Die dodetal in die aanval op ‘n hotel in die Somaliese hoofstad, Mogadisjoe het tot 16 gestyg en sal na verwagting verder styg. Ongeveer 55 mense is gewond.
Al-Sjabaab het verantwoordelikheid vir die aanval op die Ambassadorhotel aanvaar waar ‘n motorbom eers afgegaan het voordat militante die gebou bestorm het.
Die hotel word veral deur Westerlinge besoek. Die BBC het berig dat die hotel hoofsaaklik gebruik word deur vooraanstaande Somaliërs, wat onder meer lede van die Parlement insluit.
Twee wetmakers is in die aanval gedood, volgens die Somaliese media.
Ambulansdienste sê is talle mense gewond en die hoofhospitaal in die stad, is oorvol.
Sporadiese geweervuur weerklink nog in die omtrek van die hotel.
Volgens `n polisiebeampte is veiligheidsmagte in beheer van die eerste vier verdiepings, maar die vyfde verdieping is nog onveilig.
Paaie in die gebied is gesluit.
Daar is eers beweer dat die gewapende aanvallers die boonste vloer probeer oorgeneem het, maar dat hulle deur die veiligheidsmagte teruggedryf is.
In Washington, het Amerikaanse amptenare gesê Amerikaanse troepe verskaf raad, bystand en ondersteuning teen die militante. Hulle het met die AP nuusagentskap op voorwaarde van anonimiteit gepraat.
Voor die aanval op die hotel, is ‘n bevelvoerder wat glo verantwoordelik was vir die dodelike aanval op Kenia se Garissa Universiteit in 2015, doodgeskiet is in die suide van Somalië.
Plaaslike veiligheidsmagte in die Somalië kusdorp Kismayo het bekend gemaak dat Mohamed Mohamud Ali, die vermeende argitek van die bloedbad in Garissa, oornag gedood is.
Die aanval in April 2015 op Garissa Universiteitskollege, 365km noord van die Keniaanse hoofstad Nairobi, het die lewens van 148 mense geëis, 142 van hulle studente.
Die Afrika Unie se vredesmag het Al-Sjabaab in 2011 uit die stad probeer verdryf, maar gereelde aanvalle vind nog gereeld plaas.


