Uitlatings oor Dookoom se Larney-liedjie herbesoek

Deel op

Oor Herman Wasserman se artikel oor die Larney-liedjie van Dookoom het ek geskryf: “Dit is myns insiens een van die onbetaamlikste stukkies joernalistiek wat ooit in Die Burger gepubliseer is” (Praag 26 Oktober). Ek vind Wasserman se teks, asook die onverdunde anti-Afrikanergesindheid onderliggend daaraan, dermate onverteerbaar dat ek vandag die aandag op drie reaksies wil vestig.

Twee van hierdie reaksies is eintlik die enigste beduidende kommentaar oor hierdie onderwerp wat in die gedrukte uitgawe van Die Burger toegelaat is. Daar was egter ook ‘n briefie oor “Slegsê en afkraak versoen niemand” nie (6 deser, p 16), waarop kommentaar myns insiens oorbodig is. Lees gerus die LitNet-onderhoud (5 deser) wat met Wasserman gevoer is en waarin hy met sy kenmerkende eenogigheid verwys na die “etiese moerasse van die verlede.” Doelbewus verkies hy om die etiese moerasse van die hede mis te kyk. Anders as met die verlede is dit moontlik om pogings aan te wend om hedendaagse vergrype reg te stel.

Die eerste reaksie is krities oor Wasserman se uitlatings. Dié mening kom nogal uit ‘n onverwagte oord, naamlik van Dave Steward, die uitvoerende direkteur van die FW de Klerk-stigting. Afgesien van die eerste twee paragrawe, wat nie tersaaklik is nie, word sy brief (Die Burger, 30 Oktober, p 18) volledig aangehaal omdat baie Praaglesers die teks waarskynlik nog nie onder oë gehad het nie. Die opskrif lui: “Haatspraak is verbode, ongeag deur wie.”

“Die liedjie is ‘n beledigende, kru en rassistiese aanval op wit boere en sweep mense in ons plofbare landbousektor op om plase af te brand. Prof Wasserman se onmiddellike reaksie is om verskoning te vra omdat, volgens Dookoom, plaaswerkers erger as diere behandel word. Prof Wasserman bevraagteken nie Dookoom se hoogs beledigende en eensydige weergawe van die situasie op ons plase nie en voel dat die gepaste reaksie sou wees ‘om te probeer luister na daardie emosies en te probeer vasstel wat die oorsake daarvan is’.

“Die werklike oorsaak van die liedjie is heel waarskynlik om opspraakwekkende reklame vir Dookoom te genereer en om geld te maak.

” Die ironie is dat Dookoom hoofsaaklik ‘n wit groep is – wat besef dat niemand ooit bankrot geraak het deur ‘apartheid’ opnuut uit die sloot te grawe of om wit Suid-Afrikaners so erg moontlik te beledig nie – wetende dat hul reaksie in die meeste gevalle sal wees om weer eens heftig verskoning te vra.

“Een van die leidende figure in die groep is ‘n talentvolle jong Brit, en ‘n ander lid beskou homself klaarblyklik as ‘n musikale Quentin Tarantino – wat hom glo ‘n lisensie gee om, soos in Django Unchained, swart woede teen medewittes so bitsig moontlik uit te spreek.

” Ons probleem is dat in ons uiters sensitiewe veelrassige gemeenskap – waar plase wel afgebrand word, waar boere gereeld wreed vermoor word en waar vreedsame swart vroue in ons ‘wit’ woonbuurte aangeval word – ons nie haatspraak van enige aard en vanuit enige bron kan bekostig nie. Daarom word dit tereg in ons liberale Grondwet verbied.”

Opsommend kan ‘n mens seker sê dat Steward sterk kapsie maak, enersyds teen die haatspraak van Dookoom en andersyds teen die skandalige anti-blanke (en veral anti-Afrikaner-) gesindheid van Wasserman. As ‘n mens na ‘n maatstaf vir die plaaslike agteruitgang van Europese beskawing sedert 1990 soek, gee die lof vir die Larney-liedjie, in vergelyking met die verdoeming van Die Stem, ‘n betroubare en ontstellende aanduiding van die etiese, politieke en kulturele moeras waarin ons ons deesdae bevind.

Die tweede reaksie is minder krities as Steward teenoor Dookoom en neig om Wasserman eerder sterk te ondersteun, pleks van sy uitlatings te verdoem. Ek verwys na ‘n artikel deur Danie Marais onder die opskrif, “Wees bang, wees baie bang” (Die Burger, By & Naweek+, 1 deser, p 10). Marais word beskryf as “‘n skrywer, digter en ‘n radio-omroeper.” Uit sy geskrifte blyk dat allerhande vrese deel van sy menswees is. Op die internet word Marais gekarakteriseer as behorende tot die middelklas en as ‘n buitestander. Hy wil klaarblyklik nie lid van die Boere-adel wees nie.

“Die wit 19-jarige Dane Dodds se musiekvideo vir ‘Larney’ het my die volle 4 minute 14 sekondes lank na die skerm laat staar. Dit het gevoel of iemand ‘n nagmerrie wat my sedert my kinderdae teister, op my rekenaar geplant en ek dit per ongeluk oopgemaak het.”

Ek het as kind 15 jaar lank in die Hexvallei gewoon en die boere as ordentlike, beskaafde, eerbare mense leer ken en sedertdien graag kontak met sommige van hulle behou. In die nuwe Suid-Afrika het dit egter ‘n gewilde tydverdryf geword om hulle almal as boos voor te stel. Hoe ervaar Marais hierdie plaasmense?

“My oom het jare lank by De Doorns in die Hexriviervallei met uitvoerdruiwe geboer. Die verweerde bruin en swart gesigte wat jy in die Dookom-video sien, spook al dekades by my. As jy in hierdie land grootgeword het, weet jy van die papsak wat in daardie video rondgestuur word; het jy reeds al die woede en armoede wat Dodds wys herhaaldelik op die sewe-uur-nuus of langs die pad in protesoptogte gesien.”

As Marais van beter geweet het, sou hy van die Hexvallei gepraat het. Al skryf Marais, “as jy in hierdie land grootgeword het,” sou hy, as sy kennis verder terug gestrek het, geweet het dat swartes in daardie vallei ‘n onlangse verskynsel is. Voorheen was die plaaswerkers uitsluitlik bruin (met wit voormanne). Hierdie bruines is deesdae bitter omdat hulle deur swartes uit die Oos-Kaap en buurlande uit hulle plaaswerk verdring word. Saam met die ontbanning van die ANC en die instroming van swartes het arbeidsonrus sy verskyning gemaak. Die papsak is ook ‘n redelik onlangse verskynsel. Voor dit is drank in groot maat in ‘n harde plastiekhouer, bekend as die swart varkie, verkoop. Die woede en protesoptogte waarvan Marais skryf, is die uitdrukking van toorn wat in die nuwe Suid-Afrika by plaaswerkers gestook word, met die hartlike en deurlopende medewerking van die ANC. Hierin speel aktiviste soos Marius Fransman, Tony Ehrenreich en Nosey Pieterse ‘n leidende rol.

“Maar jy’t waarskynlik nog nie gesien hoe ‘n tandelose plaaswerker effe onbeholpe ‘n geweer optel terwyl Isaac Mutant (voorheen van Prophets of Da City) se rymwoorde in jou ore tuit nie: ‘Ek sê: “Voetsek! Brand jou plaas plat, nou kan jy soos ek werk!” […] Koes-koes, daar hol hulle. Koes-koes, daai’s my formula.’ En dan kom die refrein, oor en oor: ‘Jou p**s, my larney! / Jy kan my nie vertel nie!’ – kort nadat jy gesien het hoe ‘n werker ‘n gholfbal heel skeef iewers die veld inbliksem, vermoedelik met ‘die baas’ se gholfstok.”

Plaaswerkers word dus uitgebeeld as woedend, arm en tandeloos, met verweerde gesigte. Hulle doen die werk. Die boere werk nie. As die werkers staak, sal die boere moet begin om te werk. Marais spreek geen kritiek uit teen hierdie eensydige wanvoorstellings of die kru taal en openlike opsweping tot brandstigting nie. Die Larney-liedjie is glo “in pas … met ‘n deel van ons bevolking se woede.” Maar Marais beskou dit klaarblyklik as geregverdigde woede waarvoor die slegte wittes (die “weeskinders van die Weste in Suid-Afrika”) verantwoordelikheid moet aanvaar. Dit is dus glo nie gemene en doelbewus-opgestookte toorn nie.

“Isaac Mutant sê hy het ‘Larney’ woedend geskryf ná die De Doorns-opstande van wynplaaswerkers in 2012. … ‘Larney’ beteken enige kapitalistiese baas … Die blote bestaan van Dookoom se liedjie of video bekommer my egter nie. Gaan kyk na die mees opspraakwekkende voorbeelde van omstrede protesliedjies en jy kom vinnig tot die slotsom dat liedjies net so min revolusies veroorsaak as wat dit oorloë of verdrukking beëindig.”

Hierna stal Marais sy kennis van liedjies uit om sy stelling oor hulle beweerde onskadelikheid te probeer bewys. Maar waarom dan die hedendaagse bohaai as liedjies soos Die Stem en De la Rey in die openbaar gesing word? Uiteraard breek Marais geen lansie vir hulle nie. Wat ons hier mee te make het, is ‘n radio-omroeper en skrywer wat myns insiens ter wille van aanvaarbaarheid by die massa, of selfs gewildheid, politieke korrektheid verafgod. Die swart massa handel in vermeende eie belang en word in hulle kwaad gesterk deur ruggraatlose blankes wat sê en skryf wat polities korrek is, dus wat van hulle verwag word, pleks van met ‘n eerlike mening vorendag te kom.

Marais verwys bv na 1992 toe “die strate van L[os] A[ngeles] ontplof [het] nadat die polisiemanne wat Rodney King die vorige jaar brutaal aangerand het, vrygespreek is.” Net soos Marais kant kies vir die nie-wittes teen die boere van die Hexvallei, skaar hy hom sonder meer by die swart Amerikaners teen die (wit) polisiemanne wat ‘n swarte “brutaal aangerand” het. As swarte is Rodney King blykbaar per definisie onskuldig, asook al die swart oproeriges. Ons het hier met maklike kontraste te make: wit/swart, sleg/goed. Maar die werklikheid en die waarheid is meer genuanseerd en vloek teen sulke flagrante veralgemenings.

Dan kom Marais by sy gevolgtrekking of toepassing: die formulering van een van die vorms wat sy kroniese bangheid aanneem. “Ek is dus nie bang vir Dookoom se woorde of video nie. Ek is bang vir die kruitvat wat hulle uitbeeld en waaroor hulle rap. Al wat nodig is, is ‘n Larry [Rodney?] King-voorval iewers op ‘n plaas en dan brand die land weer.” Net soos die boere ongekwalifiseerd die skuld vir plaaswerkers se dranksugtigheid en beweerde armoede kry, reken Marais dat apartheid, dus die wittes (en nie die swartes en die ANC nie), die skuld vir toekomstige geweld gaan/moet kry. Dat swart “bevrydingsbewegings”, soos die ANC en PAC (en deesdae ook die Economic Freedom Fighters), wesenlik en onboetvaardig ‘n gewelddadige DNS het, gaan by Marais verby.

“Wat my angstig maak, is dat die groeiende nagmerrie van ellende langs die N2 tussen Somerset-Wes en Kaapstad ons nie hewiger ontstel nie. Net hierdie week sit ek op daardie hartseerpad agter ‘n klein silwer BMW Z3-sportmotor. Die nommerplaat sê: ‘TYCOON – WP’. Ironies of obseen? Dalk albei, maar as ek in ‘n blikhuisie langs die snelweg, iewers tussen die seile van Cape Town Film Studios se kamma-seerowerskepe en die fabelagtige strandhuise in Clifton gekrepeer het, sou ek waarskynlik daardie nommerplaat gelees het as: ‘Arm man, jou p**s!'”

Marais noem nie dat ellende kenmerkend van Afrikalande is nie. Sedert 1990/1994 het Suid-Afrika onmiskenbaar ‘n volwaardige Afrikaland geword. Marais verwys na ‘n “hartseerpad” omdat krotbuurte daaraan grens. Myns insiens is dit ‘n hartseerpad omdat dit (feitlik) daagliks die toneel van ekonomiese sabotasie is. Dit is altyd gevaarlik om daar te ry weens klipgooiery, optogte, aanvalle op motoriste, vee wat steelweiding op die padskouers benut, ens. Waarom lewer Marais nie eerder ‘n pleidooi dat wet en orde herstel moet word nie? Waarom teen die filmateljees, sportmotors en strandhuise, dus kapitalisme, gekant gewees as die (wit) eienaars eerlik daarvoor gewerk het? Moet Marais nie eerder swartes vir kritiek uitsonder as hulle sonder (veel) inspanning weens transformasie, regstelling, swart ekonomiese bemagtiging, korrupsie, misdaad, ens, feitlik oornag stinkryk geword het nie?

Waarom is daar so baie en sulke vinnig groeiende krotbuurte in die Kaapstadse Metropool? Omdat baie swartes uit veral die Oos-Kaap ongebreideld hierheen stroom omdat hulle mede-swartes veroorsaak dat die Oos-Kaap deesdae baie slegter as die Wes-Kaap geregeer word. Helen Zille het hulle tereg “vlugtelinge” genoem en daarmee ‘n groot maar valse bohaai veroorsaak. Die ANC-regering laat ook toe dat onwettige immigrante, veral uit Afrika, Suid-Afrika makliker binnekom as seker enige (ontwikkelde/beskaafde) land in die wêreld. In Suid-Afrika het blankes oor eeue baie opgebou wat deur inheemses en vreemdelinge afgebreek kan word. Daar is nog baie waarop onwettig geteer kan word. Op hierdie manier kan die wittes ook vir hierdie instroming van swartes die skuld kry: omdat blankes so baie tot stand gebring het. Wat nodig is, is minder aandrang op menseregte en groter besef van verpligtinge/verantwoordelikhede; meer werk en minder bakhandstaan; meer inisiatief en toewyding en minder ledigheid en traak-my-nieagtigheid; meer wetsgehoorsaamheid en minder misdaad en geweld.

Marais se laaste paragraaf lui soos volg:

“Wat my diep verontrus wanneer ek al die giftige kommentaar op die Dookoom-video sien, is hoe ons harte teenoor mekaar verhard het; hoe blind ons vir medemenslikheid geword het. Die antwoord wat ek van albei kante op Dookoom hoor, is: ‘Versoening, jou p**s!'”

Marais begin hierdie paragraaf eweneens eensydig. Net die giftige kommentaar op Dookoom hinder hom; nie diegene, soos hy en Wasserman, wat wil hê dat ons kritiekloos na die Larney-liedjie moet luister nie. Die verharding van harte “teenoor mekaar”, die gebrek aan medemenslikheid, verwys in die konteks van Marais se artikel (in sy geheel beskou) nie in die eerste plek na die geweld, sabotasie (soos brandstigting) en ander misdaad (soos plaasmoorde) en onwettige immigrasie nie, maar veel eerder na die beweerde harteloosheid van blankes, al kom daar in sy heel laaste sin onverwags (heel moontlik geforseerd/onopreg) die frase “van albei kante” voor. Dit is hoogmode om dinge só te plooi. Onder meer verseker dit dat so ‘n artikel deur Die Burger gepubliseer word.

Die derde reaksie op Dookoom waarna ek verwys, is Jason Lloyd se skrywe op LitNet (4 deser). Lloyd is ‘n bruin rubriekskrywer wat soms besef dat dit nie altyd vir bruines maklik is om deur swartes as egte swartes aanvaar te word nie. Maar dit is altyd vir hom maklik om hom by die bruines te skaar. Meesal is dit vir hom makliker om hom met die swartes as met die wittes te vereenselwig – soos ook in hierdie geval.

“Met die gebruik van woorde soos ‘brand die plaas en f** die baas’ blyk dit ‘n ernstige noodroep te wees op die owerhede om in te gryp om iets omtrent die oorwegend ongunstige werkslewe van ons plaaswerkers te doen.”

Hierop het Dirk Rigter (6 deser), wat goed bekend met toestande in die Hexvallei is, die volgende kommentaar gelewer:

“Dis net so ‘n veralgemening soos dié van Busani Ngcaweni in die Sunday Independent onlangs wat alle wit Afrikanermans gelyk stel aan Oscar Pretorius se kroegmanewales en skietlustigheid. Wanneer laas was jy op ‘n plaas in De Doorns? Of for that matter op enige ander ordentlike boerdery in SA wat op sake-beginsels bedryf word? Plaaswerkers word ekonomies-lewensvatbare lone betaal, daar is chreches en versorgingsfasiliteite vir kinders, gratis vervoer na klinieke en dokters, gratis huise met elektrisiteit, warm en koue water en in baie gevalle rantsoene soos melk en vleis waar die boerdery dit toelaat.”

Lloyd: “‘Larney jou p**s’ is ‘n lied wat ou herinneringe terugbring en boonop diep sny; tot op die been.” Dan vertel hy van hoe hy gesien het dat (nie-wit) werkers in oorpakke op ‘n Sondag in die reën agterop ‘n wit bakkie vervoer word, terwyl die (wit) boer en sy hond lekker droog voor in die kajuit sit. Hierop is Rigter se reaksie:

“Natuurlik moet ongelykhede en slegte behandeling van werksmense uitgewys word, maar om op jou seepkis te spring en ‘n klomp emosionele onwaarhede uit te basuin, gaan hierdie tans droewe land van ons niks verbeter nie. Wie sê vir jou daai wit man in die flentergat Toyota bakkie met die hond langs hom en die bruin/swart manne agterop in die reën was ‘n boer? Dalk was hy ‘n bouer of loodgieter of smous of verwer?”

Eintlik erken Lloyd waar sy vooroordele teen blankes vandaan kom: van die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland. Hy vertel hoe Adam Small geskryf het van sy ma wat by die agterdeur van die plaashuis meel moes gaan haal. Ook van Jakes Gerwel wat met kenmerkende militantheid geskryf het: “Woorde kan spraakdade wees.” Sonder enige kritiek of veroordeling van Dookoom kom Lloyd tot hierdie gevolgtrekking:

“Miskien bied die Dookoom-lied en die plaaswerkersvakbond Bawusa [van Nosey Pieterse] se dreigende stakings op plase die regering, boere, plaaswerkers en alle belanghebbendes die geleentheid om dié probleme in die landbousektor suksesvol aan te pak en op te los.”

Te midde van al die propaganda in die nuwe Suid-Afrika het die waarheid ‘n skaars hulpbron geword. Om elke hoek en draai moet die waarheid met moeite verwerf word.

Volgende keer hoop ek om verder oor Danie Marais, ‘n voorstander van die hibridisering van Afrikaans, te skryf.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.