Ses wat myn wou besteel vasgevat

Ses persone is by Harmony se Kalgold-myn in Noordwes in hegtenis geneem op aanklag van sameswering om te steel.

Noordwes polisiewoordvoerder, Sabata Mokgwabone, het gesê lede van die Valke en die polisie se reaksie-eenheid het inligting oor die beplande diefstal ontvang.

Die beamptes het Vrydagoggend omstreeks 03:30 waggehou by Kalgold-myn naby Setlagole toe verdagtes in ‘n wit Ford Courier met registrasienommer HWS029NW by die veiligheidshek opgedaag het. Nog ‘n voertuig, ‘n Mercedes Benz Iveco, het onmiddellik daarna ook by die hek opgedaag. Die lede van die Valke en die reaksie-eenheid het die voertuie voorgekeer.

Volgens Mokgwabone het die verdagtes glo op die polisie begin skiet en hulle het teruggeskiet. Die verdagtes het van die toneel gevlug, maar twee persone is in hegtenis geneem.

Volgens Mokgwabone is die polisie se honde-eenheid en ‘n polisie-helikopter ontbied om na die ander vier verdagtes te soek. Hulle is later in die bosse aangekeer en in hegtenis geneem.

Niemand is tydens die voorval beseer nie. Die polisie het beslag gelê op ‘n koperkabel ter waarde van R30 000 wat in die verdagtes se voertuig was.

Die mans, tussen 26 en 54 jaar oud, sal na verwagting Dinsdag in die Setlagole periodieke hof verskyn op aanklag van sameswering om te steel.

One thought on “Ses wat myn wou besteel vasgevat”

Maak 'n opvolg-bydrae