mindere mate ander nie-wittes) in mooi-klinkende woorde gehul, wat ook by ons oorbekend geword het, bv regstellende aksie, politieke korrektheid en bemagtiging. Ebonics is deur Claude Brown “spoken soul” genoem. John Russell Rickford en sy broer, Russell John, het in 2000 ‘n boek met hierdie titel oor Ebonics gepubliseer. Aan Amerikaanse universiteite word Black Studies toenemend as byvak, hoofvak en selfs as nagraadse dissipline tot by die doktorsgraad aangebied. Ook hier het Ebonics ‘n tuiste gevind.

    Maar nie almal, selfs nie alle swartes, is met Ebonics gediend nie. Die skool en universiteit is nie daar om bloot ‘n bevestigende erfenisrol te speel nie. Onderrig is immers ook, seker veral, daar om enersyds as ‘n korrektief te dien vir wat die leerling of student verkeerd beet het en andersyds om inligting waarvan hy nog nie kennis dra nie en vaardighede wat hy nog nie het nie, tuis te bring. As ek nie kan swem nie, moet ek leer hoe om te swem. As ek nie Standard American English magtig is nie, moet ek dit aanleer om optimaal in die Amerikaanse samelewing te funksioneer. Dit baat weinig om agter menseregte, kulturele erfenis en goedvoel oor my Ebonics te skuil as my moedertaal ‘n las pleks van ‘n bate, dus teenproduktief, in die praktyk blyk te wees. Ebonics breek juis die veelgeroemde inklusiwiteit af en moedig verdeeldheid aan. Daarom word Ebonics meesal slegs in die aanvangskooljare benut en wel as ‘n middel om Standard American English baas te raak.

    Van die ander probleme met Ebonics is dat dit eintlik ‘n gesproke eerder as ‘n geskrewe taal is. Soos dit hom in die praktyk voordoen, is dit nie gestandaardiseer nie. Daar kan kwalik van “ebonically correct” gepraat word. Die skepping van handboeke in Ebonics is dus problematies. Van die teenargumente, wat uit die geledere van militante aktiviste opklink, is dat Standard American English ook nie bestaan nie; dus dat dit ‘n mite is. Daar is ook die verskynsel dat sommige swartes, soms in die naam van Ebonics, uit hulle pad gaan om met Engels te mors; om wittes met besoedelde taalgebruik uit te tart.

    Voordat wat hierbo oor Standard American English en Ebonics geskryf is sinvol op onderskeidelik Afrikaans en Kaaps toegepas kan word, is dit nodig om met aanhalings uit HAT duidelikheid oor vier terme of verskynsels te verkry.

    • Kreools: “Mengeltaal ontstaan tussen ‘n Europese taal en ‘n taal in ‘n ander wêrelddeel … in breër opvatting, enige taal wat die vermenging van meer as een taal is.” Aangesien geen taal op absolute suiwerheid aanspraak kan maak nie, behoort geringe vermenging nie kreolisering genoem te word nie, want dan sou alle tale kreools wees. Hierdie vermenging moet substansiële afmetings aanneem voordat ‘n taal kreools genoem word. Ebonics is in die swartbewussynbeweging kreools genoem. Afrikaans is weens die sug na politieke korrektheid en “regstelling” al kreools genoem. In nie een van hierdie twee gevalle is die etiket egter regverdigbaar nie.
    • Mengeltaal: “Taal wat ontstaan het uit die vermenging van verskillende tale, soms tale van heeltemal verskillende herkoms.” Bv Fanagalô: “Mengeltaal, grammaties basies Engels en Afrikaans, maar met ‘n hoofsaaklik Nguni- [Xhosa-, Zoeloe-] woordeskat, wat as omgangstaal op die myne en in stedelike gebiede gebruik word.” Kaaps neig om eerder ‘n mengeltaal, bestaande uit Afrikaans en Engels, as bloot ‘n variëteit van Afrikaans te wees; maw die besmetting met Engels neem ernstige afmetings aan.
    • Pidgin: “Baie vereenvoudigde taalvorm met oa woorde uit twee of meer tale, gebruik tussen taalgemeenskappe wat mekaar se tale nie verstaan nie.” Elementêre Fanagalô kan goedskiks pidgin genoem word en Ebonics was dit (ten minste) aanvanklik ook.
    • Sleng/slang: “Opsetlik gemeensame, ondeftige, ietwat platte (stands- of beroeps-) taal; groep(s)taal,” bv van studente. Sowel Ebonics as Kaaps is, soms weens politiek-gedrewe moedswilligheid/uittarting, nie van sleng vry te pleit nie.

    Wat ek interessant vind, is dat die dubbel-nie, wat so kenmerkend van Afrikaans is, eintlik ook in Ebonics aangetref word, bv “You ain’t no never say that” en “I didn’t go nowhere.” Verder word ‘n woord soos “gangsta” in sowel Ebonics as Kaaps aangetref.

    Wat in die nuwe Suid-Afrika baie duidelik geword het, is dat Ebonics as voorbeeld dien vir diegene wat aan Kaaps status wil gee. Ebonics se oorsprong word na slawerny teruggevoer. Op ‘n soortgelyke manier word die oorsprong van Afrikaans (eerder as Kaaps) met die kombuistaalhipotese teruggevoer na die skewe pogings wat slawe aangewend het om Nederlands met slawe-eienaars en ander wittes te praat. Omdat die ontstaan van Afrikaans op hierdie manier aan die slawe toegeskryf word, maak sommige hedendaagse bruines aanspraak op eienaarskap van Afrikaans. Vandaar RSG se Magdaleen Kruger se versugting dat sy Afrikaans aan die bruines wil “teruggee”. Die standaardiserings- en ander ontwikkelingswerk wat feitlik deurgaans deur slegs blankes tot voordeel van Afrikaans gedoen is, word daarmee (minagtend) onder die mat gevee.

    Deesdae word graag beweer dat etniese en kulturele verskeidenheid in ‘n bevolking verrykend is. Al die probleme wat dit veroorsaak, word gerieflikheidshalwe misgekyk. Sodanige verskeidenheid verongeluk bv nasiebou en dikwels ook vreedsame naasbestaan. In die naam van multikulturaliteit word allerhande afwykings van die norm geloof. Byvoorbeeld, oor taalvariëteite word beweer dat sodanige verskeidenheid die taal verryk. Dus, Kaaps verryk Afrikaans. Wat doelbewus misgekyk word, is dat die toenemende Engels-besoedeling van Kaaps daarvan veel eerder ‘n mengeltaal as ‘n variasie van Afrikaans maak.

    Op sy beurt beteken dit dat Kaaps nie die voortbestaan van Afrikaans help verseker nie. Presies die teenoorgestelde is waar. As die meeste sprekers van Afrikaans bruin is en as baie van hulle Kaaps praat en selfs skryf (of dit bo Standaardafrikaans verkies) en Kaaps as ‘n variëteit van Afrikaans gereken word, is die toenemende verswelging van Afrikaans deur Engels ons voorland. Die uiteinde kan wees dat Afrikaans as ‘n taal wat onderskeibaar van Engels is, verdwyn. Die voorstanders van Kaaps, soos Michael le Cordeur, is met ‘n gevaarlike spel ten koste van Afrikaans besig. Hierdie politiek-gedrewe veldtog kan inderdaad noodlottige gevolge vir Afrikaans inhou. Veral verloopte Afrikaners, wat hulle oënskynlik met die heil van Afrikaans besig hou (“voltyds” in die geval van Wannie Carstens), moet hiervan kennis neem.

    Wat Le Cordeur in sy hoedanigheid as voorsitter van die Afrikaanse Taalraad doen, is om te pleit dat Kaaps, soos Ebonics, as ‘n skoolonderrigtaal erken word, al is Kaaps, soos Ebonics, ongestandaardiseer. Maar Le Cordeur se standpunt is meer radikaal. Volgens hom moet Kaaps nie, soos Ebonics, bloot as hulpmiddel vir die aanleer van die standaardtaal gebruik word nie. Kaaps word deur Le Cordeur as net so goed (indien nie beter nie) as Standaardafrikaans beskou. Die wenslikheid van onderrig in Kaaps word oor die boeg gegooi van die voordele wat onderrig in hulle moedertaal vir leerders inhou. Le Cordeur gee onderrig in Standaardafrikaans openlik die skuld vir die akademiese nie-prestasie van bruines (Praag 7 Julie). Hy kom egter nie met dieselfde verwyt teen Engels nie.

    Omdat Kaaps sekerlik nie sy sprekers se aanvaarding en optimale funksionering in die breë samelewing sal verseker nie, huldig Le Cordeur klaarblyklik die standpunt dat dit met Engels bewerkstellig moet word. Plaaslik sal Kaaps dus nie as voedingsbron vir Standaardafrikaans dien nie, maar eerder vir Engels. In die mate wat Kaaps toenemend eerder ‘n mengeltaal as ‘n variëteit van Afrikaans word, funksioneer dit al hoe meer as ‘n trapklip na Engels. Hierdie strategie word gevolg omdat Standaardafrikaans as ‘n witmenstaal geëtiketteer en daarom om politieke redes verwerp (indien nie verafsku nie) word. In sy voorwoord tot Christo van Rensburg se boek, So kry ons Afrikaans (2012), skryf Le Cordeur dat “die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem [ge]smoor” moet word (p 10).

    Weens hierdie politieke druk wat op Standaardafrikaans uitgeoefen word, is ‘n tweeledige reaksie by verloopte Afrikaners waarneembaar. Enersyds word die werklike bestaan van Standaardafrikaans ontken. Gerda Odendaal (Praag 2 deser) verwys na hierdie moontlikheid. Andersyds ontgin Odendaal ‘n alternatief, naamlik die herstandaardisering van Afrikaans, wat (soos ek op 2 deser aangedui het) ‘n verbruining en ontwitting van Afrikaans tot gevolg sal hê. Hierdie herstandaardisering sal in die naam van inklusiwiteit gedoen word, maar sal sekerlik daarin slaag om van die lojaalste en suiwerste sprekers van Afrikaans te vervreem.

    Die Afrikaanse Taalraad het pas ondersteuning vir sy brouwerk van die Vriende van Afrikaans (VVA), wat in Stellenbosch gesetel is, ontvang. Amanda de Stadler is die uitvoerende hoof van die VVA. Sy is die eggenote van die Afrikaanse taalkundige Leon de Stadler, wat dit onnodig vind om Russel Botman se verengelsingsbeleid aan die Universiteit Stelenbosch teen te staan. Op ‘n loslitmanier veroorloof hy homself ook heelwat onnodige Engelse woorde in sy geradbraakte Afrikaans (Praag 7 Nov).

    ‘n Berig in Die Burger (8 deser, p 11) het vandeesweek as aanleiding vir my skrywe gedien. Op 6 deser is die elfde gedenklesing ter ere van die gerekende Afrikaanse taalkundige Johan Combrink onder die vaandel van die VVA, wat sy 20ste bestaansjaar vier, gehou. Die tema van die byeenkoms was: “Afrikaans se ander baadjie”. Dit herinner aan die Afrikaanse Taalmonument se versoek dat ons anders na Afrikaans moet kyk, wat op groter “inklusiwiteit” neerkom, en waaraan uitdrukking gegee word met bewerings van gekreoliseerde Afrikaans.

    Ek het onlangs op Praag (2 deser) aangetoon hoe die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en die Afrikaanse Taalraad sorgvuldig vier sprekers uitgesoek het om volgens politiek-korrekte voorkeur by ‘n byeenkoms oor Afrikaans te praat. Die VVA het op ‘n soortgelyke manier te werk gegaan en drie sprekers (blykbaar een wit, twee bruin; een vrou, twee mans) genooi om “oor die waarde van Kaaps-Afrikaans teenoor Standaardafrikaans in hul daaglikse lewe … [te] praat … Twee redaksielede van Die Son, Christa Prinsloo en Eldridge Jason, en ‘n vryskutskrywer van dié koerant, Willem Fransman jr, het gepraat oor hoe soms neergekyk word op mense wat Kaaps-Afrikaans praat.”

    Jason het gesê: “As jong laaitie het ek kennis gemaak met die hoorbare en geskrewe vorm van Kaaps. Ek het besef daar is niks onwettigs aan die manier hoe ek Afrikaans praat nie … Afrikaans is ‘n taal van ‘n verskeidenheid kleure en geure. En Afrikaaps, soos baie mense na dié variëteit verwys, speel ‘n belangrike rol in die inkleur van die taal.” Alles wat wettig is, is natuurlik nie noodwendig gewens nie. By inkleur kan ‘n mens tussen ligte of donker kleure kies. Die ligte kleure kan meer bevorderlik vir die eerbare voortbestaan van Afrikaans wees. Wit vanielje kan taalkundig ‘n geseënde plaasvervanger vir al die kleure en geure van Desmond Tutu se reënboog wees.

    Jason is die outeur van die boek Gerook (2013), wat oor dwelmverslawing handel. Op LitNet (15 Okt) is ‘n onderhoud met Jason gevoer. Daar lyk dit asof hy tot Standaardafrikaans in staat is. Sy kort VVA-toespraak is ook op LitNet (11 deser) gepubliseer. Die teks kan maklik op ‘n enkele A4-bladsy uitgedruk word. Daarin benut hy opsetlik “ons Kaapse way van Afrikaans praat.” Hy gebruik die volgende woorde: “variant”, “change”, “eyeblind”, “sad”, “somehow” en “stupidgeit”, asook die frase “way van living”. Hy kon gerus die eerbare weg gevolg en liewer die moeite gedoen het om die Afrikaans vir daardie woorde in ‘n woordeboek na te slaan.

    Fransman het in sy VVA-toespraak verwys na die taal waarop hy verlief geraak het en wat net in die “townships” gepraat is. Op hierdie Kaaps-eksklusiewe manier voel hy blykbaar geen aangetrokkenheid tot Standaardafrikaans nie, terwyl blankes telkens tot inklusiwiteit vermaan word. “Ek het in boeke gelees oor ‘n taal wat ons nie in die klaskamer praat nie. Dit is die ander baadjie van Afrikaans wat ek wil aantrek. Dis hoe ek wil skryf … Kaaps en in geen ander taal.”

    Maar Fransman se toespraak (LitNet 11 deser) bestaan, afgesien van aanhalings uit Kaapse teks, uit goeie Standaardafrikaans. Sowel hy as Jason kan Standaardafrikaans skryf, maar albei verkies Kaaps. Waarom sou hulle anders handel as mense soos die De Stadlers hulle in hierdie kwaad sterk? Elders op die internet het Fransman met die gebalanseerde uitspraak gekom dat Afrikaans aan sowel die wittes as die bruines behoort, dus dat dit bog is om (soos Magdaleen Kruger) te beweer dat Afrikaans aan die bruines teruggegee moet word.

    Die berig in Die Burger is deur Raymond Willemse, waarskynlik ‘n bruin joernalis, geskryf. Geen melding word gemaak van wat Christa Prinsloo, waarskynlik die enigste wit spreker, te sê gehad het nie. Jason en Fransman se toesprake is, met ‘n foto van elk, op LitNet gepubliseer, maar nie Prinsloo se foto nie. Die Burger het net ‘n foto van Jason gepubliseer. Dit toon hoe wittes deesdae deur bruines, dikwels met die hartlike samewerking van wittes, gemarginaliseer word, selfs wanneer dit om ‘n kern-Afrikanersaak soos Afrikaans gaan. Wittes het die neo-gemarginaliseerdes geword.

    Hieruit volg nie dat Prinsloo, die inhoudsredakteur van Son, ‘n geskikte persoon is om die koers vir Afrikaans aan te dui nie. Let op hoe word in Son gevra vir inligting wat na Prinsloo gestuur kan word: “Ken jy iemand wat against all odds bo uitgekom het? Weet jy van mense wat goeie werk doen om die gemeenskap te uplift?” (11 deser, p 9).

    In dieselfde uitgawe van Son skryf Jason oor bruin kinders se “struggle” om toelating tot die Laerskool Hermanus te kry. Sy teks is onder die opskrif, “Skool se hoof die problem,” gepubliseer. Ander opskrifte in dieselfde koerant is: “Cops se attitude is sondebok,” “Bloues slaan weer op verskeie druggies toe,” “Jong man sterf toe hy girl red,” “Lolly-saak moet wag oor lawyer,” “Raadswerkers kla oor raise van R9,” “Fight ná cops wardens skud,” “Gratis krag het locals bly,” “Couple leef in vrees oor cop,” “Pa kry life ná hy sy eie 3 kids rape,” “Toekoms verander: van druggie na ‘social worker,’” “Talle issues kan sorg dat vroue struggle,” “Lamar belowe fans hy gaan weer kom,” “RiRi en Drake dalk hot nuwe paartjie,” “Soul-sanger lewer ‘n Madiba-tribute,” “Fikru is ook nou easy”. Dit lyk asof die nuwe baadjie vir Afrikaans deur die VVA in ‘n taalriool gesoek is. Die baadjie blyk veel eerder ‘n luier te wees.

    Maar dit het by hierdie VVA-byeenkoms blykbaar van kwaad tot erger gegaan. Basil Kivedo was in die jare sewentig ‘n dosent in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Daarna het hy ‘n opgeleide MK-soldaat geword. Na ons “bevryding” is Kivedo as die DA-burgemeester van die munisipaliteit Breederivier (Worcester) herontplooi. Dit is ‘n instansie wat deesdae Engelse advertensies in ‘n Afrikaanse koerant plaas. Die bruin Kivedo het as ‘n nie-taalkundige huldigingswoorde oor JohanCombrink gespreek en hom geprys vir “sy bydrae en sy rol” om Afrikaans te bevorder: “Dit is ‘n eer om deel te wees van die gebeurtenis.” Die vraag is of Combrink, wat ‘n stoere ondersteuner as ordentlike Afrikaans was, geëerd met hierdie byeenkoms sou gevoel het. Ek dink nie Combrink sou die handevat-opsie met ‘n oud-ANC-terroris en met die bedenklike Son-Afrikaans gekies het nie. Standaardafrikaans was vir hom erns.

    Nog was dit nie die einde nie. Die Burger-berig sluit soos volg af: Amanda de Stadler “het ná die geleentheid gesê Afrikaans het ‘n ander baadjie aangetrek en dit het gewerk.” Dus, Afrikaans kan maar ver-Son? Myns insiens was dit heeltemal onvanpas om drie sprekers by die koerant Son te gaan soek as die doel was om Afrikaans te bevorder. Daardie uitlatings kon wel ‘n positiewe doel gedien het as die idee was om kennis te neem van wat vermy moet word; dus as dit ‘n verkenningstog was om die euwel van mengeltaal beter te leer ken. De Stadler se slotopmerking toon dat sy bereid is om net so ver soos Wannie Carstens en Michael le Cordeur agteroor te buig ten koste van eerbare Afrikaans.

    Om Son-Afrikaans as rigsnoer vir algemeen beskaafde oftewel Standaardafrikaans te gebruik, is net so onvanpas soos om Nelson Mandela tot beskermheilige van ‘n anti-terreurveldtog te verklaar. Wanneer vriende vir Afrikaans gesoek word, is dit wenslik om volgens ‘n kwantitatiewe maatstaf voor die voet soveel moontlik mense bymekaar te maak? Of moet ons eerder kwalitatiewe norme toepas en volstaan met ‘n gideonsbende, in die wete dat ‘n mens aan jou vriende geken word?

    Pleks van al hierdie politiek-korrekte geheul met bv Kaaps sou die eerlike erkenning dat blankes en veral Afrikaners, waarvan Johan Combrink een was, uitsonderlik in Suid-Afrika gepresteer het, veel meer gepas gewees het. Standaardafrikaans is een van die Afrikaner se grootse prestasies. Pleks van destruktief met so ‘n waardevolle erfenisproduk om te gaan, behoort ons Standaardafrikaans liewer met oorgawe en kompromisloos te koester.

  • ‘n Dik spyker gaan rieldans toe

    ‘n Dik spyker gaan rieldans toe

    'n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl
    ‘n Gedeelte van die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl

    deur Leon Lemmer

    Met kultuur mag nie gemors word nie, maar dit kan nogal snaaks wees as ‘n werklik belangrike persoon daaroor skryf; ‘n krummeltjie wat ‘n brood geword het, soos dit onlangs so mooi op praag gestel is. Kort nadat Michael le Cordeur as’t ware die vloer op die hoofbladsye van Die Burger met sy forumartikel oor die klopse gevat het (2 Jan, p 13; Praag 5 Jan), plaas hierdie koerant as ‘n forumartikel sommer nog ‘n teks van hom oor die bruines se kultuur. Die opskrif is: “Verenig deur die riel” (Die Burger, 7 Jan, p 9). Feitlik onvermydelik is albei artikels ook op die Afrikaanse Taalraad se webwerf gepubliseer. Die onderskrif van laasgenoemde koerantartikel lui: “‘n Aand van rieldans het Michael le Cordeur oortuig dié dans is die ideale manier om brûe tussen taalgemeenskappe te bou en alle Afrikaanssprekendes te verenig.” Sy onderwerpe is dus dans, taal en politiek.

    Dié artikel verwys na die ATKV se jaarlikse rieldanskompetisie wat verlede jaar die agste keer aangebied is en wel op 7 Desember by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl. Op 15 Desember het ek op Praag beswaar teen die etniese eensydigheid van die aanbiedinge by die monument gemaak en onder meer die bevordering van boeremusiek voorgestel. Op 25 deser het ‘n uitvoering van boeremusiek inderdaad daar plaasgevind. ‘n Mens is uiteraard dankbaar dat daar in hierdie opsig erkenning aan Afrikanerkultuur gegee word. Hopelik dui dit op groter ewewig by wat die monumentbestuur vorentoe oor bruin- en Afrikanerkultuur gaan doen. Die ATKV het die rieldansbyeenkoms finansieel ondersteun, maar nie die een vir boeremusiek nie. Dié boeremusiek het wél ondersteuning van kykNet gekry, sodat hierdie byeenkoms seker verfilm is en later gebeeldsend sal word.

    Baie joernaliste het oor die Kerstyd vakansie gehou en die enkeles wat in die “enjinkamer” oorgebly het, het teks gesoek om die wit bladsye van die koerant vol te maak. Le Cordeur is ‘n dosent en het die vakansietyd verwyl deur “akademiese bydraes” te lewer. Wat kan meer gepas wees as dat hy put uit die bruines se kultuur en dit aan die breë publiek bekend maak? Maar hy hoef sekerlik nie in hierdie proses Afrikaners af te kraak nie.

    Die Burger het weer ‘n foto van die outeur by sy artikel geplaas en genoem dat Le Cordeur die voorsitter van die Afrikaanse Taalraad én die ondervoorsitter van die Taalmonument is. Ons het dus hier ‘n geval van twee gewigtige poste wat op een mens se skouers rus. Daarby gaan dit om ‘n kulturele saak soos Afrikaans, wat Afrikaners na aan die hart behoort te lê. Dat Le Cordeur hierdie publisiteitskans in ruime mate misbruik om politieke houe teen die blankes in te kry, skeel Die Burger min. Die “bruin stem” moet mos gehoor word en daarom word polities korrek baie dinge oorgesien.

    Maar hou deurlopend dop hoe Le Cordeur in sy relaas en heeltemal teenstrydig met sy strewe na inklusiwiteit (dus rasse- en kulturele, insluitende taal-, integrasie) by implikasie en heeltemal onbedoeld ‘n sterk saak daarvoor uitmaak dat bruin- en Afrikanerkultuur liefs apart uitgeleef moet word.

    Le Cordeur begin sy artikel op ‘n lekker persoonlike loslitnoot. Hy en sy vrou is nogeens deur die ATKV na die rieldanskompetisie genooi. Hy noem dat mede-bruine Danny Titus die kultuurbestuurder van die ATKV is. Titus “probeer ons reeds geruime tyd daar kry, maar ons program is so vol dat die geleentheid nie daar was nie. Hierdie keer sou niks ons keer nie.” In Desember het Le Cordeur heel terloops opgemerk: “In die onlangse verlede het ek dikwels oorsee gereis” (Praag 5 deser). Gewone mense besef nie hoe sterk die wind is wat deur ‘n werklik hoë boom getrotseer moet word nie. Omdat hy so hoog is, laat so ‘n boom hom ook nie maklik snoei om hom ‘n bietjie aarde toe te bring nie.

    Die goeie nuus is dat hierdie dik spyker uiteindelik tyd gevind het om die rieldanskompetisie by te woon. Wie word in Michael se motor gelaai? “Vroulief” Sonia en “my broer Clarence en sy vrou, Jowenen”; dus nie ‘n groepie Afrikaners met flou Afrikaanse name soos Piet en Koos en Anna en Sarie nie. Le Cordeur bely: “Ek slurp die name op soos moerkoffie.”

    By die monument loop Le Cordeur, naas Titus, die volgende swaargewigte raak: Japie Gouws, die uitvoerende hoof van die ATKV, Ria Olivier, die projekkoördineerder van die Afrikaanse Taalraad, en Danie van Wyk, die uitvoerende hoof van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Afgesien van Gouws is hulle almal bruin. Le Cordeur noem hierdie uitgelese groepie, waarby hy homself insluit, “die ‘Wie is Wie’ van Afrikaans”. Dalk eerder die “krummeltjies”? Pleks van Standaardafrikaans te bevorder, word dit as ‘n witmanstaal geëtiketteer en steun aan ‘n getransformeerde Afrikaans verleen. Le Cordeur verwys ook na die twee bruin aanbieders van die verrigtinge: Lynette Francis en Elias Nel.

    Dan begin Le Cordeur met sy stekies na Afrikaners.

    “Daar is ‘n lekker vibe in die gehoor. Niemand is te styf of te bang om te glimlag en te gesels nie. Jy ervaar ‘n heerlike inklusiewe gevoel; anders as by ander Afrikaanse feeste waar die gehore – ongelukkig – dikwels eksklusief wit is. Selfs die direksies – met die uitsondering van die Suidoosterfees – gaan mank aan verteenwoordiging uit die bruin en swart gemeenskappe.”

    Wat Cordeur sê, is dat wanneer daar hoofsaaklik bruines teenwoordig is, hy tuis by so ‘n “inklusiewe” samekoms voel. Afrikaners word deur hom negatief, as “styf” en “bang”, gestereotipeer. Hulle word gekontrasteer met wat Jakes Gerwel in sy doktorale proefskrif (1983) die “jolly Hotnots” genoem het. Le Cordeur: “Jy voel dit aan die kielie op jou rug en die loslitgeit in jou tekkies [nie veldskoene nie, Praag 19 deser]: Hier kom ‘n ding!”

    Die Suidoosterfees is ‘n Naspers-uitvindsel ten bate van die uitlewing van veral bruin kultuur. Daar is geen Naspers-teenhangerfees vir wittes nie. Die soort “inklusiwiteit” wat vir Le Cordeur by die jaarlikse Suidoosterfeeste sal aanstaan, is die mengsel van Afrikaans en (al hoe meer) Engels in die aanbiedinge. Volgens die webtuiste is dié feesbestuur nie in Roggebaai of op die Kaapstadse strandgebied gesetel nie, maar op die “Foreshore”.

    Ons word vervolgens ingelig dat die Le Cordeurs, soos dit seker hoort, hulle in die voorste gestoeltes bevind. Met verwysing na die stof wat letterlik deur die rieldansers opgeskop word, skryf Le Cordeur: “Om heel voor te sit het ook sy nadele.” Uit die name van die rieldansgroepe blyk dit dat hulle, synde van die platteland, Afrikaanse name het; dus anders as die klopse wat uit die stedelike of halfstedelike gebiede van die Wes-Kaap kom en Engelse name verkies. Vanweë sy etnies gedrewe geesdrif oorskat Le Cordeur waarskynlik die verdienste van die rieldansgroepe: “Dit sal my min verbaas as een van hierdie name eendag gehore in die Kunstekaap vermaak.” Die Kunstekaap was vooheen die Nico Malan-teater, maar Afrikanername word mos deesdae uitgevee.

    “Dis die mooi van dié fees. Afrikaanse woorde en Afrikaans as taal herleef soos selde tevore.” Maar dit is blykbaar nie vir Le Cordeur moontlik om sy opmerkings tot taal en dans te beperk nie. Hy móét eenvoudig sy anti-Afrikaner-sentiment lug:

    “En anders as in 1975, toe die Taalmonument ingewy is en bruin en swart mense uitgesluit was, het die knap leierspan van die ATKV en die inspirende bestuurspan van die Taalmonument gewys dat Afrikaans in sy nuwe inklusiewe gedaante die basis vir nasiebou en versoening kan vorm.”

    Le Cordeur noem dit nie hier nie, maar die “nasiebou en versoening” waarna hy verwys, het onder meer ingesluit dat hierdie byeenkoms aan sy held Nelson Mandela opgedra is; nogal deur die ATKV se Japie Gouws (Praag 15 Des). Hoe ver kan verloopte Afrikaners agteroor buig? En dit het gebeur by die Afrikaanse Taalmonument, ‘n plek wat vir tradisionele Afrikaners heilige grond is. Anders as die verloopte Afrikaners is dit die tradisionele Afrikaners wat (in die woorde van NP van Wyk Louw) “nie kon gebuig word soos húl [die ANC se] geweld dit wou.”

    Le Cordeur verkies ‘n ander Van Wyk Louw-aanhaling:

    “Afrikaans is die taal wat vir Wes-Europa en Afrika verbind; dit vorm ‘n brug tussen die groot helder Weste en die magiese Afrika – die soms nog so ón-helder Afrika; wat daar groots aan hulle vereniging kan ontspruit – dít is miskien wat vir Afrikaans voorlê om te ontdek”

    Dit is moeilik om vas te stel in hoe ‘n mate hierdie woorde ter ondersteuning van Le Cordeur se standpunt vertolk kan word. Die kern van wat Van Wyk Louw sê, is dat Afrikaans wesenlik ‘n Europese taal is wat in Suid-Afrika ontwikkel het. Dit is onwaarskynlik dat daar veel ruimte vir groot nie-blanke (bv Khoi- en slawe-) invloed op Standaardafrikaans gelaat word, maar Wannie Carstens (Praag 17 Nov) is fanatiek begeesterd om juis dit te boekstaaf.

    “Die rieldans is die ideale geleentheid om brûe tussen taalgemeenskappe te bou en alle Afrikaanssprekendes te verenig.” Dit kom neer op die bekende voorskrif dat wittes, veral Afrikaners, moet verander en ander se kultuur, bv rieldans, moet omarm, maar dat bv bruines nie hoef te verander en entoesiasties oor bv boeremusiek hoef te raak nie. Le Cordeur verwys na “alle Afrikaansprekendes”, maar voorts dink hy (veral) aan bruines:

    “Diegene in die suide op die Kaapse Vlakte en diegene in die noorde van Namakwaland en Boesmanland. En dalk, wie weet, kan ons begin om die magiese krag van die enigste taal wat die naam van ons vasteland dra te herontdek.”

    Hoekom herontdek? Le Cordeur dink seker aan die talle bruines wat vanweë apartheid hulle rug op Afrikaans gekeer het. Tradisionele, dus nie-verloopte, Afrikaners hoef nie op so ‘n herontdekkingsreis te gaan nie. Afrikaans was en is wesenlik deel van regte of ware Afrikaners. Dit is in hulle geledere dat die “Wie is Wie” van Afrikaans in 1875, in 1975 en ook op 7 Desember 2013 gevind kan word; nie by diegene wat met ‘n mengsel van lojaliteit en dislojaliteit vorendag kom nie. Lees bv Danny Titus se rubriek oor “ons taaltjie” (Beeld/ATR 23 deser).

    Le Cordeur borduur soos volg voort:

    “In daardie opsig [nasiebou en versoening] is die Rieldanskompetisie dus ‘n fees wat die ware vryheid van Afrikaans vier. Maar dan Afrikaans met al sy variëteite, kleure en geure. En anders as in 1975 het die Taalmonument nou, bykans 40 jaar later, eers waarlik die doel bereik waarvoor dit aanvanklik opgerig is.”

    Waarom die politieke term “vryheid” hier insleep? Daar is nie groter of “ware” vryheid vir Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika nie. Afrikaans is die enigste van die elf amptelike tale wat in die nuwe Suid-Afrika baie aan status ingeboet het en wat deur die ANC-regering waar en wanneer enigsins moontlik benadeel word.

    Dit is ‘n wanindruk by Le Cordeur dat daar na die “bevrydingstryd” vryheid in die nuwe Suid-Afrika is. Gedwonge etniese segregasie het plek vir gewonge etniese integrasie gemaak. Le Cordeur se voorliefde vir inklusiwiteit en hibriditeit is deel hiervan. Mede-bruine Jonathan Jansen vereis van studente aan die Universiteit Vrystaat dat hulle ten gunste van gedwonge integrasie (bv van al die koshuise) moet wees en ook homoseksualiteit moet omarm (Die Burger, 20 deser, p 3). Is dit “ware vryheid”? Wat sou Jansen en Le Cordeur se reaksie gewees het as die “apartheidsregime” ideologiese vereistes aan studente aan die Universiteit van Wes-Kaapland gestel het toe hulle daar studeer het?

    “Afrikaans met al sy variëteite” is die frase wat Le Cordeur keer op keer in sy geskrifte ophaal. Dit is deel van die inklusiwiteit wat hy voorstaan. Maar hy is selektief oor waar hy die klem lê. Hy is ‘n geswore apologeet vir Kaaps en het op LitNet neerbuigend na Standaardafrikaans as “maar een van die variëteite van Afrikaans” verwys. Hierdie dik spyker oor Afrikaans ag Standaardafrikaans dus nie hoër of belangriker as Kaaps nie. Daarby doen Le Cordeur nie eens die moeite om te onderskei tussen idiomatiese, eiesoortige, vindingryke Kaaps soos Bo-Kaaps (en bv Griekwa-Afrikaans) en die morsige mengeltaal Kaaps wat met Engelse woorde besoedel is en die voortbestaan van Afrikaans bedreig nie. Klaarblyklik veroorsaak etniese hibriditeit dat bruines maklik ten prooi van taalhibriditeit val. Die onderliggende probleem is ook dat Le Cordeur se etniese verknogtheid meebring dat hy alle taalvariëteite wat bruines voortbring onkrities aanprys en propageer.

    Die struktuur van die monument toon ‘n realistiese bewustheid van die bydrae wat nie-wittes tot Afrikaans gelewer het, maar nie ‘n oordrewe entoesiasme daarvoor nie. Dit is te betwyfel of Le Cordeur die doel waarvoor die monument aanvanklik opgerig is, korrek vertolk. Dit is onwaarskynlik dat in 1975 voorsien is dat rieldanskompetisies daar aangebied sou word. Die verband tussen Afrikaans en rieldans is immers nie danig direk nie. Taal en dans verskil.

    Maar daar word ‘n politiek gemotiveerde poging aangewend om die bron van sowel rieldans as Afrikaans op dieselfde plek en by dieselfde mense te soek, naamlik aan die Kaap by die Khoi-San. Eerstens word veronderstel dat die Khoi-San altyd hier sou gewees het. Tweedens dat rieldans by die Khoi-San ontstaan het. Derdens dat Afrikaans ingevolge die kombuistaalhipotese simbioties-osmoties by die Koi-San en die slawe ‘n aanvang geneem het. Daar is min historiese getuienis hiervoor, maar dié soort redenasie munt uit in politieke korrektheid. Dit word dus deesdae graag in linkse geledere as die waarheid aanvaar. Waarom hierdie beweerde vindingrykheid van bruines nie ook op ander terreine weerklank gevind het nie, kan sulke apologete nie verklaar nie; of die wittes word soos gebruiklik verwyt dat hierdie bruines se inisiatiewe deur wittes weens rassediskriminasie (segregasie, apartheid) gesmoor is.

    Kom ons veronderstel dat rieldans as ‘n kulturele uitdrukking van sommige Afrikaanssprekendes indirek ook Afrikaans kan dien, onder meer omdat die invloed van Afrikaanse lirieke en boeremusiek in sommige gevalle by rieldans waarneembaar is, waarmee rieldans dan inklusiewe oftewel hibriditeitstatus verwerf. Boeremusiek se verband met Afrikaans is meer direk as dié van rieldans, want daar is eksplisiete Afrikaanse lirieke wat daarmee saamgaan en Afrikaners is meer ingebed in Afrikaans as bruines; dus, Afrikaners is meer Afrikaansgetrou. Die Afrikaanse Taalmonument is myns insiens dus ‘n meer natuurlike tuiste vir boeremusiek as vir rieldans. Tog word veel eerder rieldans as boeremusiek daar aangebied. Dit dui op ‘n etnies gedrewe voorkeur by die “inspirende bestuurspan” van die Taalmonument.

    Maar Le Cordeur sleep politiek by. Hy wil Afrikaans en die monument vir bv nasiebou en versoening benut; ideale waaraan die ANC lippediens betuig. Dit was sekerlik nie die doel waarvoor die monument aanvanklik opgerig is nie. Die monument het veral in die vorige eeu Afrikanernasiebou onderskraag. Die bedoeling was sekerlik nie dat hierdie monument van 1994 af ‘n bydrae moes lewer tot die bou van ‘n (fiktiewe) nasie wat deur swartes oorheers word nie. Voorheen en tans kon die monument moontlik wél ‘n bydrae lewer deur alle Afrikaanssprekendes saam te snoer.

    Rieldans is volgens Le Cordeur ‘n bruikbare instrument vir sowel nasiebou as versoening. Ek dink nie boeremusiek leen hom tot sodanige politieke gebruik in die nuwe Suid-Afrika nie. Dit is waarom Le Cordeur die monument se rieldans- en ek die boeremusiekbyeenkomste bywoon. Ten spyte van al die propaganda oor inklusiwiteit, nasiebou en versoening, is daar wesenlike verskille tussen mense, insluitende etniese en kulturele (dus ook taal-) verskille. Ons moet realisties genoeg wees om dit te erken.