Vryheidsfront Plus verwerp Europese ‘regse partye’

Deel op
Mnr. André Fourie, woordvoerder vir buitelandse sake van die VF Plus en 'n voormalige adjunkminister onder FW de Klerk se Nasionale Party
Mnr. André Fourie, woordvoerder vir buitelandse sake van die VF Plus en ‘n voormalige adjunkminister onder FW de Klerk se Nasionale Party

Mnr. André Fourie, die woordvoerder vir buitelandse sake van die Vryheidsfront Plus, het by herhaling al gesê dat sy party die nuwe Europese regse partye soos die PVV in Nederland of die Front National in Frankryk verwerp en eerder met die tradisionele Christen-Demokratiese of liberale partye wil kontak maak.

Hiermee sit die VF Plus die vorige Nasionale Party se buitelandse beleid voort. André Fourie was ‘n adjunkminister vir buitelandse sake onder mnr. FW de Klerk in die Nasionale Party en het hom in die geskiedenis verewig toe hy in die vroeë negentigerjare aan mnr. Andries Beyers op TV gesê het:

“Hier is die voorstelle van die Nasionale Party. As u in hierdie voorstelle die bewys kan kry dat ons die regering aan ‘n swart meerderheid gaan oorhandig wat beheer sal word deur die kommuniste en deur mnr. Mandela, dan belowe ek vir u R5 000 vir die Konserwatiewe Party se fonds.”

Aan die einde van dié YouTube-video gee Fourie sy beroemde belofte (‘n mens wonder of die R5 000 al betaal is?).

 

Die Nasionale Party het destyds ‘n groteske fout gemaak deur die hand van vriendskap van Europese regse partye weg te klap, want die hoofstroom- konserwatiewe en liberale partye wou nie met ‘n tang aan Suid-Afrika of die Afrikaner raak nie. In ‘n tyd waar die nuwe regse partye in Europese lande geweldig opgang maak en dalk vir die Afrikaner uitkoms kan bring of ten minste internasionale simpatie kan wek, haak die VF Plus vas by die Nasionale Party se mislukte gekruip by Christen-Demokrate in Europa en bederf sodoende die Afrikaner se kanse op vryheid en selfbeskikking.

Daarmee steek die VF Plus insgelyks die potensiële bondgenote van die Afrikaner in die rug in ‘n groteske herhaling van die foute van die verlede.

Fourie is ook deel van ‘n groepering in die VF Plus wat ongemaklik voel met die oorblywende Afrikaneridentiteit van die party en glo dat die party hom eerder as ‘n “Christelik-Demokratiese” party, soortgelyk aan die ACDP, moet posisioneer.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.