Miljarde verkwis met wapenaankope, maar Nkandla pla meer

Deel op

Dat Suid-Afrikaners nie somme kan maak nie, raak al hoe duideliker.

Terwyl ‘n Duitse konsortium net €27,5 miljoen belê het in Suid-Afrika, maar krediet gekry vir €1,285 miljard, is die land se belaglike media besig om histeries te raak oor ‘n paar miljoen verkwiste rande op hoenderhokke en derglike by Nkandla.

Die skokkende ouditverslag oor die korrupsie met die omstrede wapentransaksie se sogenaamde beleggingsprogramme wat nooit gerealiseer het nie, en waarby miljarde betrokke is, kan Nkandla se opgraderings klaarblyklik nie troef nie.

Die regering het met hul wapenaankope toegelaat dat buitelandse maatskappye miljarde afskryf wat hulle Suid-Afrika geskuld het.

Van die onthullings waaroor Die Vryburger vroeër berig het, sluit die volgende in:

1) Slegs 3,815 van die beloofde 56,531 werksgeleenthede het gerealiseer;

2) Nuwe kontrakte is met wapenfirmas gesluit nadat daar oor teenbeleggingsprogramme ooreengekom is, wat in effek daarop neergekom het dat die miljoene wat hulle aan Suid-Afrika geskuld het, afgeskryf is;

3) ’n Mislukte projek van British Aerospace/SAAB is nooit aangemeld nie en is eers in die ope gebring toe die ouditspan daarna gevra het;

4) Die Franse wapenmaatskappy Thales het krediet gekry vir $171,2 miljoen se beleggings vir ’n mislukte aanleg vir mediese afval wat hulle sowat $1,2 miljoen gekos het, en die Duitse duikboot-konsortium het €15,2 miljoen te min belê.

FW de Klerk, voormalige staatshoof, was glo ten nouste betrokke by die wapenskandaal.

In ‘n opspraakwekkende boek, het vlootadmiraal Anthony Howell (Paul Holden is mede skrywer van die boek), “The Devil in the Detail: How the Arms Deal Changed Everything” onthul dat de Klerk, Thabo Mbeki en Chippy Shaik, vlootkontrakte in `n bepaalde rigting gestuur het.

Howell en ander militêre offisiere het in 1995 die Spaanse bod aanbeveel en voorleggings in dié verband gedoen.

De Klerk het glo die Duitse bod teen die vloot se aanbevelings, verkies. Die duikbote is glo vandag niks beter as skroot nie.

Die Duitse owerhede het ‘n betaling ondersoek van $22 miljoen (R1.7 miljard) [van die Duitse konsortium] aan ‘n Libiese front maatskappy, Mallar Inc., en dié geld het regstreeks na Suid-Afrikaanse amptenare en kabinetslede gevloei.

Maar De Klerk het nogtans by monde van sy Stigting uitgevaar teen die “ontstellende” kwessie van selfverryking betreffende Nkandla.

Oproepe vir President Jacob Zuma om te bedank neem toe, ook uit dieselfde geledere wat ten nouste betrokke was by die wapenskandaal weens die “verdoemende Nkandla-uitspraak”.

Ironies genoeg het Zuma juis met die Seriti-kommissie se aanstelling oor die wapenskandaal gehelp om die onverkwiklikhede onder die mat in te vee.

Die weermagvakbond, Sandu het geëis dat Zuma sy amp ontruim.

Die vakbond het ‘n verklaring uitgereik waarin die “laakbaarheid van hoe die president die grondwet geskend het, maar wat die weermag veronderstel is om te handhaaf” hulle onthuts.

Sandu sê dit is ook “verwerplik dat die parlement die president ondersteun het in sy ongrondwetlike optrede”. Die vakbond sê “die parlement het die demokrasie uitverkoop”.

Intussen meen die DA se hoofsweep, John Steenhuisen dit is noodsaaklik dat die parlement ‘n boodskap aan President Zuma en die land stuur dat die skending van die Grondwet nie geduld sal word nie.

Hy sê die beste manier om dit te doen, is om môre ten gunste van die DA se mosie te stem om die president in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.