Min dae vir die VF+

Soos vele kommentators oor die VF+-deelname aan die Zuma-administrasie uitgewys het, hou dit potensieel werklike voordele vir die Afrikaner in. Wat ook uitgewys moet word, is dat indien Mulder werklike invloed kan beding dit die regse Afrikaner, wat onder die Mbeki-regime geheel en al gemarginaliseer was, nou nader na die sentrum van SA politiek bring. Dit is besonder betekenisvol omdat die liberale sg. "wit Afrikaanses" binne die Naspers- en DA-definisie, saam met hul Engelse sielsgenote tot amper totale politieke irrelevansie gerelegeer word. Dit is veral die "wit Afrikaanses" wat die groot verloorders is, soos onder andere deur die bitsigheid van Lizel Steenkamp se rubriek van voorverlede week in Rapport gedemonstreer word.

Mens moet egter nie dat die Engelse liberales se administratiewe oorname van die Wes-Kaap mens mislei om te glo dat hulle wel relevant is nie. Immers is die Wes-Kaap maar bloot 'n admininistratiewe eenheid met geen noemenswaardige politieke magte nie. Mens moet onthou dat SA steeds 'n eenheidstaat verteenwoordig en dat die provinsies geen werklike federale eenhede is nie. Mens sou selfs kon argumenteer dat die provinsies in hul, huidige magtelose vorm, oorbodig is en onnodige kostes meebring. Verder moet ook in ag geneem word dat die DA se meerderheid in die Wes-Kaap 'n tydelike verskynsel is. Die spoedige swart kolonisering van daardie provinsie gaan binne enkele jare die DA se ondersteuningsbasis demografies oorheers. 

Die DA se hoop om onder swart kiesers te groei, sal 'n blote onrealistiese droom bly. In die aanwesigheid van 'n aansienlike blanke minderheid sal swart kiesers altyd rassolidariteit by die stembus toon. Die DA het sy plafon bereik. Die DA kon alleen presteer solank die rasminderhede nog enige geloof in deelname het. Uiteindelik sal die DA dieselfde paadjie as die DTA in Namibië loop waar dit oor tyd van 23% tot 5% gesink het. Soos die DA het die DTA ook aan die illusie gelei dat n "veelrassige" liberale party 'n swart bevrydingsbeweging as regering kan ontset. Hoewel die DA dikwels sigself probeer prys as 'n party wat astronomiese groei toon, moet in ag geneem word dat die DA nie uit 'n vakuum ontstaan het nie. Die DA is die direkte versmelting van die ou DP- en NP/NNP-ondersteuningsbasisse.

In die volgende syfers kan ons sien hoe die DA en sy voorgangers inderwaarheid oor die afgelope 15 jaar agteruitgegaan het:

Verkiesing 1994: NP: 20,39% en DP:1.73% = 22,12%

Verkiesing 1999: NNP: 6,87% en DP:9.56% = 16,43%

Verkiesing: 2004: NNP: 1,65% en DA:12,37% =14,02%

Verkiesing 2009: DA 16.66%

 

Howel daar dus 'n verbetering in 2009 plaasvind, vertoon die totale persentasie vanaf 1994 'n afwaartse kurwe. Die 2009-verbetering het ook waarskynlik met die persona van Zille en die aanjaag van vrese by minderhede rondom Zuma te make. Nie een van laasgenoemde faktore sal ooit stemme vir die DA onder swartes kan wen nie, inteendeel… Ondanks die DA se charismatiese en hoogs emotiewe veldtog, kon die party nie herstel tot die 22,12% van 1994 nie. Ook kon die party bykans geen deurbraak by swart kiesers maak nie. Ek wil die voorspelling waag dat die DA in 2014 terug na 14% of selfs minder sal val. Dit sal gebeur selfs al sou die ANC se steun ook daal. Die blanke en Indiërkomponente van die DA se ondersteuningsbasisse word weggekalwe deur negatiewe demografiese groei a.g.v. lae geboortekoerse en hoë emigrasiesyfers. Die kleurlingkomponent neig om te swaai tussen die DA en ANC. Terselfdertyd is daar astronomiese bevolkingsgroei onder swartes weens 'n kombinasie van 'n hoë geboortegroeikoers en ongebreidelde immigrasie vanuit Afrika suid van die Sahara.

,Hoewel die DA se stempersentasie aansienlik groter as die VF+ s'n is, is dit maar steeds baie klein (16,66%), gesien in die groter geheel. Met geen manier om ooit die regering te word nie, geen ideologie wat dit van die ANC onderskei nie en geen spesifiseerbare belangegroep wat daarmee identifiseer nie, bly die DA 'n soort generiese party wat sonder blote getalle eintlik geensins lewensvatbaar is nie. Daarteenoor mag die VF+ 'n breukdeel van die landwye stempersentasie trek, maar dit verteenwoordig 'n baie spesifieke belangegroep. Die party se bestaansreg is dus nie op blote getalle gegrond nie.

Die DA kan dus geensins daarop aanspraak maak dit dit namens enige belangegroep praat nie, immers verwerp die DA die blote idee van groepsbelange. Indien die meeste Afrikaners die proporsionele kiesstelsel beter verstaan het en dus sou begryp dat dit nie nodig is om bloot vir 'n party te stem wat blyk dat dit die meeste stemme teen die ANC gaan monster nie, sou Afrikanerkiesers meer geneë gewees het om te stem vir 'n party wat hul spesifieke belange sou bevorder. In so 'n geval sou ondersteuning vir die VF+ sekerlik baie sterker wees. Mens sou dus baie waarskynlik die DA se ondersteuning, onder Afrikaners, in 'n groot mate kon toeskryf aan Afrikaners se gebrekkige begrip rondom die proporsionele kiesstelsel.

Die VF+ se toekoms is egter ook onseker en hang grotendeels af van wat tydens die VF se deelname aan die ANC-regering gebeur. Mulder het 'n baie kort vensterperiode waarin hy wesenlike wins vir Afrikaners d.m.v sy deelname aan die Zuma-regering sal moet toon. My gevoel is dat hy nie meer as twee of drie maande het nie. Indien hy nie 'n daadwerklike toegif aan Afrikaners in hierdie kort periode kan verkry nie, sal hy en die VF in die geheel as geko-öpteerdes afgeskryf word. Tydsverloop is belangrik. Dit is soos die patella-refleks in menslike fisiologie. As die hamertjie die knie slaan, moet die onderbeen onmiddellik spring. As die been eers teen more spring, dan is dit nie meer moontlik om die beensprong in verband met die slag van die hamertjie te bring nie.

Sou hulle 'n wins vir die Afrikaner op die langer termyn beding, sal die uitwerking daarvan op hul gewildheid suiwer afhang van hoe groot hierdie wins is. Indien 'n geringe wins, is dit moontlik dat Afrikaners dit nie noodwendig in verband met Mulder sou bring nie. Indien Afrikaners dit wel as die bemiddelingswerk van Mulder beskou, sou 'n geringe toegif 'n gevoel van "die kool is nie die sous werd nie" laat ontstaan. 

Hoe groter die toegif is en hoe meer omstrede, hoe waarskynliker dat mense so 'n beleidsverandering in verband met 'n faktor of party buite die ANC sal verbind, selfs al het meer tyd verloop. In so 'n geval sou dit baie makliker vir die VF+ wees om dit as hul sukses op te eis. Nogtans, as te veel tyd verloop sal die VF+ se ondersteuners begin kriewelrig raak en geleidelik hul ondersteuning van die party onttrek. Die enigste manier hoe die VF+ hierdie deelname in 'n partywins kan omskep, is indien hulle binne die volgende paar weke 'n aansienlike wins vir Afrikaners kan beding. In enige ander scenario is dit spekulatief tot watter mate kiesers 'n toegif met die VF+ se deelname sal verbind.

Wat die party se toekoms betref, is die VF+ se deelname aan die Zuma-regering dus 'n groteske dobbelspel. Terwyl die DA na alle waarskynlikheid op 'n afwaartse kurwe verkeer, hang die VF+ se ganse oorlewing van hierdie ooreenkoms met die ANC af. Indien die party nie binnekort 'n radikale wins vir Afrikaners hierdeur kan beding nie is die VF teen die 2014-algemene verkiesing dood. Mulder maak 'n groot fout as hy dink dat dit 'n eksperiment is waarop hy bloot kan uitloop, sou dit nie werk nie. Die emosionele prys wat die paradigmaskuif van deelname aan 'n ANC regering, van VF+-lede en -ondersteuners vereis, mag nie onderskat word nie. Indien die VF+ se deelname misluk, sal hierdie prys sy tol eis. Kiesers sal nóg Mulder nóg die VF+ vergewe indien hierdie opoffering om dowe neute was. Indien die deelname-ooreenkoms nie 'n radikale wins vir Afrikaners meebring nie, kan die VF+ maar ontbind.

вертолетики на пульте управлениятопкарго

Is Pieter Mulder in Dingaan se kraal sonder wapens?

Die uitnodiging van president Jacob Zuma aan dr. Pieter Mulder om 'n pos van adjunkminister in die ANC se administrasie te vul, het nie as 'n verrassing gekom nie. 

Ná alles vry Afrikaners en Zuma al 'n paar jaar, sedert sy afsetting as vise-president, oor wedersydse konstruktiewe betrokkenheid. Ek was persoonlik by ten minste drie van hierdie gesprekke met mnr. Zuma teenwoordig. 

Die vraag is of Pieter Mulder ná die verkiesing met 'n getekende ooreenkoms Zuma se stat binnegegaan het en of Mulder gewoon sonder ooreenkoms betrek is. Met betrek word bedoel op die agenda van die ANC gekoöpteer is.

Koöptering is 'n gevaarlike basis van samewerking tussen partye, want die kontoere word nie getrek nie en daar word geen inhoud aan samewerking gegee nie. Koöptering voorveronderstel ook 'n sekere mate van kompromie, van goeie gedrag en van akkommodasie. Dit is gewoon wensdenkery dat die VF met 'n aggressiewe opposisiestyl sal kan voortgaan in die Wetgewers waar daar VF-lede verkies is. 

Daar is in Rapport berig dat die Vryheidsfront reeds in Februarie 2009 met Zuma gesprek oor samewerking gevoer het. Dit beteken dat daar daarna ruim tyd was om 'n onderhandelende dokument op te trek, wat die parameters stel en die grense trek waarbinne konstruktiewe samewerking kan plaasvind. 

Die verrassing is dat die VF se breë hoofbestuur klaarblyklik nie hieroor ingelig is nie, totdat die aankondiging gekom het en die mini-bom gebars het. 

Verhoudinge tussen die ANC en die VF kom egter 'n lang pad. 

As ek reg onthou, was Zuma die kontakpersoon tussen die onderhandelingspan van generaal C. Viljoen met die ANC.

Indertyd was daar 'n Oraniabeheerde heersersgroep in die VF wat van meet af aan sedert 1993 geglo het dat die ANC selfbeskikking aan die Afrikaner sal gee.

Vir eers is daar die kwessie van die Grondwet (1996). In 'n debat binne die VF het die heersersgroep hulle daarop beroep dat die Grondwet as sodanig afdoende vir territoriale samewerking voorsiening maak, dat dit net 'n kwessie van tyd sou wees voordat 'n volkstaat realiseer. 'n Voorwaarde is gestel dat goeie verhoudinge met die ANC in stand gehou moes word. Feit is dat die heersersgroep die politiek van destyds verkeerd gelees het. 

Groot was my verbasing dat die heersersgroep in die VF hom later en veral in die 2009-verkiesing teen die leemtes in die Grondwet uitgespreek het. Was dit 'n erkenning dat die VF indertyd die politiek verkeerd gelees het?  

Die heersersgroep, waaronder die Mulderbroers en die Oraniagroep, het dan ook daarvoor gepleit dat ten gunste van die aanvaarding van die Grondwet gestem moes word. Om konsensus te bereik, het generaal Viljoen indertyd beslis dat die VF oor die aanvaarding van die Grondwet, al dan nie, buite stemming sou bly.

'n Tweede insident in 1994 was toe hoofman Mangosuthu Buthelezi in die parlement 'n nota aan generaal Viljoen oorhandig het, wat min of meer soos volg gelui het:

"General, please do not allow the ANC to divide us. Let us stand together and save SA."

Toe hierdie nota op die nasionale dagbestuur van die VF bespreek is, het die heersersgroep weer geargumenteer dat samewerking tussen die VF en IVP die ANC sou vervreem en tot gevolg sou hê dat die ANC nie 'n volkstaat aan die Afrikaners sou gee nie. Ek argumenteer dat hierdie standpunt van die VF destyds die grootste enkele blaps was wat SA in 'n verkeerde rigting gestuur het. In die 2009-verkiesing het beide die VF en IVP 'n paar harde stampe en klappe gekry, waarvan dit onduidelik is of hulle daarvan sal kan herstel. 

In dr. Mulder se verdediging van sy aanvaarding van die adjunkministerskap het hy hom beroep op die standpunte van onder meer die Afrikanerbond en FAK. Ekself het my aanvanklik ten gunste van 'n ministerspos uitgespreek, maar dan duidelik op grondslag van 'n geskrewe ooreenkoms. 

Die heersende "informele" standpunt in die Afrikanerforum, waar die AB en FAK lede van is, is dat die heil van die Afrikaner in buiteparlementêre politiek gesoek moet word. Daar kan met groot sekerheid gesê word dat die ontstamde Afrikaners wat nou positief oor die adjunkministerspos is, hulle kruisies in 2009 eerder vir Helen Zille as vir die VF gegee het.

Die vraag is hoe die meerderheid van die ondersteuningsbasis van die VF oor die nuwe aanstelling van Mulder oordeel. Sal daar met dubbele mates gemeet word? Hoekom word "Kortbroek" van Schalkwyk as kollaborateur uitgemaak, maar Mulder van hierdie skeldnaam kwytgestel? 

Dit is tog korrek dat Van Schalkwyk in die kabinet groter inspraak as minister het as 'n adjunkminister wat nie in die kabinet verkeer nie en eintlik die assistent van 'n minister is. 

Hoe dit ook al sy, die keuse van dr. Pieter Mulder het 'n nuwe dimensie aan Afrikanerpolitiek verleen en die uitkoms of gevolg daarvan sal eers later in verkiesingsuitslae manifesteer. Die groot vraag is of Mulder se toetrede tot die stat van Zuma ons weer skerp sal herinner aan Piet Retief se heldhaftige, dog uiters dwase stap om sy wapens buite te laat. Retief se lot is alom aan ons bekend!

Feit is dat die kiesers nie maklik verkeerde besluite van 'n party vergeet nie en dat daar 'n ongekende skeptisisme oor politici se persoonlike motiewe bestaan.

Daar word gehoop dat Mulder die Afrikatromme sodanig sal slaan dat Afrikaners sal weet wat daar "aan de hand is", soos ons Nederlandse voorsate sou sê. 

Dr. Landman was voorheen 'n verkose lid van die VF en toenmalige lid van die breë dagbestuur.

пижама для девочки купить в интернет магазинеДанильченко Юрий Брониславович

Afrikaners het geen selfaangestelde Messias nodig

ImageOm te skryf dat professor Jonathan Jansen ‘n obsessie met beide ras en Afrikaners het, sou wees om dit baie sagkens te stel. Jansen, wat dikwels beweer dat hy eintlik Engelssprekend is en by voorkeur Engels praat, het naamlik al twee poste by voormalige Afrikaanse universiteite beklee. Hy was dekaan van Opvoedkunde by Tukkies, en is tans die rektor van nóg ‘n voormalige Afrikaanse universiteit, die Universiteit van die Vrystaat.

Vir iemand wat glo Engelstalig is en veral iemand wat so gereeld kritiek teen Afrikaners lewer, is dit kennelik vreemde werkgewerskeuses. Veral as mens Jansen se obsessie met gewaande blanke rassisme in ag neem, sou mens redelikerwys kon verwag dat hy eerder sy beroep by een van die legio swart of Engelstalige universiteite in Suid-Afrika en inderdaad die res van Afrika sou beoefen, so ver weg as wat hy maar kon van daardie rassistiese Afrikaners.

Nietemin kan mens leidrade vir sy motiewe uit Jansen se rubriek in Beeld van 20 Mei 2009 verkry. Sy gunstelingonderwerp, sogenaamde blanke rassisme en aggressie, is weereens in sy visier. Dié ongeloofwaardige rubriek handel oor ‘n onwaarskynlike voorval: ‘n blanke “rassis” wat glo woedend in Jansen se kantoor op hom gewag het, nádat Jansen eerstejaarstudente by “sy” universiteit verwelkom het.

(Jóú universiteit, prof Jansen? Bedoel u nie die voormalige Afrikaneruniversiteit, voorheen bekend as die Transvaalse Universiteitskollege nie? Bedoel u nie die studente, en veral die belastingbetaler se universiteit nie, waar u as Engelssprekende kwotalid van die personeel aangestel is en bo Afrikaanssprekende akademici op grond van u velkleur bevorder is?)

Alhoewel Jansen hoog opgee oor die sogenaamde blanke rassis se aggressie, erken hy self in die rubriek dat hy wat Jansen is op ‘n lekker aggressiewe manier teenoor die “blanke rassis” opgetree het. Soos ‘n wafferse, vingerswaaiende PW Botha wys die brulpadda-agtige Jansen toe glo vir die “rassis” wie’s eintlik baas. Ek haal aan uit die rubriek: “Ek staan uit my stoel op, wys my vinger na hom en sê: ‘Luister hier, dit is my kantoor hierdie, en in my kantoor sê ek jou wat om te doen. So, sit of loop hier uit.’”

Daar’s hy. Nou is die rangorde gevestig. Jansen, die grootmeneer kwota-akademikus, het ‘n blote student se ouer (m.a.w. iemand wat Jansen se salaris betaal) goed op sy plek gesit. Volgens Jansen het dit die “rassis” onmiddellik so mak soos ‘n lammetjie gemaak en daar begin die man jou wrintiewaar sommer huil en bieg hy is ‘n rassis. Hy bedank toe skoon vir Jansen dat Jansen sy dogter so tuis laat voel het by Jansen se universiteit.

Ek is jammer, maar Jansen se storie gaan eenvoudig nie op nie. ‘n Persoon wat Jansen sou bedank vir die groot lig wat Jansen vir hom laat opgaan het, sou immers nie kwaad gewees het nie, sou hy? Moontlik het Jansen, wat homself klaarblyklik as ‘n soort Jesusfiguur sien wat Afrikaners van ons “sondes” moet verlos, dié verhaal eerder as ‘n gelykenis bedoel.

In die res van die rubriek spekuleer Jansen oor die aard van blankes se aggressie, wat volgens hom as rassisme tot uiting kom. As aggressie teenoor ander rassegroepe op rassisme dui, wonder ek wat Jansen dan sou maak van die sowat 45 000 blankes wat reeds sedert 1994 vermoor is, en 90 000 blanke vrouens wat verkrag is, bykans almal slagoffers van lede van ander rassegroepe?

Is bogenoemde dan nie ekstreme vorme van rassistiese aggressie nie, prof Jansen? Die sogenaamde rassis wat u so goed gewys het wie’s eintlik baas, het u immers geen fisieke leed aangedoen nie. Moord en verkragting, daarenteen, is ernstige misdade wat meer as metofiese geweld behels. Waar is u rubriek wat te velde trek teen daardie vorm van rassisme?

Op moedswillige wyse “wonder” Jansen voorts wat skuil agter die blanke Afrikanerman se sogenaamde aggressie. Hmmm… dis nou vir jou ‘n moeilike vraag. Totaal en al onverklaarbaar.

Of moontlik nie.

Probeer Jansen waaragtig voorgee hy is nie bewus is aan die skreiende diskriminasie wat blanke mans dag vir dag moet ervaar nie? U weet, prof Jansen, soos die VF+ se verkiesingsplakkate lui: “Te wit vir ‘n werk?” Kan dít deel van die verklaring uitmaak?

Indien nie dit nie, hoe klink tienduisende dooie familielede, deur ander rassegroepe vermoor vir u as ‘n regverdiging vir blanke mans se sogenaamde aggressie?

Of wat van die magteloosheid wat blanke mans ervaar, nádat ons deur ons eie sogenaamde leiers by Kodesa uitverkoop is, in ‘n stuk volksverraad wat ‘n halsmisdaad hoort te wees? Kan blanke aggressie iets te make hê met die gevolglike verlies aan enige vermoë om oor ons eie lot te beskik en ons uitlewering aan die dwingelandy van die vreemde massa en die Engelse geldmagte?

Ek verstout my om te sê dat Afrikanermans nóg in u amateuragtigtige poging tot psigoanalise, nóg in u leedvermakerige kwotabaasskap oor Afrikaners belangstel, prof Jansen. Daar is genoeg maatskaplike, opvoedkundige en ander probleme in u eie gemeenskap, die bruinmense, wat u voltyds kan besighou. Afrikaners het nie ‘n Messias, en veral nie iemand soos u, se redding nodig nie.

уличный светильник наАлександр Фильчаков прокурор

Die verhaal van twee partye, deel II

ImageHierdie is die tweede deel van die Die verhaal van twee partye. In die eerste artikel het ek die rede vir die Vryheidsfront se verlies aan 70% van sy kiesers toegeskryf aan die feit dat die party 'n onverkoopbare produk aan sy kliënte aangebied het. Die party wou die Orania-volkstaatgedagte as 'n langtermyndroom bemark wat sy kiesers se verbeelding moes aangryp. Verskillende fases is voorgestel wat op die huidige driehoeksimbool van die party uitgeloop het.

Maar daardie produk wou maar net nie van die rak kom nie. Inherent moes kiesers self werklik niks daaraan doen nie, hulle moes net trek. Die party sal deur 'n beleid van minsaamheid, liewer as konfrontasie verseker dat daar stadig maar seker op die pad na 'n volkstaat gevorder sal word. 

Volgens wetenskaplike navorsing onder beskerming van die Volkstaatraad wat onder Afrikaners binne die Pretoria-Centurion-gebied gedoen en wat deur prof. Lawrence Schlemmer geredigeer is, was dit duidelik dat die meerderheid van daardie gebied se Afrikaners 'n uiters sterk identiteitsgevoel ervaar en hulself as Afrikaners in die eerste plek sien, gevolg deur 'n godsdienstige of gebiedsbewussyn. 

Twee alternatiewe strategieë, naamlik bemindmaking of konfrontasie was op die oog af twee uiteenlopende hanteringstrategieë, maar die navorsing het bevind dat daar 'n onderliggende gemeenskaplikheid by die meerderheid Afrikaners bestaan, naamlik 'n aktiewe benadering tot bedreiging, of dit nou bemindmaking of konfrontasie behels.

Dit is vandag voor-die-hand-liggend dat Afrikaners nooit hul toekomstige fisiese en kulturele veiligheid sal abdikeer aan 'n klein groepie politici binne 'n volksvreemde parlement nie. Die aangewese plek daarvoor is op die derde regeringsvlak, waar praktiese samewerking en/of konfrontasie die aangewese strategie is. Daar kan kiesers deel word van die proses om hul selfbeskikking te verwerf.

Helen Zille het nou bewys dat dit moontlik is om selfbeskikking op selfs tweedevlakregering te verkry, dws om selfseggenskap oor eie sake te bekom, deur goeie organisasiewerk en praktiese politiek. As Zille dit op provinsiale en munisipale vlakke kan doen, kan die VF+ dit seer sekerlik op munisipale vlak doen.

Dus, as die DA Kaapstad kan vat, kan die VF+ Pretoria vat. 

Waarom kan Pretoria se burgemeester nie 'n Afrikaner wees nie? Waarom moet Soshanguve, wat binne 'n ander provinsie geleë is, besluit wat die inwoners van Pretoria se lot moet wees? Kan die organisasie, Regslui vir Afrikaans, nie 'n grondwetlike klasaksie namens Pretoria se inwoners teen die owerhede loods wat die munisipale grense wederregtelik gewysig het met die uitsluitlike doel om 'n kunsmatige swart meerderheid daardeur te bekom nie? As die argument dan gaan oor derdevlakdiens aan minder gegoede gebiede kan mens dit verstaan. Maar Pretoria kan nog aanhou om daardie gebiede op 'n agentskapsbasis te bedien. Om dit as verskoning te gebruik om Pretoria se inwoners te ontkieser is ongrondwetlik en moet met alle middele tot ons bekikking teengestaan word.

Die VF+ kan aan sy kiesers die keuse bied: óf 'n Afrikanerstadsraad wat die begrip van dienslewering verstaan, óf 'n ANC-stadsraad wat vinnig besig is om in duie te stort. 

Herbou die party om die kiesers van Pretoria wat reeds sterk DA-neigings begin toon. 

Gee vir hulle 'n verbeeldingryke en haalbare plan. 

Hou op op te sê: "Moenie die kiesers weer hoop gee nie, laat hulle liewer volkstaat toe trek!"  

Onsin! Die mense leef reeds in 'n volkstaat, hulle moet dit slegs vat! 

En met die regte leierskap sal dit moontlik wees om dit sonder 'n enkele skoot by die stembus te doen.

Maar daar is baie werk wat gedoen moet word. 

хамама #ИМЯ?топкарго

Het Afrikaners liberaliste geword?

Dit is na die 2009-verkiesing duidelik dat Afrikaners en Bruinmense van die Kaap oorwegend vir die liberaal Demokratiese Alliansie gestem het. Die Bruinmense van die Kaap het klaarblyklik vir die DA gestem in die hoop dat die DA hulle teen Xhosa-oorheersing sal beskerm. Die Afrikaners, daar en teen, het weer klaarblyklik nie vir iets gestem nie, maar teen die ANC. So het hulle slagoffers van die Zille-verkiesingsfoefie geword van “Stop Zuma!”.

Die ANC se spogvertoning het bewys dat die swart bevolking nog steeds glo dat die ANC ‘n Vader Krismisparty is wat vanaf die wieg tot die graf vir sy mense sal sorg.

Die demografie is eenvoudig so dat die Vryheidsfront homself deur die verkeerde posisionering in die politiek ‘n stadig maar sekere hongerdood laat sterf.  

Die kleiner partye – met ‘n Christelike religieuse rigting – is bykans uitgewis, vir seker omdat hulle nie voor die verkiesing aan die voorgestelde alliansie van partye meegedoen het nie.  

Dit bly ‘n onverklaarbare raaisel dat die Christen-demokrasie tot dusver nie deur die kiesers as ‘n wesenlike alternatief vir die liberale en sosiale demokrasieë gesien word nie. Dit, ten spyte van die feit dat SA se burgery sg. meer as sewentig persent van Christelike geloofsoortuiging is.

Daar is eintlik net drie politieke modelle wat gebruik word vir die strukturering van die samelewing:

• Die Christelike regstaat maak ‘n onderskeid tussen organe van die staat, teenoor organe van die burgerlike samelewing. Hierdie model werk met die beginsel van interne outonomie tussen organe van die staat (die wetgewende, uitvoerende en regsprekende organe). Die model werk ook met die beginsel van binne-staatlike vryheid en vrymag vir elk van die organe van die burgerlike samelewing in verhouding tot die organe van die staat. Die samelewing bestaan hiervolgens uit individue, maar ook uit ‘n ryke verskeidenheid van organe van die staat (wetgewend, uitvoerend, ens), van gemeenskappe (Afrikaners, Zoeloes, ens) en van organe van die burgerlike samelewing (skole, kerke, sportvereniginge, ens.). Daarom werk die Christelike regstaat nie net met individuele menseregte nie, maar ook met religieuse, kulturele en taalgemeenskappe se kollektiewe regte

• Die liberale demokrasie is die geykte Angel-Saksiese Westminster-stelsel wat koppe tel en die meerderheid aan die bewind stel. Die samelewing is die opstelsom van vrye individue. Vir die liberale demokrasie is ‘n akte van individuele menseregte genoegsaam.

• Vir die magstaat is die staat ‘n oorkoepelende samelewingstruktuur wat voorskriftelik vir die organe van die staat is en ook vrymag het om in die interne sake van die organe van die burgerlike samelewing te meng en voor te skryf.

In die Christelike samelewingsleer word nie oordrewe waarde aan die volk as losse samelewingstruktuur van persone met dieselfde kultuurpatroon toegeken nie. Volksgemeenskappe is egter kenbaar deur die georganiseerde kultuurinstellinge daarvan. Beskaafde kultuurgemeenskappe mis ‘n permanente gesagstruktuur van tradisionele leiers. By tradisionele stamme is dit anders, want daar is oorgeërfde leierskap.

Betreffende die partye is my tesestelling die volgende:

• Dat die DA die diep plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing nie verstaan nie en dus binne ‘n Angelsaksies-kapitalistiese ideologie geen hoop het om na die Swart bevolking deurbrake te maak nie.

• Dat die ANC se “peoples”-konsep wesenlik rassisties is, want met “people” (Abantu) word swartmense bedoel, terwyl die Afrikaners Abelungu is wat weer onderskei word van Amangisi (die Engelssprekendes).

• Dat die Vryheidsfront hom in die publiekregtelike politieke omgewing soos ‘n privaatregtelike kultuurorganisasie gedra en dat die veranderlike demografiese werklikhede dui op al minderwordende Afrikaners wat deur ‘n mitiese Volksgeist gedrewe is.

Die dilemma van die Vryheidsfront is dat hy met die Afrikanervolk wil omgaan so asof die Afrikaners ‘n stamgebondenheid ervaar. Wie is die tradisionele leiers van die Afrikaner? Wat leierskap betref is die kultuur-organisasies van ‘n Afrikaanse kultuurstempel juis bekend vir versplintering. Vanuit ‘n Christelike verwysingsraamwerk is die Vryheidsfront struktureel nie ‘n Christen-demokratiese party nie, maar eerder die produk of nalewing van die humanistiese Romantiek (verering van ‘n veronderstelde mitiese volksgees) en van die Duitse Idealisme (verering van bloedafkoms en bodemverknogtheid), wat geboorte aan die Nasionaal-sosialisme gegee het.

Vervolgens word in groter detail uitgespel wat die implikasie van die Christen-demokrasie vir SA is. Aan die einde van die teks word kortliks aangedui in hoe ‘n mate die Menseregte-akte van die Grondwet (1996), van die grondbeginsels van die Christen-demokrasie afwyk.

 

Die onderliggende Godsidee in Christen-demokrasie

Die onderliggende Godsidee in die Christen demokrasie is dat God die skepper is van mens en wêreld en dat God steeds met die mens en sy omwêreld bemoeienis maak en die skepping onderhou. Vandaar die werklikheid dat daar hoogstens onderskei kan word tussen politiek en godsdiens, maar dat skeiding nie moontlik is nie.

Die pogings van die DA om politiek en godsdiens te skei, lei natuurlik na ‘n ander gepostuleerde en onskriftuurlike Godsidee dat, alhoewel God mag bestaan of dalk nie bestaan nie, Hy daar vér is, nie daagliks met die mens bemoeienis maak en by die ontplooiing van die skepping teenwoordig is nie.

Uitgaande van die veronderstelling dat die Heilige Skrif wel in duidelike terme oor God praat, kan gestel word dat alles aan God ondergeskik is (Sy soewereiniteit), dat God meelewend is en die lot van die behoeftiges wil verlig en dat God regverdig in Sy oordeel is en van die staat verwag om volgens geregtigheidsbeginsels te regeer.

 

Die Christelike mensbeskouing

Die Christendom sien ook die mens anders as die liberale humanisme. In die liberalisme is die mens die loutere produk van omgewingsfaktore en as die sosio-ekonomiese omgewing vir almal gelyk gemaak word, alle verskille uitgewis word en tot gelyke volstrekvrye individue lei. Die liberalisme glo in ‘n omgewingsdeterminisme.

In die Christelike geloof is die mens geskape na die beeld van God. Van die mens word verwag om in volledige oorgawe aan God leef. Insgelyks is die mens nie op te deel in ‘n tydelike liggaamlike mens teenoor ‘n ewige siel nie. Die mens is een in die tyd en hy is sy liggaam en is sy siel. Daarom moet die mens die Koninkryk van God reeds hier horisontaal vestig en nie leef asof die enigeste verlossing in die hiernamaals te vind is nie. Die gelowige mens wat ontdek dat hy/sy ‘n roeping reeds hier en nou het, kry ‘n nuwe perspektief op sy lewe en in sake die omringende werklikheid.

Die implikasie van ‘n Bybelse mensbeskouing is dat die mens vanaf konsepsie ‘n mens is en dat die onskendbaarheid van die ongebore baba se persoonlikheid en lewe enige willekeurige aborsie per definisie verbied.

Insgelyks leef die mens willens en wetens volgens ‘n bepaalde religieuse rigting en is dit eenvoudig ‘n fait accompli dat alle instellinge van die mens ‘n bepaalde religieuse rigting (Christelik òf humanisties) adem en ‘n bepaalde kultuurinslag vertoon.

Die betekenis van die voorafgaande is eenvoudige dat die Christelike regstaat die natuurlike religieuse, kulturele en taalkundige differensiasies moet verdiskonteer en akkommodeer. Dit kan nie weggedink word nie.

 

Die Kerk as instelling

Die kerk is per definisie ‘n geordende godsdiensinstelling met ‘n georganiseerde aanbiddingskarakter wat op die religieuse rigtingvraag konsentreer. Die gebruik van die kerkbegrip asof daar net een is, is eenvoudig fiksie, want geloofsgemeenskappe stel kerke en teologieë daar om aan die verskillende aanbiddingsbehoeftes van gedifferensieerde gemeenskappe te voldoen. Alle kerke het dit egter gemeenskaplik met mekaar in gemeen dat kerke in die vertikale tydsrigting gesprek met die Almagtige God voer en die boodskap van die Skrif verkondig.

Gedagtig aan die feit dat alle menslike instellinge self ook volgens ‘n bepaalde religieuse rigting geposisioneer is, is dit so dat kerke as instellings met ander gestruktureerde instellinge van die samelewing – dus ook met partye – gesprek moet voer oor die onderliggende religieuse rigting. Is dit Christelik, òf dalk humanisties òf dalk ateïsties, ens.?

 

Die staat as regsinstelling

Binne die konteks van die Christelike samelewingsleer is die staat ‘n publiekregtelike instelling wat binne ‘n bepaalde grondgebied die samelewing volgens regverdige wette sodanig moet rig en orden dat goddelike geregtigheid sal geskied. Die staat bemoei hom met geregtigheid in die algemene belang!

Ten einde te verhoed dat die mens in die owerheidsamp sy/haar mag sal misbruik, is die Christelike regstaat daarop gesteld dat elke orgaan van die staat interne outonomie sal geniet. Die implikasie hiervan is dat daar skeiding van magte sal wees tussen die uitvoerende, wetgewende en regsprekende komponente van die staatshuishouding. Die regsprekende gesag in ‘n Christelike regstaat behoort homself onafhanklik van die uitvoerende gesag te struktureer. Regsprekers (landdroste en regters) behoort deur die georganiseerde regsberoep opgelei, aangestel en bevorder te word, sonder tussenkoms van die Staatshoof.

Insgelyks is die federale konstitusionele regstaat ‘n groter waarborg teen magsmisbruik as die unitêre staat. Daarom moet provinsies oorspronklike magte geniet en moet daar devolusie van mag vanaf die nasionale, na die provinsiale en na die streeksvlakke wees.

Die afstand tussen die owerheid en burgerlike instellinge is groter as die afstand tussen die owerheid en die gedifferensieerde organe van die staat. Daarom word die verhouding tussen die owerheid en die organe van die burgerlike samelewing ten beste getipeer deur die leer van vryheid volgens eie bevoegdheid. Dit beteken dat die staat die voorwaardes moet skep ingevolge waarvan gedifferensieerde gemeenskappe asook die organe van die burgerlike samelewing in vryheid binne die landsgrense sal bestaan. Die implikasie is ook dat die staat die voorwaardes sal skep vir die genieting van private eiendom en persoonlike sekerheid.

Die staat as instelling asook die persone in die owerheidsampte het ‘n besondere verantwoordelikheid om toe te sien dat agtergeblewe gemeenskappe deur spesiale maatreëls opgehef sal word. Dit moet in samewerking met die georganiseerde kerke en ander welsynsorganisasies geskied.  

 

Jurisprudensie

Die mite bestaan dat die regswetenskap vry is van menslike vooroordele en ideologiese voorveronderstellings. Hierdie skool van denke staan bekend as regspositivisme. Regters is mense en mense word deur verskillende ideologiese voorveronderstellinge gerig. Dit is om hierdie rede dat Amerikaanse Presidente by vakatures hulle eie Regters aanstel wat by sodanige President se lewens- en wêreldbeskouing inpas.

Die probleem in Suid-Afrika is dat Regters aan ‘n individuele menseregte-akte gebonde is, vanweë die feit dat aktes vir die bevordering en beskerming van die regte van taal-, godsdiens- en kultuurgemeenskappe afwesig is.

Die Grondwetlike Hof se funksionering in SA – asook die hoër howe – skep self ook reg en konstitueer ‘n samelewing volgens die kollektiewe subjektiewe oordele en vooroordele van sodanige regters. So is dit die Regbank wat die doodstraf afgeskaf het in die interpretasie van artikel 7 van die Grondwet (1996) wat lui dat “elkeen die reg op lewe” het.

Daar is nie net een regswetenskap en een regstelsel nie. Vanweë die plurale aard van die Suid-Afrikaanse samelewing is daar dus naas die Romeins Hollandse Reg ook ruimte vir die inheemse privaat- en publiekreg.

 

‘n Politieke party  

‘n Politieke party het binne ‘n Christelike samelewingsorde ‘n spesifieke taak. Dit is per definisie ‘n publiekregtelike instelling. ‘n Party plaas ‘n bepaalde model op die tafel oor hoe die samelewing ten beste gestruktureer en regeer moet word. Die model is vir beoordeling deur die kiesers. Dit is eers as sodanige party deur die kiesers in die owerheidsamp geplaas is, dat so ‘n party sy model kan instel en realiseer.  

In hierdie verband is die Christelike regstaat die eerste en beste model vir ‘n oorwegend Christelike samelewing. Dit is ‘n eerste opsie naas die liberalisme en die magstaatsmodelle.

Die belangrikste doelwit is natuurlik om die owerheidsamp oor te neem en om daarna in die algemene belang te regeer. Om dit te kan doen is dit futiel om, soos die Vryheidsfront, net Afrikaners as lede en kandidate te hê en om net ‘n appél op Afrikaners se steun te maak. Dit is ‘n strategie van selfvernietiging.

‘n Tweede doelwit is om as opposisie konstruktief in die wetgewende proses betrokke te wees. Om dus met die owerheid van die dag te onderhandel en om in onderhandeling die fokus op sake en nie op persoonlikhede te plaas nie. Die persoonlike aanvalle van die DA op Zuma sal die DA nog duur te staan kom.

 

Organe van die georganiseerde ekonomie

In die Christelike politiek word die markplek deur die werksaamhede van die georganiseerde ekonomie en sakesektor bepaal. Maar, dit is helaas nodig vir die Christelike politiek om die spelreëls te formuleer en af te dwing. Enige vorm van monopolievorming wat die kleinman en klein-sakeonderneming verdring moet teengestaan word. Die huidige internasionale bankkrisis is ‘n goeie voorbeeld waar banke eenvoudig buite die raamwerk van ‘n geordende samelewing gefunksioneer het.

Die Christelike demokrasie moet materialisme en ongenaakbare Kapitalisme asook Sosialisme aktief beveg. Die beste definisie wat aan die Christelike ekonomie gegee kan word is betrokkenheid by die sakesektor vanuit die perspektief van dienslewering, teen ‘n redelike vergoeding en met die oog op wins vir voortgesette groei.

Die Christelike politiek moet ook die geweldige gaping tussen die loon van die arbeider teenoor die loon van die uitvoerende amptenaar teenstaan.

‘n Min of meer eweredige verspreiding van welvaart en kapitaalkragtigheid is waarskynlik ‘n waarborg vir stabiliteit, vrede en veiligheid. Inmiddels moet maatskappye aangemoedig word om aandele aan hulle werkers af te staan, ten einde die arbeider ‘n behorensgevoel te gee.  

 

Opvoedkundige instellinge  

Opvoedkundige instellinge is wat hulle infrastruktuur betref die verantwoordelikheid van die betrokke organe van die staat. Die religieuse rigting en kulturele inslag is egter die prerogatief en verantwoordelikheid van die georganiseerde ouerlike burgerlike samelewing.

Wat religieuse rigting en kulturele inslag betref mag die staat nooit die funksies van die georganiseerde ouers oorneem nie. Dit beteken dat daar ‘n vennootskapsverhouding moet bestaan tussen die betrokke organe van die staat en die georganiseerde ouers.

Veral die kwessie van dissipline is ‘n saak van beide die skoolbestuurders en die betrokke ouers. Dissipline moet op ‘n verantwoordelike wyse bestuur word en dissiplinêre maatreëls sluit ook lyfstraf, na behoorlike ondersoeke in.

Die staat het wel ‘n verantwoordelikheid om opvoedkundige norme en standaarde daar te stel, ten einde uniforme gehalte te verseker.

Instellinge van die hoër-onderwys – soos universiteite en tegnikons – behoort volgens privaatwette te funksioneer.

 

Christelike huwelik

‘n Huwelik is ‘n sosiale instelling wat ‘n twee-eenheidsgemeenskap is van een man en een vrou. Die fondament van die huwelik is geleë in die biotiese aspek of seksdaad, maar dan onder die leiding van die etiese (liefde). Sodra derdes ‘n rol in die huwelik speel ondergrawe dit die solidêre eenheidskarakter van die huwelik.

In die Christelike regstaat is die ontbinding van ‘n huwelik ‘n ingrypende daad en moet dit nie maklik gemaak word nie, veral as so ‘n huwelik tot ‘n gesin uitgebrei is.

 

Die familie as kleinste sosiale organisasie

Die Christelike politiek plaas ‘n hoë premie op die rol en waarde van die familie as kleinste sosiale eenheid. Die familie bestaan uit een man en een vrou en kinders wat aan die ouerpaar toevertrou is. Die familie verg spesiale beskerming deur die owerheid. Vaderlike gesag moet respekteer word. Moederlike versorging is van kardinale belang vir die behoud van die gesin. Arbeidspraktyke en indiensnemers van vaders en moeders moet daarop bedag wees dat dit in die beste belang van die kinders en van die behoud van die gesin en familie is, as beide vader en moeder tuis slaap en ten minste naweke tuis bly.

Die gesag van die vader en moeder moet deur dissiplinêre maatreëls op die kinders forseer word. Dit mag insluit ook lyfstraf wat onder beheerde toestande toegepas word, sonder om ernstige lyflike en psigiese skade die kind te berokken.  

Die beskerming van die regte van die kind moet op sodanige wyse deur organe van die staat, insluitende die regsprekende gesag, hanteer word, dat ouerlike gesag nie ondermyn word nie.

 

Menseregte

Onder menseregte word verstaan geformuleerde regte wat deel van die Grondwet uitmaak en afdwingbaar is op (a) individue, (b) organe van die staat asook (c) op gemeenskappe en (d) organe van die burgerlike samelewing.

Die Christelike politiek verwerp die liberale dogma dat die regte van die mens genoegsaam deur individuele regte beskerm word. In hierdie verband maak die Christelike regstaat voorsiening vir die bevordering en die beskerming van die regte van taal-, godsdiens- en kultuur-gemeenskappe. Die beskerming en bevordering van regte voorveronderstel die aanvaarding van taal-, godsdiens- en kultuur-gemeenskapsregte as grondwetlike aktes wat in terme van artikel 234 van die Grondwet bykomstig tot individuele regte (Hoofstuk 2 van die Grondwet van SA (1996) deur die wetgewende gesag aanvaar moet word.

 

 

Alliansie van Leiers

Dit is veral in plurale gemeenskappe van die allergrootste belang dat alle instellinge wat die Christelik-religieuse rigting in die samelewing voorstaan, saam sal werk ter verwesenliking van die ideale vir die konstituering van ‘n Christelike samelewing. Hierdie samewerking is in die eerste plek van betekenis vir die politiek. Daar is nie ruimte vir ‘n veelvoud van partye wat dieselfde Christelike geloofsrigting deelagtig is, en mekaar in verkiesing teenstaan – veral ten aansien van ‘n sekulêre samelewing. Terwyl die bestaan van meer as een party dikwels ‘n fait accompli is, moet die verskille oorspan word deur ‘n leierskap-alliansie, ingevolge waarvan die leiers as gelykes binne ‘n nasionale leiersforum saamwerk en eendragtig binne die politieke arena optree.

Daarnaas moet politieke leiers ook alliansies vorm met instellinge van die burgerlike samelewing, om die eenheidsdimensie in eenheid-in-verskeidenheid te demonstreer en te onderstreep.

Die sosio-ekonomiese probleme in ‘n ontwikkelingsland soos SA is sodanig dat vennootskappe en formele verdrae gesluit moet word, tussen organe van die staat met belanghebbende organe van die burgerlike samelewing. In die oplossing van die etiese vraagstuk onderliggend aan korrupsie kan kerk en staat mekaar wedersyds ondersteun en help om hierdie soort van probleme sinvol aan te spreek. In die bekamping van geweld is dit voor die handliggend dat publieke veiligheidsdienste hande sal vat met private sekuriteitsinstellinge van die burgerlike samelewing.

 

Gevolgtrekking

 

Dit is duidelik dat die Christen-demokratiese ideaal ingrypend van die magstaat en van die liberale demokrasie verskil.

Dit is gewoon ook so dat skerp kritiek op die bepalinge van die Menseregte-akte van die Grondwet van SA (1996), gerig moet word.

Die aanspraak van die Grondwet dat dit die hoogste wet is (a.2) doen afbreuk aan die Goddelike wet en reg en voorskrifte van die Bybelse Tien Gebooie.

Die verskraling van Menseregte tot individuele regte (Hoofstuk 2 van die Grondwet, 1996) is nie genoegsaam om die regte van godsdiens-, taal- en kultuurregte van georganiseerde instellinge van die burgerlike samelewing te bevorder en te beskerm nie.

Die sogenaamde Beperking van Regte klousule van die Grondwet (a.36), maak dit moontlik dat die regerende gesag hierdie klousule kan gebruik en misbruik om elke bepaling van die Menseregte-akte te beperk of binne ‘n eie ideologiese konteks nader te omskryf. Dit beteken dat die VF, die ANC en selfs die Kommunistiese Party van SA aan die hand van die Grondwet (1996) kan regeer en hulle eie ideologiese programme op die samelewing kan forseer.

Die bepaling dat elkeen ‘n “reg op lewe het”, is deur die Grondwetlike Hof van SA so geïnterpreteer dat die doodstraf daarmee afgeskaf is. Insgelyks is wetgewing deurgevoer dat aborsie op aanvraag wettig is en toe daar na die Grondwetlike Hof geappelleer is om die regte van die ongebore kind te beskerm, het die hof eenvoudig aborsie op aanvraag gelegitimeer. Hierdie legitimasie berus op die humanistiese antropologiese voorveronderstelling dat daar ‘n skeiding is tussen liggaam en siel en dat die kind eers op ‘n later stadium na aanvanklike konsepsie op onskendbare regte aanspraak kan maak.

Dan is daar ‘n groot aantal klousules in die Menseregte-akte waar die klousules self deur allerlei kwalifikasies beperk word. Hier moet gelet word op:

• Die bepaling dat ‘n reg op onderwys volgens die keuse van die ouers onderhewig is aan doenbaarheid en uitvoerbaarheid (a.29).

• Die beperking van die reg op eiendom (a.25) wat onder bepaalde omstandighede en voorwaardes deur die owerheid van die eienaar vervreem kan word.

• Die reg van ‘n minderjarige kind (s.28) dikwels inbreuk maak op ouerlike gesag en dissipline.

Die belangrike punt is dat die aandrang op die skeiding tussen geloof en politiek eintlik in die dogmatiese konstruksies van die liberalisme en magstaat-politiek neerkom op die herdefiniëring van die Christelike Godsideë. Die God van die Bybel is dan nie meer ‘n God wat daagliks en op elke terrein met sy kinders bemoeienis maak en voortdurend die skepping onderhou nie, maar ‘n konstruksie van God wat na die transendente verban word. Dit is ‘n Godsideë dat God miskien wel bestaan maar as Hy bestaan Homself van die geskape werklikheid terug getrek het en Hom in die verre verte iewers in die transendente bevind. Dan word die aardse aan die magte van die mens uitgelewer en word die religieuse tot die binnemure van ‘n kerk verskraal.

купить свитер мальчику 8 летФільчаков прокурор

Afrikaans het die reg om op elke spyskaart (en enige ander plek) te verskyn

'n Mens hoor dikwels die argument, nogal van Afrikaanssprekendes, dat die Afrikaner nie daarop mag aandring dat Afrikaans op 'n spyskaart verskyn nie omdat dit diskriminasie teen die nege ander amptelike inheemse tale (swart tale) sou wees. Ons moet dus tevrede wees met net Engelse spyskaarte, want dis onmoontlik om 'n spyskaart in al elf amptelike tale te hê.

Kom ons ontleed die argument: Afrikaans mag nie op 'n spyskaart verskyn sonder die swart tale nie, want dit sou onbehoorlike bevoordeling wees. Die sprekers van swart tale dring egter nie daarop aan dat hul tale op 'n spyskaart verskyn nie. 'n Restaurantbaas sal dus nie die koste aangaan om swart tale op sy spyskaart te plaas nie; hy weet sy swart kliënte is heeltemal tevrede met Engels. Dus: omdat swarttaalsprekers nie omgee vir hul tale nie, mag Afrikaans nie op 'n spyskaart verskyn nie.

Ipso facto mag die swart tale dan natuurlik ook nie op 'n spyskaart verskyn sonder die ander inheemse taal, Afrikaans, nie, want dit sou beteken hulle word bo Afrikaans bevoordeel. Omdat Afrikaanssprekendes egter nie daarop mag aandring dat hul taal op spyskaarte verskyn nie, mag die swart tale ook nie daarop verskyn nie.

Dié soort argument is 'n klassieke voorbeeld van 'n sirkelredenasie, 'n drogredenasie.

Kom ons gooi die argument om en kom by die waarheid uit: Afrikaans word deur die amptelike swart tale benadeel omdat swarttaalsprekers nie op hul taalregte aandring nie.

Engels se gebruik word nie beperk tot dié van die ander amptelike tale wat dieselfde status geniet nie. Die feit dat Engels onregmatig bevoordeel word, dat Engels dus geregtig is op meer voordele as die ander amptelike tale, is geen probleem vir dié wat hoog opgee oor onregverdigheid as Afrikaans sonder die swart tale gebruik word nie.

Waar kom die persepsie vandaan dat Afrikaans ten koste van die swart tale gebruik word? Glo die sprekers van swart tale dat hul taalregte deur Afrikaans aangetas word?

Waar is dan die kongresse en seminare waar swarttaalsprekers ernstig besin en beraadslaag oor die gevaar wat Afrikaans vir hul tale inhou; oor hoe Afrikaans hul tale onregmatig verdring; oor hoe swak hul kinders op skool presteer omdat swart moedertaalonderrig uitgefaseer word ter wille van Afrikaans; oor hoe skandelik dit is dat feitlik alle amptelike dokumente en die voertaal van die staatsdiens eentalig Afrikaans is terwyl die grondwet gelyke regte vir elf amptelike tale waarborg; oor hoe onregverdig dit is dat die Spur se spyskaart net in Afrikaans is?

Waar is die swart organisasies wat hulle beywer vir die behoud en uitbouing van swart tale? (Terloops, die Afrikaanse Taalraad verteenwoordig meer as veertig organisasies wat hulle vir Afrikaans beywer.)

Waar is die swart drukgroepe wat briewe aan sake-ondernemings skryf waarin hulle aandring op die gelyke beregtiging van swart tale?

Waar is die forums op die internet waar swartmense hewige debatte voer omdat hul tale op alle terreine afgeskeep en geminag word?

Moet die Afrikaner sy reg op sy taal opgee omdat swartmense nie die reg op húl tale opeis nie?

Die ironiese situasie het ontstaan dat Afrikaners nie vir Afrikaans mag veg as die swart tale nie ingesluit word nie, anders het dit geen legimiteit nie. Daar is geen soortgelyke verpligting op Engels nie. Die Afrikaner het die pleitbesorger vir swart moedertaalonderrig geword sodat hy sy kinders in Afrikaans mag onderrig.

Watter swart organisasies beywer hulle vir die gebruik en bevordering van Afrikaans naas hul eie swart tale?

'n Mens wonder of die pleitbesorgers vir die gebruik van die nege amptelike swart tale naas Afrikaans van die volgende bewus is:

Baie van Suid-Afrika se swart tale deel 'n oorspronklike stamtaal. Namate die swart stamme uitmekaar beweeg het, het variante van die oorspronklike tale ontstaan. Baie swartmense verstaan dus mekaar se tale.

Die Nguni-taalgroep bestaan uit isiZulu, isiXhosa, siSwati en isiNdebele. Die Sotho-taalgroep omvat Setswana, Sepedi en Sesotho. Die grammatika van die onderskeie Nguni- en Sothotale stem baie ooreen, met die gevolg dat 'n Nguni-spreker ook Setswana, Sepedi en Sesotho kan verstaan en lees. Dieselfde geld vir Sotho-sprekers.

Volgens die 2001-sensus is isiZulu die huistaal van 23,8% van die bevolking; isiXhosa 17,6%; Afrikaans 13,3%; Sepedi 9,4%; Engels en Setswana 8,2% elk; Sesotho 7,9% en die oorblywende vier amptelike tale minder as 5% elk.

Hiervolgens sou dit billik wees dat een Nguni-taal en een Sotho-taal op 'n spyskaart en alle ander geskrewe stukke verskyn. Dit verteenwoordig 71,2% van swarttaalsprekers. Afrikaans is volgende op die lys, en dan Engels. Omdat swarttaalsprekers egter nie hul taalregte uitoefen nie en tevrede is met Engels, kan Engels in die plek van die swart tale gebruik word. Afrikaans is dan tweede op die lys. Engels en Afrikaans behoort dus naas mekaar gebruik te word, 'n heeltemal werkbare situasie.

Logika sê vir 'n mens die ANC, waarskynlik geadviseer deur sy geslepe wit Kommunistiese raadgewers, het 'n elf-taal-beleid gekies juis omdat hy geweet het dit is onwerkbaar in die praktyk. Dit is nie moontlik om elf tale gelyktydig en gelykwaardig te gebruik en te behandel nie, dus sal net een taal gebruik word, naamlik Engels. Terselfdertyd skaal hulle Afrikaans se status af na dié van die swart tale asof hulle almal "gelyk" is omdat hulle inheemse tale is. Só word Afrikaans se regte en gebruik aan dié van die swart tale gekoppel, word hy gekniehalter en uiteindelik heeltemal uitgefaseer.

Suid-Afrika, só het die ANC beplan, sal 'n eentalig Engelse land word met 'n Engelse staatsdiens, Engelse ekonomie, Engelse skole, universiteite en dies meer. Sodra die Afrikaners se kinders verengels het, is die slag gelewer.

Die bevoordeelde posisie van Engels word geregverdig op grond daarvan dat dit die lingua franca van die land is. Dit is 'n aanname wat geensins bewys is nie. 'n Mens kan verder gaan en sê dit is 'n growwe misleiding en 'n infame leuen dat die meeste Suid-Afrikaners Engels praat en verstaan, wat nog te sê van lees en skryf. Wat van die groot persentasie swartmense buite die stedelike gebiede wat nie eens behoorlik in hul eie taal geletterd is nie? Hoe verklaar 'n mens dit dat Engels volgens die laaste sensus die huistaal van net 8,2% van die bevolking was? Hoe verstaan 'n mens die stygende persentasie swart leerlinge wat nie oor basiese geletterdheid beskik nie? Het dit dalk iets daarmee te doen dat hulle nie meer in hul eie tale onderrig word nie, maar in Engels? Het dit dalk iets daarmee te doen dat hulle nie Engels verstaan nie omdat hul ouers nie Engels magtig is nie?

Dit sou meer korrek wees om te sê: Die swart heersers hang Engels aan en is van plan om dit die lingua franca van die land te máák, ongeag die feit dat hulle hul eie mense in die proses benadeel en hul eie grondwet reduseer tot 'n stuk toiletpapier.

Terloops, dit is ook nie feitelik korrek om te sê Engels is die lingua franca van die wêreld nie. Mandaryns is by verre die mees gesproke taal ter wêreld, en Spaans ding sterk met Engels mee om die tweede plek.

As 'n Nguni-taal, 'n Sotho-taal, Afrikaans en Engels gebruik word, kan 98% van alle Suid-Afrikaners dit verstaan. Die ANC was nie onbewus hiervan toe hy sy taalbeleid opgestel het.

Op grond waarvan kry 'n huistaal wat net 1,6% van die bevolking verteenwoordig, amptelike status (isiNdebele); of 2,3% (Tshivenda); of 2,7% (siSwati)?

Logika sê vir 'n mens 'n redelike en praktiese oplossing sou gewees het om Afrikaans en Engels as amptelike tale te behou, met 'n Nguni- of Sotho-taal as derde amptelike taal in gebiede waar dié taalsprekers die sterkste verteenwoordig is. Skoolonderrig geskied in die taalkeuse van die ouers (die meeste swart ouers verkies Engels, tot nadeel van hul kinders), maar moedertaalonderrig word aangemoedig met behulp van ekstra staatsbefondsing.

Onder die dekmantel van regverdigheid ken die ANC egter amptelike status aan elf tale toe en waarborg selfs hul gelykwaardige status en behandeling in die grondwet. Hiermee teken hy die doodsvonnis van Afrikaans, en by verstek, dié van sy vyand, die Afrikaner.

Die feit dat die regering voortdurend sy eie grondwet oortree deur Engels eentalig in die staatsdiens te bevorder en af te dwing, lok weinig protes uit. Dit kos 'n hofsaak om 'n sensusvorm in Afrikaans te kry. Dat die regering die swart tale ignoreer, is nie ter sake nie – dié tale is in elk geval net in die grondwet ingeskryf om Afrikaans keel-af te sny.

'n Mens wonder of die ANC voorsien het hoeveel goedgelowige Afrikaners hul bondgenote in die proses van die uitwissing van Afrikaans en die Afrikaner sou word. Maar dan, 'n mens kan die ANC se geslepenheid (en dié van sy wit raadgewers) ook nie onderskat nie: hulle besef wel deeglik dat deur gedurig op die Afrikaner se skuldgevoel te speel, hy later sal voel hy het geen reg meer op 'n eie identiteit, taal en kultuur nie. Om te vergoed vir sy "skuld", om te toon hy het "berou", dat hy sy "rassistiese apartheidsverlede" afgeskud het, dat hy nou "regverdig" is en alle swartmense as "gelykes" beskou, sal die Afrikaner na die ander kant toe oorhel en swart belange ten koste van sy eie bevorder.

Die ANC het geweet daar sal baie oningeligte, logikagestremde Afrikaanssprekers wees wat sê Afrikaans mag nie op 'n spyskaart verskyn as die swart tale nie daarop verskyn nie, want dit is onregverdige bevoordeling.

Hulle het geweet daar sal baie Afrikaners wees wat moed opgee en sê: hierdie elf-taal-ding werk nie, kom ons word almal Engels ter wille van eenheid en samewerking, kom ons vergeet van Afrikaans en Afrikaner-wees en word Suid-Afrikaners.

Tog, ek dink selfs die ANC en sy wit raadgewers is verras oor hoe gretig die Afrikaner sy eie graf grawe. Hul stoutste verwagtinge oor die Afrikaner se politieke naïwiteit en goedgelowigheid, sy onontwikkelde denke en oorontwikkelde skuldbesef, sy minderwaardigheidsgevoel, is waarskynlik oortref.

Ten slotte: Afrikaans is die grootste denkbare onreg aangedoen toe sy status gelyk gestel is aan dié van die swart tale omdat hulle almal sogenaamd inheems is. Daar is géén vergelyking tussen Afrikaans en die swart tale te tref nie. Prof. Hermann Giliomee het in Julie 2007 in 'n voordrag by die opening van die Breytenbach-Sentrum op Wellington op die volgende gewys: "Tussen 1900 en 1980 het Afrikaans ontwikkel van 'n relatief beskeie spreektaal tot wat genoem word 'n hoogkultuurtaal wat alle funksies kan verrig, insluitende onderrig op tersiêre vlak en as medium vir die politiek, wetenskap, filosofie en tegnologie. Jean Laponce, 'n voorste taalsosioloog van Kanada, het aan my geskryf dat naas Afrikaans net drie tale (Hebreeus, Maleis-Indonesies en Hindi) in die loop van die twintigste eeu daarin geslaag het om hierdie ontwikkelingsgang deur te gaan."

Afrikaans het dosyne vaktaalwoordeboeke voortgebring, benewens tweetalige woordeboeke, verklarende woordeboeke, tesourusse, sinoniem- en antoniemwoordeboeke, voorsetselwoordeboeke, blokraaiselwoordeboeke, die normerende Afrikaanse Woordelys en Spelreëls wat gereeld bygewerk word, die gesaghebbende Woordeboek van die Afrikaanse Taal, wat by die laaste letters van die alfabet trek. Hoeveel koerante en tydskrifte het Afrikaans nie al voortgebring nie?

Afrikaans se letterkundeskat is massief vir so 'n jong, klein volk. 'n Besoek aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein laat 'n mens se mond oophang. Die omvang van net die boek- en manuskripversameling is ontsagwekkend; daar's honderdduisende in kantore en kamers en groot instapkluise. Die boeke is maar een versameling. Daar is nog die knipselversameling, die fotoversameling, die plaat- en klankversameling, die filmversameling, die tekstielversameling, die kunsversameling, die memorabilia- en meubelversameling …

Hoe dúrf enigiemand Afrikaans aan 'n swart taal gelyk stel!

какой генератор выбратьлобановский харьков класс

Ou Suurknol

Doer in die 60s het AM van Schoor, redakteur van Die Vaderland, soms na die destydse linkse dagblad, die Rand Daily Mail, verwys as "ou Sure van Mainstraat" (die straat waarin die RDM se kantore geleë was). Die werklike oorsprong van die bynaam het my ontgaan, maar ek vermoed dit was oor die RDM se suurgeit met die een NP-oorwinning na die ander by die stembus en die koerant en sy ander anti-Afrikaner kollegas se onvermoë om enige indruk op die kiesers te maak – selfs op die Engelse van daardie tyd wat toenemend vir Verwoerd gaan stem het.

Die bynaam het my weer te binne geskiet toe ek Beeld se reaksie die afgelope dae op die aanstelling van Pieter Mulder in die Zuma-kabinet so gade slaan. Suur! Sulke soort van suurgeit het ek seker laas by die ou RDM gesien!

Die spul van Keeromstraat (lank nie meer Naspers se hoofadres nie, maar so sal hulle onthou word) is suur – en siedend boos – omdat Zuma uit 'n veelheid van kandidate wat hulle aan hom sou opgedra het as hy hulle tog net gevra het, die "regse", waarskynlik uitgediende leier van 'n kwynende party gaan staan en kies om as die enigste werklike buitestaander in sy kabinet te dien – en dit nogal by 'n sleutelpos soos Landbou.

Suur omdat Beeld (en sy stalmaats) kwalik 'n week gelede verkondig het dat Mulder se dae getel is en dat die VF+ warskynlik nie sal oorleef na die volgende verkiesing nie.

Suur omdat Zille en haar DA wat hulle goed weet eintlik anti-Afrikaner is, maar wat hulle sterk in die verkiesing gesteun het, so 'n lekker klap deur die bek gekry het met die aanstelling.

Suur omdat Zuma 'n hele rits Engelse EN Afrikaner liberales geïgnoreer het om hierdie "boerseun" te kies. Want ek sal enigeen wed dat hierdie klomp sures eerder sou wou sien dat iemand soos Willie Esterhuyse, Stellenbosse prof en skrywer van "Einde van Apartheid", in 'n Zuma kabinet aangestel word. Hy is mos juis saam met Ton Vosloo en 'n paar ander "oud-verligtes" uit die Wes-Kaap besig met 'n projek in die Vrystaat om swartes as kommersiële boere op te lei (of het dit dalk ook doodgeloop soos vele ander derglike pogings?). Ja, ek weet ou Willie is amper so lank in die tand soos ek, maar hy is darem nog 'n voorman onder die ANC-gedienstiges (mooi woord vir g-kruipers).

Suur omdat Mulder en die VF+ feitlik oornag aansien en status kry, terwyl Zille 'n ernstige verleentheid vir haar party en haar ondersteuners word. Verstommend hoe kort 'n week in die politiek kan wees.

Vir diegene wat Beeld nie gereeld te sien kry nie: Mulder is onmiddellik bestempel as 'n kommunikasie professor wat van boerdery niks weet nie, as iemand wat sy party uitverkoop het aan die ANC vir 'n lekker pos en 'n groter pensioen, die oningeligte teenstand van die VF+ se eie "Malema" is aangebied as sterk en beduidend (totdat 'n verklaring van die volle dagbestuur gekom het dat die voortvarende jeugleier vasgevat word vir sy onverantwoordelikheid). In Donderdag se Beeld word Mulder se pa, dr Connie Mulder, destydse kroonprins van die NP totdat John Vorster glo meer van Pik Botha gehou (dis 'n storie daardie wat nog vertel moet word) bygesleep as 'n aartsverkrampte en verloorder teen die wonderlike PW. En so gaan dit aan.

Die steun wat daar uit eie geledere, maar selfs van andere soos enkele lede van die HNP en veral landbou-organisasies, vir Mulder gekom het, word kwalik genoem, maar hulle kon nie anders nie as om 'n brief of twee te plaas wat al hulle suurgeit oor Mulder net daar tot niet maak. En dit word toe oorgelaat aan 'n Engelse blad om uit te wys dat Mulder 'n paar akker in Orania besit waarop hy met neute boer – weliswaar 'n "afstandboer" maar nogtans boer, maar veral Boerseun!

Maar seker die ergste blyke van suurgeit het gekom toe Beeld in hoofartikelkommentaar aangevoer het dat Mulder nie moet dink dat hy die Afrikaner verteenwoordig nie – en dit van 'n koerant en sy redakteur wat nou anderdag nog baie goed laat blyk het dat hulle die begrip van "Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners" verkies en nie hou van die term "Afrikaner". Darem lekker vermetel om nou te wil bepaal wie die Afrikaner verteenwoordig en wie nie! Eintlik lekker suur!

Ek moet erken dat ek my gate uit geniet het om hierdie suurgeit te sien. Ek het behoorlik gekraai van die lag. Maar ek het ook gewonder wat die drommel in Tim gevaar het om so heftig nie net teen Mulder nie, maar ook teen Zuma te velde te trek – en dit terwyl Zuma vir minstens die volgende paar jaar president van die land gaan wees. Hulle kan niks meer daaraan doen nie behalwe om sy gramskap teen hulle op die hals te haal. Swak oordeel, swak insig, swak taktiek en powere politiek, ou Tim. Gaan dink weer. En hou op om so suur te wees.

(Nota: Connie Mulder was geen stuk 'n aartsverkrampte nie. Hy het 'n hele paar verligte denkers soos Nic Rhoodie en andere wat sterk geloop het met die idee van "radikale partisie" en 'n federasie van state as adviseurs gehad. Dit is steeds my mening dat as hy nie deur liederlike liegstories deur PW en Pik en met die direkte medewerking van Naspers in 78 se premiersverkiesing verslaan is nie, ons nie in die gemors sou gewees het waarin ons vandag is nie. Maar dis ook 'n ander storie.)

агрегаты сварочные передвижные с дизельным двигателемФільчаков Олександр Васильович прокурор

Die NSA verdrink in sy eie riool

ImageOnder De Klerk se vele beloftes tydens sy kruiperige oorgawe aan die ANC, was daar mos eie skole en die behoud van Afrikaans. Vir baie mense is dit te abstrak, maar die gesig van rou riool wat in ons spruite en riviere instroom en ook ondergrondse water besoedel, is 'n newe-effek van die Nuwe Suid-Afrika wat hulle binnekort aan eie bas gaan voel.

Verlede Vrydag het ek bietjie "riooltoerisme" saam met mnr Jaap Kelder van die Nasionale Belastingbetalersunie bedryf en die rioolplase en watersuiweringsaanlegte van die volgende Vrystaatse dorpe besoek:

Kroonstad, Heilbron, Frankfort en Villiers.

PRAAG beskik oor twee ure se videomateriaal, asook stilfoto's daaroor, maar indien enigeen nog so optimisties is om te dink dat hy of sy die "nuwe Suid-Afrika gaan maak werk", hoef hy net enigeen van die 260 dorpe wat intussen by die NBU aangesluit het se rioolaanlegte te gaan besoek.

Veral Kroonstad, die naasgrootste stad in die Vrystaat, se rioolplaas verkeer in 'n haglike toestand en riool beland in spruite, vleie en in die Valsrivier (van waar die drinkwater gepomp word!). Die voormalige stadsingenieur wat in 1996 as blanke sy pos verloor het toe transformasie begin het, het aan ons die werkinge van die hele aanleg verduidelik. Dit het soos 'n argeologiese toer van 'n verlore beskawing gevoel, met die pompstasie wat lankal nie meer werk nie en deur onkruid oorgroei is. Die een besinkingsdam is verstop deur 'n kors ontlasting wat agtien meter dik is. Bo-op die sandfilters wat geen water meer sien nie, groei 'n paar fris bome.

By die pompstasie wat drinkwater uit die rioolbesoedelde Valsrivier na die reservoirs moet pomp, het slegs een uit ses pompe gewerk. Op pad uit kom ons 'n vername swartman teë wat vir ons vra wat ons daar maak. Hy was uitgevat in duur ontwerpersklere, baie modieus en buite het sy blinknuwe, pikswart Mercedes-Benz-viertrekvoertuig gestaan. Na ietwat vae verduidelikings oor ons riooltoerisme, vra ons hom wat hý daar maak.

Nee, antwoord die verhewe heer, ons moet sulke vrae aan die munisipaliteit rig wat ons sal antwoord. Hy is nie by magte om te sê wie hy is of wat hy daar maak nie.

Die absurditeit is natuurlik dat, wetlik gesproke, ons seker oortree het deur as blanke Afrikaners installasies te besoek wat deur ons mense ontwerp, opgerig en betaal is. Binne hierdie stelsel van absurde "demokrasie" is dit die swart munisipaliteit se reg om ons drinkwater en die omgewing te besoedel en die toerusting na goeddunke te laat verval, ons kinders aan e.coli, cholera en ander bakterieë bloot te stel, en ons mag niks konkreets daaraan doen nie. Behalwe om te kla.

Jaap Kelder en sy NBU het egter getoon dat daar 'n grys gebied in die reg bestaan wat dit vir vrywilligers moontlik maak om, indien nodig, by jou plaaslike rioolplaas te gaan inbreek om te probeer red wat daar te redde is. Daar bestaan reeds 21 munisipaliteite waar belastingbetalersverenigings hul eiendomsbelastings terughou en soos op Sannieshof dit aan die herstel van riolering en watersuiwering bestee.

Intussen het die munisipaliteit van Tswaing, wat oor Sannieshof regeer, aangekondig dat hy 'n hofsaak teen die plaaslike inwoners gaan maak wat hul rioolplaas sonder sy toestemming herstel het en wat ook weier om vir dienste te betaal wat Tswaing nie kan of wil lewer nie. Terwyl die dorpenaars hul sente omdraai om pompe vir die rioolplaas aan te koop, het die burgemeesteres van Tswaing vir haar nog 'n swart Mercedes CLK van 1,2 miljoen rand aangeskaf, blykbaar op munisipale onkoste. Ons lag vir Idi Amin en Robert Mugabe, maar is Suid-Afrika se "burgemeesters" beter?

Lande word uit rioolbesoedelde damme en riviere besproei en diere drink daaruit; so beland afvalstowwe in ons voedselketting. Binnekort gaan die EU geen Suid-Afrikaanse landbouprodukte meer in Europa toelaat nie, vanweë ons vuil water. Indien Kroonstad se rioolwater op 'n enkele perske iewers in die EU tydens 'n laboratoriumtoets verskyn, gaan die hele sagtevrugtebedryf op hul swartlys geplaas word. Die skade aan ons landbou gaan binnekort miljarde rande beloop, om van die menslike gesondheidsrisiko's nie eens te praat nie.

Die korttermynoplossing is 'n goeie waterfilter aan jou kraan en om op jou plaaslike dorpbelastings in 'n trust in te betaal soos die NBU se belastingbetalersverenigings maak. Die langtermynoplossing is 'n volkstaat voordat ons soos Zimbabwe volkome verafrikaniseer.

10 pound free casinoФильчаков прокурор

Ondergang van die Weste

ImageDemografie is ons noodlot – August Comte

Ofskoon hierdie titel verwys na die werk van die Duitse historikus Oswald Spengler, kan 'n mens in die huidige tydsgewrig soortgelyke argumente voer dat die Weste sy hoogste tyd gehad het en so langsamerhand sy invloed begin verloor op sowel morele as politieke terrein.

Sekerlik die vernaamste oorsaak hiervan is die demografiese skuif wat plaasvind in die wêreld. In Europa is die aantal Westerse mense vinnig besig om in getalle uit te dun. Daar is nouliks 'n land in Wes-Europa waar die geboortesyfer op peil is. Daar moet per gesin ten minste 2.1 kinders gebore word om die bevolkingsaanwas op 'n gesonde peil te hou, terwyl lande soos Italië se geboortesyfer so laag soos 1.6 per gesin is. Die ekonomiese reus van Wes-Europa, Duitsland, presteer skaars beter met 1.8 geboortes per gesin.

Eintlik is die skade al gedoen. Om hierdie tendens terug te draai kan tot 'n honderd jaar neem. Gevolglik is Europa besig om diverse maatreëls te neem om te sorg dat die ekonomie en bevolkingsaanwas nie agteruit loop nie. Die mees haalbare strategie is om immigrante in te voer om te sorg dat die welsynstaat genoeg kapitaal kan genereer om die ouer-wordende bevolking van pensioene en basiese dienste te kan voorsien. Hierdie taktiek het egter 'n groot aweregse werking, deurdat immigrante met 'n nie-Westerse agtergrond nie wesenlik bydra tot 'n gesonde ekonomie nie. Inteendeel: baie nie-Westerlinge presteer minder goed op skool, ly aan vervreemding en is meer verteenwoordigend van die onderklas, wat juis 'n ekstra las vorm op die welsynstaat se hulpbronne. Desnieteenstaande is hulle demografies gesproke die produktiefste groep en verwek meer kinders as die Westerlinge. Op so 'n manier vind daar 'n omgekeerde kolonisasie plaas en begin hulle die tradisionele Europese identiteit te verdring.

Die bekende Kanadese rubriekskrywer Mark Steyn het op 'n stadium genoem dat toe hy op skool was, was Lord Kitchener as 'n held gesien vanwee die Derwisjes wat hy uitgemoor het. Deesdae word dieselfde Kitchener in skoolboeke as 'n skurk voorgestel. Heel tereg natuurlik, maar die somtotaal van verkettering van Westerse helde gee aanleiding tot 'n soort antipatie jeens Europeërs se eie verlede, wat 'n nuwe paradoks ontbloot: Aan die een kant verlang die Europese lande dat vreemdelinge die plaaslike taal en gewoontes moet aanleer om beter te integreer. Tegelykertyd verafsku Europeërs hul eie taal en kultuur. Vreemdelinge begin hulself dus af te vra hoekom hulle hulself moet integreer in 'n land en sy kultuur waarvan die mense self niks voor voel nie. Hoe eienaardig dit mag klink, kan hierdie dubbele verwagting – waar vreemdelinge baie gevoelig voor is – aanleiding gee tot diverse aanpassingsprobleme en selfs ernstige psigotiese versteurings teweegbring.

Jarelank was veral vanuit linkse geledere afbreuk gedoen aan helde van weleer, waarskynlik om integrasie van vreemdelinge te bevorder. Hulle wil nie-Westerse vreemdelinge die indruk gee dat hulle hulself gedistansieer het van onmenslike praktyke uit die verlede, en nou as nuwe verligters hulself wysmaak dat hulle alle kulture kan omarm. Hulle begryp egter al te dikwels nie die beweegredes van vreemdelinge nie. Die hele Weste reageer byvoorbeeld met afsku oor die martelpraktyke in die gevangenisse van Guantanamo en Abu Grahib wat onder Rumsfeld se waarneming plaasgevind het, maar radikale webwerwe wat tot 'n Jihad teen Amerika oproep, het nouliks melding hievan gemaak. Amerika is nou eenmaal die aartsvyand van radikale Moslems, dus of hulle iemand nou meer of minder gemartel het of nie maak geen verskil nie. Buitendien vind martelinge in Moslemlande veel meer plaas as in die VSA.

In 'n ondersoek wat onlangs onderneem is in 'n aantal Moslemlande tussen radikale en gematigdes, is daar verbasend min verskille gevind tussen die twee groepe wat hul waardes aanbetref. Altwee bewonder Westerse tegnologie en vryheid van meningsuiting ewe veel. Die vernaamste verskille is dat radikale Moslems meer hoopvol is oor die toekoms en dat hulle die welvarender segment van die bevolking uitmaak. Eweneens is daar meer radikales onder hoër opgevoedes. Met ander woorde, armoede en laer opleiding as teelaarde vir radikalisme is in hierdie ondersoek nie bewese nie. Dit wil voorkom asof idealisme en opportunisme belangriker bronne van radikalisme is as die afgekoude Marxistiese narratief van armoede en uitbuiting.
   
Marxiste is geneig om te stel dat kapitalistiese lande op hul gevaarlikste is wanneer hul invloed besig is om te taan, juis in 'n poging om hul glorie van weleer te herstel. Die falende Habsburgse Ryk, wat die Eerste Wêreldoorlog op gang gesit het, gee steun aan hierdie stelling. Wat egter nie genoem word nie, is dat wanneer 'n invloedryke en welvarende land of groep die mag begin verloor, word hul voortbestaan net so goed bedreig. Hannah Arendt het byvoorbeeld melding gemaak dat die Jode in Nazi-Duitsland besig was om die mag te verloor nog voor die opkoms van Nazisme. Die belangrikste Joodse instellings – die banke – was alreeds vry van Jode verklaar na meer as 'n honderd jaar toe Hitler die leisels oorgeneem het in 1933. As dit nie was vir sy golf van uitwissing nie sou die aantal Jode vanself uitgedun het deur immigrasie en laer geboortesyfers. Die feit dat hulle geen wesenlike invloed in die politiek en ekonomie meer gehad het nie maar desondanks welvarender was, was juis die rede vir bitterheid teen hulle.

Ek vermoed dieselfde geld vir die anti-Westerse reaksies wêreldwyd. Westerlinge glo nie meer in hul eie verligtingsideale nie. Amerika is nie meer 'n land van onbegrensde moontlikhede nie, maar 'n kwasi-imperialistiese boosdoener. Nie-Westerse lande besef dit en sien dat die groot Westerse moonthede op kleivoete staan. Globalisasie het veroorsaak dat ander lande nou meer invloed kry in die mondiale politiek ten koste van die welvarende Westerse lande. Die sowat 50 miljoen Moslems in Europa besef dit al te goed en beskou dit as die perfekte geleentheid om hul kultuur oor te plant, en die Europeers protesteer nouliks hierteen. 

Die voordeel – as 'n mens dit 'n voordeel kan noem – is dat Afrikaners voorloop in hierdie demografiese kurwe van magsverlies onder druk van vreemde invloede. Alle politieke bedrywighede onder Afrikaners het die potensiaal om Westerse menings wêreldwyd te beïnvloed.

Daarom is dit belangrik om hier kennis van te neem. Afrikanerpolitiek is nie net Afrikaner-politiek nie, maar toonaangewend vir die lot van die Weste as geheel. 
справка для бассейнаФільчаков Олександр Васильович прокурор

‘n Fuero vir Afrikaners

ImageDie Spaanse term fuero is afgelei uit die Latynse woord “forum”, wat beteken mark of vergaderplek. Die woord het sy oorsprong in die middeleeue. Sekere dele van Spanje, byvoorbeeld, was wel deel van die Spaanse koninkryk, maar was nie ten volle geïntegreerd met die Spaanse koninkryk nie en het 'n mate van outonomie geniet. 

‘n Fuero is tydens die middeleeue deur die landheer of die koning aan ‘n groep of gebied gegee, met dien verstande dat alhoewel die groep of stam hul eie wette kon maak en oor hulself kon regeer, hulle tog die gesag van hetsy die koning, hetsy die landheer sou erken.

‘n Goeie voorbeeld van ‘n fuero in die geskiedenis was die Katolieke Kerk in die middeleeue. Alhoewel amptenare van die kerk die gesag van die plaaslike koning erken het, het hulle nie belasting aan die koning betaal nie, maar eerder aan Rome. Hulle was insgelyks nie onderworpe aan die gewone regspleging van die koninkryk nie. Priesters sou deur ‘n kerklike hof verhoor word en nie deur ‘n gewone siviele hof nie.

Die mees bekende hedendaagse fuero is die Baske se streek in noordelike Spanje. Die Baske sien hulle fuero as iets soortgelyks aan ‘n grondwet, wat die Spaanse grondwet deels vervang. Die Baske het hul eie polisiemag. Hulle sien om na hulle eie openbare finansies, met min of geen inmenging van die Spaanse regering nie.

Ek stel ‘n soortgelyke bedeling vir Afrikaners in die vooruitsig. (Om die onafwendbare vraag van meet af aan te beantwoord: Afrikaners is Afrikaanssprekende afstammelinge van Europese setlaars, wat nie tans kwalifiseer as agtergeblewenes in terme van die Mzansi-staat se bemagtigings- en arbeidspraktyke nie.) Mzansi is die Xhosaterm vir "Suid-Afrika". 

Alhoewel daar wel geografiese gebiede is waarin daar groot konsentrasies Afrikaners voorkom – Pretoria en omstreke is een – is my voorstel dat dit vir alle Afrikaners, ongeag hulle woonplek, ook emigrante, moet geld.

Die rol van blanke Engelse is ‘n onderwerp vir ‘n hele ander debat, maar my mening is dat hulle ‘n eenmalige geleentheid gegun behoort te word om hulle by Afrikaners te skaar, maar met dien verstande dat hulle bereid sal wees om onderworpe te wees aan owerheidsgesag, wat slegs in Afrikaans bedryf sal word. Kennelik is daar diegene in die Engelse gemeenskap, inwoners van Houghton moontlik, wat nie sal wil deelneem nie, maar dit is hul eie keuse.

Soortgelyk aan die Baskiese model, moet Afrikaners die grootste deel van ons belasting aan ons eie owerheid betaal, en nie aan die Mzansi-regering nie. Daar is kennelik gedeelde dienste en belange, wat Afrikaners en die Mzansi-regering sal deel, waarvoor Afrikaners hul deel sal moet bydra, byvoorbeeld die oprigting van kragsentrales. Die befondsing hiervoor behoort myns insiens te geskied dmv pro-rata-oorbetalings van belastinggeld deur die Afrikanerowerheid, in verhouding met die persentasie van Afrikaners in die groter Mzansi-bevolking.

Daar is egter ander staatsfunksies, onder andere onderwys, handel en nywerheid, veiligheidsdienste, mediese sorg, sosiale dienste, regspleging en andere wat volkspesifiek behoort te wees en wat volledig befonds moet word deur Afrikaners, en deur Afrikaners bedryf moet word, sonder enige inmenging van die Mzansi-regering. Afrikaners sal ook die bevoegdheid moet opeis om ons eie geldeenheid uit te reik, of moontlik om iets soos die euro aan te neem as ons geldeenheid.

Ook is dit belangrik om ooreen te kom oor afgebakende Afrikanergebiede, weer eens Pretoria-Oos onder andere, waaroor die Afrikanerowerheid seggenskap en jurisdiksie sal hê. Die Afrikanerowerheid se polisiemag moet byvoorbeeld die reg hê om inwoners van Mzansi wat hulle aan misdaad skuldig maak binne afgebakende gebiede, te arresteer.

Die Afrikaner-owerheid moet deur Afrikaners verkies word, in terme van ‘n toepaslike kiesstelsel, wat na my mening partypolitieke mededinging moet insluit. Sou die VF+ ‘n verkiesing onder slegs Afrikaners kon wen, wonder ek?

Die voor-die-hand-liggende vraag word nou: watter aansporing is daar vir Mzansi se ANC-regering om toe te stem tot só ‘n bedeling vir Afrikaners? Daar is verskeie faktore wat hierin ‘n rol kan speel.

Een voordeel is dat die voortslepende omstredenheid oor regstellende aksie en swart bemagtiging bykans onmiddellik gestuit sal word. Dit sal nie meer nodig wees om regstellende-aksie-praktyke in Mzansi se staatsdiens of privaatmaatskappye toe te pas nie, siende dat Afrikaners ons eie staatsdiens sal hê, en dat Afrikanermaatskappy by die Afrikanerowerheid se Registrateur van Maatskappye geregistreer sal wees. Dit staan die Mzansi-regering dus vry om 100% van alle poste in sy staatsdiens en maatskappye aan nie-Afrikaners te oorhandig.

Nog een is dat dit duidelik is aan almal behalwe die mees hallusinerende Afro-optimis dat Mzansi alreeds in ‘n doodspiraal verkeer. Dienslewering en infrastruktuur verkrummel teen ‘n versnellende tempo.

Dit alles dui daarop dat die ANC-staat se kapasiteit om die land te regeer, vinnig besig is om in duie te stort. ‘n Kenmerk van baie Afrikastate is dat regeringsdienste geprivatiseer word, iets wat toenemend in Suid-Afrika gebeur. Skole, veiligheid en mediese sorg word toenemend privaat befonds, omdat die regering dit eenvoudig nie meer kan bied nie.

Indien Afrikaners dus nie langs onderhandelde weë oor hulself gaan regeer nie, maw iets wat lei tot ‘n de jure-owerheid nie, sal daar in die toekoms in ieder geval ‘n de facto-owerheid ontstaan, waarvolgens Afrikaners in hul privaathoedanigheid sal moet ingryp om die staat se funksies oor te neem.

Net soos die semi-onafhanklike stamme of gebiede in ruil vir hulle fuero die landheer of koning se gesag erken het, stel ek dus in die vooruitsig dat Afrikaners die Mzansi-regering van die dag, tans die ANC, se gesag erken om oor die landstreek Suid-Afrika, oftewel Mzansi, te regeer.

Dié ooreenkoms behoort myns insiens ook verder te gaan. ‘n Reuseprobleem waarmee die ANC-bewind tans sit, is dat die onregverdige voordeel wat regstellende aksie en SEB bied, baie gewild is onder sy swart kiesers. Hy word dus gedwing om onbevoegde individue aan te stel in sleutelposisies, veral in die staatsdiens, wat bydra tot die toenemende verval van Mzansi.

Na my mening behoort die Mzansi-regering dus van sy staatsfunksies en –verpligtinge na die Afrikanerowerheid se staatsdiens uit te kontrakteer, of in Engels te “outsource". Laat die bestuur van veral infrastruktuur oor aan Afrikanerkundigheid, sodat die Afrikanerowerheid ten bate van beide Afrikaners en die inwoners van Mzansi kan omsien na onder andere die elektrisiteits-, pad- en waterinfrastruktuur.

Sodoende behou die Mzansi-regering sy gewilde beleidsrigtings – hy kan 100% van die Mzansi-staatsdiens verswart – maar nietemin word die dienslewering aan sy eie onderdane aansienlik verbeter en hoef Mzansi nie nog ‘n mislukte Afrikaland te word nie. Weer eens: beide Afrikaners en die res van die inwoners van Mzansi word hierdeur bevoordeel.

Ter opsomming: ‘n fuero, oftewel ‘n eie owerheid, vir Afrikaners sal heelwat probleme vir Afrikaners oplos – misdaad, regstellende aksie, belasting wat nie op ons belange spandeer moet word nie en andere. Dis insgelyks ‘n vorm van selfbeskikking, alhoewel dit (nog) nie volkome territoriale onafhanklikheid verteenwoordig nie.

Dit bied ook voordele aan die Mzansi-regering, siende dat Afrikaners met die mag om oor onsself te beskik, waardevolle en produktiewe vennote in Mzansi se ontwikkeling en bestuur kan word.

Waarvoor wag ons?

оборудование дляданильченко юрий брониславович прокурор

Pieter in die leeukuil

ImageSedert die oorgawe van FW de Klerk en Roelf Meyer aan die ANC, asook die oorhandiging van die Suid-Afrikaanse Weermag aan die bevelstruktuur van Umkhonto we Sizwe, bevind die Afrikaner hom in die situasie van 'n oorheersde volk wie se grondgebied feitlik vanuit die Ooskusgebiede van Suid-Afrika deur ander groepe beset word.

Die aanstelling van dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, as adjunkminister van landbou het uit verskeie oorde kritiek ontlok omdat dit enersyds as die soveelste voorbeeld van Afrikanerverraad – soortgelyk aan dié van De Klerk en Meyer – gesien kan word en andersyds tot verlies aan kiesersteun vir die VF Plus kan lei.

Die afgelope twee jaar reeds is daar sprake van toenadering tussen Jacob Zuma en Afrikaners, wat begin het met die braaivleis wat onder beskerming van die tydskrif De Kat in Houghton gehou is en waar Steve Hofmeyr, ekself en ander teenwoordig was.

Die huidige strategie is dat Afrikaners moet poog om groter invloed op die ANC uit te oefen, teenoor die Engelse en kommunistiese intellektuele, asook die Britte en Amerikaners, wat tot dusver die party se denke en optrede bepaal het. Daarmee saam moet Afrikanerselfbeskikking die hoogste prioriteit geniet aangesien die huidige grondwet en bestel besig is om tot ons ondergang te lei.

Onder die omstandighede het Pieter Mulder dus die regte besluit geneem om in die ANC-leeukuil in te stap. Alles hang nou af van hoe hy hom daar laat geld, maar ook: in watter mate die Vryheidsfront Plus, tesame met die breër Afrikanerbeweging met sy kultuurorganisasies, intellektuele en instellings, nuwe denke oor ons land en ons vasteland kan verwoord.

Ten eerste moet sulke denke onder ons eie mense gepropageer word. Die tragiese blindheid waarmee die meerderheid Afrikaners in die afgelope verkiesing gestem het vir die liberale Engelse party, die DA, wat miskien nog meer as die ANC tot Afrikanerondergang en -verdwyning verbind is, toon dat daar nog 'n groot taak voorlê.

Die gevaar bestaan dat 'n steriele debat oor samewerking of nie-samewerking met die ANC verdeeldheid in die VF Plus kan veroorsaak, wat daartoe kan lei dat die party die weg van alle regse Afrikanerpartye volg deur herhaaldelik te skeur totdat daar niks van oorbly nie.

Terwyl robuuste debat en kritiek rondom die kwessie 'n goeie ding sal wees, moet ons daarteen waak om gedurig twis en verdeeldheid aan te wakker.

Een swaeltjie maak geen somer nie, kan mens wel sê. Maar dit beteken ook dat Pieter Mulder vanuit sy party en vanuit die breë Afrikanerbeweging met idees en inligting ondersteun moet word. Die ideologiese stryd teen Suid-Afrikanisme, nasiebou en die miskenning van die Afrikaner se volkskap moet juis nou in felheid toeneem.

Hierdie toegewing van die ANC of voortsetting van Jacob Zuma se toenadering, moet nie as 'n aalmoes gesien word wat ons as dankbare bedelaars by die politieke banket huistoe stuur nie, maar as die begin van 'n reeks toegewings wat op eie strukture vir onderwys, gesondheid, veiligheid en uiteindelik 'n eie staat moet uitloop.

Soos Johann Wingard egter onlangs hier geskryf het: 'n volkstaat gaan nie uit die lug val nie. Ons vryheidstryd kan baat by Pieter Mulder se aanstelling of dit kan daardeur belemmer word. Op sigself is dié gebeurtenis egter nie bepalend nie.

Die keuse berus by elke Afrikaner wat by die politiek betrokke moet raak en veral moet sorg dat Afrikaners nie meer – soos in die afgelope verkiesing – hul kruisie by die liberale Engelse party moet trek nie.

Die Vryheidsfront Plus behoort ook riglyne aan Pieter Mulder te gee ten einde seker te maak dat hy nie soos Marthinus van Schalkwyk sonder meer deur die ANC en sy nasiebou-ideologie opgeslurp word nie. Indien Mbeki deur die ANC vanuit die presidentskap "herroep" kan word, kan die VF Plus sekerlik onder bepaalde omstandighede dieselfde met Pieter Mulder doen indien sy posisie as adjunkminister van landbou nie meer strategiese sin het nie.

детские игры для детейлобановский супермаркет класс

Is ‘n Afrikanerrevolusie moontlik?

ImageIn sy stuk ‘Afrikanerrevolusie sal wêreld laat sidder’ maak Johan Wiggil ‘n paar interesante opmerkings en aannames.

Hy skryf:  
“Uit gesprekke is dit vir my duidelik dat die meerderheid Afrikaners die Volkstaatgedagte ondersteun. Geen Afrikaner-organisasie kon sedert 1994 hond haaraf maak om die volkstaatgedagte gevestig te kry nie. Die 800 000 ondersteuners van die Vryheidsfront van 1994 het sekerlik gegroei inaggenome die toenemende ontnugtering met die verloop van die sosio-ekonomiese situasie in Suid Afrika.”

Ek het slegte nuus vir Johan Wiggil.  
• In 1994 was daar slegs 460,000 kiesers wat vir die VF gestem het, nie 800,000 nie.  
• Die VF het nie gegroei nie, maar weggekwyn sedert 1994.
• Al plek waar die meerderheid Afrikaners in ‘n gebied die volkstaatgedagte ondersteun is waarskynlik op Orania en Kleinfontein.

Verder skryf hy:
“Dit is nie nodig dat die Afrikanerorganisasies eers moet saamstaan voordat vir 'n volkstaat baklei word nie. Almal sal inval as 'n organisasie dit regkry om die wêreldmening te verander wat uiteraard neerslag sal vind by die SA regering. Ons moet grense trek en begin. Met aggressiewe bemarking binne en buitelands. Ons moet ten minste die steun van die Europese Unie, VSA en VN verwerf. Dan Roodt het grense voorgestel (ek weet nie of hy ernstig was daarmee nie), maar dit is wat moet gebeur. Die voormalige Volksfront het ook die volkstaat begrens.”

Hier kom nog meer slegte nuus:
• Elke voorstaander van die volkstaatgedagte wil die volkstaat in sy eie agterplaas hê. Aandrang op ‘n gebied werk verdelend in op Afrikaners.

• Oor ‘n tydperk van 3 jaar het die Volkstaatraad tientalle grense getrek na gesprekke met verteenwoordigers van allerhande organisasies en streke. Ons kon nooit werklik ooreenstemming kry nie. Die twee gebiede wat die meeste sin gemaak het was die noordelike en oostelike dele van Pretoria wat aansluit by die Wesrand en Hartebeespoortdam gebied. Volgens die 1996 sensus het Afrikaners byna twee derdes van die bevolking daar uitgemaak. Die ander gebied was die Noordwes Kaap. In 1996 was daar egter 122,000 kleurlinge en 12,000 blankes. My nie-amptelike voorstel was destyds dat daardie gebied tot ‘n Afrikaanse Taalstaat verklaar sou kon word. Die rede is dat vir ‘n Volkstaat, dit meer as 40 jaar sou neem vir Afrikaners om die meerderheid daar te vorm as hulle teen ‘n tempo van 8,000 siele per jaar soontoe verhuis, terwyl die plaaslike bevolking se natuurlike aanwas 2.5% per jaar sou wees. Dus sou mens nooit van ‘n Boere-Afrikaner Volkstaat daar kan praat nie, maar dalk wel van ‘n Afrikaanse Taalstaat. Ons het aanvaar dat dit nou nie meer moontlik sal wees om mense met geweld van een streek na ‘n ander te verskuif soos tydens die apartheidsjare nie.

• Behalwe vir die staat Israel, kon geen volk nog ooit ‘n ander volk se grondgebied as sy eie volkstaat oorneem nie. Die Jode was ‘n spesiale geval. ‘n Groteske internasionale gewete, was deur gebeure in Nazi-Duitsland veroorsaak. Boonop was Palestina ‘n Britse Kolonie en kon die Britte so ‘n projek suksesvol volvoer.

• Tensy die Afrikaanse organisasies saamstaan om ‘n strategiese plan, as die meerderheid van die volk se plan te aanvaar en almal daarby inkoop, is jy tot mislukking gedoem. Die faksietjie wat die revolusiegedagte sal ondersteun sal al twintig in die tronk beland soos die Boeremagmanne. Die res van die volk sal weier om betrokke te raak en hulself distansieer van die projek.  

• ‘n Revolusie is dus nie ‘n ernstige opsie nie. Wie gaan die gevegte voer? ‘n Groot veldheer het gesê dat jy slegs onwettig mag optree as jy weet jy kan die mag daardeur bekom. Kyk hoe sukkel die Tamil Tiere in Sri Lanka en die Tibetane in Groter Sjina om hul volkstate internasionaal erken en ondersteun te kry, om nie eens van die Palestyne te praat nie.

Jammer. Johan, daar is geen kitsoplossing vir selfbeskikking nie. Dis ‘n lang en moeisame pad en Afrikaners moet daardie pad stap vir stap betree.  

справка по болезни в вузлобановский александр игоревич харьков

Gebrek aan visie maak kiesers moedeloos

ImagePC Badenhorst skryf heeltemal tereg dat die VF+ oor eienskappe soos doodgewone ordentlikheid beskik. Dit is ongetwyfeld so. Ek het nog nooit een van die Mulderbroers sy stem hoor verhef nie. Ordentlikheid is 'n kenmerk van meeste Afrikaners.

Kontrasteer egter bostaande ordentlikheid met Julius Malema se benadering. Wie kry die meeste publisiteit? Dat dit negatiewe persdekking is, maak nie juis saak nie. Daar is waarheid in die stelling dat enige publisiteit goeie publisiteit is.

Is die VF+ se ordentlikheid dus nie moontlik deel van die probleem nie? Die syfers en stempersentasies vertel my luidkeels dat kiesers eerder die konfrontasionele benadering van 'n Tony Leon verkies. Al is dit kennelik meestal warm lug, skep dit tog die indruk by die kieser dat die Leons van die lewe die ANC aanvat, en persepsies is immers realiteit.

Voorts skryf PC Badenhorst 'n interessante ding (ek neem aan hy is 'n VF+-ondersteuner): "Demografies het die blanke in elk geval nie 'n kans nie." Spreek dit nie moontlik van moedeloosheid en oorgawe by 'n kieser, wat veroorsaak is deur 'n gebrek aan visie nie?

Ja, in die getallespel wat die Suid-Afrikaanse demokrasie verteenwoordig, is blankes weliswaar 'n minderheid.

In Orania is blankes egter nie 'n minderheid nie.

In 'n volkstaat sal blankes ook die oorweldigende meerderheid wees.

Is dit nie 'n suksesvolle politikus se taak om sy volgelinge te inspireer en om 'n geloofwaardige visie aan hulle voor te hou nie?

Barack Obama is verkies omdat hy 'n visie aan die Amerikaanse publiek voorgehou het. Hy het mense hoop gegee, met ander woorde. As 'n party nie 'n visie het of hoop skep nie, is dit 'n probleem, want dan stem mense soos PC Badenhorst vir só 'n party nie omdat hy dink die party het 'n plan of 'n oplossing nie, maar bloot omdat hy simpatiek staan teenoor hulle leiers se ordentlikheid en Christelike waardes, iets wat niks met visie te make het nie.

Hier is my vraag opnuut: Wat sal gebeur as die VF+ sy dubbelsinnigheid laat staan, as hy 'n duidelike visie voorhou, en sy benadering verander na 'n meer konfrontasionele een?

пескоструйная обработкаданильченко юрій броніславович

Volkstaat sal nie uit die lug neerdaal nie

ImageDie huidige debat oor parlementêre deelname deur Afrikaners is 'n teken dat ons politieke bewussyn besig is om te ontwaak, waarvoor ons PRAAG se webtydskrif moet bedank. Vanweë sy onverbondenheid slaag die PRAAG-werf daarin om eerlike menings van verskeie bydraers te ontvang en om daardeur 'n beter begrip te kry van hoe ons mense werklik voel.

Dalk sal dit nou goed wees as ons bietjie vertoef by die word "selfbeskikking" asook die begrip van "vryheid". 'n Senior lid van die ANC het eendag by 'n konferensie in die Kaap beweer dat Afrikaners ook van apartheid bevry is, dat hulle vry is binne die mees liberale grondwet op aarde en dus geen selfbekikking benodig nie.

Waarop ek hom vra: "Nou waarom kan ons nie ons eie skole beheer nie? Waarom dan nie ons eie skoolkurrikula opstel nie? Waarom mense aanstel wat geen woord Afrikaans kan verstaan en aan ons kinders voorskryf wat hulle mag leer en nie mag leer nie? Wat van ons geskiedenis, ons letterkunde, ons gedigte en ons liedereskatte?"

Vryheid beteken vir my om nie onder beheer van ander persone of instansies te staan nie, om nie deur arbitrêre regulasies ingeperk te word nie, en om my eie denke volgens eie aard mondelings of skriftelik te formuleer en sonder beletsel na ander oor te dra. Dan is jy vry van die bande wat burgers soos marionette beheer.

Selfbeskikking is die som van al die regte wat gesamentlik deur 'n gemeenskap besit word om aan daardie gemeenskap die reg te verleen om sy eie toekoms volgens sy eie aard, sonder die toedoen van enige ander gemeenskap of owerheid, self uit te werk en na te streef.

Beperkings word altyd geplaas op vryheid. Die vryheid van ander persone kan negatief geraak word deur jou vryheid. Enige mens kan sy motor oral heen bestuur, solank hy binne die spoedbeperking en verkeersreëls bly, anders word ander padgebruikers se veiligheid deur jou vryheid van beweging bedreig.

Selfbeskikking van een gemeenskap word egter nooit deur dié van 'n ander bedreig of ingeperk nie. Ek sou sê dat dit die wesenskenmerke van vryheid en selfbeskikking is.

Die gesamentlike regte van gemeenskappe en die vryheid om dit volgens eie aard saam uit te leef, is die reg wat Afrikaners nou moet opeis. Die Suid-Afrikaanse grondwet, soos hy tans geskrywe staan, maak dit moontlik om nou reeds selfbeskikking van 'n gevorderde aard te beoefen, maar dan moet die gemeenskap homself as 'n volwaardie gemeenskap organiseer.

Die semantiek van die Grondwet veroorsaak dat heelwat verwarring by mense oor die begrippe minderheidsregte en gemeenskapsregte bestaan. Nêrens word daar van minderheidsregte in die Grondwet gepraat nie, maar slegs van gemeenskapsregte. Hieronder word godsdienstige, kulturele en taalgemeenskappe bedoel. Terwyl daar in die Afrikaanse politieke semantiek van volke gepraat word, word in die Europese Unie se protokolle van minderhede en minderheidsregte gepraat. Dit skep verwarring by diegene wat hierdie kwessies in Engels wil debatteer.

Die sleutel tot selfbeskking lê daarin dat Afrikaners moet aandring op die skeiding tussen organe van die burgerlike samelewing en van staatsinstellings. Ek het by dr. Christo Landman, voormalige Kommissaris van die Artikel 185-Kommissie, gaan kers opsteek en hier is sy vertolking daarvan:

  • Dit is 'n fout om uit die Grondwet, 1996, af te lei dat dit vir minderheidsgroepe voorsiening maak.
  • Die term minderheidsgroepe het 'n etniese inslag.
  • Etnisiteit herinner aan apartheid, sal die opstellers van die Grondwet redeneer.
  • Die Grondwet maak wel op allerlei wyses voorsiening vir die regte van georganiseerde gemeenskappe.
  • So word 'n duidelike onderskeid gemaak tussen organe van die staat (a.239) teenoor organe van die burgerlike samelewing (a.31(1)(b)).
  • Nie net is daar gesagsverdeling tussen die organe van die staat (wetgewend, uitvoerend en regsprekend) nie, maar ook mag die organe van die staat nie in die interne bevoegdheid van die organe van die burgerlike samelewing inmeng nie.
  • Die georganiseerde organe van die burgerlike samelewing word in a.185 nader bepaal deur 'n Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Taal-, Godsdiens- en Kultuurgemeenskappe.
  • Artikel 185 en die 185-Kommissiewet 19 van 2002 maak voorsiening vir die registrasie van rade. Alhoewel die 185-Kommissie kan help met die daarstelling van Rade, is en bly dit die plig van organe van die burgerlike samelewing om tot Rade oor te gaan.
  • Rade is privaatregtelike instellinge wat by die publiekregtelike 185-Kommissie bloot om registrasie vra.
  • Die reg op godsdiens word in a.15 en die reg op taal en kultuur in artikels 30 en 31 omskryf.
  • Om 'n gemeenskapsreg te kan bevorder en te kan beskerm moet omskryf word wat met taal, godsdiens en kultuurgemeenskapsregte bedoel word.
  • Artikel 234 maak voorsiening vir die grondwetlike aanvaarding van ander regte as individuele regte, soos omskryf in hoofstuk 2 van die Grondwet.
  • Dit behoort die 185 se plig te wees om taal-, godsdiens- en kultuurregte te omskryf en in terme van artikel 234 by die Parlement te laat goedkeur as deel van die Grondwet van SA.
  • Die aangestelde Kommissarisse sedert 2004 was onbevoeg om hierdie taak te verrig en dit is my submissie dat die Voorsitter 'n politieke opdrag gehad het om Rade te laat skipbreuk ly.

Die 185-Kommissie het liederlik gefaal om sodanige regte te formuleer. Insgelyks het die burgerlike organe nagelaat om dan in die afwesigheid van prestasie deur 185 sodanige regte te omskryf.

Ons het dus te make met 'n lam regering wat nie rigting het nie en slap gemeenskapsorganisasies wat hulself nie in verteenwoordigende rade wil organiseer om hul plig teenoor toekomstige geslagte na te kom nie.

Hieruit kan mens aflei dat die ANC-regering willens en wetens die grondwet volgens hul eie agenda vertolk en die land se kultuurgemeenskappe laat Gods water oor Gods akker loop terwyl elkeen van 50 Afrikanerorganisasies die volk op sy eie wil red.

As Afrikaners nie eens in staat is om hul gemeenskapsregte op te eis nie, kan hulle die volkstaatdroom maar op hul mae skryf. 'n Volkstaat sal nie uit die lug op hulle neerdaal nie.

free casino gamblingДанильченко Юрий Брониславович Харьков