Enkele swaeltjie help Anton van Niekerk met selektiewe moraliteit se somer

Deel op

Anton van Niekerk is die mede-outeur van nog ‘n forumartikel in Die Burger (18 deser, p 15). Soos gebruiklik staan daar langs sy foto dat hy “‘n professor in filosofie en direkteur van die sentrum vir toegepaste etiek … aan die Universiteit Stellenbosch” (US) is. Hierdie keer is dit duidelik dat hy sy mes in het vir die “regses.” Hy dink blykbaar dat hy ‘n haas uit die hoed kon trek wat die US se nie-akademiese norme by universiteitstoelating volkome sou regverdig.

“Dit lyk soms asof die stryd rondom ‘die toekoms van die Afrikaner’ … ten diepste handel oor die toekoms van ‘Afrikaanse’ universiteite – vir sover dit sin maak om ‘n universiteit deur ‘n taal te laat kwalifiseer.”

Van Niekerk spring hierdie keer weg met selfs buitensporiger mislikheid as gewoonlik. Die rede hiervoor is klaarblyklik sy drieledige onderwerp: die Afrikaner, Afrikaans en die universiteit, waarvan eersgenoemde twee blykbaar vir hom weersinwekkend is, terwyl hy die aard van die oorblywende een (die universiteit) nie reg verstaan nie.

Op grond waarvan sou ‘n universiteit (soos die Randse Afrikaanse Universiteit van weleer) nie sy onderrigtaal (met trots) mag uitbasuin nie; des te meer as hy in ‘n meertalige land gesetel is? Van Niekerk se uitgangspunt is die dogma van identiteitslose wêreldburgerskap wat deur misleides aan die Botman-US aangehang word. As Van Niekerk ‘n bietjie besin, sal hy agterkom dat wêreldburgerskap nie haalbaar is nie omdat ‘n wêreldstaat nie bestaan nie.

Daar is talle universiteite in baie lande wat vanweë hulle naam kultureel gekarakteriseer word, bv as ‘n Amerikaanse (of internasionale) universiteit, bv in Parys en Beiroet (wat in sulke gevalle op Engels as onderrigtaal dui), of as ‘n christelike, Katolieke, protestantse of Moslem-universiteit (wat op ‘n bepaalde religieuse oriëntasie dui). Dit is vir ‘n universiteit nie taboe om ‘n kulturele (bv taal-) identiteit te hê nie, insluitende ‘n Afrikaner- of Afrikaanse ingesteldheid, al verpes Van Niekerk so iets in oortreffende mate.

[In Beeld (18 deser) bepleit vier akademici in ‘n brief (hergepubliseer op die webwerf van die Afrikaanse Taalraad) ‘n universiteit met Afrikaans as “ankertaal”. Aan die US het Afrikaans ook die ankertaal geword nadat Engels as addisionele onderrigtaal ingevoer is. Dit het Afrikaans op ‘n glybaan na vernietiging gelanseer. Kyk Pieter Kapp se Maties en Afrikaans (Pretoria: Protea Boekhuis, 2013). “Primêre, vertrek-, verstek-, ankertaal, ens, is terme wat onnodiglik hulle intrede gemaak het omdat afgewyk is van die gesonde historiese vanselfsprekendheid dat Afrikaans die enigste US-onderrigtaal is” (Praag 6 April). As die oogmerk is om ‘n herhaling van dié geskiedenis te voorkom, moet aangedring word op Afrikaans as die enigste onderrigtaal. Daarom behoort Afrikaans prominent in die naam van die universiteit te wees, al het dit die Randse Afrikaanse Universiteit nie gehelp om as Afrikaanse universiteit te oorleef nie.]

As Van Niekerk swaarde oor universiteitsname wil kruis, kan hy gerus die plaaslike universiteite vernoem na Nelson Mandela en Walter Sisulu in sy spervuur plaas, want albei is vernoem na hoogs nie-akademiese politieke figure wat sekerlik nie deur almal op daardie kampusse verheerlik word nie. Of as hy beswaar teen kulturele toespitsing by ‘n universiteit het, waarom nie beswaar maak teen die Zoeloefisering van die Universiteit Kwazulu-Natal nie? Kyk RW Johnson se The African University? (Cape Town: Tafelberg, 2012). Die Zoeloes word daar in toenemende mate iets gegun waaraan Afrikaners in vinnig afnemende mate aan vyf eens Afrikaanse universiteit nie deel mag hê nie. In hierdie proses van kulturele ontvoogding van Afrikaners speel Van Niekerk ‘n betreurenswaardige rol.

Met verwysing na die keuringsbeleid van veral die mediese fakulteit van die US gee Van Niekerk voor om vervolgens die “regses” se standpunt te stel. Gesatineerd vertel hy van die maatreëls wat “getref word om agterstande van die verlede effens [!] te probeer uitwis deur (inklusief) [eerder ekskusief?] swart presteerders meer geredelik as wittes toe te laat – met slegte gevolge vir Afrikaans. ‘Meriete’ en ‘standaarde’ (gevolglik ook Afrikaans, wat so min of meer identies met laasgenoemde is) [!] kan dan na bewering slegs ‘gehandhaaf’ word as die 300 of wat ‘toppresteerders’ (uitsluitlik gemeet aan skoolprestasie), ongeag kleur of geslag, toelating kry.”

Nogeens maak Van Niekerk hom hier skuldig aan buitensporige mislikheid. Een van die redes hiervoor is dat Keymanthri Moodley, ‘n dosent in mediese etiek aan die US, sy mede-outeur is. Van Niekerk brei nie uit op die “slegte gevolge vir Afrikaans” nie. Die waarheid is dat die US se mediese fakulteit, soos dié vir teologie, asook Van Niekerk se fakulteit lettere, teenstrydig met die amptelike taalbeleid in oortreffende mate verengels het (Praag 6 April). Van Niekerk gee voor dat die “regses” se standpunt is dat onderrig in Afrikaans en standaarde “so min of meer identies” is. Hierdie stelling is so vergesog dat selfs Van Niekerk dit myns insiens nie werklik glo nie.

In dieselfde koerant as sy artikel word genoem dat die Universiteit Kaapstad (UK) 9de en die US 34ste op die ranglys van universiteite in die Brics-lande is (p 1). Regses is waarskynlik bewus daarvan dat die onderrigtaal aan UK Engels is en dat akademiese standaarde dus klaarblyklik ook in ‘n ander onderrigtaal as Afrikaans gehandhaaf kan word. Pleks van hierdie saak te verdraai, moet Van Niekerk veel eerder die waarheid onder oë sien, naamlik dat weens die US se rasgebaseerde toelatingsbeleid nie-wit (veral swart) studente en by implikasie diegene wat onderrig in Engels verlang dikwels van akademies swakker gehalte is en gevolglik as studente met voorkeurstatus (dus mense wat teen wil en dank moet slaag) geneig is om akademiese standaarde laer te druk.

Die “regses” het myns insiens reg deur akademiese skoolprestasie tot die hooftoelatingsnorm te verklaar. Diegene wat op skool goed presteer het, sal na verwagting ook op universiteit uitnemend presteer. Insgelyks sal dié wat op skool deurgeskraap het heel moontlik op universiteit misluk. By universiteitstoelating is akademiese skoolprestasie die aangewese of beste norm, of Van Niekerk daarvan hou of nie. Die “regses” het ook reg deur te verwag dat toelating “ongeag kleur of geslag” op akademiese meriete moet geskied. Van Niekerk bevind hom in die onbenydenswaardige posisie dat hy hom aan die kant van ras- en geslagsdiskriminasie skaar. Mense verskil kwalitatief. Dit is gewoon dwaas om almal gelyk of wesenlik eenders te verklaar en dan soos die ANC te beweer dat die studentekorps die demografie ingevolge etnisiteit en geslag moet weerspieël. Van Niekerk beklee ‘n akademiese pos maar vergun hom die luukse om by voorkeur deur nie-akademiese (bv politieke, maatskaplike) oorwegings (selfs ‘n wasmasjien – kyk hieronder) mislei te word.

Van Niekerk distansieer hom vervolgens van “teoretiese argumente” soos dié waarmee ek hierbo mee vorendag gekom het. Hy wil eerder die storie van Wandile Ganya, ‘n vyfdejaar MB ChB-student aan die US vertel. Ganya kom van Khayelitsha en het verlede jaar ‘n kompetisie met sy opstel oor mediese etiek gewen. Die prysgeld het R5 000 bedra. Daar word nie gesê hoeveel hulp Ganya vir sy opstel van bv dosente ontvang het nie. Van Niekerk se “eintlike storie” wat “‘n mens aan die hart” gryp, is dat Ganya die prysgeld gebruik het om vir sy ma ‘n wasmasjien te koop. “Sy het nog die grootste deel van haar lewe die gesin se klere met die hand gewas.” Sou ‘n wit student wat iets soortgelyk doen gunstige publisiteit van bv Van Niekerk ontvang?

Net so aangrypend vir Van Niekerk is dat Ganya se ouers, wat die prysgeldoorhandiging in Kaapstad bygewoon het, daarna dadelik terug huis toe wou gaan. “Want hulle moet die trein terug na Khayelitsha haal, en hulle wil, uit vrees vir rowers, dit so gou moontlik agter die rug kry … Om dadelik behoorlike vervoer vir die Ganyas te reël was geen probleem nie.” Die les wat Van Niekerk hieruit put, is “dat swart en wit in hierdie land grootliks steeds in totaal verskillende wêrelde leef.” Maar Van Niekerk sal darem seker erken dat hierdie twee wêrelde progressief nader aan mekaar beweeg. Dink bv aan die toename in misdaad, insluitende roof, op die US se hoofkampus en in die res van Stellenbosch (Praag 20 Mei).

“Die storie is egter allesbehalwe ‘n wanhoopsverhaal. Want Wandile gee ‘n mens werklik hoop. Hy is die student wat, ten spyte van sy agtergrond en omstandighede, elke geleentheid wat na hom aangekom het, met albei hande aangegryp het en wat bestem is om ‘n bekwame dokter en ‘n verantwoordelike en produktiewe burger van hierdie land te word. Die enigste voorwaarde is dat hy daardie geleentheid sou kry. Die keuringsbeleid van Stellenbosch se mediese skool het dit moontlik gemaak. Beteken dit Stellenbosch se standaarde ‘gaan by die drein af”, soos die refrein onophoudelik dreun oor regse webwerwe?”

Oor standaarde het ek Van Niekerk reeds geantwoord. Ek verneem dat, anders as voorheen, Suid-Afrikaanse mediese opleiding deesdae nie sonder meer in ‘n groeiende getal ander lande erken word nie. Dit dui daarop dat daar naas “regses” ook buitelanders is wat ‘n verlaging in ons akademiese standaarde waarneem. Van Niekerk vestig eenogig die aandag op die goeie gevolge wat die US se rasgebaseerde keuringsbeleid in Wandile se geval gehad het. Maar wat van al die gevalle waar nie-wit studente om etniese redes bo akademies sterker blanke kandidate tot bv mediese studie toegelaat is en hulle dan klaaglik misluk? Een swaeltjie maak nie ‘n somer nie.

Al probeer Van Niekerk hoe hard om ‘n wêreldburger te wees en al versmaai hy skynbaar sy identiteit, is hy in werklikheid blank en Afrikaanssprekend. Het Van Niekerk as opperste humanis al gedink watter gevolge die US se keuringsbeleid vir sy eie mense het? Van die begin in 1956 en dekades lank daarna het die US se mediese fakulteit deurgaans van MB ChB-kandidate ‘n gemiddelde van ‘n A-simbool in matriek verwag. Hierdie vereiste geld deesdae glad nie vir nie-wit kandidate nie. Deesdae speel nie-wit etnisiteit dermate ‘n deurslaggende rol by keuring dat blankes wat aan daardie oorspronklike suiwer akademiese norm voldoen dikwels toelating geweier word. Kan dit hoegenaamd eties geregverdig word?

Die US se mediese fakulteit het tot stand gekom na ‘n lang stryd om ‘n Afrikaanse opleidinginstansie in die suide te kry. Voorheen het net die Universiteit Pretoria mediese opleiding in Afrikaans aangebied. Andries Brink was een van die stigtersdosente wat ‘n lonende praktyk laat vaar het om sy eie mense in Afrikaans in Bellville te onderrig. Later was hy die dekaan. In sy laaste jare was hy hoogs ontsteld oor die transformasie wat daar plaasgevind het. Hy het genoem dat wanneer hy deur die gange van die fakulteitsgeboue loop, hy net Engels hoor.

Daardie fakulteit is deur hoogs bekwame en toegewyde Afrikaanssprekende blankes opgebou. Kan dit hoegenaamd eties geregverdig word dat blanke kandidate ingevolge transformasie nou die hoofslagoffers by keuring is? Die klein persentasie van hulle wat wel tot mediese studie toegelaat word, word verplig om hoofsaaklik in Engels onderrig te ontvang omdat van owerheidsweë besluit is dat voorkeur gegee moet word aan diegene wat histories nie daar hoort nie. Nogeens hierdie vraag: Kan dit hoegenaamd eties geregverdig word? Mag nie-wittes (veral swartes) maar maai waar hulle nie gesaai het nie?

“Onderrigsukses aan ‘n universiteit word nie soseer bepaal deur gestelde standaarde op die intreevlak nie (al is dit so dat ‘n toetredende student aan sekere vereistes moet voldoen). Die akademiese kwaliteit van ‘n universiteit se onderrig word grootliks bepaal deur die standaarde wat gestel word op die uittreevlak. Wat saak maak, is nie wat studente weet wanneer hulle begin studeer nie. Wat saak maak, is wat hulle weet wanneer hulle afstudeer!”

Hier kom Van Niekerk met ‘n mengsel van elementêre waarheid en drogredenasie. As ‘n mens ‘n resies met ‘n skilpad (of donkie) begin sal daar nie met ‘n haas (of perd) geëindig word nie. Wat fout met die intreevlakstandaarde is, is enersyds dat hulle op ‘n rassistiese wyse gedifferensieerd is. Van nie-wittes word minder as van wittes vereis. Die wesenlike gevaar is dat hierdie differensiasie dwarsdeur al die studiejare kan geld. Andersyds is die intreevlakstandaarde vir nie-wittes te laag, vandaar die hoë uitsakkoers.

Die kennis en vaardigheid van studente op die uittreevlak kan ook problematies wees; des te meer omdat die owerheidsubsidie nie net bepaal word deur die getal studente wat in die stelsel is nie, maar ook deur die getal wat gradueer. Dit is ook ‘n feit dat dosente oor die algemeen minder geneë is om ‘n nie-wit (veral swart) student as ‘n wit student te druip. Dalk handel sulke dosente op die akademies heeltemal irrelevante maar moontlik foutiewe veronderstelling dat ‘n nie-wit (veral swart) student se ma nie ‘n wasmasjien het nie.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.