Jong mense moet militant en lewenskragtig wees in plaas van gedweë volgelinge, sê polisieminister Nathi Mthethwa.
Hy het Sondag studenteleiers van tersiêre instellings in die Nasionale Vereniging van Studenteontwikkeling se praktisynskonferensie in Durban toegespreek. Die konferensie is bedoel vir studenteleiers om idees te wissel oor die hantering van kwessies soos misdaad en MIV-vigs aan universiteite.
Mthethwa het gesê dat die voormalige president Nelson Mandela ‘n uitgesproke en belangrike komponent van die gewapende stryd in sy jeug was, terwyl die ontslape Robert Resha en Peter Mokaba gepraat het oor die moord op wit mense.
Mthethwa, ‘n lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, het gepraat op die vooraand van die ANC-jeugliga president Julius Malema, se dissiplinêre verhoor, wat Maandag begin het.
Malema word beskuldig daarvan dat hy die ANC in diskrediet gebring het en van wangedrag omdat hy die die ANC se beleid verontagsaam het.
Mthethwa het egter ontken dat sy kommentaar bedoel is om Malema, wat nie by name genoem is tydens sy toespraak nie, te verdedig.
Hy het gesê hy verwys na die aard van die ANC, wat nooit deur “inskiklik” leiers gelei is nie.
“Mense moet gebou word, nie vernietig nie. Die belangrikste ding is dat wanneer daar ‘n oorlog te voer is in ‘n revolusionêre situasie, moet die jeug aan die voorpunt van die situasie wees. Nelson Mandela was uiters militant tot die mate dat hy buite orde opgetree het. Resha was militant tot op die punt dat hy oproepe gedoen het om mense te vermoor.
“Jong mense moet binne grense optree, maar nie soos stomp voorwerpe. Ons sou nie hier gewees het as Mandela vernietig was nie. Ek verdedig niemand nie,” sê Mthethwa.
Hy het ook die geleentheid gebruik om die militarisering van die polisie te verdedig, en gesê die regering wou ‘n “strenger” standpunt oor misdaad inneem.
Hy het bygevoeg dat die polisie misdaad wil bekamp binne die grense van die wet.
“Ons het in ons benadering tot polisiëring gebalanseerde optrede beklemtoon sodat daar ‘n groter verantwoordelikheid en burgerlike oorsig van die polisie kan wees,” het hy gesê.
