Herman Wasserman oor die Larney-liedjie van Dookoom

Deel op

‘n Mens kon dink dat Die Burger se anti-blanke gesindheid teen hierdie tyd ‘n versadigingspunt bereik het. Pleks daarvan het hierdie koerant hom egter die afgelope tyd op sy ingeslane weg oortref. Na die dood van Johannes Grosskopf, ‘n oud-Naspersjoernalis en -redakteur, was daar net lof vir hom. Geen melding is gemaak van hoe Johannes en sy vrou, Santie, die terrorisme van hulle seun, Hein, goedgepraat het nie. Daar is selfs ‘n foto van Hein, geneem tydens die begrafnisdiens, gepubliseer (21 deser, p 7), maar geen melding is gemaak van die motorbom wat hierdie MK-stryder en ANC-lid in 1987 geplant en 26 mense, veral burgerlikes, beseer het nie. As Hein hom aan “apartheidsvergrype” skuldig gemaak het (bv deur deesdae Die Stem te sing of die vorige landsvlag te laat wapper), sou Die Burger dit sekerlik genoem het. Wat ook verswyg word, is dat hierdie geweldenaar nie in die nuwe Suid-Afrika wil woon nie. Hein het hom knus in Engeland gevestig.

Maar die eintlike aanleiding vir my skrywe is Herman Wasserman se artikel oor die Dookoom-liedjie (Die Burger, 22 deser, p 11). Dit is myns insiens een van die onbetaamlikste stukkies joernalistiek wat ooit in Die Burger gepubliseer is. Dit kom van ‘n outeur wat hoog opgee oor joernalistieke etiek, waarvan die grondslag tog sekerlik die najaag van die waarheid behoort te wees. Wasserman was eens ‘n Naspersjoernalis wat daarop roem dat hy Die Burger se eertydse redakteur (toe dié koerant nog pro-blank en pro-Afrikaner was) se wense geïgnoreer het deur Nelson Mandela te gaan opsoek. Dit kon ook nie hoër of laer nie, Wasserman moes eenvoudig sy held se begrafnis in die Oos-Kaap bywoon, waar hy sekerlik as spreekwoordelike nuttige idioot baie welkom was.

Wasserman se insig is dat hy iemand soos Mandela, wat die land tot in die grond wou afbreek, wil vereer, eerder as om ‘n goeie woord te hê vir ordentlike, beskaafde, nie-misdadige Afrikaners wat die land oor eeue ontwikkel en opgebou het. Sy loopbaan as dosent in joernalistiek/mediastudie het van die Universiteit Stellenbosch via Rhodes tot by die Universiteit Kaapstad geloop. Nou is Wasserman die kollega van Afrikaanssprekende mede-verlooptes soos Pierre de Vos en Sonja Loots. Uit hierdie oord sal daar kwalik ooit iets goeds oor Afrikaners geuiter word. Wasserman het heel moontlik, soos Antjie Krog (maar anders as Hein Grosskopf), tradisionele Boere-Afrikaners as ouers gehad, wat die verdorwenheid en ontaarding van hulle kind nooit sou begryp nie. Sowel Wasserman as Krog het aanvanklik literêre werk in Afrikaans gepubliseer, maar albei verkies deesdae om Engels te probeer wees. Dit is ‘n algemene verskynsel dat radikaal-linkse politieke oortuiging Afrikaanssprekendes van hulle moedertaal vervreem.

Kom ons kyk in hoe ‘n mate Wasserman ‘n geharde kluitjiebakker is. Hou deurgaans in gedagte dat hy ‘n professor is; dus iemand wat betaal word om gesaghebbende inligting te versprei. Wasserman se siening van ons geskiedenis is identies met wat in ANC-propaganda versprei word. “Dookoom se liedjie val nie uit die lug nie. Dit is ingebed in meer as drie eeue van onreg, uitbuiting en verdrukking in die naam van ‘beskawing’ – vandaar die eksplisiete verwysing in die liedjie na 1652, toe die ‘setlaars met ‘n bemanning van misdadigers’ (settlers with a convict crew) aan die Kaap aangeland het.”

Wat het Jan van Riebeeck volgens hierdie radikale liberaal-humanistiese siening verkeerd gedoen? Van Riebeeck het as wit kolonis die vermetelheid gehad om sy bevoorregte posisie in Holland aan die Kaap voort te sit. In sy geboorteland het hy en sy “misdadige” bemanning in huise gewoon. Aan die Kaap het hulle uit selfsug vir hulleself woonplekke gebou pleks van eers gratis huise vir die Khoi-San te voorsien (verkieslik met gratis lopende water, elektrisiteit en spoeltoilette en dalk sommer televisie ook); onskuldige inheemses wat behuisingsgewys reeds eeue benadeel is omdat hulle geen behoorlike skuiling teen wind en weer gehad het nie. Volgens hierdie siening het die Khoi-San nie weens onvermoë agtergeraak nie; hulle is agtergestel deur die slegte wittes. Hulle is as benadeeldes magteloos in die agtergrond ingedwing.

Die Khoi-San het volgens hierdie siening vreedsaam en idillies gelewe. Die San het gejag en die Khoi het die omgewing van brandhout gestroop. Albei groepe het roofbou toegepas, dus op ‘n onvolhoubare manier ten koste van die land en natuur gelewe. Uit die noord-ooste het veglustige swartes inbeweeg met bestaansboerdery, wat geen land florerend kon maak nie. In hierdie situasie het Europeërs hoop gebring; waarna Wasserman smalend as “beskawing” verwys. Eeue lank was Europese beskawing die behoud van die land; die grondslag van ontwikkeling en voorspoed. Wasserman het klaarblyklik nog nooit besin oor hoe die land sonder die bydrae van blankes daar sou uitgesien het nie. Daarom het hy ook geen begrip vir die kolossale onreg wat wittes en veral Afrikaners aangedoen is deur hierdie kosbare erflating te verkwansel nie.

Wasserman opper geen beswaar teen die morsige mengsel van Afrikaans en Engels en die kru taal in die Dookoom-liedjie nie. Wat hom betref is dit bloot die uitdrukking van die frustrasie van plaaswerkers wat keelvol is vir boere wat op hulle skree en hulle die slagoffers van die dopstelsel maak. Hierdie twee negatiewe elemente word doelbewus uitgesonder terwyl al die positiewe dinge wat wit boere oor eeue gedoen het, geïgnoreer word. Selfs teen Dookoom se oproep dat die plase afgebrand moet word, maak Wasserman nie kapsie nie. Die raad wat hy uitdeel, is dat ons met begrip moet luister:”teenstanders [moet] mekaar beter verstaan.” Ons moet glo opnuut “besin oor hoe vlak die pyn en frustrasie onder swart en bruin werkers lê. Dit vra ons om te onthou dat onder die prentjiemooi wingerde en boorde in die Wes-Kaap, daar ‘n ‘flipside van die Fairest Cape’ is.” ANC-arbeidsonrusstokers soos Marius Fransman en Tony Ehrenreich sal ongetwyfeld hiervan hou.

Die humanis in Wasserman pleit vir “groter begrip en verdraagsaamheid,” maar hy rig sy pleidooi uitsluitlik op die wittes, wat volgens hom klaarblyklik die enigste skuldige party is. Daarom is dit vir Wasserman “problematies” dat AfriForum “met ‘n bepaalde etniese minderheid se belange vereenselwig word.” Hy is wrewelig oor die klag van haatspraak wat AfriForum by die Menseregtekommissie teen die sanggroep en sy liedjie ingedien het. “Die organisasie sal sekerlik by die groot publiek aan geloofwaardigheid wen as hy ook ‘n slag Afrikaners wat hulself aan rassisme skuldig maak, voor die konstitusionele hof bring.” Die frase “groot publiek” verwys sekerlik na die swart meerderheid, waarby Wasserman hom skaar.

Pleks van opstoking tot geweld af te keur, haal Wasserman Dookoom se reaksie met klaarblyklike goedkeuring aan: “Daar is ‘n verskil daartussen om woede uit te druk en om geweld op te stook… Om werkers erger as diere te behandel is sekerlik op sigself ‘n opstoking tot geweld?” Ons moet glo “die redes vir die woede” soek. ‘n Moontlike beginpunt, wat gerus deur Wasserman oorweeg kan word, is of die gruwelike aantyging en veralgemening dat “werkers erger as diere” behandel word, naasteby die waarheid is.

Wasserman se volgende skuif is om te maak asof Dookoom se Larney-liedjie in dieselfde kategorie as Bok van Blerk se “De la Rey” val: “slegs naïewe luisteraars sal nie die implikasie snap van woorde soos ”n handjie van ons teen ‘n hele groot mag’ en ”n nasie wat weer op sal staan’ nie.” Wasserman ontken by implikasie dat veel aanstootliker voorstelle en inderdaad opstoking tot misdadigheid in die Dookoom-teks voorkom. Dit is duidelik dat Wasserman ook nie daarvan hou dat blankes of Afrikaners na hulle minderheidstatus verwys nie. Ons moet ons seker eerder as een groot en gelukkige Suid-Afrikaanse nasie voordoen. Anti-Afrikaners verwys graag na wat “luid om braaivleisvure” gepraat word en Wasserman doen dit ook. Hy ontken dat die Afrikanernasie bestaansreg het.

Die Larney-liedjie, daarenteen, het volgens Wasserman wel bestaansreg. “Voorts kan Dookoom se liedjie nie gesien word in isolasie van voortgesette maatskaplike ongelykheid, trae grondhervorming en alledaagse wit rassisme nie. Dink maar aan die onlangse ‘blackface’-voorvalle aan die universiteite van Stellenbosch en Pretoria.” Hierdie twee gevalle word genoem as grondslag vir sy verregaande veralgemening dat rassisme onder blankes alledaags is. Later verwys hy na “die gesanik van wit rassiste.” Geen melding word gemaak van rassisme in nie-wit geledere nie.

Verder behoort dit vir Wasserman maklik te wees om vas te stel dat die maatskaplike ongelykheid van wittes en swartes wêreldwyd aangetref word. Wittes het in hierdie opsig nie noodwendig gesondig nie. Rasse-ongelykheid kan nie goedsmoeds aan bv rassesegregasie of apartheid toegeskryf word nie. Sodanige ongelykheid word in die praktyk onaanvaarbaar slegs as van die foutiewe standpunt uitgegaan word dat alle etniese groepe in alle opsigte al die tyd wesenlik eenders is; bv dat almal ten minste die potensiaal het om in dieselfde mate vindingryk, toegewyd, kundig, suksesvol en vooruitstrewend te wees. Dit is klaarblyklik nie die geval nie en hang onder meer saam met kultuurverskille. Binne etniese groepe kom daar ook groot ongelykhede voor.

Vervolgens haal Wasserman sy studeerkamerkennis van medialeer uit. Jürgen Habermas het gepleit vir joernalistieke objektiwiteit en balans, maar Wasserman voel beswaard hieroor. “Habermas het sy teorie gebaseer op ‘n bourgeois Europese omgewing, nie morsige, ongelyke, gewelddeurdrengte nuwe demokrasieë soos Suid-Afrika nie.” In Afrika kan dus maar ander norme as in Europa geld; bv (soos ons onlangs moes verneem) korrupsie is plaaslik iets anders en moet nie sonder meer veroordeel word nie; dit kan bloot die terugneem wees van wat al eeue lank geskuld is. Wasserman hou van Susan Bickford se standpunt “dat emosionele uitsprake in die openbare domein nie onvanpas is nie.” Hier dink Wasserman kennelik goedkeurend aan Dookoom se Larney en nie aan Van Blerk se De la Rey nie.

Volgens Wasserman moet ons na die emosies in Dookoom se liedjie luister en “probeer vasstel wat die oorsake daarvan is – dit verg ‘n oop ingesteldheid en die bereidheid om te bly luister, juis en veral wanneer dit moeilik word.” Nêrens is daar sprake dat Wasserman fout met Dookoom vind en hierdie groep kritiseer nie. Die wittes moet eerder die fout by hulleself soek. Hy kla oor “die hatige persoonlike aanvalle” wat in reaksies op Naspersberigte op die internet voorkom en “‘n oorvloed rassistiese propaganda” op Sunette Bridges se Facebook-bladsy. Nêrens is daar enige aanduiding dat Wasserman in hierdie gevalle sy eie raad volg en bereid is om sonder ophou “regse” bronne te lees en te bly luister nie. Dit is voor die hand liggend dat “wit rassiste” immers ook “pyn en frustrasie” kan hê wat vlak lê en waarvoor hulle begrip verlang; ook van orakel Wasserman.

Die Burger was nie tevrede met bloot die eensydige begrip wat Wasserman in sy onbetaamlike artikel vir Dookoom se Larney-liedjie probeer kweek het nie. Die koerant wou hierop voortborduur deur verdere publisiteit aan die liedjie te gee. Hierdie bedenklike kultuuruiting, wat Wasserman ‘n “musikale handgranaat” noem, moes verder misbruik word om meer en beter houe teen blankes en veral Afrikaners in te kry. Twee dae later (24 deser, p 15) is Murray la Vita se onderhoud met Dookoom onder die opskrif, “Wat mense nie wil hoor nie,” gepubliseer.

Soos die Larney-liedjie bestaan die teks van hierdie onderhoud uit ‘n bedenklike mengsel van Afrikaans en Engels. Toe Die Burger nog trots pro-Afrikaans was, is teks gesuiwer voordat dit gepubliseer is. Hier is daar egter geen poging aangewend om hierdie kultuuruiting taalkundig te ontsmet nie. Daar word selfs beweer dat die bruines Afrikaans “lewendig” hou. Ou Afrikaans (Standaardafrikaans?) word met nuwe Afrikaans (die mengeltaal Kaaps?) gekontrasteer. Onkiese woorde word aangebied as “p–s” en “k-k”. Die opskrif toon duidelik dat die Wasserman-idioom blatant voortgesit word. Die onderskrif verwys daarom weer na die pyn en woede waaraan hierdie sanggroep uitdrukking gee.

Die betekenis van die woord “larney” word verduidelik. Dit is ‘n sinoniem vir baas, maar hierdie baas is bevoorreg, het baie geld en hy mishandel sy werkers. Die woord “dookoom” “has supposed origins in pre-Islamic shamanism in the Indonesian archipelago” en is ‘n negatiewe ghetto-mite wat met towery te make het. Opsommend kan seker gesê word dat ‘n mens hier met ‘n onaptytlike groep en ‘n bedenklike komposisie gekonfronteer word. Dit is ‘n politieke en kulturele moeras waarin ek geen behae het nie.

Dit is vir my duidelik dat Wasserman so verknog aan linkse politiek is dat hy nie sy eie raad volg deur tradisionele en eietydse konserwatiewe Afrikanerpolitiek met voldoende openheid te benader nie. Die Burger verkeer in ‘n soortgelyke situasie. Dit is deesdae vir sy lesers maklik om hulle ‘n baie beter koerant voor te stel. Een manier waarop Die Burger sonder veel moeite sy rol as meningsvormer kan verbeter, is deur sy onverkwiklike dis van konstante, linkse, politieke propaganda af te wissel met oorwoë, behoudende, konserwatiewer standpunte. Dit sal aanklank by sy tradisionele Europees-geöriënteerde lesers vind en ook ‘n bydrae lewer tot groter en ewewigtiger insig by talle mense wat tans deur veral ANC-geïnspireerde propaganda mislei word.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.