“Dis die mees vreesaanjaende geluid om te hoor hoe ’n deur afgebreek word en jy is binne vasgekeer.”
Ida Ryan (66) en haar man, Larry (67), het albei ernstige beserings opgedoen toe hulle Woensdag in die middernagtelike ure deur drie swart mans in hul kamer oorval is.
Die egpaar van Bethal, Mpumulanga, het saam met nog vriende uit Suid-Afrika by ’n lodge buite Windhoek oornag, voordat hulle die volgende dag vir ’n kort wegbreek na die Etosha Nasionale Park sou vertrek, het die Republikein berig.
Ida het met ’n diep snywond en erge kneuswonde aan die struweling ontkom, terwyl Larry, wat herhaaldelik met ’n knopkierie op sy kop geslaan is, bloeding op die brein opgedoen het. Hy is gister suksesvol vir die bloeding geopereer en moet ten minste twee dae in die hoësorgeenheid deurbring.
Ida het tydens ’n onderhoud vertel sy en haar man het Woensdagoggend omstreeks een-uur van ’n hou teen die kamer se deur wakkergeskrik. Dit was egter doodstil daarna, tot sowat ’n uur later, toe die egpaar deur die “vreesaanjaende geluid van ’n deur wat oopgebreek word” en met ’n pistool se loop wat in die deur verskyn, begroet is.
Ida en Larry het opgespring en die deur teen die oormag aan die anderkant probeer toedruk en toehou.
“Ek het op my knieë gestaan en van onder teen die deur gedruk, terwyl Larry die deur met sy skouer probeer toedruk het.”
Die egpaar is egter oorval deur drie swartes, met een wat Larry met ’n knopkierie oor die kop geslaan het. Nog een het vir Ida in haar arm met ’n “mes met ’n baie lang lem” gesteek. Een van die aanvallers het sakke gegryp wat op ’n stoel by die venster gelê het en waarin Ida se beursie met identiteitsdokument en kaarte, juwele, skoene en reisdokumente was.
“Die swartes het nie ’n woord gesê nie. Ek kon in die lig van die buitelig sien die een met die knopkierie was lank en skraal en het ’n hoed op gehad; ’n ander een was fris en groot.”
Die drie swartes het uit die kamer gestorm en in die bosse in verdwyn.
“Toe ek buite toe storm, het drie swartes met groen uniforms buite gestaan. Larry het egter geskree ek moet inkom en die deur toemaak.” Volgens Ida het die lodge nie sekuriteitspersoneel nie en weet hulle nie wie dié swartes was nie.
So hard het sy tydens die aanval geskree dat Ida se stem tydens die onderhoud ’n dag later steeds hees was.
“Die eienaars se kind het van my geskree wakker geword en hulle wakker gemaak.” Dié het met flitse en honde hul na die Ryan’s gehaas.
“Eers toe ons die lig aansit en tot verhaal kom, het ons al die bloed gesien soos wat die wond aan my arm gebloei het.”
Die polisie is ontbied, terwyl die lodge-eienaar Ida se wond verbind het om die ergste bloeding te stop.
Die egpaar is in die Mediclinic-hospitaal in die hoofstad opgeneem, waar Ida nege steke vir die wond in haar arm gekry het. Larry het ’n breinskandering ondergaan en is stil gehou tot sy operasie Maandag om die bloeding op sy brein te verlig.
Hy het Vrydag uit sy hospitaalbed gesê die egpaar sal weer Namibië besoek, waar hulle in die sewentigerjare gebly het.
“Ons het ses jaar in Namibië gebly, Sodom en Gomorra toe getrek, net om terug te kom en hier ’n pak slae te kry!”
Die polisie het teen druktyd nog geen verdagtes in hegtenis geneem nie.