Ek dink soms mense raak te moedeloos oor Suid-Afrika. Ek is vas oortuig ons kán ekonomies oorleef as Afrikaners net onder mekaar begin saamwerk en al die buitelandse markte begin ontgin. Die tegnologie is ons redding!
Dan ‘n tweede punt: Nóg die ANC, nóg die hopelose en dom linkse meningsprekers in Suid-Afrika besef op watter mespunt Europa en veral dan Wes-Europa verkeer. As ‘n enkele land soos Frankryk of Nederland ‘n regse regering sou kry, gee ek die ANC ses maande tot ‘n jaar alvorens hulle tot ‘n val sou kom. Dan sal ons so te sê teruggaan na die ou Suid-Afrika toe. Die rampspoedige eksperiment in Afrodemokrasie sal afgeskaf word en ‘n meer pragmatiese, werkbare stelsel sal in die plek daarvan ingestel word.
Onthou net dít: Die ANC het die land oorgeneem as gevolg van linkse blankes oorsee wat die stryd gevoer het namens ‘n paar figurante soos Mandela wat hulpeloos in die tronk gesit en krepeer het. As daardie blankes oorsee besluit dis nou in hulle belang om weer ‘n Afrikanerregering in Suid-Afrika aan bewind te stel, sal dit binne maande gebeur.
Onlangse meningsopnames toon dat die totale polisie- en weermag in Frankryk hul bankvas agter Marine Le Pen skaar. Dit is slegs die linkse Paryse media wat haar daarvan weerhou om president van die land te word. Frankryk is lid van die Veiligheidsraad, ‘n kernmoondheid, een van ons stamlande – Afrikaners se vele Franse vanne maak steeds baie Franse se harte week – asook ‘n vorige wapenverskaffer van die NP-bewind.
Op ‘n manier verkeer ons lot nie in ons eie hande nie, maar dis miskien ook maar goed so, want laas toe dit was, het ons leiers soos FW de Klerk en Roelf Meyer gehad. Ek het baie meer vertroue in regse Europeërs as in enige Broederbondkliek of groepie Kruiperkaners in Suid-Afrika.
Al wat ons Afrikaners behoort te doen, is om ons eie groepsbewussyn te versterk deur kultuur, simbole, asook die verheerliking van ons geskiedenis en alles wat daarmee saamhang. Steve Hofmeyr en Bok van Blerk doen alreeds wonderlike werk in dié verband.
Sing, dig, skryf en maak films in Afrikaans, maar hou ook die dialoog met regse Europeërs in stand. Vroeër of later gaan en sál die wiel draai.
Die oranje-blanje-blou sal weer wapper! Glo my. Dis om die draai.
In Leopold Scholtz se jongste Stasi-propaganda-opstelletjie ter verdediging van die linkse Duitse kanselier Angela Merkel, trek hy weer te velde teen die “populiste”, die bose “nasionaliste” en “ongeskoolde” kiesers wat teen haar en haar party gestem het vir die regse AfD.
Scholtz waarsku lesers ook dat Merkel weer die verkiesing gaan wen, ten spyte daarvan dat haar beleid om hordes immigrante toe te laat tot haar huidige ongewildheid gelei het.
Dalk is die volgende verkiesingsuitslae al reeds bekook, net soos in Oostenryk waar die land weer sal moet stem weens verkiesingsbedrog deur die linkses?
Merkel het so kort gelede soos in 2010 verklaar dat multikulti nie werkbaar is nie, en daarna nogtans die landsgrense oopgegooi! Dit is dus duidelik dat die oud-kommunis nie te vertrou is nie en dat haar verklarings bloot daarop gemik is om kiesers om die bos te lei deur hulle met leuens te paai.
Maar volgens Leopold staan die linkses nog vas op hul morele hoëgrond, want hulle glo die land moet oorstroom word met immigrante om die Duitse ras te vernietig.
Migrante wat in hul eie lande nie die mas opkom nie, verteenwoordig nou die “hoop” vir Europa.
En beter mense soos hy en Angela wat dink die Duitse volk het geen reg om te bestaan nie, net soos die Afrikaners ook geen bestaansreg het nie, het darem nog hul linkse vriende soos Gerwald Rock Claus-Brunner (foto).
Want Leopold het ons weer daarop bedag gemaak dat hy niks met “dom” regses te make wil hê nie. Hy bly links.
Soos die politikus van die “progressiewe” Pirateparty, Rock Claus-Brunner (44) wat op 19 September, ‘n dag na die party se groot nederlaag in die Berlynse staatverkiesing, versuim het om die 5%-drumpel te haal.
Gerwald het daarna ‘n man in sy woonstel vermoor voordat hy sy eie lewe geneem het. Hy is uiteindelik neffens die lyk gevind wat hy vir ure lank, dalk enkele dae lank, verkrag het.
Claus-Brunner het reeds op 23 Junie aan politieke partyverteenwoordigers sy voornemens min of meer aangekondig en verklaar dat hulle “spyt sal wees dat die party waaraan hy behoort sal ophou om te bestaan” en dat hulle eendag “sal moet opstaan en ‘n minuut van stilte” vir hom sal moet hou.
Sy party het ook beweer dat hy aan ‘n “ongeneeslike siekte” ly. Dít, tesame met die swaar verlies van die verkiesing, het hom glo tot moord en verkragting van ‘n lyk gedryf.
Die Pirateparty is oorspronklik gestig met die doel om digitale vryheid te bevorder, maar dié oogmerk het verdwyn tussen al die ander linkse “progressiewe” programme soos neomarxisme, antifascisme en radikale feminisme.
Gerwald wou bloedskande wettig, asook pedofilie, instemmende seksuele verhoudings tussen ouers en hul kinders, kinderhuwelike, kinderpornografie, aanvaarding van homoseksuele paartjies en geslagsneutrale badkamers in alle openbare instellings.
Die party is natuurlik ‘n voorstander van die Frankfurtskool en het ‘n wetsontwerp voorgestel om “die bevordering van die nasionale belange van Duitsland” te staak, naamlik “Antrag gegen Nasionale Egoismen” in 2012.
Die wetsontwerp is presies wat Leopold ook in gedagte het: ‘n Oproep om die “historiese verantwoordelikheid” van Duitsland om die wêreld se mees multikulturele utopie te vestig vir “al 7 miljard wêreldburgers”.
Openbare skole moet beëindig word en gedagtemisdade moet in aanloop tot die eenwêreldparadys swaar gestraf word.
Dít is Leopold Scholtz se soort geselskap, die soort mens waarmee hy graag identifiseer. Vir die regses sien hy en Naspers nie kans nie.
Ons word daagliks met die linkse neomarxistiese kanker besmet, waar selfs gebreinspoelde skoolkinders, soos ene Ewan-Nize Gerber, ook as bruikbare idiote ingespan word:
Omdat my huistaal Afrikaans is, vra mense my gereeld: “Is jy ’n Afrikaner?”
Oor die jare het my antwoord al hoe kwaaier geword: “Nee.”
(…)
Ek kan nie my weersin [in Afrikaners] wegsteek nie.
Gerber is ‘n matriekleerling aan die Hugenote-hoërskool in Wellington en net soos Gerwald Rock Claus-Brunner, Leopold Scholtz, Angela Merkel, en Media24, is sy nie regs nie.
Ek sal nooit ’n Afrikaner wees nie. (…)
Ek is nie ’n burger van ons land nie, ek is ’n burger van die gees van ons land. Ek is gebore in Suid-Afrika; ek is ’n Suid-Afrikaan. Ek is die eenheid van die nasie en dit is die Suid-Afrikaners onder ons wat die nasie sal verenig.
Ons Suid-Afrikaners is die enigste mense wat ons nasie kan verenig. En aan al die ander: Wees gewaarsku.
Ons getalle neem toe met die breek van elke brander aan ons wonderlike kus; ons wag geduldig. Stadig en sekerlik aan die opbou.
Maar danksy haar voorgangers kan sy gerus wees dat die volksmoord teen Afrikaners steeds voortwoed. Haar geduld sal beloon word.
Nadat PRAAG onlangs ‘n oud-vlootadmiraal aangehaal het wat beweer dat FW de Klerk direk geïmpliseer word in selfverryking, het “Lood” vinnig opgetree om dié verdoemende uitlatings toe te smeer.
Kennelik wil Media24 nie graag dat selfverryking aan De Klerk verbind word nie, maar slegs aan Zuma wat in vergelyking klaarblyklik nie genoeg gesteel het om verswyg te word nie.
In “Lood se praatjies Die regses se jongste ongelooflike teorie” word die gewone ou gemeenplase oor regses, domheid en dranksug herhaal.
Die regses se jongste ongelooflike teorie:
Uit die aard van Lood se rubriek kom vreemde dinge soms oor die lessenaar. Daaruit blyk dit dat die amper outydse regses nog springlewendig en met ons is – glo dit of nie. Hulle het op ‘n tyd mos gefloreer op samesweringsteorieë waarvan sommige per pos op kassetbande uit die suidelike state van die VSA hier aangekom het. Moontlik het hulle ook al internet of ander metodes om dit te kry – of dit word heel waarskynlik meestal op Vrydagaande se “bring- ‘n-brandewynbottel-en-braai” uitgedink. Die jongste teorie uit daardie kringe gaan juis oor die probleme rondom pres. Jacob Zuma. Dit gaan glo nie oor die goeie teen die slegte of selfverrykers teen die regstaat nie – dit is een groot Amerikaanse komplot. Die Yanks is glo vies oor die regering se noue bande met China en Rusland en wil Zuma daarom uitkry en ‘n meer Westersgesinde president in sy plek laat aanstel. Nou het ons alles gehoor.
PRAAG is nie bewus van die die oud-vlootadmiraal Anthony Howell se regse politieke oortuigings, sy kognitiewe beperkings of sy alkoholverslawing nie, maar eerder verbaas dat Media24 se ywerige joernaliste nie verder ondersoek instel na Howell se opspraakwekkende bewerings waarby miljarde – nie miljoene nie – betrokke is nie.
Deesdae is dit in die mode om ANC-gesind of swartkruipend of dan ten minste handevat-geöriënteerd te wees. Om regsgesind in die politiek te wees, is taboe, want die ANC en sy meelopers hou nie daarvan nie. Dit is mos die ANC wat ons met die hulp van FW de Klerk se versiende staatsmanskap van ‘n burgeroorlog gered het. Sedertdien word alles mos reggemaak/getransformeer wat weens apartheid verbrou is. Daarom behoort almal glo die ANC goedgesind te wees of hulle ten minste ‘n kans te gee om die land uit die apartheidsmoeras te bestuur.
Almal wat regs is, word as verregs geëtiketteer, asof daar aan daardie kant van die spektrum geen nuanses moontlik is nie. In werklikheid is daar enersyds regses wat kompromieë aangaan en die ANC met die heuningkwas benader en andersyds regses wat ‘n euwel of kanker herken wanneer hulle dit sien en kompromisloos op koers en in die kol, dus eintlik nóg links nóg regs, bly.
Onlangs is op Praag (16 deser) berig dat die Vryheidsfront Plus samewerking, eintlik enige assosiasie, met Europese regse partye verwerp. Geert Wilders se Partij voor de Vrijheid (PVV) en Marine de Pen se Front Nationale (FN) word spesifiek genoem. In November het hierdie twee partyleiers ontmoet en Leopold Scholtz het ‘n berig daaroor geskryf wat in Die Burger (16 Nov, p 11) gepubliseer is.
Scholtz noem dat die PVV 21% steun in Nederland en die FN 24% steun in Frankryk geniet. “Dit maak albei in hulle onderskeie lande tans virtueel [hy bedoel: in werklikheid] die grootste party. Le Pen se besoek aan Wilders het te make met die Europese parlementsverkiesing van Mei. Die Europese parlementêre reëls bepaal dat partye wat saam minstens 27 setels met verteenwoordigers uit minstens sewe lande het, saam één koukus kan vorm. Dit beteken meer spreektyd en veral subsidie uit die parlement se begroting. Dus het Le Pen en Wilders afgespreek om met die oog op die verkiesing saam te werk. Hulle soek ook die steun van ander ekstreem- of uiters regse partye soos Vlaams Belang in Vlaandere, die Oostenrykse Vryheidsparty (ÖVP), die Deense Volksparty (DFP), die United Kingdom Independence Party (Ukip), ens.”
Let op Scholtz se frase: “ekstreem- of uiters regse partye.” Daarna erken hy egter variasies by hierdie sogenaamde verregses: “Die probleem van die Europese regses is dat hulle oor talle sake verskil.” Byvoorbeeld, Wilders is pro-Israel en anti-Nazi en -Islam. Le Pen se party, daarenteen, het ‘n anti-semitiese en pro-fascistiese oorsprong, terwyl Le Pen sê “sy het niks teen die Islam of Moslems nie.” Later water Scholtz die verregse-etiket verder af: “Die demokrasie het egter die manier om ekstremiste te slyp. En, in ‘n poging om die gros kiesers te bereik, het die meeste regse groepe die laaste tyd juis na die politieke midde beweeg. Vroeër of later word hulle ook deel van die establishment.”
Wat Scholtz eintlik uitwys, maar nie uitdruklik sê nie, is dat demokrasie (veral in sy uiterste vorm van een asem, een stem, soos in Suid-Afrika) ‘n onding is; dat politieke partye in so ‘n opset hulle beginsels en waardes moet prysgee en al hoe meer identiteitsloos word, dermate dat politici se persoonlikheid (bv hoe hulle op televisie vertoon) en nie beleid nie deurslaggewend die getal stemme bepaal wat hulle op hulle verenig. Vir politici gaan dit eerder om den brode en nie om die behoud van gesonde beginsels of die beste belang van die land nie. Die DA as die ANC lite versamel al hoe meer Afrika-gewig. Dit is verkieslik om eerder ‘n eerbare gideonsbende of selfs ‘n een-mens-beweging te wees wat rigtingvas marsjeer. Die regse partye in Europa het wesenlike besware teen identiteitsloosheid. Daarom is hulle teen die Europese Unie (EU) en teen die euro-geldeenheid gekant. Hulle wil die EU van binne af afbreek, sodat bv Nederland weer Nederland en Frankryk weer Frankryk kan word.
Scholtz se skrywe het my belangstelling in so ‘n mate geprikkel dat ek sedertdien ‘n halfdosyn boeke oor die Europese “regse” politiek gelees het. In hierdie skrywe beperk ek die aandag tot ‘n enkele boek, wat na bewering die eerste boek is wat in Engels oor hierdie onderwerp gepubliseer is. Dit is die Kroaat Tomislav Sunic se Against Democracy and Equality: The European New Right (London: Arktos Media, 3rd edition, 2011, 236p; Amazon Kindle $10.99). Die vorige uitgawes is in 1990 en 2004 gepubliseer. Die teks is op die outeur se doktorale proefskrif (University of California, Santa Barbara, 1988) gebaseer.
Aan die term “regs” kleef daar veral sedert die Tweede Wêreldoorlog ‘n geurtjie. Jean-Christian Petitfils stel dit soos volg: “Inasmuch as the label ‘Left’ seems flattering, the label ‘Right’ sounds like an insult” (Sunic, Kindle 768). Alain de Benoist versag die bedenkinge oor “regs” soos volg: Die European New Right (ENR) “are on the Right, but they are not necessarily of the Right” (876). Talle denkers met uiteenlopende idees word onder die sambreelnaam ENR betrek. Dalk sou die term “neo-konserwatisme” ‘n beter algemene aanduiding van hulle opvattings gee.
Enersyds word die benaming ENR gebruik om hierdie Europese denke van dié in veral die VSA te onderskei. Amerikaanse regsheid word deur religieuse fundamentalisme, kapitalisme en soms naakte anti-swart rassisme (swart = sleg) gekenmerk. Andersyds word die woord “New” ingevoeg om assosiasie met fascisme en veral naziïsme te vermy. Die ENR het hom die beste in Frankryk gevestig. In Duitsland vat dit stadiger pos, juis vanweë daardie land se nazi-verlede. In Duits word die ENR eerder “Neue Kultur” genoem (4866, 4876). Dit is uiters moeilik om die verskillende sienings binne die ENR sowel veralgemenend as sinvol te verwoord. Ek poog om dit na die beste van my vermoë te doen.
Die verdeeldheid in ENR-geledere kom spoedig na vore. Alain de Benoist, wat die voorwoord geskryf het, is ten gunste van albei die verskynsels (demokrasie en gelykheid) wat in Sunic se boektitel vir verwerping uitgesonder word. Sunic het dit na aanleiding van die standpunt van Vilfredo Pareto (1848-1923) gedoen. In die vorm wat hulle in die nuwe Suid-Afrika aanneem, het ek dit ook teen demokrasie en gelykheid. Demokrasie, wat in baie vorme kan voorkom, is vir De Benoist aanvaarbaar as dit wesenlik deelnemend is. Despotisme, diktatuur en enige totalitêre gesag word verwerp; ook sterk gesentraliseerde regering. Staatsgesag moet soveel en sover moontlik afgewentel word. Voorkeur word herhaaldelik vir “subsidiarity” uitgespreek, dus “devolution of decision-making within the European Union from the centre to the lowest level possible” (Collins World Encyclopedia, 2003, p 884). De Benoist het dit wél teen hoe demokrasie hom dikwels in die praktyk voordoen: “One no longer discusses, one denounces. One no longer reasons, one accuses. One no longer proves, one imposes” (5662).
In die politiek gaan dit vir die ENR enersyds om die erkenning van diversiteit en andersyds om die grootste moontlike mate van groepsoutonomie. Sowel individue as groepe het ‘n bepaalde aard of identiteit, bv kultureel, wat uitdrukking in bv ‘n eie taal vind. Volgens HAT is kultuur: “Die ganse geestelike besitting van ‘n volk of ander groep(ering) op elke terrein; geesteslewe, beskawingstoestand.” Die wêreld is nie ‘n politieke of kulturele eenheid nie, maar ‘n pluriversum: “In a multipolar world, power is defined as the ability to resist the influence of others rather than to impose one’s own. The main enemy of this pluriverse will be any civilisation pretending to be universal and regarding itself entrusted with a redeeming mission … to impose its model on all others” (5314). Die ENR se weersin in veramerikanisering herinner aan die uitgesproke standpunt van die eertydse Franse staatshoof, Charles de Gaulle (1890-1970).
Kontak tussen kultuurgroepe moet nie gedwonge wees nie maar op vrye assosiasie berus. Immigrasie moet ter behoud van groepsidentiteit beperk word. Groepskultuur behoort beskerm te word, maar dit moet volgens die ENR liefs nie tot nasionalisme oordryf word nie. Dit word gesê na aanleiding van die rampe wat oordrewe nasionalisme eeue lank in Europa veroorsaak het. Rassisme word veroordeel, maar daar moet die basiese eerlikheid wees om verskille by mense te erken. ‘n Mens kan nie ‘n wêreldburger wees nie, want die wêreld in sy geheel is nie ‘n politieke entiteit nie. De Benoist skryf: “The abstract man, the universal man, that type of man does not exist” (3305).
De Benoist het dit ook nie teen gelykheid as sodanig nie; wel teen gelykmaking. Hy verwys in hierdie verband na die werk van sendelinge wat oral in die wêreld dieselfde imperialistiese model aan mense opdring om hulle in ten minste religieuse opsig eenders te probeer maak. Hierdie eendersheid word dan tot die bekeerlinge se vernaamste kenmerk verhef. In die politiek vind iets soortgelyk weens veramerikanisering plaas. Die Amerikaanse staatsbestel en leefwyse word deur Amerikaners as die beste aan die res van die wêreld voorgehou. Kultureel word hierdie gelykmaking deur bv rolprente (Hollywood) en televisieprogramme bevorder.
In die plek van religie word sekularisasie/verwêreldliking dikwels deur die ENR bepleit. Een van die besware teen sowel monoteïsme as kommunisme is die totalitêre aard daarvan. Diversiteitsonthalwe word in die plek van monoteïsme eerder politeïsme verkies. “Secular salvation” is aan die orde van die dag (3641). Daar is selfs diegene wat meen dat na sommige heidense praktyke van eeue gelede teruggekeer moet word.
In werklikheid het sowel kommunisme as kapitalisme in hulle strewe na gelykmaking gefaal; veral op ekonomiese gebied, wat aanleiding tot grootskaalse staatswelsynsprojekte gegee het. Dit behoort veel eerder om sinvolle sosiale geregtigheid, gebaseer op heldere denke, te gaan. Gelykheid, insluitende gelyke geleenthede, sal ‘n hersenskim bly so lank mense talentgewys by geboorte, dus geneties, verskillend toebedeel word. Byvoorbeeld, kinders in dieselfde gesin verskil in intellektuele vermoë. Hoeveel te meer nie kinders uit verskillende gesinne en (etniese) groepe nie. Verworwe (eerder as geërfde, bv aristokratiese) status, danksy bv inspanning of toewyding, wat neerslag in elitisme kan vind, behoort nie as verwerplik geag te word nie.
Vir die ENR gaan dit om konserwatiewe beskouings wat Westerlinge reeds vyf duisend jaar lank beïnvloed. Sommige van hierdie retro-sienings sal uiteraard vir hedendaagse gebruik aangepas moet word. In die ENR-visier is veral die liberale demokrate wat bv oorverdraagsaamheid/inklusiwiteit en gelykheid (wat tot eendersheid oordryf word), asook vryheid en menseregte (sonder klem op verantwoordelikhede), predik. As gelykheid tot eendersheid oordryf word, is dit om ‘t ewe of ‘n mens met ‘n man of ‘n vrou trou. Mans en vroue in dieselfde kultuur kan gelyk geag word, maar dit wis nie hulle verskille uit nie. Sunic het dit teen inklusiwiteit as “mobocracy”, dus verswelging deur die massa, wat die ryke Europese kultuurerfenis deur gelykmakende middelmatigheid ongedaan probeer maak. Regering deur die massa, soos wat ons in die nuwe Suid-Afrika het, is ‘n vorm van totalitêre regering. Jean-Jacques Rousseau (1712-1778) het dit “totalitarian democracy” genoem (4024). Die chaos wat dit veroorsaak, lei uiteindelik tot “Caesarisme” (1929), ‘n ander vorm van totalitêre regering.
Die ENR het dit ook teen die Amerikaanse liberalisme waarin dit gaan om materiële vooruitgang, die herverdeling van rykdom en ‘n immer langer wordende lys van menseregte, terwyl moraliteit, wat as die beheermeganisme van bandelose vryheid moet dien, verwaarloos word. In Frankryk sou sodanige gesindheid eerder progressief as liberaal genoem word. In Europa is ‘n liberalis ‘n ondersteuner van individualisme, vrye handel (wat nie deur alle lede van die ENR ondersteun word nie) en die minimum owerheidsinmenging. Europese liberalisme word dus met konserwatisme geassosieer en is die teenpool van Amerikaanse liberalisme, wat ‘n linkse humanistiese of mensliewendheidsgeurtjie het.
Menseregte en naasteliefde word soms dermate oordryf dat dit lyk asof ‘n soort “ander-” of medemensgestremdheid van almal verwag word; jou lewe word oorheers deur die onbillike aansprake, sonder teenprestasie, wat deur onverdienstelikes geëis word. Ons word teen wil en dank verplig om toenemend broerwagters te wees. Claude Polin “notes that modern man’s ideal of ‘tenderness for humanity is also his ability to destroy humanity’” (4240). “According to [Louis] Rougier, man can fully enjoy his rights, and define his liberty, only when he lives in communion with a people sharing the same destiny and the same culture” (3347).
Die ENR dateer uit 1968 toe die “Research Group for the Study of European Civilisation” (GRECE) gestig is. Dié akroniem verwys na antieke Griekeland, die wieg van Europese beskawing. GRECE is bloot ‘n meta-politieke denkskool en nie ‘n politieke beweging nie. Die kern van politiek word deur kultuur bepaal. In daardie sin is die ENR veel eerder ‘n kulturele as ‘n politieke denkskool: “Culture is the most effective carrier of political ideas because culture mobilises the popular consciousness not only by virtue of ephemeral slogans, but also by a genuine appeal to the historical memory of the people” (1346). “Cultural power is a prerequisite of political power … Culture is not just an ornament or a ‘superstructure’ to be delivered piecemeal to the people; it is a vital and indispensable part of human development capable of inducing social consensus and providing a ruling elite with lasting* political legitimacy” (1353). *Hierdie “lasting” klink ooroptimisties en kan betwyfel word.
Die doel van die ENR is nie om linkse en regse menings te identifiseer nie; eerder om valse en juiste idees met die oog latere aksie te onderskei. Teen kommunisme, kapitalisme en liberale demokrasie, veral in die Amerikanse sin, word ewe sterk standpunt ingeneem. Die ENR-denkmodel is nie algemeen Westers nie, maar spesifiek Europees. Wes- en Oos-Europa, wat Rusland insluit, word as ‘n eenheid beskou. Die Europese Unie (EU) is egter ‘n foutiewe model wat mag imperialisties sentraliseer. Die EU word as deel van gelykmakende globalisering beskou. Wat nodig is, is ‘n federale model waarin elke land en kultuurgroep (idealisties: iedere tuisland en nasie) sy identiteit bevestig en uitbou.
Europeërs moet kies: “to be the architects of their own history or to become the subjects of the history of others” (401). Alain Besançon skryf: “A man without memory [or history] is of absolute plasticity. He is recreated at all moments. He cannot look behind himself, nor can he feel a continuity within himself, nor can he preserve his own identity” (4264). Dink in hierdie verband aan bv die oud-Broeders wat verloopte Afrikaners geword het.
Aan die einde van sy voorwoord formuleer Alain de Benoist sy standpunt soos volg: “The ENR makes a great effort to identify its real enemy. The main enemy is, on the economic level, capitalism and the market society [ongebreidelde materialisme]; on the philosophical level, individualism;* on the political front, universalism; on the social front, the bourgeoisie;* on the geopolitical front America. Why capitalism? Because contrary to what Communism preached, capitalism is not only an economic system. It is first and foremost an anthropological system, based on values that colonise the symbolic imagination and radically transform it. It is a system that reduces everything of value to its values in the market, and to exchange value” (434). “It means transforming the planet into a giant supermarket and a gaint civilisation of commerce” (444).
Volgens Guillaume Faye “money … has become the ultimate criterion; indeed, the language of Western civilisation” (3624). Mense word tot “happy robots” gereduseer (1119). Die argument teen materialisme word soos volg pragtig verwoord: “To be more instead of to have more” (5643). Dus, geestelik-kulturele diepte is belangriker as materiële besittings, oftewel: Wat help dit as jy alles in die wêreld besit terwyl jou gees skade ly.
* Die wysheid om met sowel individualisme as die burgery/middelklas onvergenoegd te wees, kan bevraagteken word. In albei gevalle is die beswaar dalk dat hulle rol soms oordryf word. De Benoist se onvergenoegdheid met individualisme kan veral aan die buitensporige rykdom van sommige kapitaliste toegeskryf word. Vir my bly die hoeksteen van die ideale politieke bestel die grootste moontlike mate van individuele vryheid in soverre dit met sosiale verantwoordelikheid versoenbaar is.
Wat ek hierbo gedoen het, is om De Benoist se voorwoord en sy “Manifesto for a European Renaissance” (1999), wat ‘n bylae tot Sunic se boek is, te gebruik om struktuur aan my skrywe te gee. Die teks is terselfdertyd verryk met Sunic se opvattings; dié waarna De Benoist verwys, asook ander tersaaklike inligting in Sunic se boek. My uiteensetting is seker ook beïnvloed deur ander bronne wat ek oor hierdie onderwerp gelees het.
Daar is nog baie in Sunic se teks wat in die nuwe Suid-Afrika ter sake is. Byvoorbeeld, Pareto word soos volg aangehaal: “These true believers who clamour for change know only what to destroy and how to destroy it, but are full of illusions as to what they have to replace it with” (2133). “For Pareto, the only language people understand is that of force. And with his usual cynicism he adds, ‘there are some people who imagine that they can disarm the enemy by complacent flattery. They are wrong. The world has always belonged to the stronger, and will belong to them for many years to come. Men only respect those who make themselves respected. Whoever becomes a lamb [bv FW de Klerk] will find a wolf [bv Nelson Mandela] to eat him’” (2146).
“The downtrodden and the weak will always appeal to the sense of justice of those who rule, but the moment they grab the reins of power they will become as oppressive as their former rulers. Moreover, if by chance some nation happens to display signs of excessive humanity, philanthropy, or equality, it is a certain symptom of its terminal illness” (2160). “Deluded by dreams of justice, equality, and freedom, what weapons do liberal democracies have today at their disposal against the ‘downtrodden’ masses worldwide? The New Right observes that the sense of guilt among Europeans in regard to Africans, Asians, and other downtrodden populations has paralysed European decision-makers, leaving them and Europe defenceless against tomorrow’s conquerors” (2167).
In ‘n nuwe politieke bedeling kan misdadigers helde word. Terroriste word dan vryheidsvegters genoem. “Vryheidsvegters” is ‘n term “usually assigned to them by Western well-wishers” (4563). Volgens Sunic is dit nie ‘n term wat in die kommuniste se woordeskat aangetref word nie. Dit is die soort ondergrawing van wet en orde wat deur linkse Westerse elemente gepleeg word.
Die Vryheidsfront Plus wil niks met die ENR te make hê nie. In die ENR is daar egter voortreflike denkers met uiters toepaslike idees wat ons in uitnemende mate kan help om nuwe strategieë vir ons bevryding uit ‘n politieke doodloopstraat te ontwikkel. Die idees van die ENR verg egter plaaslike aanpassing, want die omstandighede in Europa en Suid-Afrika verskil soms hemelsbreed. In Europa is daar bv (nog) nie sprake van ‘n alles oorweldigende verswelging deur swartes nie.
‘n Les wat die ENR my geleer het, is om nie meer Westerse beskawing as ‘n ideaal vir myself en Suid-Afrika voor te hou nie. Die assosiasie met Amerika is dan te sterk. Tydens apartheid is die woord “blankes” met “Europeans” vertaal. Dit blyk nou korrek te wees. Pleks van op ‘n hernude golf van Westerse beskawing te hoop, sal ek voortaan liewer vir die plaaslike hervestiging van Europese beskawing pleit; iets wat in 1652 met Jan van Riebeeck begin het.
PRAAG het so pas van ‘n bron binne die Suid-Afrikaanse Polisiediens verneem dat klopjagte op Afrikanerleiers en sogenaamde “regses” uitgevoer gaan word. Huise gaan deursoek word vir onwettige wapens, plofstof en opruiende materiaal. Blykbaar gaan daar selfs voorwerpe geplant word by mense wat as hinderlik vir die regering beskou word.
Volgens ons bron is die polisie bewus van die ontevredenheid en pogings van Afrikanergroepe om te begin mobiliseer ná die moord op Eugene Terre’Blanche en gemoedere wat hoog loop oor geweldsmisdaad, Malema se uitsprake en dreigemente van plaasbesettings deur sowel Malema as die minister van grondsake, Gugile Nkwinti.
Die doel van die polisieklopjagte gaan tweeledig wees:
om aan die buiteland te demonstreer dat die ANC steeds “in beheer” van die land verkeer en in staat is om enige verset in die kiem te smoor;
om Afrikaners te intimideer om enige voorbereidings tot verset, opstand of selfverdediging te laat vaar.
Intussen is duisende Afrikaners besig om op te ruk na Ventersdorp om Eugene Terre’Blanche se begrafnis Vrydag om 12.00 by te woon.
Volgens interne e-posberigte gaan die Vryheidsfront Plus ‘n amptelike afvaardiging onder leiding van dr. Pieter Mulder na die begrafnis stuur en die provinsiale bestuur van Gauteng sal ook in volle sterkte teenwoordig wees.
Andries (Roof) Bezuidenhout besig weer eens in Rapport die standaard-verskoning vir blankes se klagtes oor Suid-Afrika se hemelhoë vlakke van misdaad: “Swartmense word ook deur misdaad getref.”
Ja, én?
Ek het geen, maar geen idee hoe op dees aarde hierdie banale nikssgeggendheid enige iets aan die dodelike situasie in Suid-Afrika verander nie. Mense in Medellin sterf ook in dwelmoorloë.
“So what?” Is diegene onder ons wat geliefdes aan misdaad verloor het, veronderstel om beter te voel omdat iemand in hetsy Soweto, hetsy Medellin, ook deur misdaad getref word?
Dis vir my dus ‘n vreemde redenasie. Of nee, nie vreemd nie, en mens kan dit eenvoudig nie vlei met die term redenasie nie. Dis eerder absurd tot op die punt van totale breinloosheid. Dis asof ‘n arm skoolkind se ma-hulle hom sonder kos skool toe stuur en vir hom sê: “Toemaar, jou maatjie, Pietie, het ook nie toebroodjies nie.” Gaan die skoolkind minder honger voel? Gaan die naasbestaandes van blanke moordslagoffers insgelyks vertroosting daarin vind dat daar ook swartes, of, les bes, inwoners van Medellin, vermoor word?
Waarom dan so ‘n belaglike cliché besig in die eerste plek? Hoe onnosel dink diegene wat sulke snert besig is hul lesers presies? Verwant hieraan is nog ‘n cliché, een wat ook in Bezuidenhout se rubriek voorkom: blankes pleeg ook misdaad. In die rubriek waarna ek verwys is dit glo ‘n blanke wat agter ene Xolani se misdaad sit (Heel waarskynlik ‘n verbeelde blanke, siende dat die vermeende baasbrein nooit gevang is nie. Hoekom is ek nie verbaas hy is nooit aangekeer nie? Duh…)
Hoe dit ook al sy, wat ‘n aardskuddende onthulling is dit dat blankes ook misdaad pleeg nie! Wil jy my wragtig vertel daar was ook ‘n Marlene Lehnberg en ‘n Pieter Grundlingh onder ons? Kan jy nou meer!
Sarkasme tersyde: mens kan uit sy skrywes agterkom Bezuidenhout voel half gekrenk dat die “mislike regses” (wat deesdae 99% van Naspers se lesers is, te oordeel aan die groot meerderheid reaksies op rubrieke (met net ‘n paar linkses wat nog magteloos teen die donderweer probeer poep) so lelik met hom is. ‘n Paar weke gelede het Bezuidenhout glad
gepoog om ‘n sarkastiese rubriek te skryf oor hoe hy glo nou nie meer ‘n linkse sou wees nie.
Ek sou egter dink dat selfs ‘n ekstreem-linkse dosent in die sosiologie (is daar enige ander soort sosiologie-dosente as diegene met Marxistiese oortuigings?) sou kon verstaan dat daar lank genoeg vir ons blankes, Jan Alleman en ek, gelieg is. Ons, en ek praat nou hier van gewone outjies, en nie AWB- of American Renaissance-lede nie, se geduld met die leuens van die linkses is op. Die waarheid oor wie misdaad pleeg ken ons almal, maar dit word al vir bykans
twee dekades onderdruk. Niemand durf dit hardop sê of skryf nie, maar: Ons weet hoe diegene wat plase aanval, lyk. Ons weet watter bendes voorstedelike huise binneval. Wenk: dis nié blankes wat swart huishoudings binneval nie.
Ons weet dat die pers berserk raak oor die enkele blanke booswigte, maar dat misdaad wat deur ander groepe gepleeg word so alledaags geword het, dat dit kwalik ‘n woord regverdig. Ons koop eenvoudig nie meer die snert en bog dat armoede glo misdaad sou veroorsaak nie.
Waarom ‘n bejaarde se vingers met ‘n snoeiskêr afknip as jy honger is? Hoe maak armoede mens dooierus neem terwyl ‘n vierjarige dogtertjie op haar ma se skoot sit, en haar dan tussen die oë skiet? Jammer vir die taal, maar moenie met ons kak praat nie, man!
Vir heeltemal te lank verkoop diegene soos Bezuidenhout polities korrekte perdevye aan ons vir soetkoek, en ons het genoeg gehad. Hoeveel dooie blankes gaan dit nog neem voordat die leuens en propaganda, ook in Bezuidenhout se rubrieke, ophou, en ons die ding op sy naam noem?
Die meningspeiling onder Beeld lesers,waar ‘n meerderheid hul ten gunste van ‘n volkstaat uitspreek, is veelseggend as mens in ag neem dat baie “regses” in elk geval nie eers Naspers se dagblaaie lees nie.
Tim du Plessis se reaksie is egter tipies: Hierdie mense wil nie regtig ‘n volkstaat soos Orania hê nie, hulle is maar net ontevrede.
Dan gee Tim vir ons ‘n tipiese Nasperssedeprekie wat daarop neerkom dat jy ontevrede mag wees, solank jy nie “regs” is nie. Soos gewoonlik word die term “regs” en “rassisties” na willekeur omgeruil.
Tim stel dan terselfertyd dat die begrippe regs ,links, verlig en verkramp uitgediende begrippe raak. Hierdie nuwe standpunt is betekenisvol, want politieke etikettering is ‘n sleutelkomponent van Naspers se strategie as selfaangestelde meningsvormer van “Afrikaanses”. Ek vermoed hierdie nuwe standpunt is noodgedwonge omdat, volgens die Naspers definisie van “regs” en “rassisties”, die meeste van Beeld se lesers nou “regse rassiste” is.
Met die Reitzvideo se histerie het Tim egter vir ons ‘n nuwe etiket vir die “nuwe” verligte Afrikaners gegee, nl. die “ons-is-nie-so-Afrikaners”.
Die ons-is-nie-so-Afrikaners het eers ‘n gemors van Apartheid gemaak en nou klaarblyklik aan die onderhandelingstafel ook ‘n gemors van die liberale demokrasie gemaak. Al ideaal wat nou vir hulle oorgebly het is “om nie soos die regses te wees nie.”
Kom ons kyk na ‘n paar tipies regse Afrikaners wat ten gunste is van selfbeskikking:
Piet Retief
Andries Pretorius
Koos de la Rey
Christiaan de Wet
Kom ons kyk na ‘n paar tipies linkse “ons- is-nie-so” Afrikaners wat ‘n nou onbekende politieke bedeling voorstaan:
Piet Koornhof
Pik Botha
F.W.de Klerk
Eugene de Kock
Die interessantste voorbeeld van die ons-is-nie-so-Afrikaners is natuurlik Eugene de Kock,wat volgens Rapport losgelaat gaan word om regses te jag.
Ek verstaan nou hoekom Naspers so ontsteld is oor De Kock se moontlike vrylating, want as hy losgelaat word kan Beeld die meeste van sy lesers verloor.
Twaalf jaar gelede het ek ook ‘n voorsmakie gehad van die verraderlike optrede van voormalige lede van nasionale intelligensie (NI). Vandag bevind sommiges hulle waarskynlik in een of ander spesialiseenheid van die polisie. Dit is waarskynlik daardie spul wat UG probeer toesluit het. Dit was ook daardie spul wat hulself deel van die sogenaamde Boeremag gemaak het, wat plofstof geplant het, en wat gesorg het dat goeie Boerseuns vandag in die tronk krepeer op aanklagte van sabotasie.
Hul tydverdryf is verdagmakery van leiersfigure om te verhoed dat behoudende Afrikaners hulself as etniese groep organiseer soos in die land se grondwet voorsien word.
In die laat negentigerjare het genl. Constand Viljoen vir pres. Nelson Mandela oorreed om ‘n bedrag geld (R13 miljoen) te bewillig om blanke boere na die omliggende buurstate te stuur. Die doel was eenvoudig om weer hoop aan lande soos Mosambiek, Tanzanië en later aan ander SAOG-lande te gee ná dekades se uitmergelende burgeroorloë.
Die projek sou daardie lande se ekonomieë prikkel – veral op landbougebied – wat sou kon meehelp dat die stroom onwettiges verminder kon word. Terselfdertyd sou dit ‘n geleentheid aan Suid-Afrikaanse boere verskaf om hul eie besigheid te diversifiseer, of self die geleentheid bied om van nuuts af te begin in lande waar hulle as beleggers gesien en waardeer word en nie as wit setlaars nie.
Vir Suid-Afrikaanse boere is dit altyd wenslik om hul risiko’s te versprei. Hier dink mens aan die politieke risiko, klimaat- en droogterisiko, gewasserisiko, markrisiko, arbeidsrisko, ens waarmee boere in ‘n riskante bedryf mee te kampe het.
Die Suid-Afrikaanse Kamer vir Landbouontwikkeling In Afrika (SACADA) is gestig onder die leiding van wyle senator Dries Bruwer, eertydse president van die TLU, bygestaan deur Piet Gouws, van die Vrystaatse Landbou-unie, en ‘n groep prominente landbouers. Vanweë my kennis van Oos-Afrika, asook my baanrekord op nywerheidsgebied, was ek ook genooi om deel van die projek te wees.
Ons was vuur en vlam vir die taak, want ons het geglo dat dit ‘n edel projek is wat net goed kon beteken vir die land. Maar helaas, dit was ons nie beskore om ons werk behoorlik te verrig nie.
Die Niassa-provinsie se hooglande in die noorde van Mosambiek was ons teikengebied en die eerste groep van 13 boere het hulle daar gaan vestig. Sacada het finansiële bystand verleen en ‘n baie goeie verhouding met die plaaslike goewerneur asook die kabinet gehandhaaf. Om die regte politieke klimaat en juridiese raamwerk vir die boere te skep het ons gereël dat ‘n bilaterale ooreenkoms met groot fanfare tussen die regerings van Mosambiek en Suid-Afrika onderteken word. Dit het goeie publisiteit geniet.
Hierdie ooreenkoms sou die boere in staat stel om hul landboutoerusting soos trekkers, vragmotors, stropers en ander bates belastingvry die land in te bring en weer landuit te neem. Hul Suid-Afrikaanse rande of VSA-dollars kon na willekeur die land uitgeneem of ingebring word. Hulle kon hul eie skole oprig en sonder inmenging bedryf, hulle kon hul jaggewere saambring, maar moes dit eers by die naaste polisiestasie laat registreer. Die owerheid en plaaslike gemeenskap moes spesifiek na die intrekkers se veiligheid en welstand omsien. Op hul beurt moes die boere hul beste lewer om voedselsekuritiet vir hul gemeenskap te bereik en binne die landswette bly.
Van meet af aan het vreemde elemente begin om ‘n skinderveldtog teen ons van stapel te stuur. Kort voor lank verskyn allerhande smeerstories oor Dries en myself in die pers en oor die radio. Die feit dat genl. Viljoen die outeur van die projek was, was al klaar genoeg vir lakeie om dit verdag te maak, veral gesien teen die agtergrond van die ‘94–verkiesing. My betrokkenheid by die Volkstaatraad het die gerug laat ontstaan dat ons ‘n volkstaat in Mosambiek wou stig. Selfs die buitelandse media is vol stories gestop om die verhouding tussen SACADA en die buurstate se regerings te vertroebel.
Hoewel Dries voltyds as hoof van die onderneming opgetree het, en ek onderhoof, het ons geen salaris vir ons dienste gevra nie. Allerhande vrae oor ons motiewe het die rondte begin doen. Ons is van nepotisme, wanbestuur en selfs geldverduistering beskuldig en ‘n obskure koerantredakteurtjie in Noord-Transvaal het ons by die Heath-Kommissie aangekla. Hoewel ons reeds ver gevorder het om ‘n langtermyn finansiële program te finaliseer, het Heath se betrokkenheid die hele projek verdag gemaak en gekelder. Ná twee jaar se ondersoek kon Heath se mense absoluut niks teen ons vind of inbring nie, want daar was niks. Maar ‘n staatsinstrument is as wapen aangewend om agterdog te saai om te verhoed dat “wit boere na Afrikalande uitgevoer word”.
Iemand het aan my verduidelik dat eertydse lede van NI nog by hul onderskeie netwerke ingeskakel was en aan wie hulle sappige wolhaarstories kon verkoop om aan die lewe te bly. Hierdie mense het hulle altyd as “regse” Afrikaners voorgedoen, want daardie kader van verraaiers is deur die NP-regering ingespan om teen die destydse behoudende Afrikaners te spioeneer, hul geledere soos slange binne te dring en verdag te maak. Sodoende kon die sogenaamde hervormingsprogram en magsoorgawe van die NP, soos deur die Broederbond ontwerp was, op koers bly.
‘n Slang kan ‘n ruimte deur ‘n baie klein opening binnedring om sy prooi te vergiftig.