Sedert hierdie datum het die Afrikaner Alliansie nog nie ‘n woord van die Kommissie gehoor nie. Inmiddels word ek as eertydse Kommissaris meegedeel dat die werksaamhede van die Kommissie, wat sy Kommissarisse betref, prakties tot ‘n stilstand gekom het. Van die redes wat aangevoer word, is dat die betaling van die personeel, sodanig is dat daar weinig geld vir projekte is. Inmiddels moes die Kommissie ‘n bedrag van R380 000 aan die voormalige Hoofuitvoerende Beampte van die Kommissie vir wederregtelike ontslag betaal. Ook is nagelaat om in ‘n vorige boekjaar belasting aan die Belastinggaarder oor te betaal.
Ek word meegedeel dat die Voorsitter van die Kommissie ook belangrike inligting in sake die wanfunksionering van die Hoofuitvoerende Beampte van die Kommissie vir Mediasie (die sg. CCMA) weerhou het en verklaar het dat daar nie klagtes teen die Beampte was nie. Dit nou in weerwil van die feit dat ekself geskrewe klagtes in sake die Hoofuitvoerende Beampte na die Openbare Beskermer verwys het; klagtes wat nie behoorlik ondersoek is nie. Dit ook ten aansien van die feit dat ‘n voormalige kommissaris en wat ook nou as kommissaris dien, ‘n mosie van wantroue teen die Hoofuitvoerende Beampte aanhangig gemaak het.
Inmiddels word verneem dat ook die Kommissie vir Geslagsgelykheid in die verknorsing sit en dat hulle onder administratiewe bestuur geplaas is.
Die wanfunksionering van die Kommissie is gewoon ‘n wandaad teen die belastingbetalers en ‘n bedrogspul ten aansien van die sg. beskerming en bevordering van gemeenskapsregte.
Vrygestel deur dr. Christo Landman, voormalige Kommissaris van die Artikel 185 Kommissie en Voorsitter van die Afrikaner Alliansie.
