Twee aangekeer vir moord op onderwyseres

Die polisie in Noordwes het Woensdagmiddag twee minderjarige swart seuns in verband met die moord op ‘n onderwyseres van Brits, Esbie Koster, in hegtenis geneem.

Polisiewoordvoerder, Mpeile Talane, het gisteraand aan OFM-nuus bevestig dat die seuns, onderskeidelik 16 en 17, in die Brits gebied deur die polisie opgespoor en vir ondervraging ingeneem is. Hy sê hulle is in hegtenis geneem.

Volgens Talane is die 55-jarige Koster, ‘n onderwyseres aan die Rabboni Christian-skool buite Brits, se vermiste wit Volkswagen Golf ook in die Brits-gebied gevind.

Koster se lyk is Dinsdagmiddag langs ‘n pad by Magalieskraal naby Brits gevind. Sy het ‘n skietwond aan die kop gehad en is op die toneel deur paramedici dood verklaar. Haar motor en selfoon word vermis.

Die polisie het gister vermoed Koster, was die slagoffer van ‘n motorkaping. Sy is vermoedelik vermoor en toe langs die pad gelaat.

SA en China verdiep samewerking

Suid-Afrika en China sal nog handels-en beleggingsooreenkomste onderteken wat hulle grondslag het in die Suid-Afrika-China Binasionale Kommissie-vennootskap tussen die twee lande, het RSG berig.

Adjunkpresident Cyril Ramaphosa het die inligting aan die media onthul in sy openingstoespraak met die ontvangs van sy Chinese ampgenoot, Li Yuanchao, voor die begin van die sesde sessie van die kommissie in Tuynhuys.

Ramaphosa sê die hoofdoel van die kommissie is om die vordering te evauleer wat gemaak is oor strategiese kwessies sedert die totstandkoming van die kommissie.

China is reeds Suid-Afrika se grootste handelsvennoot, gevolg deur Europa en Amerika.

TUT se onlusmakers wil eksamen kelder

Swart studentegroepe op die Soshanguve-kampus van die Tshwane Universiteit van Tegnologie sê hulle is gekant daarteen om hul eksamens wat vandag begin af te lê, omdat hulle weens die onrus nie daarvoor kon voorberei nie.

Maar die die groepe self was verantwoordelik vir die onrus en onluste.

‘n Geskorste studenteleier, Thabo Boima, sê lede van Sasco, Pasma en die EFF sal keer dat studente met busse na die eksamenlokaal vervoer word, nadat die Studenteraad gevra het dat die eksamen voortgaan.

Die Studenteraad in Pretoria het ‘n beroep op studente gedoen om vandag te gaan eksamen skryf.

Die klasse is ontwrig deur oproer oor klasgeld, wat nou blykbaar ‘n verskoning is dat die oproeriges nie kan skryf nie.

Veiligheid is intussen verskerp ter voorbereiding van verdere openbare geweld.

‘n Woordvoerder van die universiteit, Willa de Ruyter, sê reëlings word getref vir studente van die Soshanguve-kampus om hul eksamen by die Tshwane Skougrond te skryf.

Geen politieke party het die EFF se sabotasie by TUT nog veroordeel vir wat dit is nie. In stede daarvan word die openbare diskoers al hoe meer Marxisties soos wat elke party linkser as die EFF probeer lyk.

Hani-moord weer opgerakel

‘n Boek deur politieke kommentator RW Johnson het destyds omstredenheid oor die sluipmoord op Chris Hani en die beweerde rol van Thabo Mbeki asook die voormalige minister van verdediging Joe Modise, veroorsaak.

Tydens die SAKP se 2007-kongres het die nuutverkose voorsitter Gwede Mantashe die liedjie “Thabo Mbeki, vertel ons wie het Chris Hani vermoor” gesing. Die Jong Kommunistiese Liga het herhaaldelik versoek dat die ondersoek na die dood van Hani heropen word.

Die boek is in 2009 vrygestel, waarin Johnson sê dat Modise, hoof van Umkhonto weSizwe in ballingskap, die meeste voordeel getrek het uit die uitskakeling van Hani en hy het waarskynlik die middele gehad om stilweg die regse aanslag teen Hani deur Janusz Walus en Clive Derby-Lewis in 1993 te steun.

Johnson sê dat Mbeki dalk nie regstreeks oor die Modise-plan ingelig is nie, maar dat hy Modise beskerm het met betrekking tot die wapentransaksie wat laasgenoemde verryk het. Modise was ‘n Mbeki-bondgenoot.

Johnson skryf dat in die 1950’s was Modise ‘n “township-boef”, ‘n leier van die gevreesde Spoilers-bende in Alexandralokasie. Hy het later Nelson Mandela se lyfwag geword en ‘n stigterslid van MK.

Voormalige MK-lid Sibusiso Madlala sê Modise was heeltemal genadeloos en dat hy oor massamarteling en teregstellings in MK se strafkampe soos Quatro toesig gehou het.

In 1968 het Hani ‘n bekende brief aan die ANC-leierskap gestuur om te kla dat, terwyl MK-soldate in die kampe ly, leiers soos Modise, wat hy by die naam genoem, steeds in weelde leef.

Modise was bekend vir sy uitspattige leefstyl in Zambië, deels deur gesteelde motors wat hy en die ANC se tesourier Tom Nkobi gefinansier het, skryf Johnson.

Modise wou Hani en sy mede-ondertekenaars glo gaan stilmaak na die brief. Hulle is net gered deur Oliver Tambo se ingryping.

Hani was Modise se direkte mededinger en aansienlik gewilder in MK. In Suid-Afrika is Hani beskou as Tambo se opvolger, eerder as Mbeki.

Johnson skryf dat Hani in 1993 vir Modise gekonfronteer het oor ‘n onderduimse wapentransaksie vir miljoene: “Twee weke later is Hani oodgeskiet.” Johnson sê hy is van mening dat die bewyse dat Modise ‘n dubbele agent was, is “oorweldigend”.

Johnson argumenteer dat die intelligensiedienste van die ANC en die Nasionale Party-regering, saamgewerk het om ‘n sluipmoordkomplot deur Walus en Derby-Lewis met onsigbare hulp aan te help.

Walus het “die skoot afgetrek in die teenwoordigheid van ‘n wit vrou, wat in staat was om ‘n beskrywing van hom, sy motor en sy registrasienommer te gee en nogtans het hy [Walus] self haar nie gesien nie.”

Die getuie het verdwyn en Walus is in hegtenis geneem 10 minute nadat hy van die toneel weggery het.

Die weduwee van die voormalige leier van die SAKP, Limpho Hani het gissings dat oudpresident Thabo Mbeki by haar man se moord betrokke kon wees, met minagting verwerp.

Hani het gepraat tydens ‘n geleentheid waar die Ekurhuleni Metroraad planne bekend gemaak het om die gesin se voormalige huis in Boksburg in ‘n museum te omskep.

Volgens berigte het wyle Clive Derby-Lewis toe hy deur senior ANC-leiers ondervra is, ontken dat Mbeki by die moordkomplot betrokke was.

Hani het gevra dat enigiemand met inligting die polisie of die Valke moet nader en nie ANC-leiers se name deur die modder probeer sleep nie.

Tenkwa ontplof in Mosambiek toe diewe brandstof steel

Die Mosambiekse owerheid het ‘n ondersoekspan na die Tete-provinsie naby die Malawiese grens gestuur, waar minstens 73 mense dood is toe ‘n brandstoftenkwa ontplof het. Meer as 100 mense is beseer.

Talle verkoolde lyke het versprei gelê na die ontploffing in die dorp van Caphiridzange, en regeringsamptenare glo meer liggame kan in die omliggende woude wees, het Radio Mosambiek berig.

Sommige erg verbrande mense het probeer in ‘n nabygeleë rivier lafenis te soek, het die radiostasie gesê.

Volgens media in dié land het die tenkwa omgeslaan waarna mense brandstof daaruit probeer tap het.

Die vrag het toe aan die brand geslaan.

Volgens regeringsamptenare bestaan die moontlikheid dat daar brandstofverkope plaasgevind het toe die ontploffing gebeur het.

Die tenkwa was van die hawestad Beira na Malawi onderweg, maar het van die pad afgedraai, vermoedelik om van die brandstof te steel en op die swartmark te smous.

Mediese spanne het na die ongelukstoneel gehaas, en die beseerde in ambulanse en ander voertuie weggevoer.

Die oorsaak van die ontploffing was nie onmiddellik duidelik nie. Die Portugese nuusagentskap Lusa het gesê een teorie was dat ‘n brand naby die tenkwa die ontploffing veroorsaak het, terwyl ‘n ander teorie wys na ‘n weerligstraal wat die diewe geslaan het.

Duitse diepsee-navorsingsboot ondersoek ‘opwelling’ aan Namibiese kus

Die Meteor, ‘n Duitse navorsingsboot wat onder meer in die diepsee langs die Namibies-Angolese kus watertoestande ondersoek, het Walvisbaai Maandag aangedoen.

Dr. Kerstin Jochumsen, hoofnavorser aan boord van die Meteor, het ‘n voorlegging gedoen oor die wetenskaplike sending waarmee die span tans besig is en besoekers die boot gewys by ‘n onthaal vir Namibiese regeringslui.

Die Duitse ambassade in Namibië sê in ‘n verklaring die Meteor is ‘n multidissiplinêre navorsingsboot wat hoofsaaklik in die diepsee werk.

Dit behoort aan die Duitse federale ministerie van onderwys en navorsing.

Die boot doen sedert 2013 baanbrekersnavorsing oor onder meer die verskynsel van “opwelling” langs die Namibies-Angolese kuslyn. Dit kom voor wanneer digter, kouer water deur die wind na die oppervlak van die oseaan gedruk word en dit die warmer oppervlakwater vervang. Die rol wat dit speel in die uitruiling van hitte tussen die water naby die kus en dié in die diepsee, word ook ondersoek. Luidens die verklaring word kapasiteit ook gebou onder Namibiese en Angolese wetenskaplikes, gegradueerdes en studente verbonde aan instellings wat navorsingsvennote in dié projek is.

Dit sluit in die Universiteit van Namibië, die Nasionale Mariene Inligting-en Navorsingsentrum en die ministerie van visserye en mariene hulpbronne.

Bron: Die Republikein

Wanbetaling en kabeldiefstal laat SA sonder krag

Duisende Vrystaters kan oor die feestyd sonder krag wees, omdat munisipaliteite nie hul Eskom-rekeninge betaal nie, het RSG berig.

Die agt plattelandse munisipaliteite wat by Eskom in die skuld is, sluit in Nketoana by Reitz, Nala by Bothaville en Mantsopa by Ladybrand.

Die gesamentlik skuld beloop meer as 700 miljoen rand.

Die Masilonyana Plaaslike Munisipaliteit op Theunissen is een van die munisipaliteite wie se krag afgesny kan word.

Die Uitvoerende burgemeester, Nontsizi Mochana, sê hulle sal inwoners en sakeondernemings aanmoedig om hul rekeninge te betaal.

City Power in Johannesburg sê meer as 45 persent van kragonderbrekings in gebiede wat deur dié kragvoorsiener beheer word, is te wyte aan kabeldiefstal.

Verskeie gebiede in Johannesburg het onlangs kragonderbrekings ondervind.

‘n Vermeende reekskabeldief is verlede Sondag in Cresswell Park in hegtenis geneem. ‘n Woordvoerder van City Power, Yumna Sheik, sê die verdagte word ook verbind met ‘n ander kabeldiefstalvoorval in Roodepoort.

City Power hou tans bewusmakingsveldtogte in gemeenskappe wat deur kabeldiefstal geraak word en moedig inwoners aan om op die uitkyk te wees vir verdagte bedrywighede.

Inwoners word gevra om verdagte voorvalle by die City Power-inbelsentrum aan te meld.

Trump verdien $1 per jaar

Verenigde State se nuwe president, Donald Trump, het gesê hy sal sy R5,7 miljoen ($ 400 000) se jaarlikse salarispakket nie aanvaar nie.

In plaas daarvan, sal hy net $ 1 per jaar verdien.

Trump is een van verskeie Amerikaanse presidente, soos Herbert Hoover en JF Kennedy, wat geweier het om ‘n salaris te trek, en verkies om in plaas daarvan te skik vir $ 1 minimum soos toegelaat deur die Amerikaanse wet.

Die webwerf statista.com het hierdie grafiese voorstelling van wie die wêreld se grootste verdienstes ontvang, met ons eie Jacob Zuma prominent in die vierde plek.

Bloemfontein: Polisie waarsku enkel-drawwers

Die polisie in Bloemfontein het ‘n waarskuwing aan drawwers gerig om versigtig te wees as hulle alleen gaan draf.

Dit kom nadat ‘n 20-jarige vrou vermoedelik in die Universitas-omgewing deur twee booswigte aangeval is terwyl sy gedraf het.

Vrystaat polisiewoordvoerder, Maselela Langa sê die twee mans, wat in ‘n silwer Opel Corsa gery het, het die vrou vermoedelik probeer ontvoer. Hulle het haar glo geskop, gekrap en in die motor probeer dwing.

Langa sê die vrou kon egter daarin slaag om weg te hardloop. Dit is onbekend of enigiets gesteel is.

Langa sê die vrou het nie ‘n saak by die polisie oopgemaak nie. Hy sê hy het egter die vrou se ma gekontak en haar aangemoedig om na die polisiekantoor te gaan om die voorval aan te meld.

Hy vra dat die gemeenskap dadelik enige verdagte aktiwiteite by die polisie aanmeld.

“Op die huidige oomblik kan ons nie sê dat hierdie tipe voorval meer voorkom as voorheen nie. Omdat dit gebeur het, neem ons dit baie ernstig op. Ons wil graag die gemeenskap waarsku, as hulle gaan draf moet hulle dit nie alleen doen nie. Moenie jouself in ‘n situasie vind waar jy alleen draf nie,” sê Langa.

Bron: OFM

Petrolprys kan daal voorspel AA

Die Automobiel-Assosiasie van Suid-Afrika het goeie nuus vir Suid-Afrikaanse motoriste. Die brandstofprys kan ‘n afname te wagte wees, is hul voorspelling.

Die AA meen die prys van brandstof kan aanstaande maand met 45 sent per liter kan daal nadat internasionale oliepryse begin daal het.

Diesel kan met 38 sent per liter daal, en paraffien met 40 sent per liter.

Die petrolprys het vroeër vandeesmaand met 45 sent per liter gestyg.

Die AA waarsku egter dat die rand skerp verswak het weens die Amerikaanse verkiesingsuitslae, en sê indien die geldeenheid nie weer versterk nie, kan die vooruitsig vir die petrolprys teen die einde van die maand verander.

Hierdie prysverlagings is dus afhanklik van die prestasie van die rand teenoor die dollar in die volgende twee weke, sowel as internasionale oliepryse.