Wannie Carstens se inklusiewe Afrikaans en Afrikaner

Deel op
vondel
Vondel

deur Leon Lemmer

Op 15 Maart het Wannie Carstens (gebore in 1952) ‘n artikel op LitNet gepubliseer. Daaroor het ek onder meer soos volg op Praag (17 Maart) geskryf: “Propaganda teen Afrikaans en die Afrikaner word deur Carstens eerder welwillend gesluk as manmoedig beveg. Die verdedigende en apologetiese modus waarin glad te baie Afrikaanssprekendes verval het, kon myns insiens ten beste opgehef word as Carstens liewer die anti-Afrikaanse elemente daadwerklik bestry het … Die ANC se propaganda het by die onkritiese Carstens in die spreekwoordelike lieflike plekke geval.”

Ook: “Alle mense in die nuwe Suid-Afrika is gelyk verklaar, gevolglik het die ATR [Afrikaanse Taalraad] alle variante van Afrikaans, dus ook dié wat uitermate met Engels (woorde, uitdrukkings, grammatika, uitspraak) besoedel is, gelykwaardig verklaar. Die ideaal is om alle soorte Afrikaanssprekendes (“die heterogene Afrikaanspraters”) en alle variante van Afrikaans (“‘n ruim Afrikaans”) in een gelukkige bondel saam te snoer. Dit is glo moontlik as almal hulle stories in die WVK- of Tutu-modus vertel. Mode-politiek dien by Carstens deurgaans as die aanbevole model vir taalkundige sake. Die amptelike erkenning en bevordering van allerhande taalvariante deur die ATR (“om die taal in sy … diversiteit uit te bou”) gaan Standaardafrikaans, as die enigste algemeen erkende en ontwikkelde vorm van Afrikaans, myns insiens verswak en die oorlewingskanse van hierdie taal beduiwel. As die nuwe Suid-Afrika ‘n normale samelewing wil wees, moet Afrikaans in sy standaardvorm erken en bevorder word, soos wat elders in die wêreld met alle erkende tale gedoen word.”

“Die politieke kersie [word] op die taalkoek geplaas wanneer Carstens sy Damaskus-oomblik bely: ‘Ek was ná ‘n gesprek met [Christa] van Louw in November 2004 oortuig van my eie skroomlike onkunde oor die gevolge van apartheid, wat my beskaamd gelaat het oor die aandeel wat ek daaraan gehad het.'” Sedertdien het Carstens konsekwent in daardie transformasierat gebly, wat onder meer beteken dat hy hom nie verwerdig om op enige manier te kenne te gee dat hy kennis neem van wat op Praag gepubliseer word nie.

Op 1 Julie het Frik Lotz in Beeld geskryf: “In ‘n neutedop kan ‘n mens seker die Afrikaner beskryf as ‘n inheemse, wit Afrikaanssprekende volk van Suid-Afrika met sy eie unieke kultuur, tradisies, geskiedenis en natuurlik sy Gelofte. Nie almal wat Afrikaans praat, is Afrikaners nie en nie alle wit mense is Afrikaners nie. Die Afrikaner is van Afrika. Hy het ‘n reg om in Suid-Afrika te wees en het ook die reg op selfbeskikking.”

Die lyk vir my asof Lotz binne die geykte, hedendaagse, alledaagse betekenis van die woord “Afrikaner” bly. Wat taal betref, is daar die term “Afrikaanssprekende”, as ‘n mens die net etnies wyer wil gooi. Geografies is die Afrikaner van Afrika, maar hy is kultureel veel eerder ‘n Europeër of Westerling. Ek hou nogal van die Bybelse onderskeid en sê veral deesdae graag: Ek is in Afrika maar nie van Afrika nie. Lotz kwalifiseer die Afrikaner se selfbeskikking met “soos vervat in die Grondwet”. Dit is myns insiens te beperkend, om dit sag te stel.

Lotz se opmerkings het Wannie Carstens na die spreekwoordelike pen laat gryp (Maroela Media 10 Julie): “Hoe kan ons nog vandag in 2013 steeds Afrikanerskap net vir wit mense toe-eien? … Hoekom uitsluit en nie insluit nie? … ons moet eerder die term ‘Afrikaner’ herdefinieer as dat dit almal wat Afrikaans praat, insluit.” Soos in die HAT (2005): “Afrikaner: Persoon wat Afrikaans is deur geboorte of afstamming, veral iemand wat Afrikaans as moedertaal het.” Dit gaan vir Carstens om ‘n “inklusiewe Afrikaans”.

Maande later het Carstens nog ‘n eiertjie gelê: “dat … die tyd waarin Afrikaans haar [!] bevind, ongelukkig nie meer ruimte laat vir eksklusiwiteit nie … Dan stigmatiseer ons eie mense Afrikaans … Die geskiedenis wys uit dat hierdie woord [Afrikaner] in die vroeg 18de eeu al gebruik is vir mense wat hulself wil assosieer met die land van hul geboorte … As ons dus hier gebore is, maak dit ons mos almal Afrikaners?” (Maroela Media 2 Oktober).

Wat Carstens hier doelbewus buite rekening laat, is dat daar baie Afrikaners is wat hulle voor 1990/1994 graag met Suid-Afrika geassosieer het, maar dit deesdae nie meer kan of wil doen nie; ook nie met Afrika nie. Anders as wat Carstens te kenne gee, is geboorte in die konteks van taal en kultuur nie die alfa en omega nie. Iedere mens word in werklikheid sonder ‘n spesifieke taal en kultuur gebore. Daar is aanvanklik bloot ‘n taal- en kultuurvermoë aanwesig. Daarna word taal en kultuur aangeleer en word die blanke suigeling mettertyd bv ‘n Afrikaner.

Op 6 Mei 2013 het Wannie Carstens uit Leiden, Nederland, oor Afrikaans se “gedeelde verlede” in Die Burger (p 10) geskryf. Hy het studieverlof en werk tans aan ‘n nuwe boek oor die geskiedenis van Afrikaans in “die totale Afrikaanse gemeenskap”. Christo van Rensburg het heel onlangs so ‘n boek in opdrag van die ATR geskryf: So kry ons Afrikaans (Pretoria: LAPA Uitgewers, 2012, 159p), maar Carstens en sy geesgenote is blykbaar nie tevrede daarmee nie, gevolglik word daar weer probeer om nie-wittes se bydrae tot Afrikaans groter of belangriker voor te stel.

In die voorwoord van Van Rensburg se boek erken die huidige voorsitter van die ATR, Michael le Cordeur, dat die boek ‘n anti-wit politieke doel moet dien: “Met hierdie werk wil die ATR opnuut die veelfasettige afkoms van Afrikaans beklemtoon en die nou byna afgesaagde gesegde dat Afrikaans ‘n witmanstaal is, finaal in die kiem smoor” (p 10). Let op die woord wat deur Le Cordeur gekursiveer is: witmanstaal; nie witmenstaal nie, want soos die ANC het Le Cordeur dit nie net teen die wittes nie, maar veral teen wit mans, daardie groep wat in die nuwe Suid-Afrika dubbel (etnies en geslagtelik) gediskrediteer word.

Uit Van Rensburg se boek blyk dit egter dat Afrikaans as ‘n aanpassing van hoofsaaklik Nederlands ontstaan het. Ook dat Afrikaans ten minste aanvanklik eerder ‘n Nederlandse dialek as ‘n taal uit eie reg was: “Die Nederlandse aandeel aan Afrikaans kon nog altyd herken word, soos vandag ook” (p 66). Ek vind dit ironies dat Carstens, wat Afrikaans blykbaar op ‘n oordrewe manier wil ver-Khoi, ver-Maleier-Kaaps en ver-Afrika, in die Lae Lande gaan sit om ‘n boek oor Afrikaans te skryf. Is die bakermat van Afrikaans, volgens pro-Afrika-entoesiaste, dan nie die eertydse Kaapse kombuis waar mishandelde slawe naas die voorbereiding van kos ook Afrikaans soos ‘n haas uit ‘n hoed getrek het nie? Carstens toon moontlik met sy huidige Europese verblyf dat sy politiek gemotiveerde siening van die oorsprong van Afrikaans grootliks ongeldig is.

Van Rensburg tref ‘n onderskeid tussen Moesliemafrikaans (of Bo-Kaaps, p 86) en ander sprekers van Kaaps (p 87). Daar word verskeie kere verwys na die dislojaliteit wat baie bruines teenoor Afrikaans openbaar. Achmat Effendi het bv verkies om sy verkiesingsveldstog vir ‘n setel in die Kaapse parlement in Engels te voer (p 87). Nadat die Kaap ‘n Engelse kolonie geword het, het die sprekers van Kaaps verengels. “Kaaps het nou ook ‘n duidelike invloed getoon van die Engels wat die hooftaal van Kaapstad geword het” (p 88). “Engelse invloed [was] al van vroeg af deel van Kaaps” (p 115-116).

Waarom Carstens nie tevrede is met Van Rensburg se uiteensetting nie en besig is om die geskiedenis van Afrikaans te herskryf, blyk ook uit die volgende geldige opmerkings van Van Rensburg: “Standaardafrikaans [is] eintlik ‘n dialek wat bokant Afrikaans se dialekte staan” (p 117). “‘n Bodialektiese standaardtaal … dwing dialekte … na die standaardtaal” (p 125). Om Standaardafrikaans hoër as bv Kaaps te ag, is heiligskennis in ATR-geledere en vloek teen die gelyke status wat Carstens en sy meelopers aan alle mense en al hulle taalvariante toeken.

Carstens verwys in sy skrywe van 6 Mei na “verontregte mense” wat van hulle “menswaardigheid beroof is.” Hier wys hy die vinger na blankes, al sê hy dit nie uitdruklik nie. Waarom het die wittes die nie-wittes so sleg behandel? “Gewoon omdat hul velkleur verskil het.” By Carstens is daar (soos hierbo reeds geblyk het) skynbaar geen bewustheid van kultuur- en ontwikkelings- of beskawingsverskille nie. Dit laat ‘n mens hoop dat hy tydens sy huidige oorsese verblyf sodanige verskille tussen mense van bv Afrika en Europa sal opmerk.

Dat daar by Carstens ‘n sterk neiging tot vereenvoudiging en wanvoorstelling van die verlede is, blyk ook uit die volgende versugting: “Gee geld vir beurse vir diegene wat vroeër nie kon leer nie.” Klaarblyklik gaan dit hier nie om studiebeurse vir wittes nie, maar om aalmoese vir wat deesdae “voorheen benadeeldes” genoem word. Van “tans benadeeldes”, naamlik wittes, en “tans bevoordeeldes”, naamlik nie-wittes en veral swartes, hoor ‘n mens (feitlik) nooit nie. Is dit naasteby waar dat nie-wittes voorheen plaaslik “nie kon leer nie”?

Word dit deesdae nie al hoe meer erken dat die Nasionale Party-regering se Bantoe-onderwys beter was as die huidige skoolonderrig van die ANC-regering nie? Sedert 1960 was daar meerdere universiteite vir swartes (Fort Hare, Noorde, Zoeloeland) en een elk vir bruines (Wes-Kaapland) en Asiate (Durban-Westville). Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se onderrig was deurgaans vir alle etniese groepe toeganklik. Ek was een van dié wat toe “nie kon leer nie” en jare lank noodgedwonge en met vrug die Unisa-opsie benut het. Niemand het nog gesê dat ek veronreg of benadeel en van my menswaardigheid beroof is nie.

Carstens sit steeds in Europa en het niks nuuts te sê nie. Al verskil sedert Mei is dat hy nou nie meer in Nederland nie maar in Antwerpen, België, aan sy boek skryf. Hoe kry ‘n mens ‘n koerant sover om nog ‘n skrywe van jou oor dieselfde onderwerp te publiseer? Jy haal die heuningkwas uit: “Omdat ek die afgelope naweek so van ver af gou gekyk het wat in my gunsteling Afrikaanse Sondagkoerant berig word.” Dié heuning raak nie op nie. Oor sy baas, Theuns Eloff, die rektor van die Universiteit Noordwes, skryf Carstens: “Omdat ek Eloff goed ken, weet ek sy bydrae is altyd skitterend en beslis rapportering werd. Wat oor sy bydrae gerapporteer is, kan ek ook 100% mee saamstem.” Hierdie twee loftuitings is in Rapport (10 deser) gepubliseer. Die elementêre deursigtigheid van Carstens se naïwiteit moet enige kritiese leser dadelik opval.

Pleks van in wetenskaplike navorsing na die grootste moontlike mate van objektiwiteit te strewe, wil Carstens in werklikheid sy emosionele benadering vertroetel: “Juis omdat ek aan hierdie boek werk is ek dalk meer sensitief as andersins oor hoe ons die Afrikaanse gemeenskap voorstel … Kyk na ons koerante en tydskrifte hoe skitter ons in ons witheid daar! So asof ons bruin (en swart) broers en susters [ANC-Afrikaterminologie] nie melding verdien nie.”

Carstens is hier besig met wat ek in my omgangstaal ‘n strontstorie noem. Die opskrif van sy skrywe het my reeds bedag hierop gemaak: “Media moet Afrikaans se leliewit rok afgooi.” Sodra ‘n groep mense uit net wittes bestaan, bv ‘n sportspan of ‘n klas studente, is daar oorverligtes wat die groep as “leliewit” etiketteer. Waarvoor ek ‘n verduideliking wil hê, is waarom ‘n groep swart mense deur hierdie selfde oorverligtes nie steenkoolswart, of iets soortgelyk, genoem word nie. Is ewewig nie hier ook ter sake nie?

Wat Carstens blykbaar met sy navorsing beoog, is polities gemotiveerde “regstelling”. Voorheen het hy die frase “getransformeerde Afrikaans” gebruik. Wat Afrikaans ingevolge Carstens se voorkeur nié is nie, is die Standaardafrikaans wat oor geslagte heen deur (feitlik) uitsluitlik blanke sprekers en skrywers, insluitende taalkundiges (bv woordeboeksamestellers) en letterkundiges (bv literatuurgeskiedenisskrywers) ontwikkel, gestandaardiseer, gerekordeer, gepubliseer en uitgebou is. Polities korrek moet dinge nou (oordrewe) anders voorgestel word sodat nie-wittes nie aanstoot gegee word as hulle bydrae deur die prestasie van wittes oordonder word nie. Taalkundige wanvoorstellings word aangemoedig om Carstens se politieke ideaal van versoening te verwesenlik.

In al die Afrikaanse taal- en literatuurgeskiedenisse waarmee ek bekend is, word geredelik erkenning aan die bydraes van nie-wittes gegee; nie net sedert “ons jong demokrasie” tot stand gekom het nie, maar ook tydens die “donkerjare” van apartheid. In 1975, tydens die hoogbloei van apartheid, is die Afrikaanse Taalmonument opgerig. Ook daar word openlik en afdoende erkenning aan die verskillende etniese groepe se aandeel aan Afrikaans gegee. Nadat Daniel Hugo in Halala Afrikaans (2009) oortuigend aangetoon het dat Afrikaans nie ‘n kreoolse taal is nie, het die Afrikaanse Taalmuseum en Taalmonument in sy pamflette presies die teenoorgestelde beweer, naamlik dat Afrikaans ‘n baster- of mengeltaal is. Teen hierdie polities gemotiveerde oneerlikheid word nie opgetree nie, want twee van die raadslede is die eerste voorsitter van die ATR, Carstens, en die huidige ATR-voorsitter, Michael le Cordeur. Albei wek die indruk dat politieke korrektheid, gekamoefleer as bv versoening, belangriker as taalkundige en historiese korrektheid is.

Volgens Carstens werk hy hard daaraan om aan te toon dat Afrikaans nie (net) ‘n witmenstaal is nie. Anders as Carstens dink ek dat as Afrikaans, bv Standaardafrikaans, (hoofsaaklik) met wittes geassosieer word, dit geen skande is nie. Dit is een van baie prestasies waarop Afrikaanssprekende wittes kan roem. Carstens voer ‘n suiwer kwantitatiewe rede aan waarom hy die aandeel van nie-wittes groter of belangriker wil voorstel: “Die 2011-sensus dui duidelik aan dat die meeste van die moedertaalsprekers van Afrikaans nie wit is nie.” “My navorsing was … dat Afrikaans die somtotaal is van wit, bruin en swart wat dit praat.”

Carstens verswyg hier doelbewus drie sake:

* Eerstens, die gepubliseerde 2011-sensusgegewens berus op hoogs onbetroubare en onvolledige inligting wat “reg” geplooi is.

* Tweedens, as taalkundige weet Carstens dat hy naas kwantitatiewe ook kwalitatiewe oorwegings in ag moet neem. Die gehalte van Afrikaans is van deurslaggende belang. Van Rensburg stel dit soos volg: “Die beeld van ‘n taal verander positief as prestasies van gehalte daaraan gekoppel word” (p 111). “Kwaliteitswerk in Afrikaans het gehelp om Afrikaans sy sprekers se voorkeurtaal te maak” (p 112). Desnieteenstaande verseg die ATR sedert sy stigting in 2008 om hom teen vrot Afrikaans, bv ‘n mengeltaal soos Kaaps, uit te spreek. Die teenoorgestelde is veel eerder die geval. Die huidige voorsitter van die ATR, Le Cordeur, is om etniese en politieke redes ‘n kampvegter vir Kaaps en verseg weens dieselfde redes om Standaardafrikaans openlik te steun.

* Derdens is gesproke taal net deel van die taalwerklikheid. Gerekordeerde (bv geskrewe) taal moet sekerlik ook in ag geneem word.

Die ideologiese bagasie waaraan Carstens verslaaf is, word met etikette soos nie-rassigheid, inklusiwiteit en diversiteit bemark. Omdat sy gedagtes oorheers word deur wat tans polities in die mode is, is dit eintlik noodsaaklik dat hy navorsingstyd aan besinning hieroor afstaan. Baie (heel moontlik die meeste) van die politieke begrippe en idees wat plaaslik in mode-terme en -frases uitgedruk word, is van die VSA afkomstig. Maar daar vind deesdae al hoe meer fundamentele besinning hieroor plaas, moontlik veral in Amerika. Waaraan Carstens ly, is die sug om gelykmaking, oftewel eendersverklaring. Nie-wittes se aandeel aan Afrikaans moet dus minstens net so groot of belangrik soos dié van wittes voorgestel word, of verkieslik as groter of belangriker, want nie-wittes is mos in die meerderheid.

Die boek wat ek met vertroue as leesstof by Carstens aanbeveel, is James Kalb se Against inclusiveness: How the diversity regime is flattening America and the West and what to do about it (Tacoma: Angelico Press, 2013, 218p). Die Kindle-uitgawe is teen $6.99 by Amazon beskikbaar. Dit is ‘n uitstekend beredeneerde werk wat die geestelike higiëne van enige onbevooroordeelde leser ‘n hupstoot behoort te gee. Dan sal Carstens nie meer so maklik “treur oor die foute van die verlede” nie, maar homself eers afvra: Wat van die foute van die nie-wittes? Het die swartes nie mede-swartes gevang en as slawe verkoop nie? Het swartes nie op groot skaal mede-swartes uitgeroei nie? Waarom word wittes hulle foute, bv as slawe-eienaars, verwyt, maar nie swartes nie, terwyl swartes (en Arabiere) in werklikheid ook slawe-eienaars was? Waar kom hierdie mode van selektiewe moraliteit vandaan? Net dwase blankes sal verkies om skuldgevoelens te vertroetel pleks van krities hieroor te besin. Mode-gebonde verkies Carstens egter “om hande te vat”: “Dit is harde werk en dit verg ‘n opregtheid om dit te laat slaag.”

Wat het as aanleiding vir Carstens se jongste skrywe gedien? Daar was ‘n byeenkoms waar ses sprekers opgetree het. Polities korrek was drie van hulle bruin. Die doodsonde wat Rapport begaan het, is om net te rapporteer oor wat twee wittes gesê het. Erger: daardie twee was wit mans, dus van daardie etnisiteit én geslag wat verantwoordelik gehou word vir “euwels” soos slawerny, kolonialisme, segregasie, apartheid en imperialisme. Oor die volgende drie bruin sprekers se uitlatings is nie berig nie:

* Eerstens, Danny Titus, die hoof van kultuursake van die ATKV en direksielid van die ATR, wat myns insiens geen aanvoeling of waardering vir die Afrikaner se kultuur het nie. Onlangs het hy in ‘n rubriek in Die Burger dit sinvol geag om te vra: Is daar “‘n ding” soos Afrikaanse kultuur? Titus is veronderstel om ampshalwe veral die heil van die Afrikaners se kultuur te bevorder. Kan hy met so ‘n gesindheid naasteby aan die vereistes van sy pos voldoen?

* Tweedens, Michael le Cordeur, Carstens se geesgenoot en ATR-kollega, ‘n opvoedkundige wat vier klasmaats bewonder wat die Hoërskool Bergrivier in Wellington in 1976 afgebrand het. Le Cordeur het ook valslik die indruk probeer wek dat die kampus van die Universiteit van Wes-Kaapland, toe hy in 1977 daar as student aangekom het, uit tydelike geboue bestaan het. Toe studente wat aan steelsug ly ‘n technikon-kafeteria geplunder het, het Le Cordeur beweer dat hierdie arme mense honger was. Op LitNet het hy Standaardafrikaans onlangs as “maar net een” van die variëteite van Afrikaans bestempel. Hy maak voorbrand vir ongestandaardiseerde Kaaps as skoolonderrigtaal en sien blykbaar nie in dat hierdie mengeltaal ‘n bedreiging vir die voortbestaan van Afrikaans inhou nie.

* Derdens, Basil Kivedo, eertydse dosent in sosiologie aan die Universiteit van Wes-Kaapland, wat ‘n MK-soldaat was en as burgemeester van die Breedevallei (Worcester) herontplooi is; nie deur die ANC nie, maar deur die ANC lite, dus die DA. Kivedo se rol in versoening word deur Carstens opgehaal. Die bekendste voorbeeld hiervan is die jaarlikse versoeningsbyeenkoms wat op Worcester gehou word ter herinnering aan bomme wat blankes in 1996 daar laat ontplof het. Die leviete word dan aan (veral) die wittes voorgelees, terwyl talle sabotasiedade van nie-wit bomplanters en die gruwelmisdade van MK-soldate verswyg word (Praag 4 Februarie).

Ten slotte kom Carstens met hierdie oproep: “Kom ons stel ons dus oop vir die insette en sienings van die volle Afrikaanse gemeenskap.” Dit klink na ‘n versoek om ewewig. Kom ons wag en kyk of Carstens se boek aan hierdie vereiste voldoen. Ek het eerlikwaar min hoop hierop. Die wetenskaplike metode vereis dat ‘n mens nie vooraf moet besluit wat die uitkoms van jou navorsing moet wees nie. Carstens se probleemstelling moes soos volg gelui het: In hoeverre en in watter opsigte het nie-wittes ‘n bydrae tot Afrikaans gelewer en hoe vergelyk dit met wat blankes gedoen het? Pleks daarvan is sy uitgangspunt blykbaar: Stel vas hoe enorm groot nie-wittes se bydrae tot Afrikaans was en toon aan dat wittes nie na behore erkenning hieraan gee nie en dat (sommige) wittes versoening steeds doelbewus beduiwel.

‘n Sobere slotgedagte van my kant af. Adam Small het ‘n bydrae tot Afrikaans gelewer. Dalk kwalifiseer sy werk selfs vir bekroning met die Hertzog-prys. Suiwer literêr is sy werk, bv dramas, egter nie in dieselfde liga as dié van bv Shakespeare en Vondel nie. Myns insiens word Small nie deur wittes benadeel omdat die Nobel-prys vir letterkunde nog nie aan hom toegeken is nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.