“Die gemeenskap van Wesmoot Pretoria gaan nie meer waarsku oor misdaad nie maar met alle erns begin optree.” So sê mnr Philip van Staden, VF Plus bestuurslid van Wesmoot, na die moord op ‘n inwoner van Booysens.
Mnr Freitas is volgens inligting erg aangerand en sy lyk is gevind nadat sy bure onraad vermoed en alarm gemaak het. Volgens die SAPD het die bure die polisie gekontak nadat hulle onraad vermoed het omdat mnr Freitas se hek en deure gisteraand nog oopgestaan het en geen ligte in die huis aangeskakel was nie.
Van Staden het die gemeenskap gemaan om paraat te wees en seker te maak dat hulle deure bedags en snags gesluit is. Indien enige onraad vermoed word moet die SAPD of die bestaande Sektor-polisiërings dadelik gekontak word. Van Staden wys daarop dat hierdie moord die tweede aanslag binne drie dae in die gemeenskap is en dat dit nie meer langer geduld gaan word nie.
“Die dae van praat en waarsku is verby. Die gemeenskap moet nou self mede-verantwoordelikheid vir sy veilgheid neem en misdadigers gaan moet bontstaan”.
