Leon Lemmer: RSG se Magdaleen Kruger as ‘n euwel

Deel op

Magdaleen Kruger, die hoof van RSG, was onlangs in die nuus toe sy ‘n onderonsie met Margot Luyt gehad het. Luyt gaan tereg van die veronderstelling uit dat haar program, Vers en klank, vanweë die gehalte daarvan agting verdien. Sy was ontstoke omdat dit vir ‘n sokkeruitsending plek moes maak. Kruger se uitgangspunt is dat sokker voorkeur moet kry omdat daar baie meer mense is wat eerder in sokker as in poësie belangstel. Dit is ‘n suiwer kwantitatiewe benadering, so eie aan die ANC. By sulke mense mag kwaliteit nie as teenargument gebruik word nie.

In die konteks van RSG is Kruger se redenasie egter heel moontlik ‘n drogargument. Dit is ongetwyfeld so dat die meeste Suid-Afrikaners eerder na ‘n sokker- as ‘n poësie-uitsending sal luister, maar dit geld nie noodwendig die meerderheid RSG-luisteraars nie. Verder het die nasionale uitsaaier naas die verskaffing van inligting en vermaak ook die verantwoordelikheid om sy luisteraars op ‘n omsigtige en verantwoordelike manier op te voed. Aan opvoeding, veral in die konteks van beskawing, is daar ‘n skrynende tekort by die meerderheid Suid-Afrikaners. Des te meer behoort eerder sielsalwende poësie as liggaamlik-brutale sokker uitgesaai te word.

Wat duidelik is, is dat Kruger se oriëntasie deur die politiek van die oomblik bepaal word. Sokker is veral by swartes gewild, gevolglik word dit deur die ANC en die SABC vertroetel. Kruger val hierby in. Dit is waarom al wat RSG-luisteraar is onlangs teen wil en dank weke lank daagliks moes aanhoor oor hoeveel dae die Afrika-sokkertoernooi afskop.

Wat ook in gedagte gehou moet word, is dat Luyt se program oor Afrikaanse poësie handel. Kruger sou nie graag aan haar SABC-base wou verduidelik dat sy voorkeur aan Afrikaans van hoë gehalte bo ‘n sokkeruitsending gee nie. Dit sou Kruger se aansien in SABC- en ANC-geledere ernstig geknou het.

Maar Kruger se wanverhouding met Afrikaans is erger as dit. Teen hierdie tyd is dit algemeen bekend dat sy ‘n hekel aan Standaardafrikaans het. Haar formele opleiding in Afrikaans strek heel moontlik nie verder as ‘n Sondagskooldiploma nie. Maar sy stel haarself aan om die program “Die tale wat ons praat” Sondagoggende aan te bied. Dalk is dit na aanleiding van die genoemde diploma. In werklikheid is sy heeltemal ongeskik om so ‘n program aan te bied. Wat in hierdie geval nodig is, is ‘n aanbieder wat nie ‘n skewe taalagenda het nie.

 

Afgesien van wat haar formele opleiding behels het, verstaan Kruger die ontstaan en uitbouing van Afrikaans heeltemal verkeerd; dalk opsetlik sodat sy politiek-korrek kan wees. Sy is ‘n groot aanhanger van die kombuistaalhipotese. Daarvolgens het nie-wittes (die Khoisan en die veelgeroemde slawe) eeue gelede aan die Kaap Nederlands skeef en krom gepraat; ‘n nie-prestasie. Maar dit word deur mense soos Kruger gebruik om nie-wittes in die nuwe Suid-Afrika wys te maak dat hulle voorgeslag Afrikaans uitgevind het; dat Afrikaans ‘n kreoolse taal is, dus ‘n mengsel van ‘n wit taal (Nederlands) met ‘n helse groot skeut afkomstig uit nie-wit tale (plaaslikes en ook Oosterse tale).

In werklikheid het die nie-wit tale ‘n baie klein bydrae tot hoofsaaklik die woordeskat van Standaardafrikaans gelewer. Op haar skewe basis bou Kruger dan voort en beweer dat die wittes Afrikaans gekaap het. Dus, soos dit die slegte wittes betaam, het hulle die taal Afrikaans van die nie-wittes, spesifiek van die bruines, gekaap, oftewel gesteel. Kruger se voorneme is om Afrikaans aan die bruines terug te gee (RSG-uitsending, 18.06.2012). Sy wil dus haar pos gebruik om hierdie indiwidualistiese ideaal te bereik. By haar geniet politieke oorwegings voorkeur bo taalkundige oorwegings.

Die waarheid is dat dit hoofsaaklik wittes (en erger, hoofsaaklik mans) is wat Afrikaans ontwikkel en bevorder het en beslag aan Standaardafrikaans gegee het. Daardie wittes is Afrikaners. Omdat Afrikaners so baie op taalkundige en talle ander gebiede (bv die bestryding van terrorisme, die handhawing van wet en orde) vermag het, is hulle en hulle taal baie ongewild by die nuwe bewindhebbers en hulle meelopers.

Hoe aktief Kruger in haar kruistog teen Standaardafrikaans is, het verlede jaar tydens ‘n FAK-byeenkoms by die Voortrekkermonument geblyk: “Taalgebruik het ook verander en vandag is die hooffokus kommunikasie eerder as die gebruik van sogenaamde korrekte Afrikaans. Kruger het gesê RSG wil ook soveel moontlik variëteite van Afrikaans weerspieël omdat hulle uiteenlopende luisteraars het en nie ‘n ou, wit stasie is nie” (Die Burger, 27.07.2012, p 3). Dít is die kern van Kruger se beswaar teen Standaardafrikaans: haar RSG mag nie ‘n “ou, wit stasie” wees nie.

Terselfdertyd het Kruger duidelik haar gebrek aan kommunikasiekundige kennis laat blyk. Dwarsoor die wêreld streef die nasionale uitsaaiers (radio en televisie) daarna om taalstandaardisasie te bevorder: die grammatika, woordeskat, idiome, ens, insluitende die uitspraak. (Om die standaardisering van die uitspraak van Afrikaans te bevorder, is die beste opsie klaarblyklik nie om omroepers aan te stel met nie-Afrikaanse vanne gebaseer op die naam van maande nie: January, February, ens.)

As Kruger se hooffokus kommunikasie is, soos sy beweer, moet sy juis taalstandaardisasie bevorder pleks van soveel moontlik variëteite van Afrikaans. Dan sal almal mettertyd alles (of ten minste al hoe meer) verstaan van wat gesê word. Haar vertroeteling van streekspraak en ‘n mengeltaal soos Kaaps werk taalchaos en nie-kommunikasie (die nie-oordrag van die boodskap) in die hand. En dit word gedoen omdat Kruger om politieke redes walgooi teen die respektabelste Afrikaans, Standaardafrikaans.

Omdat Kruger so dikwels uitgesproke oor haar taalkundig- en kommunikasiekundig-onhoudbare standpunt is, het Die Vriende van Afrikaans hierdie vyand van Standaardafrikaans gevra om hulle toe te spreek. Volgens ‘n koerantberig het sy, myns insiens tereg, op 7 deser gesê dat die gehalte van Afrikaans agteruitgegaan het. Maar sy maak dan twee (verkeerde) gevolgtrekkings: (1) dat baie radioluisteraars nie meer aanklank by suiwer Afrikaans vind nie en (2) dat solank ‘n program van goeie gehalte is, daardie baie luisteraars nie vir die taalgebruik omgee nie. Talle luisteraars is glo nie meer puntenerig oor die taal nie.

Let op dat Kruger se norm weer kwantitatief is. Sy wil die meerderheid tevrede stel, maar sy kwantifiseer nie daardie “baie” of “talle” in syfers nie. Dit kan ‘n minderheid wees, of indien hulle die meerderheid luisteraars is, kan hulle waarskynlik kwalitatief by die smaak van die minderheid baat. “Volgens haar is dit nie meer net Afrikaanssprekendes wat na Afrikaanse radio luister nie. Van die 1,8 miljoen RSG-luisteraars is sowat ‘n halfmiljoen se huistaal nie Afrikaans nie.” Hierdie minderheid is nie-Afrikaners en dit in sigself is genoeg om Kruger se simpatie van die meerderheid na die minderheid te verskuif.

Kruger: “Ons saai uit aan ‘n wye verskeidenheid mense. Is dit die radio se taak om mense te leer, om hulle te bemagtig in taal en in te lig? Moet meer programme wat taalgerig is aangebied word?” (Die Burger, 9 deser, p 5). Nêrens word Standaardafrikaans by die naam genoem nie. Ja, dit is die taak van bv RSG om nie net te vermaak en in te lig nie, maar ook om mense (veral by implikasie) te leer (soos hierbo aangedui). Maar leer/opvoeding kan en behoort te geskied deur veral voorbeeldstelling, deur openlik kant vir Standaardafrikaans te kies. Daar hoef nie noodwendig meer uitdruklik taalgerigte programme te wees nie.

Die onaangename en onaanvaarbare waarheid is dat daar in die uitsaaimedia nie naastenby so erg met Engels soos met Afrikaans gemors word nie. Vir die behoud van Afrikaans het taalhigiëne noodsaaklik geword. Volgens die HAT is ‘n euwel “enigiets wat die goeie teenwerk.” Standaardafrikaans is ‘n voorbeeld van die goeie. Enigeen wat dit teenwerk, verdien om ‘n euwel genoem te word.

topcargo отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.