Die toekoms van die Universiteit Stellenbosch

Deel op

…’n herhaling van Willie Esterhuyse se skandalige argument waarvolgens die US se owerheidsubsidie bedoel is vir onderrig in Engels en dat onderrig in Afrikaans toelaatbaar is in soverre daar op aalmoese gesteun kan word.

Deel op

Die dood van Russel Botman, “die eerste swart rektor” van die Universiteit Stellenbosch (US), het die vraag oor wie hom gaan opvolg laat ontstaan. Deur etnisiteit dadelik te berde te bring, oefen ANC-lakeie druk uit dat daar nie “terugwaarts” beweeg mag word deur ‘n wit akademikus aan te stel nie. Die voorbeeld wat Botman gestel het, word dus van die begin af gebruik om die klem eerder op politiek (in die gewaad van transformasie) as voortreflike akademie (onderrig en navorsing) te plaas. Ek verwys agtereenvolgend na uitlatings van Anton van Niekerk, Edwin Hertzog, Henry Jeffreys en Russel Botman.

Onder die blankes op die US-kampus wat reeds lank pomp vir hoër louere is daar Anton van Niekerk, wat as oorverligte op kwalik meer as hoogs plaaslike relevansie aanspraak kan maak. Hy noem graag “ek is self Afrikaanssprekend” maar leef dan sy nie-Afrikanerskap uit deur met oorgawe verengelsing ten koste van onderrig in Afrikaans voor te staan. Sy akademiese visie word gerugsteun deur sy fyn waarneming dat die skenking van ‘n wasmasjien deur ‘n student aan sy moeder as ‘t ware die US se rasgebaseerde toelating tot mediese studie eties regverdig (Praag 19 Junie).

Die afgelope tyd se vlaag bevestigings dat die transformerende US op die regte politieke pad is, het Van Niekerk nie onbetuig gelaat nie. In ‘n brief in Die Burger (2 deser, p 11) maak hy dit baie duidelik dat hy self hierdie breë ANC-pad maksimaal bewandel. Hy begin met ‘n dramatiese aankondiging:

“Russel Botman, my rektor maar terselfdertyd iemand wat ek die voorreg gehad het om my vriend te kon noem, het ons ontval.” Dan volg hierdie woorde: “Tussen die trane en die wreedheid van die verlies heen, kan ons in dankbaarheid erkenning gee aan die feit dat die een wat ons verloor het, nie tevergeefs gelewe het nie, maar die wêreld ‘n beter plek agtergelaat het.”

“Van nou af sal ons wat agterbly, saam begin vertel van die samehang, en daarom die sin, van Russel Botman se ryk lewe, toegewy aan akademiese uitmuntendheid, maar ook in diens gestel van die nood van diegene by wie geregtigheid in Suid-Afrika se veelbewoë onlangse geskiedenis verbygegaan het. Daarby was hy ‘n ware versoener – ‘n man wat deernis gehad het vir sowel die ryk boer as die arm plaaswerker, en wat die Universiteit Stellenbosch ‘n ruimte wou maak vir die opvoeding van albei se kinders*. Juis daarom was die begrip ‘inklusiwiteit’, as sleutel tot versoening, vir hom in sy laaste dae so belangrik, ten spyte van die verguising deur mense van wie ‘n mens dit nie sou verwag nie” By Van Niekerk kan ‘n mens altyd daarop reken dat hy stekies sal uitdeel. [*Kyk hieronder.]

“Gee my duisend keer eerder ‘n man in wie se lewensverhaal die begrippe inklusiwiteit, versoening, hoop en geregtigheid [almal eerder politiek as akademie] sentraal staan, as eksklusiwiteit, [blanke?] bevoorregting en seksionele [Afrikaner-?] belange. Ons sal sien watter verhaal die meer durende en invloedryke een is.” [Kanker, korrupsie, Afrikaner-haat, ens, het ook duur en invloed.]

Wat Van Niekerk myns insiens eintlik sê, is dat al is hy blank en selfs Afrikaanssprekend, die US nie kan fouteer as hy as rektor aangestel word nie, want hy sal getrou op die wesenlik nie-akademiese Botman-pad bly.

Dr. Edwin Hertzog
Dr. Edwin Hertzog

Edwin Hertzog was ‘n US-raadslid (1998-2008) en is as voorsitter in samewerking met twee rektore, Chris Brink en Russel Botman, mede-verantwoordelik vir die afskaling van Afrikaans. Moet dus nie deur die Hertzog-van mislei word nie. Die appel het baie ver van die JBM (Barry) Hertzog- (1866-1942) en Albert Hertzog- (1899-1982) boom geval. Edwin Hertzog het op 2 deser ‘n artikel in Die Burger (p 11) met die opskrif “Hou op raas en blaas” gepubliseer. Sy aanleiding is Leopold Scholtz se rubriek (Die Burger, 27 Junie, p 14) waarin tereg staan: “‘n Onderwysinstelling wat slegs – of hoofsaaklik – Afrikaans in die klaslokaal gebruik, hoef nie in die pad van inklusiwiteit te staan nie.” Scholtz noem dat Botman met sy Sentrum vir Inklusiwiteit die gesag van die US-raad “omseil” het. “Dis duidelik dat hier ‘n breë aanslag teen Afrikaans is.”

By implikasie beweer Scholtz dat ‘n eentalige Afrikaanse US akademies voortreflik kan wees. Dit gaan teen die grein van Hertzog in. Hy vind dit nodig “om vir die US en sy bestuur in die bresse te tree.” Sy standpunt is dat “transformasie en die taalbeleid by die US nie in die pad mag staan van die akademiese uitnemendheid van die universiteit nie.” Dan kom hy by sy gedemokratiseerde taalbeleid “deur per vakgebied hieroor binne elke departement en fakulteit van onder af boontoe aanbevelings vir goedkeuring te maak.” Pieter Kapp toon in sy boek, Maties en Afrikaans (2013), watter skadelike gevolge hierdie beleid vir Afrikaans gehad het. Fakulteite soos lettere, teologie en medies het baie gou grootliks verengels. Hertzog maak dit af met “dat die belang van die universiteit soms bots met wat in die belang van die Afrikaanse taal is.” Die stigtingsbeginsel dat die US ‘n Afrikaanse universiteit moet wees, skeel Hertzog blykbaar min (p 164). Hy het geen erg aan die “Afrikaanse DNS” van die US nie (p 152).

Hertzog: “Indien die US deur die regering die opdrag en die nodige finansiering sou ontvang het om Afrikaans te beskerm en uit te bou, kon dit anders gewees het.” Hier het ons ‘n herhaling van Willie Esterhuyse se skandalige argument waarvolgens die US se owerheidsubsidie bedoel is vir onderrig in Engels en dat onderrig in Afrikaans toelaatbaar is in soverre daar op aalmoese gesteun kan word (p 158).

Hertzog opper geen beswaar teen bv kommuniste wat as Blade Nzimande en die ANC se spreekbuise in die US-raad sitting het nie. Hulle help immers om die US van ‘n blanke en Afrikaanse universiteit tot ‘n swart en Engelse inrigting te transformeer. Hertzog teiken net die pro-Afrikaans-lede in die US-raad. Hy vind dit “onvanpas dat die US-raad lede bevat wat voltyds in diens is van mededingende instellings soos die Noordwes-Universiteit [Wannie Carstens*] en Solidariteit” [Piet le Roux]. Hy het dit ook teen konvokasie-verteenwoordigers in die US-raad, dus diegene wat ‘n wesenlike en gevestigde belang by die US het; dus wat in hierdie opsig verskil van die Nzimande-verteenwoordigers. [*Carstens het op 8 deser (p 8) in ‘n brief op hierdie “steelhou” gereageer en beweer dat geen US-raadslid teen transformasie gekant is nie.]

Wat Hertzog hier geskryf het, is in ooreenstemming met die standpunt wat hy ‘n dekade lank as US-raadslid uitgeleef het. Ek verwys in hierdie verband na Kapp se boek. In 2004 was Hertzog ten gunste van die toekenning van ‘n ere-doktorsgraad aan die kommunis Bram Fischer (p 103). In 2006 het hy alles in sy vermoë gedoen om ‘n Ugandees as dekaan van die fakulteit regte aan te stel (p 152). In 2005 het Hertzog verklaar Afrikaans is “nie die voorwaarde vir die voortbestaan van die US nie” (p 114). Afrikaans word deur hom eintlik as ‘n struikelblok vir akademiese uitnemendheid beskou (p 118). In 2006 moes hy as raadsvoorsitter verskoning vra omdat ‘n groot getal donateurs wederregtelik ontkies is ten einde die samestelling van die US-raad te beïnvloed (p 134). In 2010 het hy weer met die verkiesing van raadslede ingemeng (p 207). Hy wil dus nie vrede maak met raadslede wat anders as hy dink nie. Soos die ANC-regering wil Hertzog hê dat die US moet groei. Anders as die mening van demograwe, soos Flip Smit en Lawrence Schlemmer (p 219, 223), wat meen dat daar jaarliks genoeg Afrikaanse matrikulante gelewer word, is Hertzog van mening dat die US met die oog op groei moet verengels (p 151).

In sy redenasies steun Hertzog as sakeman deurgaans op markkragte, terwyl “‘n opvoedkundige inrigting nie in diens van die winsmotief staan nie, maar in diens van die gemeenskap wat hy moet dien” (p 165).

“Hertzog sien ‘n universiteit as ‘n sake-onderneming en nie as ‘n opvoedkundige instelling nie. In gesprekke met hom het hy dit duidelik gestel dat hy ‘n groot toekoms vir Afrikaans as ‘n kultuurtaal sien wat binne die eie omgewing intensief gebruik word, maar dat hy weinig van ‘n toekoms daarvoor sien in die sakewêreld, die staatsdiens en die wetenskapswêreld. En hierdie drie wêrelde is vir die akademie en die Universiteit van groter belang as die kultuurwêreld. As US 80% Engels en 20% Afrikaans is, is hy gelukkig” (p 152; ook p 142).

Iets waaraan Hertzog geen erkenning gee nie, is dat daar drie eentalige Engelse universiteite in die Wes-Kaap is (p 166), wat die US vry behoort te laat om eentalig Afrikaans te wees. In Kapp se boek is dit deurgaans duidelik dat die standpunte van Hertzog en Anton van Niekerk oor die US en Afrikaans wesenlik dieselfde is (bv p 208). As sakeman en voorsitter van Mediclinic leef Hertzog sy geringskatting (indien nie minagting nie) van Afrikaans uit. In Die Burger (5 deser, p 8-9) is ‘n omvattende advertensie oor die Mediclinic Louis Leipoldt-hospitaal in Bellville gepubliseer. Soos van Hertzog verwag kon word, is daar op twee foto’s net Engelse bewoordings op die buitekant van die hospitaal te sien. Dít terwyl Bellville tradisioneel ‘n sterk Afrikaanse vesting is.

Leopold Scholtz het kommentaar op Hertzog se artikel gelewer (Die Burger, 4 deser, p 14) deur daarop te wys dat Hertzog “bereid is om Afrikaans op te offer ter wille van akademiese uitnemendheid. Ek meen jy moenie tussen die twee kies nie. Jy kan albei hê.” Scholtz het tereg gevra: “Waarom kan Afrikaanse onderrrig nie akademiese uitnemendheid insluit nie? Was die US in die verlede dan ‘n slegte universiteit omdat hy Afrikaans was?”

Henry Jeffreys is lid van wat ek die bruin mafia noem, dus oud-UWK-studente wat roem op die misdrywe wat hulle as UDF/ANC-kamerade gepleeg het en wat ‘n wanverhouding met Standaardafrikaans as die skepping van Afrikaners het. Media24 se politieke kommentators het die wyk geneem. Jan-Jan Joubert het na ‘n ander persgroep verkas en Tim du Plessis het soos ‘n Démas die vermaaklikheidswêreld liefgekry. As ‘n mens nie ‘n perd het nie, moet jy maar ‘n donkie inspan. Vandaar die voortgesette gebruik van Jeffreys as politieke kommentator.

Jeffreys het vroeg tot die stryd toegetree ten einde die US op die Botman-pad te hou. Die opskrif van sy rubriek is: “Groot taak rus op US se raad” (Die Burger, 2 deser, p 10). Polities en etnies gedrewe loof Jeffreys die visie van Botman. “Botman was ‘n transformerende krag en het die US internasionaal, in Afrika en plaaslik geposisioneer as ‘n wêreldklas-instelling.” Dit herinner aan ANC-kamerade se standpunt dat Suid-Afrika se geskiedenis met die stigting van die ANC begin het; asof die US eers met Botman as rektor akademies iets werd geword het. “Vir hom was transformasie nie bloot ‘n kwessie van ras of taal nie. Dit was om die US ‘n integrale deel te maak van die Suid-Afrika waarby ons as nasie op 27 April 1994 ingekoop het.” Swart mag (of swart oorheersing) en nasie word hier sonder meer as identies beskou.

“Die US is sonder twyfel ‘n nasionale bate wat gotendeels uit die wurggreep van sy historiese eksklusiwiteit losgebreek het. Dit is ‘n proses wat onder die leiding van Botman aansienlik versnel het – nie ten koste van, maar ten bate van akademiese uitnemendheid en prestasie.” Jeffreys is ‘n joernalis en ANC-aktivis en geensins ‘n akademiese swaargewig nie. Hy neem lynreg standpunt in teen ‘n vorige US-viserektor, Rolf Stumpf, wat ruiterlik erken dat transformasie akademiese uitnemendheid beduiwel (Die Burger, 20 Junie, p 6). Hoe kan dit anders wees as die amptelike US-beleid is dat studente-toelating, die toekenning van beurse, koshuisplasings, die aanstelling en bevordering van personeel, ens, in groot mate deur rassistiese en seksistiese oorweging bepaal word?

“Die taak van die universiteitsraad is dus eintlik eenvoudig: Vind ‘n transformeerder van Botman se kaliber; iemand – swart [Allan Boesak? Nico Koopman? Llewellyn MacMaster?] of wit [Leon Wessels? Anton van Niekerk? Pierre de Vos?]- wat transformasie en integrasie van nature as ‘n noodsaaklike vereiste vir groei, ontwikkeling en innovering beskou.” Transformasie, integrasie, ens: nêrens is daar sprake van iets wat ondubbelsinnig daarop dui dat ons hier met ‘n teks te make het wat veronderstel is om oor tersiêre onderrig en navorsing te handel nie. By Jeffreys geniet ANC-gedienstige politiek voorrang.

Nadat Steve Hofmeyr Die Stem gesing het, skryf Jeffreys dat dit “‘n beledigende dwarsklap [was] na alle Suid-Afrikaners – swart en wit* – wat inkoop in die idee van die nuwe Suid-Afrika” (Die Burger, 9 deser, p 8). [*As militante UDF/ANC-ondersteuner en neo-swarte verkies Jeffreys om swartes voor wittes te noem.] Hy deel ook oorgraag dwarsklappe aan Afrikaners uit: “Dit is natuurlik kommerwekkend dat ‘n deel van die meesal wit Afrikaanse gemeenskap steeds vatbaar vir Hofmeyr se bedenklike opportunisme is. Maar selfs hulle glo ek, verteenwoordig ‘n minderheid binne ‘n minderheid. Soos die armes (met apologie) sal die bitterbekke (geen apologie) altyd met ons wees. Dis juis die armes se belange wat in die nasionale opset veel belangriker as Hofmeyr se gejaag na selfdienende effek is.” As arme van gees heg Jeffreys dus met sy misleide ingesteldheid meer waarde aan onproduktiewe (swart) armes as produktiewe Afrikaners.

Die afgelope tyd is daar deur talle kommentators, bv Anton van Niekerk (hierbo) en Jeffreys, verwys na ‘n uitspraak van Botman wat dikwels deur hom herhaal is, blykbaar omdat hy gedink het dit gee op ‘n vindingryke manier uiting aan sy transformasie-manie. Mede-bevrydingsteoloog Nico Koopman* het evangeliese status daaraan toegeken. Ek verwys na die volgende kenmerkende Botman-stelling: “Die universiteit moet net so toeganklik vir die dogter van die plaaswerker as vir die seun van die plaaseienaar wees.” Kom ons ontleed dit ‘n bietjie. Botman word “die outeur” en sy gewraakte stelling “die stelling” genoem. [*Op 9 deser het Koopman ‘n pleidooi gelewer dat Botman se opvolger op dieselfde politieke pad moet voortgaan (Die Burger, p 9; ook op die US-webwerf). As Engelsgesinde Afrikaanssprekende verwys Koopman glad nie na Botman se Afrikaans-nalatenskap nie.]

Deur na ‘n dogter en ‘n seun te verwys, word seksistiese oorweging by die stelling ingesluit. Oënskynlik word hulle as gelykwaardige universiteitsmateriaal geag. Hulle is ongetwyfeld amptelik gelyk of wesenlik eenders verklaar, wat egter nie dieselfde is as om werklik gelyk of wesenlik eenders (bv intellektueel) te wees nie. As die outeur mode-sensitief is, soos bevrydingsteoloë polities geneig is om te wees, gee hy voorkeur aan die dogter. Daarom word sy eerste genoem.

Daar word na ‘n plaaseienaar verwys. In die Wes-Kaap kan hy kwalik ‘n opkomende boer wees. Swartes wat probeer boer (of veronderstel is om te boer) omdat die ANC-regering grond aan hulle geskenk het, word eufemisties “opkomend” of “ontluikend” genoem, maar in die meeste gevalle (90%+) is hulle ondergaande boere. Die oorgrote meerderheid egte boere in die Wes-Kaap is wit. Die outeur het ongetwyfeld ‘n wit plaaseienaar in gedagte wanneer hy die stelling maak.

Die oorgrote meerderheid plaaswerkers in die Wes-Kaap en in die res van Suid-Afrika is nie wit nie. In die Wes-Kaap is hulle tradisioneel bruin en in die res van die land swart. Die outeur het ongetwyfeld ‘n bruin swarte of ‘n swart swarte as die plaaswerker in gedagte.

Dit gaan dus vir die outeur om die kontrastering van die swart dogter van die swart plaaswerker met die wit seun van ‘n wit plaaseienaar. Sowel seksistiese as rassistiese oogmerke is dus implisiet in die stelling.

Vir die outeur gaan dit hier om ‘n ideaal. Hy impliseer dat die universiteit nie so toeganklik vir hierdie soort dogter as vir hierdie soort seun is nie en dat hierdie toedrag van sake reggestel moet word. Die modefrases hiervoor is dat “gelyke geleenthede” of ‘n “gelyke speelveld” vir hierdie gelykverklaardes geskep moet word. Paul C Duminy, Somerset-Wes, meen “verskille in geleenthede om te studeer, sal daar wees soos vanaf die begin van die mensdom” (Die Burger, 10 deser, p 14). Hy vra dus dat ons “ophou met sosiale en ander manipulasie om ‘gelykheid’ te verkry.” Maar dit is presies wat aan die US gebeur.

Om “gelykheid” te bewerkstellig word ongelykhede in die universitêre stelsel geskep, soos voorkeur- finansiële bystand en laer akademiese toelatingsvereistes vir die dogter. Die dogter kan dan met gemiddeld ‘n C-simbool in matriek toelating tot die mediese fakulteit kry, terwyl die seun met ‘n matriekgemiddeld van ‘n A-simbool toelating geweier word. Dit is moontlik dat selfs die deurlatingsvereistes vir die dogter verwater word. Waaroor daar geen twyfel bestaan nie, is dat sy voorkeur bo die seun by aanstelling in ‘n universiteitspos en by bevordering kry, want sy is lid van “die aangewese groepe” ingevolge waarvan teen wittes en veral wit mans, soos dié seun, gediskrimineer word. Hoe die US se opgradering van Engels tot die hoofonderrigtaal, bv in die mediese fakulteit, die dogter van die plaaswerker bevoordeel, sou die outeur seker uitsluitsel oor kon gee.

Omdat die outeur as bevrydingsteoloog uit die oogpunt van die dogter, die onderdrukte, die gemarginaliseerde, die voorheen benadeelde, die tans bevoordeelde (soos in die pedagogie van hoop) na die saak kyk, noem hy hierdie gefabriseerde ongelykhede “geregtigheid”.

Uit die oogpunt van die seun het die universiteit ‘n onreg gepleeg; ook uit die oogpunt van die plaaseienaar, wat ‘n US-donateur kan wees. Maar dit is vir die outeur nie ter sake nie. Sy motief met die stelling is om ‘n hou teen die blankes in te kry. Hy ignoreer die feit dat dit seker/feitlik in alle lande die geval is dat die seun beter geleenthede as die dogter het omdat die plaaseienaar (dalk geslagte lank) meer as die plaaswerker bereik of tot stand gebring het, dus meer toegewyd en suksesvol was.

Pleks daarvan aanvaar die outeur dat die dogter deur blankes weens “vergrype” soos apartheid (beëindig in 1994, 20 jaar gelede), kolonialisme (plaaslik beëindig in 1910, meer as ‘n eeu of vier geslagte gelede) en slawerny (plaaslik beëindig in 1834, bykans twee eeue of sewe geslagte gelede) “agtergestel” is en dus geregtigheidsonthalwe bevoordeel moet word. (‘n Geslag is op 25 tot 30 jaar gestel.)

Die stelling gee uitdrukking aan die outeur se liberaal-sosialistiese oriëntasie en is maklik met die minister van hoër onderwys se kommunisme versoenbaar. Die stelling is eintlik ‘n kortbegrip van die polities-maatskaplike pleks van akademiese idee waarvoor die Botman-US staan.

In die kommentaar op Botman sedert sy dood is die klem oor die algemeen op nie-akademiese sake gelê, wat onder die sambreelterm “transformasie” tuisgebring kan word. Van wat hy ter verbetering van die akademie (onderrig en navorsing) gedoen het, is daar geen spesifieke besonderhede nie; bloot die vae bewering dat “uitnemendheid” nagestreef is. Wat heeltemal afwesig is, is inligting oor wat hy ter bevordering van die heil van Afrikaans en die Afrikaner gedoen het. Sodanige inligting kan nie verskaf word nie omdat die kern van Botman se beleid transformasie was, wat uiting gevind het in meëdoënlose pogings om die historiese US as blanke en Afrikaanse inrigting so volledig en so gou moontlik af te breek.

Die lofuitinge vir Botman van bv Anton van Niekerk en Henry Jeffreys het ten doel om die US op Botman se ANC-pad te hou en te verseker dat ‘n Botman-epigoon by hom as rektor oorneem. Nie een van hierdie kommentators het die integriteit om te erken dat Botman se beleid nie net skadelik vir akademiese voortreflikheid is nie, maar in werklikheid wesenlik anti-akademies is. Die geval Botman is ‘n toonbeeld van wat ‘n rektor nie moet wees nie. ‘n Verantwoordelike universiteitsraad behoort te besef dat ‘n aktivis wat ‘n ideologie (hetsy politiek of religie) fanaties aanhang, nie ‘n geskikte kandidaat vir die pos van rektor is nie. Wat enige universiteit as akademiese inrigting as rektor nodig het, is ‘n deurwinterde akademikus, dus ‘n erkende vakman en wetenskaplike, wat akademiese leiding aan al die dosente en navorsers kan verskaf en nie die (onverkwiklike) politiek van die oomblik aan dese en gene opdring nie.

‘n Universiteit moet as podium vir die vrye uitruiling van idees dien. Daarom moet die rektor ideologies neutraal wees. Hy behoort ampshalwe nie sy persoonlike ideologiese oortuigings met bv ‘n sentrum vir inklusiwiteit en ‘n jaarlikse weeklange viering van diversiteit aan die universiteitsgemeenskap op te dring nie. Diegene wat teen bv rasse-integrasie, multikulturaliteit, inklusiwiteit, meertaligheid, gelykheid, demokrasie, ens, is, moet net so welkom op die kampus wees as diegene wat hierdie modegiere ondersteun.

Die aanvanklike lakmoestoets vir die nuwe rektor gaan wees die bekwame spoed waarmee hy bv die Sentrum vir Inklusiwiteit sluit en die diversiteitsweek uitfaseer. Ooreenkomstig die stigtingsvoorwaarde sal Afrikaans as die hoof- en daarna spoedig as die enigste onderrigtaal heringestel moet word. Daar sal onmiddellik afgesien moet word van die rassistiese en seksistiese grondslag waarop die Botman-US funksioneer. In die plek daarvan moet kompromisloos op akademiese meriete, universitêre outonomie en akademiese vryheid aangedring word. Eers dan sal die US op ‘n herstelpad wees waar hy sy eertydse akademiese uitnemendheid kan herwin.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.