Nege beseer tydens vullis-staking

Nege mense is Woensdagmiddag beseer toe oproeriges van Pikitup gewelddadig geraak in Bertha Street in Braamfontein, Johannesburg.

Volgens ER24 se woordvoerder Russel Meiring, is paramedici na die toneel ontbied, en by aankoms nege pasiënte op die sypaadjie aangetref.

Hy het verduidelik dat paramedici die pasiënte behandel het op die plek en daarna na ‘n nabygeleë hospitaal vir verdere assessering geneem het.

“Die pasiënte het klaarblyklik dié besering opgedoen tydens ‘n protesaksie,” het hy gesê.

Die Johannesburgse metroraad het intussen die gedrag van stakende werkers van die afvalverwyderingsmaatskappy Pikitup, skerp veroordeel.

Die werkers wat sedert Maandag staak, het die middestad tydens ‘n optog na die maatskappy se hoofkantoor met vullis bestrooi en klippe na die polisie gegooi voordat hulle met rubberkoeëls uiteeengejaag is.

‘n Lid van die Burgermeesterskomitee vir Omgewingsake en Infrastruktuurdienste, Matshidiso Mfikoe, sê dit is onaanvaarbaar dat werkers onwettig begin staak, ‘n hofbevel ignoreer om terug te keer werk toe, en voortgaan om die stad te bevuil.

Pikitup se woordvoerder Jacky Mashapu het gesê die maatskappy sal die beginsel van geen werk, geen betaling nakom en sal werknemers wat deelneem aan die onwettige staking uitsluit.

“Ons is besig om onvermoeid te verseker dat dienste so gou as moontlik herstel word,” het hy gesê.

Pikitup het verder aangedui dat inwoners aangemoedig word om vullisdromme in hul eiendom te hou tot tyd en wyl alternatiewe reëlings getref kan word vir verwydering.

Maatreëls om opgehoopte vullis te verwyder sal deur die maatskappy gekommunikeer word.

One thought on “Nege beseer tydens vullis-staking”

Maak 'n opvolg-bydrae