Die regime se propagandamondstuk, die SAUK, het gisteraard die joernalis Faith Daniels voor ‘n leë AP Kerk op Ventersdorp afgeneem terwyl sy sê dat “baie mense verlig is dat Eugene Terre’Blanche en dít waarvoor hy gestaan het nou begrawe is”. Hiermee het die openbare uitsaaier eintlik net verwoord wat die dansende Charles Taylor-geïnspireerde swart tieners enkele dae gelede op die dorp gekraai het: “Sy moordenaars is helde.”
Die leë kerk in die agtergrond is veronderstel om uit te beeld dat daar eintlik niemand gister op Ventersdorp was nie, behalwe miskien Eugene se familie en ‘n verdwaalde groepie “regses”, die dosyn of wat Afrikaners wat daar in die land oorbly en wat ons liefs maar kan ignoreer.
Maar natuurlik was die werklikheid heel anders as die SAUK se gefabriseerde voorstelling.
Reeds half-nege die oggend het ek besef vandag gaan geskiedenis gemaak word, want by die garage op die hoek van die N14 en Hendrik Potgieterweg (lees dit weer mense: Hendrik Potgieterweg, ‘n onveranderde naam) het ‘n groep motorfietsryers, seker vytig of sestig, in hul leerbaadjies vergader. “Waarheen is julle op pad?” het ek gevra. “Begrafnis toe,” het een van hulle geantwoord.
Op die N14 tussen Pretoria en Krugersdorp het die meerderheid motors met hul ligte aan gery, in ‘n vertoning van Afrikanersolidariteit op die dag van ET se begrafnis.
Reeds teen tienuur die oggend is die dorp een groot verkeersopeenhoping. Helikopters sirkel bokant ons en in die hoofstraat gewaar ons ‘n polisiewaterkanon. Oral by motorruite of agter op bakkies, wapper Afrikanervlae, die Vierkleur en die ou Suid-Afrikaanse vlag. ‘n Uur of wat later merk ek tot my vreugde ‘n paar Prinsevlae, met hul skoon oranje, blanje, blou op.
Ons deel ‘n paar pamflette uit, namens PRAAG en die Afrikaner-alliansie, met dieselfde boodskap as wat gister op die webwerf was, naamlik dat mense moet kalm bly en vir selfverdediging moet begin voorberei. Ons het 2000 pamflette, maar binne twintig minute het ons alles uitgedeel, sonder om ‘n tiende van die mense wat toe reeds rondom die kerkgebou versamel was, te bereik.
Van heinde en verre het hulle gekom, nie soseer omdat hulle AWB-ondersteuners is nie, maar omdat hulle wou demonstreer: “Nou staan ons Afrikaners saam!” ‘n Bussie vol mense het al die pad van Louis Trichardt af gery om daar te kan wees. Een man het selfs van Oos-Londen af per motor gereis. Jonk en oud, man en vrou, ryk en arm, boer en sakeman, werker of gedoktoreerde, ons was almal daar. Dit alles op ‘n werksdag. Soos iemand gisteraand opmerk: “Ek en my vrou wou kom, maar ons het ‘n baba en het nie kans gesien nie. Daarom, die 30 000 of meer wat daar was, kan ons met vyf maal, om uit te kom by die getal wat daar wou gewees het!”
As gevolg van die tienduisende mense wat mekaar probeer bel, is die selfoontorings oorlaai en geen selfoon werk nie. Hier en daar kon ‘n mens ‘n sms via MTN stuur, maar Vodacom het geheel en al tot stilstand gekom. Vele mans en vroue of vriende het van mekaar los geraak en sonder selfoonkontak eenvoudig in die skare verdwaal, om later in die dag herenig te word.
Per ongeluk beland ek deur ‘n agterste ingang in die stampvol kerk, as ‘n vriendelike oom my herken en my ‘n sitplek aanbied. Ons wag en gesels, met kameras wat oral flits of videokameras wat opneem. Langs my staan ‘n Franse joernalis, tesame met Yolanda Barnard van Sondag en ons praat ‘n paar woorde Frans. Die BBC is daar, die Londense Guardian, City Press, Beeld, noem maar op.
Die vreemdeling langs my vra my om sy begrafnisboekie te teken. “Dit sal vir my baie beteken,” sê hy.
“Sekerlik,” antwoord ek en vra: “Is u van die AWB?”
“Nee,” antwoord hy. “Maar ek is ‘n Afrikaner. Daarom wou ek hier wees. Ook is ek nie bang vir wat nou kom nie. Wat genoeg is, is genoeg.”
As Eugene Ney Terre’Blanche se kis uiteindelik, met die AWB-vlag daaroor gedrapeer, in die kerk ingedra word, bars dit spontaan los: “Uit die blou van ons hemel, uit die diepte van ons see…” Video hier. Die ruim binnekant van die kerk dreun daarvan, asof die dak gaan lig. Nog nooit het ek mense “Die Stem” met soveel oorgawe, soveel ingehoue emosie en opregte patriotisme gehoor sing nie. As die laaste reël van die eerste vers, “Ons vir jou Suid-Afrika”, wegsterf, gaan sit almal en ds. Ferdie Devenier begin sy preek.
Sy boodskap is dat God nie engele red nie, maar sondaars. Eugene was ‘n sondaar, ‘n dikwels omstrede mens, maar wat sy volk liefgehad het en sy lewe aan allerlei politieke aksies gewy het. Sy wrede dood het elke Afrikaner tot in sy voete geskud, of ‘n mens nou ‘n aanhanger van hom was of nie.
Die preek gaan verder oor die smal weg en die breë weg en die behoefte dat ons ons moet bekeer om gered te word. In ‘n frase wat ook op die huidige krisis waarin ons ons bevind mag slaan, sê die dominee: “Ons moet bid asof werk nie help nie. En ons moet werk asof bid nie help nie.” Hiermee vat hy vir my die essensie van die Calvinistiese lewensbeskouing saam en wat waarskynlik die Afrikaner in die komende dae en weke gaan inspireer.
Ná die lang preek met allerlei aanhalings uit die Bybel wat die hooftema illustreer, kom Andries Breytenbach, voorsitter van die Afrikanervolksfront aan die beurt. Hy praat oor Eugene Terre’Blanche wat van jongs af aan in die politiek belanggestel het en op die jeugdige ouderdom van 26 as HNP-kandidaat in dr. Verwoerd se ou kiesafdeling teen ‘n NP-kanidaat gestaan het. Toenemend het hy hom egter op die buiteparlementêre politiek toegespits en met die teer-en-veer-insident op prof. Floors van Jaarsveld bekendheid verwerf. Terwyl die media Terre’Blanche sy lewe lank verguis het en ‘n karikatuur van hom gemaak het, toon vandag se opkoms dat hy wel ‘n leier van sy mense was, meen Breytenbach.
Ná hom skuif Steve Hofmeyr agter die mikrofoon in. Hy beken dat hy Eugene goed geken het en dat hulle ten minste een keer per maand gesels het. “Twintig-tien is miskien die jaar, maar vandag is nie die dag nie,” sê Steve, volkome in swart geklee. In kommentaar op die ANC se “Skiet die boer”-liedjies, sê hy dat hy die hele FAK-sangbundel deurgegaan het. “Ek het die totale Afrikaanse liedereskat bestudeer, maar nêrens kon ek daarin ‘n lied vind wat ander volke beledig of haat jeens hulle uitspreek nie.”
“Hoor, hoor!” skree die mense en klap hande. Tydens die diens het die minister van landbou, Tina Joemat-Peterson, insgelyks in swart geklee met ‘n swart blinkleer handsak en bypassende skoene, langs ons ingeksuif, nadat ons vir haar plek gemaak het. Hier en daar in die kerk, gesaai tussen die skare wit Afrikaners, sit of staan swart joernaliste en fotograwe.
Dis die wonder van die Afrikaner. Terwyl die Angel-Saksiese media ons nog altyd as onverdraagsame rassiste uitgebeeld het en terwyl daar vir alle praktiese doeleindes ‘n volksmoord teen ons gepleeg word, gaan ons voort om ons mensliewende, vriendelike self te wees. Nadat een van ons gruwelik deur jong swartes vermoor is en ander jong swartes in die openbaar voor die TV-kameras daaroor gejuig het, laat ons geredelik swartes in ons midde toe en skuif op die kerkbank op vir ‘n ANC-minister.
Sou die Palestyne so teenoor die Israeli’s opgetree het, en andersom? Sou Franse ná ‘n moord op een van hulle deur die “Rosbifs” verteenwoordigers van daardie “Rosbifs” geredelik in hul kerk toegelaat het? Of sou Britte op hul beurt die “Frogs” in hul Anglikaanse kerk verwelkom het, terwyl ander jeugdiges op die Franse TV ronddans om te sê watter helde die moordenaars is? Dan praat ek nie eens van ons swart landgenote nie. Stel jou voor dat die ANC-jeugliga ‘n lid van die AWB by die Regina Mundi-kerk in Soweto sou verwelkom by die begrafnisdiens van ‘n ANC-leier wat deur ‘n wit Afrikaner met ‘n panga aan stukke gekap is…
Bewus van die buitelandse media se teenwoordigheid, praat Steve kort-kort Engels en doen ‘n beroep dat ons “waardig en beheersd uiteen moet gaan” sodat ons hulle nie rede gee om ons verder te verguis nie. Asof dit nodig is, asof Afrikaners nie altyd waardig en beheersd optree nie, selfs wanneer een van hulle suiwer uit rassehaat deur ander vermoor en verneder is nie.
Dan kom die diens aan sy einde en word Eugene se oorskot deur die draers uitgedra. Maar ‘n stem uit die gehoor roep uit: “Die vierde vers van ‘Die Stem’!” Met minder geesdrif as aan die begin, toe die eerste vers so uit volle bors gesing is, maar tog nie minder intens nie, klink dit nou op: “Op U almag vas vertrouend…” Daar is ‘n gemaal van fotograwe rondom die kis, met flitsende kameras.
Buite die kerk loop ek allerlei mense, bekend en onbekend raak. Almal groet en skud hande, amper asof ons familie is, verenig deur Terre’Blanche se dood. Onwaarskynlik soos dit ‘n week gelede sou geklink het, het hy vir die Afrikaner ‘n martelaar geword, byna ‘n Jopie Fourie.
Ek wil graag dat Andries Breytenbach, leier van die HNP en voorsitter van die Afrikanervolksfront met Pieter Mulder van die Vryheidsfront gesels, want op ‘n manier sal ons nou eenheid moet kry, maar ‘n joernalis van die Britse Guardian is reeds besig om Mulder te ondervra en ek moet dit maar los. Sy vrae is uit die hoogte, smalend, asof hierdie jong, dom Britse joernalis hoegenaamd verstaan het wat hy vandag hier gesien het. Soos gewoonlik antwoord Pieter versigtig, diplomaties en ignoreer sy meer beledigende vrae.
Op ‘n manier sterf die waarheid in hiedie land elke dag, net soos daar elke dag een van ons mense vermoor word.
Maar al 30 000 mense wat gister op Ventersdorp was of nie was nie, want vele het sekerlik nog in verkeersknope vasgesit toe alles al verby was, was dit gister eens: só kan dit nie langer aangaan nie.
Soos ds. Devenier gister vanaf die preekstoel gesê het: “Ons moet bid asof werk nie help nie. En ons moet werk asof bid nie help nie.”
free videoФільчаков прокурор