PRAAG se nuus- en meningsportaal, praag.co.za, het oor die Paasnaweek uit sy nate gebars. Hoewel naweke en vakansiedae gewoonlik stiller is omdat die meeste mense by die werk ons webblad lees, was dit die afgelope twee dae presies die teenoorgestelde.
Ná die aankondiging van Eugene Terre’Blanche se dood Saterdagaand en die eerste berigte en kommentaar daaroor wat Sondag in die vroeë oggenduur op PRAAG begin verskyn het, het die gewone verkeer verdriedubbel (sien grafiek hiernaas). Volgens die gesaghebbende Google Analytics-stelsel wat wêreldwyd gebruik word om die verkeer van webwerwe te meet, het besoeke en bladlese op die webwerf gister nuwe rekords aangeteken.
Ook leserskommentaar via die blad se Disqus-stelsel, ‘n internasionale stelsel wat onlangs deur PRAAG in Afrikaans vertaal is, het ‘n geweldige oplewing getoon en by die rubriek van Dan Roodt oor Eugene Terre’Blanche en die simboliek van oorlog het tot dusver nie minder nie as 290 reaksies verskyn.
“PRAAG het hom nou reeds bewys as ‘n betroubare en prikkelende bron van inligting wat vir Afrikaners belangrik is,” het dr. Dan Roodt, uitgewer van praag.co.za, gesê. “Oor die afgelope maande het die interaktiewe gebruik van die internet en veral leserskommentaar op webwerwe met rasse skrede onder Afrikaners toegeneem. Met die huidige politieke krisis in die land rondom Malema en die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche, vind lesers dat PRAAG nie huiwer om hul reaksies te publiseer nie terwyl sommige ander publikasies besig is om politieke debat in Afrikaans in die doofpot te probeer stop of om sodanige debat te beheer om hul eie oogmerke te dien.”
Binnekort sal praag.co.za na ‘n nuwe bedienerstelsel verhuis om die toename in lesersverkeer beter te hanteer, waarna die verwagte groei in lesersgetalle waarskynlik sal voortduur.

Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.