‘n Sakeman van Krugersdorp moes Dinsdagmiddag vlagman speel omdat ‘n kontrakteur nie noodsaaklike waarskuwingstekens aangebring het terwyl sy werkers gras op die middelman van die R28-snelweg gesny het nie.
Mnr. Schalk Beetge vertel hy was Dinsdagmiddag omstreeks 13h00 vanaf Krugersdorp na Pretoria oppad toe hy opmerk dat die pad by die Sula Via-ingang op die R28-hoofpad skielik vernou. Die volgende oomblik het sy motor die bord en groot klippe getref. Die motor het ook ‘n padwerke-waarskuwingsbord waarvan die voetstuk met klippe toegepak was getref nadat hy probeer uitswaai het. As gevolg van die druk verkeer aan sy linkerkant het dit hom egter verhoed om betyds te uit te swaai. ‘n Paar meter verder was sowat 30 mense besig om die gras op die middelman te sny terwyl die motors verbysnel.
“Ek het gestop en besef dat dié situasie iemand se lewe kan kos. Ek het na die provinsiale kantore in Sterkfonteinweg, Krugersdorp gery en ‘n man met die naam Hannes Matthews van die situasie vertel. Hy het die kontrakteur geskakel en gesê hulle moet dadelik ‘n vlagman aanwys. Ek is sowat ‘n uur later terug na die gevaarsone en het die vlag maar geswaai tot die gras klaar gesny is.”
Mnr Beetge het mnr. Jaco Mulder, inwoner van Krugersdorp en Vryheidsfront Plus-leier in Gauteng geskakel en oor die situasie ingelig. Mulder het via die VF Plus-dienssentrum onmiddellik hulp uitgestuur na die toneel waar mnr Beetge intussen reeds alles onder beheer gebring het.
“Hierdie is ‘n voorbeeld van nalatige optrede deur kontrakteurs wat tot lewensverlies kan lei. Die VF Plus gaan die saak met die owerhede en die diensverskaffers opneem en toesien dat dié tipe optredes onmiddellik gestaak word,” het Mulder gesê.
Onskuldige mense kan in ‘n oogwink hul lewens verloor of in so ‘n mate beseer word dat hulle geen aktiewe rol in die samelwewing kan speel nie. Hy het Beetge ook geprys vir sy flinke optrede en gesê dat landsburgers toemend self sal moet ingryp waar die owerhede faal totdat ‘n behoorlike regering sake beter kan bestuur.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.