Nege beseer tydens vullis-staking

Nege mense is Woensdagmiddag beseer toe oproeriges van Pikitup gewelddadig geraak in Bertha Street in Braamfontein, Johannesburg.

Volgens ER24 se woordvoerder Russel Meiring, is paramedici na die toneel ontbied, en by aankoms nege pasiënte op die sypaadjie aangetref.

Hy het verduidelik dat paramedici die pasiënte behandel het op die plek en daarna na ‘n nabygeleë hospitaal vir verdere assessering geneem het.

“Die pasiënte het klaarblyklik dié besering opgedoen tydens ‘n protesaksie,” het hy gesê.

Die Johannesburgse metroraad het intussen die gedrag van stakende werkers van die afvalverwyderingsmaatskappy Pikitup, skerp veroordeel.

Die werkers wat sedert Maandag staak, het die middestad tydens ‘n optog na die maatskappy se hoofkantoor met vullis bestrooi en klippe na die polisie gegooi voordat hulle met rubberkoeëls uiteeengejaag is.

‘n Lid van die Burgermeesterskomitee vir Omgewingsake en Infrastruktuurdienste, Matshidiso Mfikoe, sê dit is onaanvaarbaar dat werkers onwettig begin staak, ‘n hofbevel ignoreer om terug te keer werk toe, en voortgaan om die stad te bevuil.

Pikitup se woordvoerder Jacky Mashapu het gesê die maatskappy sal die beginsel van geen werk, geen betaling nakom en sal werknemers wat deelneem aan die onwettige staking uitsluit.

“Ons is besig om onvermoeid te verseker dat dienste so gou as moontlik herstel word,” het hy gesê.

Pikitup het verder aangedui dat inwoners aangemoedig word om vullisdromme in hul eiendom te hou tot tyd en wyl alternatiewe reëlings getref kan word vir verwydering.

Maatreëls om opgehoopte vullis te verwyder sal deur die maatskappy gekommunikeer word.

China maak reg vir Suid-Afrikaanse besoek

Volgens die Chinese minister van buitelandse sake, sal Beijing bilaterale samewerking met Afrikalande verhoog in die stryd teen terrorisme en ekstremisme.

China sal sy samewerking met Afrikalande in die stryd teen terrorisme verhoog ná die onlangse aanval op ‘n Malinese hotel wat die lewens van 19 mense, waaronder drie Chinese burgers, geëis het, het die Chinese minister van buitelandse sake Wang Yi Donderdag gesê.

“‘n Paar dae gelede, in Mali, was daar ‘n terroriste-aanval met gyselaars, waarin drie Chinese burgers gedood is. China sal voortgaan om pragmatiese samewerking met Afrika te bevorder, en terselftertyd bilaterale samewerking in die stryd teen terrorisme en ekstremisme verstrek,” het hy gesê op ‘n forum wat die Chinese leier Xi Jinping se besoek aan Suid-Afrika voorafgaan.

Die Chinese leier se besoek aan Suid-Afrika is geskeduleer vir die begin van Desember.

Die minister van buitelandse sake het beklemtoon dat China ‘n “aktiewe deelnemer” is in die behoud van vrede en stabiliteit in Afrika.

Op 20 November, het gewapende mans van die Islamitiese Staat die Radisson Blu Hotel in die hoofstad Bamako bestorm, en 170 mense gyselaar geneem, meestal buitelanders. Negentien mense is doodgeskiet.

Die Chinese leier het die aanval veroordeel en Chinese veiligheidsagentskappe gemaan om Chinese burgers en maatskappye in die buiteland beter te beskerm.

Nog ‘n Nasionale Sleutelpunt sneuwel voor rooi gevaar

Die Parlement sal twee dae langer in sitting wees nadat lede van die vakbond, Nehawu, die raadsaal van die Nasionale Vergadering (NV) in Kaapstad is Dinsdagoggend binnegestorm het.

Die werkers staak nadat onderhandelings oor hul bonusse `n dooiepunt bereik het.

Die voorsitter in die Nasionale Raad van Provinsies, Thandi Modise, sê nog onderbrekings sal nie geduld word nie.

Sy het by `n mediakonferensie gesê die feit dat hulle nie `n hofbevel teen die werkers gebruik het nie, beteken nie dat die parlement te bang of swak is nie.

Volgens haar, is alles moontlik gedoen om wat Dinsdag gebeur het, te verhoed. Die NV is ’n nasionale sleutelpunt.

Stakende werkers in rooi het die openbare galery beset met dreunsang en bontspring. Hul aanvoerders het gesê die werkers is gereed vir enigiets.

Polisielede het buite die raadsaal rondgestaan.

“Ons werk hier. Hulle kan nie meer skuil agter verskonings van ’n nasionale sleutelpunt nie. Ons moet wys ons is ernstig.”

Nehawu en die bestuur van die parlement kon nie oor persentasieberekenings vir prestasie­bonusse ooreenkom nie. Die Nehawu-staking duur voort.

Wit koshuismatrone met klip en baksteen doodgeslaan

Die polisie in die Vrystaat het nog nie die naam van ‘n 50-jarige vrou, wie se lyk Dinsdagmiddag op die Jimmie Roos-jeugsorgsentrum se skoolterrein by Dewetsdorp gevind is, bekend gemaak nie.

Volgens PRAAG se inligting was sy glo mevrou Barnard, die koshuismatrone.

Polisiewoordvoerder, Yanda Ngcukana, sê die polisie is steeds op die toneel nadat twee skoolseuns glo omstreeks 14:20 op die vrou, wat verbonde is aan die skool, afgekom het. Sy was reeds dood.

Die SAPD het intussen bevestig dat die twee leerlinge by die Jimmie Roos Jeugsentrum naby Dewetsdorp vir ondervraging in verband met die moord aangehou word.

Volgens hom is die wit vrou ook ‘n bestuurder van ‘n gastehuis op die skoolterrein.

Haar lyk is by haar bakkie tussen die gastehuis en ‘n dam wat op die terrein geleë is, gevind.

Hy sê die seuns het twee mans in ‘n Land Cruiser-bakkie van die toneel sien wegry. Hulle het glo hulp ontbied.

Ngcukana sê die slagoffer is met ‘n baksteen en ‘n groter klip teen die kop geslaan.

Niks word uit die gastehuis of haar bakkie vermis nie. Hy sê haar selfoon is steeds op die toneel.

Nog niemand is in hegtenis geneem nie.

Ngcukana sê haar familie moet eers in kennis gestel word.

Johnny Erlank, wat onlangs as skoolhoof uitgetree het, help glo die polisie met hul ondersoek.

NWU wag vir terugvoer van Blade

Die Noordwes-Universiteit wag op terugvoer vanaf die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, rakende die bedrag wat die universiteit sal ontvang om op te maak vir die 0%-verhoging in studentegelde volgende jaar.

Dit is volgens die universiteit se Louis Jacobs, wat ook byvoeg dat die NWU-raad reeds voorberei het vir verskeie scenario’s.

Jacobs sê planne sal verseker dat die universiteit die situasie kan hanteer sonder om akademiese uitnemendheid te benadeel.

Jacobs sê die 0%-verhoging, ’n uitvloeisel van die #FeesMustFall betogings vroeër vanjaar deur studente oor die land heen, het ’n impak van sowat R178 miljoen op die NWU se begroting.

Cosatu sê regering moet ophou inmeng in pensioene

Die president van Cosatu, S’dumo Dlamini het die regering gewaarsku om nie in te meng in die bestuur van staatsdiens-pensioenfondse nie, het RSG berig.

Hy het by die opening van die vakbondfederasie se twaalfde nasionale kongres in Midrand gesê, dreigemente om beleid oor aftrede en pensioene te verander, het tot ‘n groot aantal bedankings in die staatsdiens gelei.

Dlamini het selfs gedreig dat Cosatu nié die ANC in aanstaande jaar se munisipale verkiesings sal steun tensy die regering ophou inmeng in werkers se pensioenfondse nie.

Intussen sê President Jacob Zuma die vakbondfederasie moet uitstyg bó sy huidige uitdagings en in belang van die werkers eenheid voorop stel.

Zuma het gisteraand Cosatu se kongres toegespreek, nadat sy toespraak vroeër weens administratiewe kwessies uitgestel moes word.

Zuma sê vakbonde wat aan die federasie behoort moet alles moontlik doen om Cosatu se eenheid te beskerm sodat die federasie die kragtige vegter kan wees wat hy sedert sy stigting in 1985 was.

Vroeër is vyf van Cosatu se ses bestuurslede, insluitend die president S’dumo Dlamini, onbestrede in hulle poste herkies.

Daar sal slegs vir ‘n adjunk-hoofsekretaris gestem moet word. Die kongres duur tot Donderdag.

Universiteitseksamens afgestel, verskuif

Die Tshwane Universiteit van Tegnologie het eksamens by die Soshanguve-kampus, noord van Pretoria onbepaald uitgestel, het RSG berig.

Dit volg na hernude geweld deur studente waarin drie sale en sekerheidsvoertuie aan die brand gesteek is.

‘n Woordvoerder van die universiteit, Willa de Ruiter sê meer besonderhede sal binnekort bekendgemaak word.

Die omvang van die skade is nog nie bepaal. De Ruiter sê die Soshanguve-kampus sal tot verdere kennisgewing gesluit bly.

Die Kaapse Skiereilandse Universiteit van Tegnologie sê intussen eksamens sal afgelê word by sy Bellville- en Wellington-kampusse en die Wingfield weermagbasis in Goodwood.

Die eksamens sou vroeër by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum afgelê word.

Gewelddadige betogings het die Universiteit gedwing om alternatiewe reëlings te tref.

Rooibospryse kan met 90% styg weens droogte

Suid-Afrika se ergste droogte die afgelope twee dekades kan ‘n verwoestende daling in Rooibosuitset beteken.

Die daling in produksie kan die prys van rooibostee met soveel as 90% laat styg.

Volgens ‘n woordvoerder van die SA Rooibosraad, Ernest du Toit, word die produk net in die Cederberg- en Bokkeveldstreke van die Wes-Kaap gegroei, en is steeds baie gewild.

Du Toit sê afgesien van Rooibos se gebruik as ‘n drank, warm of koud, word dit ook beskou as waarskynlik die grootste anti-allergiese en anti-oksidantproduk in die wêreld.

Dit bevat ook anti-diabetiese en anti-stres-eienskappe, en word dikwels ‘n wonderwerkproduk genoem.

Malema waarsku oor komende rewolusie

Julius Malema het uit sy parlementêre sluimer ontwaak om die Duitse Sakekamer in Suid-Afrika te gaan waarsku oor die komende rewolusie en Zuma se opvolgingstrategie.

“Ek gewaarsku oor ‘n ongeleide rewolusie in Suid-Afrika. Dit kom,” het hy Vrydag gesê.

Malema se “waarskuwings” kom te midde van ‘n verlamming wat by die land se grootste vakbondfederasie Cosatu ingetree het weens binnegevegte.

Cosatu gaan binnekort ‘n veldtog vir ‘n nasionale minimumloon loods.

“Dit is in die universiteite [en] dit sal gaan na die fabrieke oorspoel. Studente eis gratis onderwys by die universiteite… Werkers gaan ‘n minimumloon eis in die fabrieke.”

Luidens News24, het Malema gesê President Jacob Zuma en die ANC het geen beheer nie en ly aan ‘n gebrek aan geloofwaardigheid en legitimiteit.

Net soos met die studente, sal geen mens in staat wees om die werkers te vertel om op te hou om fabrieke af te brand as hulle begin protesteer nie.

Hy het die geleentheid gebruik om die ANC se 2017-opvolgstryd te skets.

Hy het gesê die enigste rede hoekom Zuma sy eks-vrou Nkosazana Dlamini-Zuma tot president verkies wil sien, is omdat hy weet dat sy sou hom nie sal laat arresteer nie.

“Hy weet Cyril [Ramaphosa] sal hom laat arresteer. Dit is waarom die ‘premierliga’ Zuma se vrou verkies,” het Malema gesê

Die ‘premierliga’ is glo Noordwes se premier Supra Mahumapelo, Vrystaat se premier Ace Magashule en Mpumalanga se premier David Mabuza. Die drie is ook die ANC-voorsitters in hul onderskeie provinsies.

Die groep wil Dlamini-Zuma as president sien om Ramaphosa te verhoed oor te neem na Zuma.

Die ANC het intussen ‘n anti-wit veldtog van stapel gestuur om bruines en Indiërs te werf.

Die KwaZulu-Natalse ANC voorsitter, Sihle Zikalala het die aankondiging in Ixopo gemaak. Zikalala sê bruinmense en Indiërs het ook onder wittes gely en moet deur swartmense en die ANC omarm word.

Mercedes-Benz, die Duitse motorvervaardiger, is deur Malema berispe omdat hulle nie aandele aan hul werkers gee nie.

Die kakofonie van swart stemme is verhoog deur die Kommuniste se ontleding van die voortslepende universiteitsoproer.

Die SAKP het die EFF en die Pan Africanist Student Movement of Azania die skuld gegee vir plundery en die ontwrigting van eksamens by die Universiteit van Wes-Kaapland.

Hulle is beskryf as ‘n klein groepie anargiste wat van buite beheer word, om studente vir hul eie gewin te beïnvloed.

Die SAKP se adjunk-hoofsekretaris het by die party se sentrale komiteevergadering in Benoni aan die Oos-Rand gesê die beskadiging van eiendom en misdadige optrede is nie die werk van diegene wat werklike transformasie by universiteite nastreef nie.

Knewel van ‘n diamant gevind

’n Klein Kanadese mynmaatskappy sê dit het die Cullinan-diamant se boetie in sy Botswana-myn gevind.

Volgens Lucara­ Dia­mond Corp is die steen van 1 111 karaat in sy Karowe-myn gevind en is dit die wêreld se naasgrootste edelgehalte-diamant.

Die diamant is 65 mm x 56 mm x 40 mm in omtrek, berig Nampa/Reuters. Die grootste diamant wat nog gevind is, is die Cullinan-diamant.

Dié steen van 3 106 karaat is in 1905 in Suid-Afrika se Premier-myn gevind.

Dit is in verskeie dele opgesny waarvan twee van die grootste stukke deel van die Britse kroonjuwele uitmaak.